die voël mense dikwels na slange en tiers lei. Altwee hierdie ou natuurkundiges beweer dat sy wonderlike instink oorspronklik beoefen is in verband met die ratel (mellivora). Die mens was 'n plaasvervangende vennoot.
Die heuningvoël is, net soos die koekoek, 'n parasiet. Hy maak nooit sy eie nes en versorg nooit sy eie kleintjies nie.
Ek weet van verskeie gevalle waar die heuningvoël sy menslike agtervolgers op slange afgelei het, en in een geval waar ek persoonlik by was, met byna dodelike gevolge vir die betrokkene. Voordat ek oorgaan tot die vertelling, sal dit goed wees om iets te sê oor die Waterbergse luislange. In die middel van hierdie distrik is vroeër reuse-luislange gevind; hulle was ongetwyfeld die grootste slange wat ek ooit die geleentheid gehad het om af te meet. Baie jare gelede het mnr. Jean Daly, broer van dr. Daly van Johannesburg, 'n reus geskiet. Dit was van besondere belang omdat dit 'n volgroeide duikerram met horings en al ingesluk het! (Algemeen word gesê dat die luislang gehoringde wild insluk deur by die agterlyf te begin en die kop en horings te laat uitsteek voor by die bek totdat die nek deur die natuurlike verrottingsproses afbreek.) Mnr. Niemand en ek het een op die plaas Buffelskloof, naby Naboomspruit, geskiet wat sewentien-en-'n-half voet lank was Hy het kort tevore twee honde ingesluk wat aanmerklik groter en swaarder was as die gemiddelde Airedale-terriër. Mnr. Cornelis Lambrecht van Naboomspruit is deur 'n heuningvoël na een gelei wat hy in 'n poel water geskiet het. Hy was agtien-en-'n-half voet lank. Die rekordslang is geskiet deur mnr. McClure, 'n Ierse boer, wat nog naby Naboomspruit woon. Syne was tussen negentien en twintig voet lank. Dit was die grootste slange wat ek ooit gesien het - en ek het die grootste deel van my lewe onder die wilde diere van Afrika gewoon.
Die voorval met die heuningvoël wat ek wil verhaal as synde van spesiale belang en waarvan ek persoonlik ondervinding het, staan in verband met een van hierdie reuse van Waterberg. Op 'n môre het drie swartes van die plaas Rietfontein 1638 - nou in die hart van die platinastreek - vertrek ‘om heuningvoëls te soek’. Twee van hulle was volwasse; die derde, 'n seun van 'n onderkaptein, was 'n klong van sestien jaar. Laasgenoemde, bekend onder die Sesoetoe-bynaam ‘Mafura’, was besonder vet, soos dit die seun van 'n kaptein betaam. Die twee mans het byle gehad, die seun was ongewapen. Hulle het die helling van 'n berg deur taamlik ruie doringkreupelhout beklim. Die twee mans was omtrent 100 tree van mekaar; die seun was buite gesig, daar hy 'n aansienlike afstand van hulle was. Plotseling hoor hulle hom roep: ‘Hier is 'n heuningvoël, en die bynes is naby.’ Hulle skreeu terug dat hy hulle moet laat weet wanneer hy die nes kry. 'n Paar minute daarna gee die seun 'n vreeslike angskreet gevolg deur aanhoudende geroep om hulp. Die twee mans hardloop so vinnig as hulle kan na hom en vind hom in die kinkels van 'n luislang vasgewoel. Die slang het drie kinkels om hom gehad en het die regterarm teen die liggaam vasgedraai.