soek; in elke beskaafde land het mense geswoeg en gearbei om uit te vind wat die betekenis was van al die wonderlike inskripsies. Almal het gevoel dat ons merkwaardige geheime sou verneem as ons net die taal kon lees, want almal wis dat die volk uit die afgrond van die verlede oor kennis en kuns beskik het waarvan ons beskawing niks weet nie. Ongelukkig is die veronderstelling nie bewaarheid nie. Ons lees die taal vandag net so maklik as enige moderne taal, soos die leser sal sien, maar ongelukkig het die ou Egiptenare om een of ander onbekende rede nagelaat om ons te vertel juis wat ons graag wou weet. Hoedat hulle al die wonderlike werke verrig het, is vandag net so 'n groot geheim as toe die taal vir ons geheel en al 'n dooie letter was, in die ware sin van die woord. 'n Ander ding wat almal gehoop en verwag het, was dat ons die Egiptiese lesing sou kry van die geskiedenis van Josef en die uittog van die Israeliete. Tot vandag toe is nog niks ontdek wat vir seker kan aangeneem word as selfs 'n aanmerking oor die Jode nie.
Oor die bouwerke van die Egiptenare is dit byna onmoontlik om iemand 'n denkbeeld te gee wat dit nie self gesien het nie. Hier was 'n volk wat nie tevrede was om met klip te werk nie; hulle moes juis die hardste klip op aarde neem, en altyd enorme rotse. Hieruit kap en poleer hulle pragtige pilare van sestig tot honderd voet hoog, versier met inskripsies, blomme, kranse, ens. Van dié pilare moet daar in Egipte duisende gewees het. Op 'n ander plek, weer, kap hulle uit 'n soliede krans van blou ysterklip 'n enorme tempel so groot en heerlik as nog ooit deur mensehande geskape is.
Hul standbeelde is van dieselfde gehalte. Laat ons trag om die leser 'n besef van 'n enkele kolos te gee. Die sfinks is vandag nog een van die wondere van die wêreld, en is as standbeeld weergaloos, beide wat kuns en uitvoering betref. Dit is vandag onmoontlik om te bereken wanneer dit gemaak is. So lank gelede is dit dat dit reeds in die tyd van Josef 'n onberekenbare oudheid moet gewees het. Wat vandag die sfinks is, was oorspronklik 'n rots van swart ysterklip, groter as 'n gemiddelde Vrystaatse koppie. Hiervan het die beeldhouer die klip weggebeitel totdat hy in die middel 'n beeld had van 'n vrouekop en -voorlyf en die lyf van 'n liggende leeu. Onlangs is vir die eerste maal ontdek dat die enorme kop uitgehol is en in werklikheid die graftempel van een of ander farao van Egipte was!
Die indrukwekkendste van hierdie wonder is die uitdrukking wat die beeldhouer op die gesig van die vrou geskep het. As die aanskouer ver genoeg staan, sien hy dat die vrou diep ingedagte is, met die skyn van 'n glimlag op die lippe en wange; en as jy dit van nader ondersoek, sien jy dat dit nie 'n gelukskoot was nie. Elke beitelmerk toon dat die kunstenaar met dié doel voor oë gewerk het. Die beeld kyk ooswaarts, oor die oneindige sandwoestyn; en 'n meer gepaste kon geen mens ooit in sy verbeelding tot stand gebring het nie. Hoe groot? ... Om blote afmetings op te noem, sal die leser geen besef van die enorme grootte