Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 214]
| |
'n Paradys van Weleer
| |
[pagina 215]
| |
Christus na Papaver somniferum en opium (mekonium). Dit is onbekend hoe lank voor dié tyd dit in die Ooste gebruik is. Die verskyning van opium as 'n internasionale euforiese gif van die eerste rang dagteken egter uit die begin van die sewentiende eeu, toe dit vir die eerste keer in die Chinese Ryk uit Brits-Indië ingevoer is. Soos 'n vlam in droë gras het dit onmiddellik daarna die hele Mongools-Asië, Klein-Asië en die Turkse Ryk oorrompel. Voor die stigting van die eerste Internasionale Opium-kommissie was bereken dat buite die Westerse beskawings ten minste tweehonderd miljoen mense die euforiese gebruik van opium toegedaan was. Ná opium in die lys verskyn Cannabis sativa en die verwante daggasoorte. Die swaar vergif deur die gom van hierdie plantsoorte afgesonder, word ook deur die ganse Ooste en die hele vasteland van Afrika in verskillende vorms gebesig. Dit is hoog waarskynlik dat die geel rasse van Suid-Afrika die euforiese eienaardigheid van ons inheemse dagga afsonderlik ontdek het - waarskynlik deur die toevallige inademing van die rook van brandende daggabosse. Daar is nog 'n lang lys van swaar gifsoorte wat as euforiese middels deur beperkte barbaarse volksgroepe gebesig word, maar nie deur die beskaafde volke nie. In dié lys kom daar egter een soort voor wat later 'n groot rol in die Europese medisyne gespeel het en onlangs ook as euforiese middel in die Europese beskawing verskyn het. Dit is die blare van die kokaboom (Erythroxylon coca), oorspronklik as euforiese middel deur die Rooihuide van sekere dele van Suid-Amerika gebesig. Uit die blare word die geseënde en tegelyk dodelik alkaloïde kokaïne vervaardig. Onder die minder gevaarlik euforiese gifsoorte, neem tabak (nikotine) die eerste plek in. Ofskoon die alkaloïde van tabak - nikotine - een van die dodelikste gifsoorte is wat die moderne wetenskap ken, word die weerstandsvermoë van die menslike liggaam teen dié gif sodanig verhoog en is die nikotine-inhoud van tabak so gering dat die gevolge minder ooglopend is as dié van die ander genoemde soorte. Dit is slegs met die eerste en tweede aanwending van tabak dat die hewiger vergiftigingsimptome van nikotine genadeloos optree en sigbaar word. Die euforiese eienskap van nikotine is ook minder positief as dié van die meeste ander daarvoor gebesigde gifsoorte wat daarvoor gebruik word - nietemin is dit daar. Die psigologie van die menslike euforiese vergiftiging is uit die mees verskillende gesigspunte bestudeer en beskrywe. Die sielkundige korrelasies wat met dié neiging in verband staan; misdaad en geeskrankheid as gevolge van euforiese vergiftiging; die statistiese uitwerking van die neiging; die vatbaarheid van verskillende rasse en die liggaamlike gevolge interesseer die moderne wetenskap al minstens honderd jaar. Sommige van die ontdekkings in verband met alkoholiese vergiftiging en die gevolge daarvan, in ons tyd gedaan, het tot onverwagte gevolgtrekkings gelei. Lombroso, byvoorbeeld, het bewys, deur ver- | |
[pagina 216]
| |
gelyking van statistieke, dat 'n misoes van druiwe en graan in wyn- en bierlande, en die gevolglike vermindering van die nasionale alkoholiese dranke, altyd gepaard gaan met 'n eweredige styging van die (gewelds-)misdaadsyfer. Dit word nou beweer dat prohibisie die misdaadsyfer van die Verenigde State aansienlik verhoog het. Ook is deur meer stelselmatige waarneming vasgestel dat dronkenskap eerder 'n simptoom as 'n oorsaak van menslike kranksinnigheid moet genoem word. Dieselfde verbandhouding is in opiumlande waargeneem. Ook - in alle opiumlande (waar vermeerdering van bevolking 'n altyd dreigende gevaar geword het) - hou die geboortesyfer eweredig tred met die prys van opium. As opium duur is, styg die geboortesyfer; as dit volop en goedkoop is, daal die geboortesyfer. Die sterftesyfer, aan die ander kant, word nie op gelyksoortige wyse beïnvloed nie. Al die ywerige wetenskaplike navorsing het egter tussen beperkte limiete geskied. Dit het alles uitgegaan van die latente veronderstelling dat die neiging tot euforiese vergiftiging 'n eienaardigheid van die mensesiel is; dat dit die mens van alle ander diere onderskei; en dat daar geen antwoord was op die vraag: van waar kom die neiging, en wat is daarvan die werklike sielkundige betekenis? Dit skyn asof dié vrae self nooit by enige sielkundige opgekom het nie. Dit was asof die wetenskap in die teologiese uitleg berus het: dat dit alles te wyte is aan 'n aangebore neiging tot ‘sonde’ wat die ongelukkige mensdom opgelê is as straf vir 'n voorvaderlike oortreding. 'n Meer stelselmatige ondersoek in die sielkunde van die aapsoorte het die feit blootgelê dat die neiging tot euforiese vergiftiging nie uitsluitlik tot die mens beperk is nie. Daar is bewys dat die hoër aapsoorte meer daaraan onderhewig is as, altans, die meer beskaafde menserasse. Dit het ook geblyk dat die uiterste sielkundige grens van dié neiging binne die lyn van die hoër aapsoorte lê. Geen dier buiten die aapsoorte toon die minste waarneembare spoor daarvan nie - d.w.s. diere in die natuurstaat. Om 'n beter begrip van die strekking van hierdie ondersoek te erlang, is dit wenslik om eers die ras-inval van dié neiging by die mens gade te slaan. Daar is nie die minste twyfel nie dat die toename van beskawing altyd daartoe strek om die weerstandsvermoë van die mens teen dié neiging te verhoog. Dronkenskap was in die vroeër Europese beskawings van die noordelike rasse die eervolle onderskeiding van elke krygsman en held. Tot 'n honderd jaar gelede was nagtelike dronkenskap die teken wat die meeste welgestelde Europese here onderskei het. Daar was nie die minste skande aan verbonde nie. Die dagboek van Adam Tas strek om te bewys dat dieselfde gewoonte in sy tyd nog nie onder welgestelde Afrikaners uitgesterf het nie. Die vermeerderde en verhoogde afleidings wat die hoër beskawing meebring, is waarskynlik die werklike oorsaak van die | |
