ontgaan. Onder die bure was daar 'n vaste geloof dat die berg deur 'n dassie-ad-der bewoon word, maar hy self het daar nooit die minste geloof aan geheg nie. En toe eendag het hy die berg lank voor sonop beklim om ribbokke of klipbokke te skiet. Omstreeks tienuur die oggend het hy teen die voet van 'n krans gaan sit om te rus. Langs hom was daar 'n donker skeur in die krans, waarin vroeër 'n bynes was. Terwyl hy daar in die skadu sit, hoor hy skielik ver onder hom 'n geraas van klippe en gestoorde berggewas. En toe sien hy 'n dier reguit deur die gras na hom aankom. Hy was so verskrik en so vinnig was die vaart van die dier, dat hy geen skoot daarop kon aftrek nie. Die gevaarte is binne vier tree van hom verby en het die skeur langs hom ingestorm met 'n ontsettende geraas. Hy het die gedrog so beskrywe: dit was 'n slang - 'n bont slang - omtrent twintig voet lank, met ongeveer die dikte van 'n luislang van dieselfde lengte; maar in plaas van 'n slangkop had die dier die kop en voorlyf van 'n dassie. Hy het duidelik twee voorpote gesien en die kop en voorlyf van die dassiegedeelte had bruin hare. Hy en 'n ou jong het later die skeur 'n gehele dag opgepas, maar die dassie-adder het nooit weer sy verskyning gemaak nie.
Dit is die algemene beskrywing van alle dassie-adders, maar wat besonderhede betref, is daar groot afwyking. In lengte vernaamlik is daar groot verskil. Sommige dassie-adders was nie langer dan 'n gewone pofadder nie; ander was veertig voet lank!
Ek het die volgende uitleg aan die heer Prinsloo voorgestel: 'n Luislang wat nie buikvol is nie, kan met 'n verbasende snelheid beweeg in geval van beide vrees en woede. Kon dit nie miskien 'n groot luislang gewees het wat net 'n dassie gevang en met sy prooi in die bek die skeur ingevlug het om dit daar op sy gemak in te sluk nie? Dit is bekend dat luislange dikwels op hierdie wyse te werk gaan. Die heer Prinsloo het egter hierdie uitleg beslis van die hand gewys. Hy het honderde luislange gedood en het luislange onder alle omstandighede aangetref, ook terwyl hulle besig was om 'n bok of ander dier in te sluk. Maar die dier wat hy op Magaliesberg gesien het, was geen luislang nie; daaromtrent had hy nooit die minste twyfel nie.
Nietemin bly ek nog daarby dat my teorie die ware uitleg is van alle gesiene dassie-adders.
Dit is merkwaardig dat in ons tyd die dassie-adder nooit meer sy verskyning maak nie; en nog 'n merkwaardige feit is dat niemand ooit van 'n jagter of reisiger gehoor het - onder al die honderde wat dassie-adders gesien het - wat een geskiet en afgeslag het nie!
Van nog 'n geheimsinnige dier wil ek hier melding maak - dit is die sandowaan. Wie het al ooit 'n sandowaan gesien? Tevergeefs sal jy so iemand soek, vanaf Blantyre tot aan Vaalrivier; maar jy sal duisende aantref wat vas glo in die bestaan van die sandowaan. Alle swartes van alle rasse vanaf Midde-Afrika tot binne die Unie spreek van die sandowaan as van 'n dier wat net so seker bestaan