droging net so onomstootlik as in verband met die ander vastelande. Die noukeurige geskiedenis van Romeinse veldtogte en inname van die een land ná die ander bewys dat groot streke wat destyds ondeurvaarbare moerasse en groot mere was, in ons tyd tot vrugbare en bewoonde lande uitgedroog is. In Australië, Amerika en selfs Madagaskar is daar ook 'n jaarlikse uitbreiding van die sentrale woestyn waargeneem, ofskoon die proses miskien veel stadiger is dan in Afrika en Asië.
In Afrika is die algemene uitdroging van die vasteland deur tallose bewyse waarneembaar. Ons groot binnelandse seë in Midde-Afrika word in baie gevalle van die vroeëre oewers deur wye kleilae afgesluit. Waar sulke kleilae bestaan, is daar 'n jaarlikse toename in die breedte van die laag en trek die water verder van die walle.
Ons eie 'Ngami-meer is 'n alombekende en dikwels aangehaalde geval van 'n groot meer wat binne 'n menseleeftyd opgedroog, en van 'n vaste meer tot 'n ‘tydelike’ pan geword het.
Ons geskiedskrywer Theal het uit sy waarnemings oor die oorblyfsels van vroeëre bevolkings binne die grense van die Kalahari tot die gevolgtrekking gekom dat die proses van uitdroging drie eeue gelede in dié streke 'n aanvang geneem het.
Skrywer hiervan het in sy genoemde artikel in 1914 nie gewaag om teorieë oor oorsake en middels te formuleer nie. Hy het egter terloops aangehaal dat geologiese toestande skyn te bewys dat ons aarde miskien gedurig water kwytraak deur verdamping en verlies in die ruimte van die heelal, en ook deur oksidering in die middelvuur van die aarde, terwyl geen ‘nuwe’ water ooit saamgestel word om die plek van die verlore water in te neem nie. Op hierdie suggestie het die astronoom Flammarion sy pessimistiese voorspelling, dat die wêreld 'n waterlose planeet gaan word, gegrond.
Wat die gedurig aangehaalde middels betref, val dit te sê: sodra een bewys ten gunste van een middel aangevoer word, word honderd teenbewyse aangehaal. Ook is dit die geval met beweerde oorsake.
Grasbrand, byvoorbeeld, is by 'n menigte skrywers 'n geliefkoosde onderwerp en die voorgestelde verbod 'n geliefkoosde middel. Dit word uit die oog verloor dat die bestryding van veldbrand maar kort gelede in Noord- sowel as Suid-Amerika 'n saak van nasionale inspanning geword het. Voorheen - eeue agtereen - het jaarliks duisende vierkante myle van houtbosse en grasveld afgebrand. En vandag nog, trots die inbeslagneming van alle moderne middels vir die bekamping van veldbrand, vind daar elke jaar groter brande in Kanada, die Verenigde State en Suid-Amerika plaas dan wat die gehele vasteland van Afrika ooit kan toon. Maar nooit het ek 'n suggestie teengekom dat veldbrand 'n oorsaak van droogte of vermindering van reënval in Amerika is nie.
Die uitroei van bome is 'n ander beweerde oorsaak, en die aanplant 'n be-