[pagina 217]
| |
toenemende menslike inhibisie. Hoe laer ons afsak op die leer van beskawing en ontwikkeling, des te swakker word die weerstandsvermoë van die mens. Onder die hoër ontwikkelde natuurvolke word alkoholiese vergiftiging gewoonlik alleen beperk deur skaarsheid van voorraad en moeilikheid van vervaardiging; en ook deur die geringe alkoholinhoud van hulle dranke, wat die verbruik van groot hoeveelhede nodig maak om euforie teweeg te bring. Die geskiedenis van die mensdom bewys dat oral waar sulke volke in besit geraak het van onbeperkte voorrade spiritus, verwoesting en uitdelging die gevolg was. Met tabak is soortgelyke feite waarneembaar. Van Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland; van die Kaap tot aan Wladiwostok hoor die reisiger onder natuurvolke net een smeekkreet wat vir altyd daarna in sy nagmerries verskyn: ‘Tabak! Tabak!’ In Suid-Afrika kan die skaal van inval van euforiese vergiftiging as 'n maatstaf vir die hele mensdom dien. By die swartstamme, ofskoon sterk aan dié neiging onderhewig, is daar tog nog 'n skyn van weerstand. Dit is by die geel stamme - die nie alleen minder beskaafde stamme nie, maar tegelyk minder ontwikkeldes - dat weerstand tot die laagste sport van die leer sak. Theal beweer dat voor die aanraking met blankes, beide die Hottentotte en die Boesmans 'n alkoholiese drank uit heuning vervaardig het. Die gebruik was onmatig solank die voorraad daar was. Ook het hulle dagga gerook in antiloophorings. Hier, ook, was die gebruik buitensporig, en alleen deur die hoeveelheid van die voorraad beperk. Die Hottentotte het algemeen erken dat die gebruik van dagga vreeslik nadelig was, maar, sê Theal, dit was onmoontlik vir hulle om dié neiging die hoof te bied. Toe hulle kennis gemaak het met tabak, het daar 'n onmiddellike sug ontstaan, die krag waarvan vir 'n blanke onbegryplik is. Hulle was eenvoudig onversadiglik. Rook was nie genoeg om die drang te stil nie, ofskoon dit ingesluk en nie ingeadem word nie. Tegelyk met rook kon hulle die sterkste tabak opkou en insluk, en hulle was alleen tevrede wanneer hulle bewusteloos neerslaan as gevolg van nikotinevergiftiging. Skrywer herinner hom as kind dat dit 'n algemene gewoonte was onder die Korannas van die Vrystaat om van 'n blanke die voorreg af te soebat om sy pyp skoon te maak. Die afskraapsels van binne en die pypolie uit die steel is sorgvuldig vergaar en dadelik opgeëet. In so 'n ou pyp is daar gewoonlik genoeg nikotine teenwoordig om die dood van 'n blanke kind van tien jaar te veroorsaak. Daar was egter by die Korannas nooit enige vergiftigingsimptoom sigbaar nie. Dit is spreekwoordelik van so 'n ou deurtrekte Koranna gesê dat byt deur 'n slang die onmiddellike dood ten gevolge had - van die slang! As by ons geel stamme dagga en tabak die onweerswolkies was, dan was brandewyn ongetwyfeld die woedende donderstorm self gewees. In vergelyking met ons geel rasse was die Rooihuide van Amerika toonbeelde van matig- | |
[pagina 218]
| |
heid - nieteenstaande ook hulle uitdelging vernaamlik en algemeen aan die vuurwater van die blankes toegeskrywe word. Daar was geen vergroting in die bewering wat dikwels gemaak is, dat elke Hottentot en elke Boesman 'n gebore dronkaard was, en dat daar slegs twee perke aan hulle onlesbare dors waarneembaar was: die hoeveelheid brandewyn en die dood. As kind het skrywer in aanraking gekom met die onbeperkte drankhandel van dié tyd onder die Griekwas, 'n volk van gemengde geel bloed. Die aankoms van 'n drankwa by 'n stat het altyd onbeskryflike tonele as gevolg gehad. Verskeie sterfgevalle was 'n gewone verskynsel. Wanneer die geld opraak, het die mans hulle gereedskap, waens, osse, gewere, vir drank aangebied. Geen seldsame verskynsel was dit vir ouers om hulle kinders vir drank te verhandel nie, en baie Griekwa-‘wesies’ is in sulke omstandighede deur die drankhandelaar ‘ingeboek’. Nodeloos om te sê dat allerhande bedrog teen die ongelukkiges deur die handelaars gepleeg is. Die mins gruwelike was die vervalsing van brandewyn deur water en roltabak. Hieruit word een beginsel sigbaar: dat die beskerming van die mens teen dié neiging in verband staan nie alleen met sy beskawing nie, maar ook met die graad van ontwikkeling. Die leser sal hom herinner dat die kubieke inhoud van die Boesmanbrein gemiddeld 1,200 c.c. is, dié van die Hottentot 1,400 c.c., van die swarte 1,485 c.c. en van die blanke 1,497 c.c. Dit is ook algemeen bekend hoeveel laer aaplike eienaardighede ons Boesmans anatomies en sielkundig toon. Dit sou te veel tyd en ruimte neem om hieroor uit te wei. Ek wil egter een anatomiese feit opnoem - so gering dat dit maklik oor die hoof gesien word, wat nietemin as maatstaf kan dien van die plek wat die Boesman inneem op die leer van ontwikkeling: In die kenhoek van die onderkaak van die mens (aan die binnekant) is sekere klein beenknoppies, nie baie groter as speldekoppe nie, bekend as die geniohipoglossus - knoppies waar die ondersening van die tong aan bevestig is. As jy nou die kaak van een van die aapsoorte vergelyk met dié van die mens, dan sien jy dat in plaas van die beenknoppies wat die mens besit, daar by die aap klein holtetjies is waar die knoppies behoort te wees. By die laer soogdiere is die holtes dieper as by die aap. Dit is nie 'n vergesogte veronderstelling nie dat die ontwikkeling van die beenknoppies in verband staan met die ontwikkeling van die ondertongsening, wat veel hoër by die mens is as by die aapsoorte. Ook skyn dit seker dat die ontwikkeling van die ondertongsening in verband staan met die ontwikkeling van geartikuleerde spraak, wat grotendeels van die ontwikkeling van die sening afhanklik is. Onvermydelik is derhalwe die gevolgtrekking dat die ontwikkeling van die genoemde beenknoppies in verband staan met die ontwikkeling van spraak by die mens. Geen mensekaak is nog ooit gekry sonder dié knoppies nie - geen aapkaak sonder die gaatjies nie. Sover my bekend, is daar in die hele wêreld net een uitsondering: die opregte Suid-Afrikaanse Boesman het gaatjies in plaas van knoppies, net | |
[pagina 219]
| |
soos die ape. Jy kry sommige skedels met een knoppie en een gaatjie langs mekaar; maar dit is twyfelagtig of dié nie van gemengde bloed afkomstig is nie. Al die kake wat ek nog gesien het wat ongetwyfeld van wilde Vrystaatse grond-Boesmans was, het holtes in plaas van knoppies gehad. Behalwe spraak is daar sielkundig min te kies tussen die sjimpansee en die Boesman. Die Boesman het getalwoorde slegs tot twee gehad. Om getalle bo twee aan te dui, is slegs een woord gebruik, gelykstaande met ‘baie’. Met behulp van hulle vingers kon hulle tot tien tel. Bo dit kon hulle geen getal aandui nie. Die sjimpansee Sally, met wie ek kennis gemaak het in Regent's Park, kon met sekerheid tot tien tel, en ek is ook seker dat sy in sekere rigtings net so ingewikkeld kon redeneer as enige Boesman wat ooit geleef het. Uit dit alles sou ons dus teoreties aflei dat enige psigologiese toestand wat by die Boesman duideliker voorkom as by die swartman of blanke, nog duideliker sal te voorskyn tree by die hoër aapsoorte. Ons was dus geregtig om teoreties aan te neem dat die neiging tot euforiese vergiftiging, wat veel sterker in die Boesman optree as in meer ontwikkelde rasse, seker nie minder kragtig in die laer aapsoorte sal wees nie. Proefnemings het bewys dat dié gevolgtrekking gegrond is. Ek weet van geen stelselmatige proefnemings met mensape wat euforiese vergiftiging betref nie. Hulle is ongelukkig, uit 'n finansiële oogpunt, gewoonlik van te veel waarde om hulle aan dergelike proefnemings te onderwerp. Dit is moeilik genoeg om hulle aan die lewe te hou in koue lande sonder dat iets gedoen word wat die gesondheid nadelig mag aantas. Uit persoonlike ondervinding weet ek slegs dat die sjimpansee dadelik leer om te rook en die tabaksug baie maklik ontwikkel. Maar selfs met tabakrook moet die proefnemings baie versigtig gedoen word. Met ons bobbejaan is dit anders gesteld. Hy is die ware Boesman onder die ape. Die swaarste euforiese vergiftiging wat nie die dood veroorsaak nie, skyn nooit enige blywende nadele teweeg te bring nie. Dat die bobbejaan net so 'n dronklap en net so 'n tabakslaaf is as die Boesman, is aan die meeste Afrikaners bekend. Van oudsher was hy in gevangenskap die slagoffer van proefnemings gewees - onwetenskaplik miskien, maar nietemin doeltreffend. Dit sal aan die meeste lesers bekend wees hoe bobbejane in dieretuine altyd om tabak soebat, en hoe gretig hulle sigarette en ook die sterkste tabak verslind. Ek gee hier die resultate van stelselmatige proefnemings in Waterberg: Ons het verskillende bobbejane, boomape en laer soogdiere aan gewendmaking aan euforiese vergiftiging onderwerp. Van alle volwasse bobbejane kan dit gesê word dat hulle onmiddellik enige aard van euforiese vergiftiging aanwen. Al wat nodig is, is om een maal deur alkohol of opium euforie te veroorsaak, en daarna is die oorsaaklike herinnering vir altyd vasgewortel. Wat tabak betref, skyn dit byna asof die bobbejaan 'n aangebore kennis en neiging het. Ek | |
[pagina 220]
| |
het nog nooit 'n volgroeide mannetjie in gevangenskap aangetref wat nie dadelik en gretig tabak opeet nie. In dieretuine hier en in Europa is dit die algemene ondervinding. Die liggaamlike weerstandsvermoë van die bobbejaan teen die genoemde gifsoorte is somtyds verbasend. Met eweredige inagneming van liggaamlike gewig kan 'n volwasse bobbejaan waarskynlik drie of vier keer die dosis van enige van die swaarder euforiese gifsoorte verdra wat die mens net met lewensgevaar kan neem. Daar is ook 'n ander menslike eienaardigheid van die bobbejaan wat proefnemings van dié aard baie vergemaklik: dit is selde nodig om die gif met geweld toe te dien, soos wel die geval is met laer ape en diere. Sy nuuskierigheid in dié opsig is altyd genoegsaam om sy inherente waaksaamheid en suspisie te oorwin. 'n Volwasse mannetjie kan dikwels oorgehaal word om selfs die slegruikende en slegter-smakende alkohol of opium vanself en ongemeng te neem. Dagga eet hy sonder teken van agterdog of weersin; en daarna, as euforie werklik ontstaan het, sal hy gretig die gif inneem wat dit veroorsaak het. Hy sal vir 'n onbepaalde tyd die persoon onthou wat hom dit gegee het, en selfs ná 'n afskeid van maande soebat hy sodra dié persoon weer naby hom kom. By ons kleiner swartgesigboomapies is alreeds 'n groot onderskeid waarneembaar wat die neiging tot euforiese vergiftiging betref. In die eerste plaas is hulle baie meer versigtig en wantrouig wat hulle eet as die bobbejaan. Alle vreemde voedsel word eers noukeurig geruik en geproe. Alkohol en opium verwek dadelik weersin sodra hulle dit ruik. Dit was alleen moontlik om dié gifsoorte toe te dien in voedsel of so vermom dat ruik en smaak vernietig is; en so slim is hulle dat dit selfs met groot moeilikhede gepaard gaan. Ook is hulle baie meer gevoelig vir die genoemde gifsoorte as die bobbejaan. In my eie ondervinding is een halfwasse boomapie gedood deur twee perskes in sterk alkohol ingelê. Die uitslag van verskillende aangewende pogings is dat ek moet erken dat ons nooit daarin geslaag het om by enige Suid-Afrikaanse aapsoort buiten die bobbejaan die gewoonte en sug vir euforiese vergiftiging met sekerheid vas te stel nie. By laer natuursoogdiere was die mislukking meer ontwyfelagtig gewees. Selfs 'n vlakvark - wat alles eet - het ná lang dwangtoediening alkohol met alle tekens van uiterste weersin geweier. Dieselfde proefneming met die mees verskillende laer soogdiere gedaan, het altyd dieselfde uitwerking gehad. In 'n volgende artikel sal ek die sielkundige geskiedenis van dié eienaardige en ‘onnatuurlike’ neiging by die mens en die aapsoort nagaan. Die aard en giftige fisiologiese werking van die groot gifsoorte deur die mens vir euforiese doeleindes gebesig, is so verskillend dat dit 'n onvermydelike gevolgtrekking is dat hulle alleen ontdek is na oneindige proefnemings. Die nuuskierige mens het alles geëet en gedrink - dikwels ongetwyfeld met dodelike gevolge - totdat hy iets ontdek het wat lekker smaak of wat euforie veroorsaak, en die herinnering daaraan het hy bewaar. | |
[pagina 221]
| |
Alkohol is die enigste kunsmatige euforiese gif, maar die wording daarvan is so 'n gewone toeval in die natuur dat dit nie moeilik is om te verstaan hoe die mens dit ontdek het nie. Sodra suiker, in vloeistof opgelos, aan die lug blootgestel word, word dit aangeval deur miljoene plantaardige organismes wat die suiker in alkohol omsit. 'n Hoop afgevalle vrugte, of vrugte in 'n kalbas vergaar, skei baie gou alkohol af. Heuning in water opgelos, uitgeloopte graan in water is waarskynlik toevalle waardeur die mens eers kennis gemaak het met alkohol. Alkohol is ook die enigste van die genoemde gifsoorte wat growwe storinge van die menslike gedagteloop en verstand veroorsaak. Alle deskundiges het opgemerk dat alkoholiese ‘dronkenskap’ presies dieselfde verstandsverstoringe teweegbring as sekere vorms van menslike kranksinnigheid. Die eerste vergiftigingsimptome van alkohol bewys dat die geweldige aanval op die brein sowel as op die hoë sentrum in die medulla oblongata geskied. Daar is geweldige stimulasie van die hartsentrum in die medulla. Die bloeddruk word, deur die abnormale werking van die hart, in die buite-are verhoog. Die gesig word rooi en die oë met bloed bevlek. Tegelyk met hierdie stimulasie geskied verlamming van die motorsentrums aan die twee kante van die brein en van die gesigsentrum in die agterbrein. Daar is toenemende ataksie. Die ekstremiteite is nie langer onder beheer nie. Die mens struikel en slinger en stort uiteindelik volkome verlam en bewusteloos neer. Daar is allerhande gesigstoringe. Dubbelvisie is 'n gewone en vroeë simptoom. Die dood, in alkoholiese vergiftiging, het verskillende onmiddellike oorsake, maar almal is te wyte aan die primêre aanval op die sentrale gevoelstelsel. Die bloeddruk in die brein kan so verhoog word deur defektiewe hartwerking dat die dood deur alkoholiese beroerte teweeggebring word; of daar is ineenstorting van die hart self, wat gewoonlik in sistoliese slag eindig - te wyte aan die giftige stimulasie van die medullasentrums. Chroniese alkoholiese vergiftiging bring net sulke growwe organiese veranderinge teweeg as wat die akute vergiftiging nerveuse storinge veroorsaak. Daar is geen enkele van die groot organe wat nie patologiese veranderinge ondergaan nie. Daarvan is die vernaamste die brein, die hart, die maag en die lewer. Die veranderinge in die brein teweeggebring, veroorsaak akute manie (delirium tremens) en chroniese kranksinnigheid (alkoholiese paranoia). Hemelsbreed verskil die giftige werking van opium op die menslike gestel. Daar is in die eerste plaas hoegenaamd geen storing van die verstand of gedagteloop of van die bewegingsentrum in die brein nie; geen kranksinnige opgewondenheid of grootheidswaansin nie. Die eerste simptoom is stimulasie waarin al die sentrums van die ruggraat en die medulla betrokke is. Hieraan is die euforie te wyte. Na afwisselende tyd gaan die algemene stimulasie oor in algemene verslapping en slaap, wat, in akute vergiftiging, in bewusteloosheid en die dood eindig. Die hart eindig in diastoliese slag. | |
[pagina 222]
| |
Die sogenaamde abstinens-simptome van chroniese opiumvergiftiging is 'n vername kenmerk van die gif. Onthouding veroorsaak simptome baie gevaarliker as die chroniese vergiftiging self, en eindig dikwels in die dood. In dié opsig is opium alleenstaande, en ook, derhalwe, die gevaarlikste onder die gifsoorte deur die mens eufories gebesig. Chroniese vergiftiging, egter, veroorsaak geen onherstelbare organiese veranderinge soos die geval is met alkohol nie. Dagga en verwante gifsoorte veroorsaak, in die eerste instansie, geweldige stimulasie van die bewegingsentrums en gelyktydige verlamming van die gevoelseningstelsel wat die spysverteringskanaal dirigeer. Daar verskyn, onder die invloed van die gif, abnormale weerstandsvermoë teen liggaamlike vermoeienis en teen honger en dors. Die gewone uitputting gaan egter voort, en verskyn met verdubbelde krag sodra die werking van die gif geëindig het. Die dood word veroorsaak deur verlamming van sentrums in die medulla wat die hartbeweging en ademhaling in stand hou. Ook in die geval van dagga is daar geen chroniese en onherstelbare patologiese gevolge soos met alkohol nie; ook geen growwe verstandstoring nie. Die akute simptome en chroniese gevolge van nikotinevergiftiging is so algemeen - en algemeen bekend - dat dit nie nodig is om dit hier van die ander soorte te onderskei nie. In koffie en tee is die gif en gevolglike euforie so gering dat dit nouliks noembaar is onder dieselfde hoof as alkohol en opium. Nieteenstaande moet nie vier een oomblik veronderstel word dat koffie en tee onder enige ander hoof kan gerangskik word nie. Altwee is euforiese middels, waarvan die invloed op die menslike gestel afhanklik is van die giftige werking van 'n dodelike alkaloïde. Dit sal dus ingesien word dat die werking van al die groot euforiese gifsoorte wyd uiteenlopend is. Net in een opsig stem hulle ooreen; dat hulle - altyd as 'n eerste en verbygaande simptoom - 'n gevoel van welstand en geluksaligheid in die siel van die mens teweegbring wat onder normale omstandighede afwesig is. Dit is van belang om dié uiteenlopendheid in herinnering te hou wanneer die natuurkundige geskiedenis van die neiging tot euforiese vergiftiging by die mens en hoër aapsoorte as 'n sielkundige verskynsel ontleed word. Vir die doel van hierdie uiteensetting is dit ook wenslik om 'n kort oorsig te gee van die verskyning van gif as 'n beskermingsmiddel in die organiese natuur. Daar is waarskynlik geen land op aarde waar dié sonderlinge verskynsel in georganiseerde materie meer gemaklik kan waargeneem word as in Suid-Afrika nie; en daar is in die hele organiese wêreld geen wonderliker en meer onverstaanbare eienskap as beskermende gif en al sy aangeleenthede nie. Seker is daar geen organiese hoedanigheid wat moeiliker is om in te voeg onder ons begrip van natuurlike uitsoeking nie. In die plante- en insektewêreld is gif 'n gewone verdedigingsmiddel. By insekte is dit, in verskillende stadiums, byna die reël. By plante is dit meer 'n uitsondering. Waarom een plant en een insek 'n dodelike gif opgaar as besker- | |
[pagina 223]
| |
ming, terwyl 'n ander enerse en verwante soort dit onder dieselfde omstandighede van voedsel en omgewing nie doen nie, is 'n onopgeloste vraagstuk. Dat dit van die uiterste waarde is in die bestaanstryd, spreek vanself, en die natuur lewer ook dié sterkste bewyse dat dit so is. Dit is altyd om die verskyning van beskermende gif dat die wonderlikste en mees verbysterende uitwerking van natuurlike uitsoeking waarneembaar is: die na-apery. Sodra een insek of een plant, deur afskeiding van gif, 'n hoë graad van beskerming verkry het, is daar byna sonder uitsondering onskadelike plante en insekte in dieselfde omgewing wat die giftige soort, wat uitwendige vorm en kleur betref, na-aap en dus die beskerming van die giftige soort deelagtig word. Die oppervlakkigste oorweging van die feite sal die leser oortuig hoe uiters moeilik dit is om aan te neem dat daar hier geen uitwendige bestierende doel is nie, maar dat dit alles slegs te wyte is aan die blinde en doellose krag wat ons natuurlike uitsoeking noem. Neem twee van ons mees gewone woestynplante, die euphorbia-naboom en die stapelia-naboom. Die naboom het waarskynlik die hoogste beskerming van enige Suid-Afrikaanse woestynplant erlang. Dit is voorsien van dorings net soos die Amerikaanse cacti; en behalwe dié sigbare beskerming skei dit 'n dodelike lateks, of melk, af wat deur die dikste huid kan brand en inwendig in geringe hoeveelhede die onmiddellike dood van enige plantetende dier veroorsaak. Die naboom word derhalwe sorgvuldig deur alle natuurdiere vermy. As dit nie so was nie, sou dit seker in die meeste Suid-Afrikaanse omgewings nie kon bestaan nie. Die stapelia, daarenteen, is 'n onskadelike plantjie wat gretig deur alle graseters verslind word as dit fyn gesny word. Maar onder natuurlike omstandighede word die waterryke en onskadelike stapelia net so sorgvuldig deur alle planteters vermy as die naboom, omdat die stapelia 'n jong naboom in alle uiterlike besonderhede noukeurig na-aap; daar is dieselfde vorm en kleur, met selfs nagemaakte dorings, wat in werklikheid glad geen dorings is nie. Gewoonlik word die bobbejaan nooit deur dergelike na-apery lank bedrieg nie, maar stapelia het selfs vir hom in Waterberg baasgeraak! 'n Ander geval van beskerming deur toevallige gelykenis word verskaf deur die onskadelike grysappel en sandappel, aan die een kant, en die dodelike gifblaar, aan die ander kant. Alle natuurdiere ken en vermy die gifblaar soos die dood self. Die verwante grysappel en sandappel is so eenders dat dit 'n lang geoefende mense-oog vereis om hulle van gifblaar te onderskei. In Waterberg groei die drie plante gewoonlik saam; en dit gebeur dus dat die twee eetbare soorte hulle toevlug neem tot die beskermende skaduwee van hulle dodelike neef. Maar hier was die na-apery nie slim genoeg om die bobbejaan te bedrieg nie. Hy haat en vermy die vrug van die gifblaar asof dit 'n dreigende roofdier is, maar langsaan pluk en eet hy die eenderse vrugte van die twee verwante soorte! 'n Ander eienaardige en geheimsinnige verskynsel van gif in die planteryk is die geval waar blomme gif afskei en met hulle heuning meng, sodat die insekte | |
[pagina 224]
| |
wat hulle deur geur en kleur en soetigheid aanlok, genadeloos gedood word. Meeste lesers sal al geleentheid gehad het om die werking in dié rigting gade te slaan van die klein tabaksoort wat as tuinblom aangekweek word. Hierdie nicotiana is 'n aandblom, en (soos alle aandblomme) is hulle melkwit en baie soet van geur. Hulle lok die naginsekte aan om hulle te bevrug; maar wee die mot of kewer wat gehoor gee aan die soete bekoring. Die heuning is gemeng met nikotine, en bedwelm of dood 'n menigte elke nag. Hier skyn dit oppervlakkig asof ons teen 'n onuitlegbare teenstrydigheid in die natuur stuit. So iets kan nie wees nie; dit gebeur eenvoudig nie in die natuur dat 'n organisme sy eie nadeel bewerkstellig nie; want daar kan geen bevrugting van nicotiana plaasvind nie as elke insek dadelik magteloos gemaak word om 'n tweede blom te besoek. My eie uitleg is dit: Die afsondering van gif in die heuningholtes is vernaamlik bedoel vir ongewenste insekte. Dit gebeur somtyds dat bye van alle soorte die blomme in die dag, as hulle toe is, besoek en gate deurvreet om die heuning te bereik. Nicotiana is so gebou dat dit deur geen by onder enige omstandighede kan bevrug word nie. Daarom word die gif vir die rowers wat nie by die poort inkom nie, klaargehou. Maar nicotiana vergiftig ook die gewenste insekte wat nie inbreek om te steel nie. Die uitleg hiervan kom my voor dit te wees: Beskerming van insekte en diere teen plantgif word op twee verskillende wyses bewerkstellig: eerste, deur erflike geheue - die giftige plant word vermy - of tweede, deur immuniteit. Deur gedurige aanwending van meeste plantaardige gif word die weerstandsvermoë van die dierlike gestel gestadig verhoog. Uiteindelik is daar feitlik immuniteit. Nicotiana lok 'n sekere soort gewenste naginsek wat bestand is teen nikotinevergiftiging. Watter soort dit is, weet ek nie. By oorweging van hierdie vraagstuk moet ook in herinnering gehou word dat nikotine 'n euforiese gif is. Dit is glad nie uitgesluit nie dat sekere hoog gespesialiseerde insekte, met volmaakte immuniteit, die euforiese werking van die gif van nicotiana op dieselfde wyse gewaarword as die aapsoorte, en dat die blom derhalwe aantrekliker gemaak word deur die gif vir die gewenste immune insekte. As dit so is, dan is dit die vroegste verskyning van euforiese vergiftiging in die natuur, en waarskynlik die enigste. Dit is natuurlik alles blote vermoede; maar die leser sal erken dat die feite nouliks 'n ander teoretiese uitleg regverdig. In alle geval sou dit 'n groot uitsondering op die natuurreël daarstel. Ek weet van geen ander geval waar organismes van enige algemene organiese gif gebruik maak met of sonder die waarskynlike doel om euforie teweeg te bring nie. Ook moet in die oog gehou word dat, indien daar werklik sulke gevalle voorkom, by laer diere en insekte dit alleen te wyte kan wees aan die werking van natuurlike uitsoeking. Geen natuurkenner sal vir 'n enkel oomblik veronderstel dat die insek of dier deur nuuskierige beproewing die gif ontdek het, die euforie gewaar geword het, en die voor- | |
[pagina 225]
| |
val as 'n oorsaaklike geheue opgegaar het om by geleentheid die ondervinding uit vrye keuse te herhaal nie. Alleen in die uiterste onkunde van die grondbeginsels van dierlike gedrag en sielkunde kan so 'n gedagte ooit ontstaan. Ons weet dus, ons is so seker daarvan as ons ooit van iets in die natuur seker kan wees, dat so iets as vrywillige euforiese vergiftiging, soos die mens dit ken, by insekte en laer diere 'n absolute onmoontlikheid is, absoluut ondenkbaar is. Hulle is sielkundig daartoe net so min bevoeg as wat hulle liggaamlik bevoeg is om te skrywe of klavier te speel. En dan verskyn die Suid-Afrikaanse bobbejaan skielik op die gesigseinder, en dit blyk dadelik dat hier 'n dier is wat, in dié opsig, deur 'n bruglose kloof van alle ander Suid-Afrikaanse diere afgeskei is. Hier is 'n dier wat eksperimenteel 'n swaar gif aanvaar, wat die gevolglike euforie gewaar word en wat daarna dieselfde gif uit vrye keuse gedurig besig vir geen ander doel as om die kortstondige euforie te herhaal nie. Dat vlugtige euforie die aantrekkingskrag verskaf, kan geen redelike twyfel ly nie. Die onaangename latere simptome van die vergiftiging is altyd swaarder en langer van duur as die euforie. Lyding, algemene malaise, kloppende hoofpyn, mislikheid, koors en onlesbare dors is altyd onverbiddelike gevolge van euforiese vergiftiging - net so seker en net so onvermydelik as die euforie. Dié lyding moet deel uitmaak van die oorsaaklike herinnering van die bobbejaan, en dit is seker nie die herinnering van die onaangename gevolge wat hom tot 'n herhaling van die vergiftiging aanspoor nie. Dit moet die euforie wees. Net soos die mens, is hy ook geneë om die onaangename van 'n voorval te vergeet of te minag en die aangename te onthou en in verbeelding te vergroot. Dit is miskien nie letterlik waar om te sê dat 'n bruglose kloof die bobbejaan, in dié opsig, van laer diere skei nie. Daar is altyd 'n bruggie - baie bouvallig dikwels, maar tog daar. Nietemin is een beginsel seker (en elke oplettende Afrikaner weet dat dit so is, en sal dit geredelik erken): dat die kloof wat die bobbejaan in hierdie opsig (en in alle sielkundige opsigte) van die laer soogdiere skei, baie wyer en dieper is as dié wat die mens van die bobbejaan skei - met ander woorde, die ‘slimheid’ van die bobbejaan, wanneer met dié van die hoogste soogdier vergelyk, is oneindig groter as die ‘slimheid’ van die mens met dié van die bobbejaan vergelyk. Om die sielkundige neiging van die mens tot euforiese vergiftiging te verstaan, is dit nodig (vir ondersoekers in Suid-Afrika altans) om die ‘slimheid’ van die Afrikaanse bobbejaan te ontleed en te verstaan. Die sleutel tot die geheim word tevergeefs binne die perke van die menslike sielkunde gesoek. By uiterste ontleding blyk dit dat die neiging tot euforiese vergiftiging te wyte is aan twee groot sielkundige oorsake: in die eerste plek, aan die vernietiging van erflike omgewingsgeheue, en, in die tweede plek, aan die feit dat wat ons ‘selfbewustheid’ noem, noodwendig 'n oorwegende element van pyn en ly- | |
[pagina 226]
| |
ding moet dra. Altwee oorsake is gelyksoortig werksaam in die siel van mens en bobbejaan, en dit is die twee oorsake wat hulle van alle ander diere onderskei. Ek sal trag om die natuurkundige geskiedenis van die twee oorsake duidelik te maak, en die uiteensetting sal uitgaan van die veronderstelling dat die leser geheel en al ongeoefen is in sielkundige waarneming.
Ons sê die bobbejaan is ‘slim’ - ‘slimmer’ as enige ander soogdier in Suid-Afrika. Ek wil hier 'n proefneming weergee wat die leser huiwerig sal maak. Hy sal begin twyfel of dié bewering in alle opsigte waar is, en uiteindelik sal hy met dieselfde beslistheid verklaar dat die bobbejaan dommer is as die domste soogdier in Suid-Afrika. 'n Otter en 'n bobbejaan, altwee mannetjies, is kunsmatig onder gelyksoortige omstandighede grootgemaak. Altwee is kort ná geboorte gevang voordat hulle met die bestaanstryd of die wêreld kennis gemaak het. Die otter word toe in die middel van die Waterbergse Springbokvlakte grootgemaak, dertig myl van die naaste lopende of staande water. Hy het nooit met sy natuurlike voedsel kennis gemaak nie; is op rou vleis, melk en voëltjies gevoer, en het nooit meer water gesien nie as wat genoeg was om sy dors te les. Hy het nooit 'n vis of 'n krap gesien of geruik nie. Die bobbejaan is net so ‘onnatuurlik’ in gevangenskap grootgemaak. Van die voedsel van sy natuurlike omgewing het hy nooit iets gesien of geproe nie. Van sy natuurlike vyande het hy niks geweet nie. Ná drie jaar van dié onnatuurlike lewe is alle voedsel vir twee dae van altwee diere onthou. Uitgehonger word altwee nou vir die eerste maal na hulle natuurlike omgewings teruggebring: die otter na Sterkrivier, waar hy uit die broeines uitgegrawe is; en die bobbejaan na die Doringhoekgebergte, waar sy moeder geskiet is 'n paar dae na sy geboorte. Die onderskeid in gedrag van die twee diere was merkwaardig. Die otter, na 'n weinig aarseling, het die water ingegaan, geswem en geduik en uiteindelik vir 'n lang tyd verdwyn. Toe hy weer te voorskyn kom, het hy 'n vis in die bek, wat hy op die rotse verslind het. Hy het daarna verskeie krappe en visse gevang en gretig opgeëet. Kortom, hy het al die omgewingskennis gehad wat 'n otter nodig het om te bestaan. Die bobbejaan, daarenteen, was 'n verlore en bejammerenswaardige skepsel. Ofskoon swak en honger en in die midde van 'n oorvloed van bobbejaankos, het hy nie die minste kennis besit hoe om die kos in die hande te kry nie. Hy het niks geweet van klippe omkeer nie; en toe een vir hom omgekeer word, met 'n menigte goggas daaronder (die voedsel by uitstek van die wilde bobbejane), het hy teruggespring met alle tekens van afgryse, vrees en weersin. Dit was met die grootste moeite dat hy oorgehaal is om 'n dooie gogga te proe - alleen onder voorwendsel dat sy mensvriende die goggas vang en gulsig opeet. Skerpioene is 'n geliefkoosde lekkerny by die wilde bobbejane. Baie vernuftig be- | |
[pagina 227]
| |
dwelm hulle die insek en trek sy angel uit voordat hy kan steek. Ons bobbejaan egter, het vir skerpioene 'n grillende vrees getoon. Uiteindelik is hy oorgehaal om 'n dooie skerpioen te eet, en, aangemoedig deur die smaak, probeer hy om daarna self 'n skerpioen te vang. Van die gevaar het hy niks geweet nie. Hy pak die lewendige gogga met sy hand, en die onmiddellike gevolg was dat hy op een vinger gesteek word. Toe sekere vrugte hom getoon word, met een giftige daaronder wat die wilde bobbejane sorgvuldig vermy en nooit aanraak nie, het hy sonder om te aarsel, die giftige gekies, en dit was met die grootste moeite dat hy verhinder is om dit op te eet. Van sy natuurlike vyande het hy niks geweet nie. Van 'n berggier, bo hom in die lug, wat by die jong wilde bobbejane die uiterste angs verwek, het hy glad geen notisie geneem nie. Hy was baie banger vir 'n donkie (met watter dier hy toe vir die eerste maal kennis gemaak het) as vir 'n opgestopte tier, wat altyd by mak boomapies stuipagtige vrees verwek het. Aan die ander kant het hy in sy onnatuurlike omgewing in gevangenskap vanself, sonder enige onderrig, dinge aangeleer wat geen wilde bobbejaan ken nie en wat geen laer soogdier (die otter byvoorbeeld) ooit naby gekom het nie. Hy kon vreeslik net met 'n klip gooi; hy het water in sy bakkie of met sy hand opgeskep en oor met die uiterste sluheid oor onbekende swartes gegooi. In die warm son het hy 'n halwe kalbas op sy kop soos 'n hoed gedra. In koue weer het hy 'n sak soos 'n mantel omgehang. Hy het vir ure op sy rug gelê en sy eie skone gelaatstrekke in 'n sakspieëltjie bewonder - en nooit agter die beeld gesoek nie, soos die boomapies doen! Hy het sy bakkie water altyd uit die son geneem en in sy slaaphok in die koelte geplaas. Hy kon met gemak 'n reeks knope losmaak om 'n sak met vrugte oop te kry. Hy het geleer om uit 'n koppie en uit 'n bottel te drink sonder dat enigeen hom dit ooit gewys het. Met al die mak diere het hy vriendskapsbetrekkinge aangeknoop. Klein katjies en hondjies het hy vir ure in sy arms gedra en geliefkoos. 'n Groot sog was vir 'n lang tyd sy geliefkoosde ryperd. Later, toe hy vasgemaak is, het hy die vark na sy paal aangelok deur kos bo van sy slaaphok op die grond neer te gooi, sodat sy dit kon sien. Hy het sonder enige onderrig geleer om voorwerpe buite sy bereik met 'n haakstok nader te krap. Sy eerste misdaadneiging, wat hom uiteindelik tot die ketting gedoem het, was om af te sit, sodra hy 'n hen hoor kekkel, om die eier in die hande te kry voordat die verwoede menslike eienares ooit naby kon kom. As hy iets buitengewoon kwaads gedoen het - selfs voordat die misdaad ontdek is - het hy in 'n skoorsteen weggekruip en die wêreld met een oog beloer. As hy met slae gedreig is, het hy geleer om op sy kop te staan om die strafregter in 'n goeie luim te bring. Hy het sy baas wakker gemaak deur die ooglede sorgvuldig met een vinger oop te trek. Op 'n mensbabatjie was hy dadelik en buitensporig verlief. Die stootwaentjie word binne sy bereik gestoot met die babatjie daarin en daar gelaat. Vir ure het hy op die kant van die waentjie gesit en die kindjie opgepas. Enige | |
[pagina 228]
| |
dier, selfs van sy vriende, wat naby kom, het hy verwoed aangeval. Die babatjie het hy nou en dan baie ‘liefies’ aangeraak en sy lippe teen die sagte wangetjies gedruk. Sodra die kind aan die huil gaan, het sy eie alarm - en jammerkrete die hele plaas ontroer... Dié feite is genoegsaam om die kloof aan te dui wat die bobbejaan sielkundig van die otter skei. Is dit 'n vergroting om die kloof as brugloos te beskrywe? Kortliks kom die onderskeid hierop neer: Die otter het al sy omgewingskennis in sy siel gehad, nieteenstaande hy nooit daarvan ondervinding gehad het nie, en nieteenstaande die langdurige onnatuurlike omgewing. Sy volmaakte kennis het hy van sy ouers geërwe net soos hy sy liggaamsbou van hulle geërwe het. Al hulle kennis het hy besit sonder dat hy ooit geleer het en sonder enige ondervinding. Die bobbejaan, aan die ander kant, het glad geen kennis van sy natuurlike omgewing besit nie. Hy was net so dom as 'n Kalahari-Boesman sou wees wat skielik na die Poolstreke vervoer word. Aan die ander kant het die bobbejaan dadelik nuwe dinge in sy onnatuurlike omgewing aangeleer wat sy wilde makkers nooit geken het nie en waar die otter nooit naby sou gekom het nie. Die bobbejaan was ontsettend dom wanneer met die otter vergelyk wat erflike geheue betref; maar die bobbejaan het iets besit wat beter was as erflike geheue. Hy kon self'n nuwe oorsaaklike geheue opdoen. Hy kon met die grootste gemak 'n ingewikkelde oorsaak en sy gevolg onthou en voortaan dienooreenkomstig reageer. Die otter kon dit nie doen nie - of alleen wanneer die oorsaak en sy gevolg baie eenvoudig was, en selfs dan met die grootste moeite na langdurige herhaling. Vir die siel van erflike omgewingsgeheue wat vernietig is, het die bobbejaan die siel van individuele oorsaaklike geheue ontvang. Dit is wat die mens in sy eie geval ‘verstand’, ‘rede’, ‘bewustheid’ en wat dies meer noem. Dit is onnodig om op te merk dat die mens die enigste dier is wat met die bobbejaan in dié opsig ooreenstem. In 'n later artikel van hierdie reeks sal dit meer gepas kom om die natuurkundige geskiedenis uiteen te sit van die wording van die aapsiel, die siel van gesmoorde erflike omgewingsgeheue en van individuele oorsaaklike geheue. Dit is nouliks nodig om hier op te merk dat die mens die hoogtepunt voorstel van hierdie laaste psigologiese ontwikkeling in die organiese wêreld. Ek dink nie dat dit nodig is om hier die onmiddellike gevolge van die ontwikkeling breedvoerig uiteen te sit nie. Genoeg sal dit wees om aan te dui dat die spesiale ontwikkeling beide die mens en die bobbejaan in staat gestel het om die mees verskillende natuurlike omgewings te verower en te bewoon: die mens van die Saharawoestyn tot by die Noordpoolse ysvlaktes, die bobbejaan van die vrugbare gebergtes van die Kaapse Skiereiland tot die swart rante van die groot Dorsland. Die groot oorsaak is dat nòg die bobbejaan nòg die mens in die staalkettings van erflike geheue gebind is. In elke omgewing, hoe verskil- | |
[pagina 229]
| |
lend ook al, doen hulle die nodige omgewingsherinneringe op wat van ouers na kind deur individuele ondervinding oorhandig word. Nooit weer word 'n omgewingsherinnering erflik nie, hoe lank daarin ook al volgehou mag word. Die wêreldburgerskap is bewerkstellig deur gedurige beproewing van alles wat bruikbaar lyk of mag wees. In Waterberg, in tye van droogte en hongersnood, eet die bobbejaan, of probeer hy om te eet, alles wat die gedaante van 'n lewendige plant of insek voer. En so leer hy die gebruik van nuwe voedsel. In een geval, naby die oog van Palala, het ons op die spoor gekom van feite wat baie na euforiese vergiftiging lyk. Daar groei 'n besondere soort bessie wat uiters giftig is. Twee kinders wat 'n klein hoeveelheid geëet het, het altwee simptome van gevaarlike narkotiese vergiftiging getoon. Altwee was vir ure bewusteloos; asemhaling en pols uiters stadig; kykers wyd gerek. Die bobbejane eet die bessies gereeld. Die swartmense beweer dat hulle lam word en slinger van die gif. Hulle doen dit selfs in jare van oorvloed. Indien dit later blyk dat die vergiftiging in hierdie geval nie eufories kan genoem word nie, toon dit nietemin ten duidelikste hoe die mens sy euforiese gifsoorte ontdek en aanvaar het. Daar bly nog die vraag: Waarom is dit dat die euforie van dié soort vergiftiging vir die mens en die bobbejaan so aantreklik is en nie vir laer soogdiere nie? Ek het reeds die tweede oorsaak van euforiese vergiftiging genoem as die feit dat die siel van onerflike omgewingsherinnering noodwendig 'n oorwegende element van pyn en lyding moet dra. In korte bewoording sou ek dit so beskrywe: Lewe beteken altyd strewe. Die eerste groei van organiese lewe is 'n stryd teen die swaartekrag van die aarde. Die psige van alle organismes is so ingerig dat dit die lewenstryd vernaamlik as pyn en lyding moet gewaarword. Daardeur alleen is dit moontlik vir georganiseerde materie om te bestaan te midde van natuurkragte wat altyd en inherent vyandig gesind is. Die siel van erflike geheue is, so te sê, in 'n groot getal afgeskorte vakkies verdeel. Die druk en pynlikheid van die bestaanstryd is oor 'n wye oppervlakte versprei. In die siel van onerflike geheue val al die pynlikheid van die bestaanstryd op 'n enkele punt wat ons ‘bewustheid’ noem; en daarom word die mens en die bobbejaan ‘bewustheid’ gewaar as iets gegrondves op pyn en lyding. En dit is hierdie gewaarwording van inherente psigologiese pynlikheid wat die mens soek om deur euforiese vergiftiging (o.a.) te lenig. Vandat die mens geleer het om sy gedagtes in skrif weer te gee, het hy sy eie sielsverdriet bejammer en na middels gesoek; en die vernaamste en tegelyk gunstigste van die middels, in alle stadiums van sy beskawing, is ongetwyfeld die bonatuurlike godsdiens gewees; daarna kom euforiese vergiftiging. Die filosofie was 'n derde en baie swakker mededinger. | |
[pagina 230]
| |
Die aantrekkingskrag van euforiese vergiftiging is te wyte aan die sekerheid en onmiddellikheid van die gesogte uitwerking.
In een van die oudste Egiptiese handskrifte, die beroemde Tweegesprek tussen die Skrywer en Sy Eie Siel, kom die digter tot die gevolgtrekking dat die blote bestaan van die siel gegrond is op verdriet en pyn, en dat daar slegs een volmaakte middel is: om self 'n einde aan die bestaan te maak! Veel later - twintig eeue voor Christus - spreek die harpspeler van die farao Seti I die koning toe. Die lewe (selfs vir die Alleenheerser van Egipte) is net verdriet, kommer en ellende, en oor alles is die skaduwee van die dood. Daar is slegs een middel: Vul jou paleis, o Koning van die Noorde en Suide, met die dogters van musiek en dans; omring jou met skoonheid, en drink wyn en nogmaals wyn! ... Die Pers Omar Khajam sien die mensesiel soos 'n stad beleër deur die swarte heirskaar van verdriet en vrees. Maar skielik verskyn die glansryke Mahmoed, Allah-ademende Heer, met sy warrelwindswaard, en die donker hordes word na die vier winde verstrooi. Die glansryke Mahmoed, in dié instansie, is die Alkohol! De Quincey, in bewoording wat vir poëtiese skoonheid selde in enige letterkunde geëwenaar is, beskrywe die oneindige verdriet en lyding van die siel. Deur al ons bepeinsinge klink 'n ewige vaarwel; oor alles hang die skadu van die dood, die oneer van die graf. Maar daar verskyn 'n gebenedyde Wese met die sleutels van die Paradys, wat vir 'n kort tydjie alles regmaak; wat in een moment tempels en paleise vir die ongelukkige op die doek van die duisternis bou. Die salige Wese in dié instansie is die Opium! Hier word middels aangedui, maar die swart pessimisme van die skrywer van Job en die Prediker (met uitsluiting van die priesterlike hand!) word selfs deur geen dergelike ligstraal opgeluister nie! Dat die bobbejaan aan dieselfde pessimisme as die mens onderhewig is - met inagneming van die verskillende grade van ontwikkeling - sal in 'n volgende artikel uiteengesit word met 'n beskrywing van die gedrag waaruit ons dit gewaarword. |
|