Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 197]
| |
6 Slanggif
| |
[pagina 198]
| |
deelte waarvan onder gunstige omstandighede in 'n goed ingerigte laboratorium gedoen is. Daarby is ook enige aantekeninge van ondersoeke hier en daar in die veld gedaan, onder minder gunstige omstandighede en met geen bepaalde doel nie. Tydens laasgenoemde ondersoek, egter, het dit my geluk om een ontdekking te maak van iets wat my destyds van die grootste natuurkundige belang geskyn het. Ongelukkig was dit my tot hiertoe onmoontlik gewees om die ondersoek behoorlik te voltooi. Ek sal nie tevergeefs skrywe as my aantekeninge meer gunstig geplaaste ondersoekers in die geleentheid stel om die saak na te gaan nie, tot watter uitslag dit ook al mag lei. Slanggif, dus - om tot ons onderwerp terug te kom - is 'n eiwitliggaam wat deur sekere kliere in die lyf van sekere slange afgesonder word en gebruik word sowel vir vyandelike doeleindes as om prooi te bemagtig. Die doel van die gif is natuurlik in die eerste plaas om die dood te veroorsaak. Ander nagevolge is om die bloed lank vloeibaar te hou en om rigor mortis (die verstywing van die dooie liggaam) te verhaas. Vroeëre ondersoekers was meestal van mening dat die uitwerking van die gif die strekking had om die lyf van die gebyte dier lank slap te hou. Maar die teenoorgestelde is waar, soos ek meermale persoonlik beproef het - ten minste wat Suid-Afrikaanse slanggif betref. Ek dink dat een of ander ou heer die bewering op sy eie ingewing en sonder enige proefneming gemaak het en dat sy gesegde, sonder nadenke of persoonlike ondersoek, deur 'n reeks ander ondersoekers aangeneem is. Want dit lyk natuurlik of 'n slang makliker 'n groot dier kan insluk as dit slap bly as wanneer die spiere verstyf is. Maar 'n weinig ondersoek het my gou oortuig dat hierin ook die teenoorgestelde waar is. Ek kan as 'n feit konstateer dat, as dit nie vir hierdie spoedige verstywing was nie, dit onmoontlik sou wees vir sommige giftige slange om so gou na mekaar diere in te sluk wat heeltemal te groot vir hul bek en keel lyk - daarom ook dat die nie-giftige luislang, wanneer hy 'n groot dier vang, eers moet wag totdat die spiere gedeeltelik verstyf voordat hy dit kan insluk. In watter opsig vertraagde bloestolling vir die slang van belang is, het ek nog nie ontdek nie. Waarskynlik het dit iets met die spysvertering te doen. Dit is die gevolge en nagevolge van die gif wanneer dit gebruik word deur die slang om sy prooi te verower. Maar daar is nog 'n reeks van ander nagevolge wat gerangskik moet word onder die hoof van vyandige gebruik. En daar hierdie kant van die saak vir 'n mens van die grootste belang is, is dit miskien wenslik dat ek hier my persoonlike ondervinding gee van die vyandelike gebruik van slanggif in die natuur teen die mens, meer bepaald. In die laaste drie jaar is elf mense (sover bekend) deur slanggif in die distrik Waterberg gedood, waarvan twee witmense was. En in verband met een van dié gevalle is daar ander omstandighede van soveel belang vir natuurondersoekers dat dit 'n afsonderlike en breedvoerige beskrywing verdien. | |
[pagina 199]
| |
Die plaas Rietvlei, Swaershoek, bewoon deur die familie Van Heerden, is, soos die naam aandui, deur 'n lang rietvlei deursny, waarvan die oorsprong in die berg is. Langs die vlei lê die verskillende familielede se plase. Die hoogste woning aan die vlei is dié van die heer Piet van Heerden. Die vlei is hier maar nou, in sommige plekke skaars 'n paar tree breed, en op die wydste nie meer as dertig tree nie. Die grootste breedte is by 'n populierbos aan die bo-ent, net waar die loop die eerste rant met 'n nou poort deurgaan. In die hoek teen die rant is die woning. Die vrugteboord loop tot vas teen die riet. Bo langs die rant is 'n groot watervoor, dan kom die wapad en dan die draad van die vrugteboord. Ek beskryf dit alles, omdat die besonderhede betrekking het op wat volg. Die plaas Rietvlei is al vir twee geslagte deur die Van Heerdens bewoon; en tot drie jaar na die oorlog had geen mens nog ooit 'n swart makoppa op Rietvlei gesien nie. Dit was feitlik die eerste maal dat die meeste van die bewoners kennis gemaak het met die grootste en gevaarlikste giftige slang in die hele wêreld. En dit was gedurende my besoek dat die ou heer Carel van Heerden, gewese veldkornet, vir die eerste maal in sy lewe die monster ontmoet het. Twee veewagters was die eerste om 'n swart makoppa in die berg agter die huis te kry. Die slang, deur hulle aangeval, het 'n vyandige demonstrasie teen een van hulle gemaak, en dit het toe die ander geluk om hom dodelik met 'n klip te tref. Onmiddellik daarna is swart slange in die tuin gesien. In die meeste gevalle was dit net sien en weg, want van die wonderbaarlike, onbeskryflike snelheid van 'n swart makoppa kan geen mens wat dit nog nie gesien het, 'n denkbeeld vorm nie. Die eerste slange was nie besonder groot nie, seker maar omtrent tien voet lank. Maar die ongewenste bevolking het voortdurend toegeneem. Elke dag was daar alarms en stories van slange. Die swartvolk, soos gewoonlik, het nou en dan 'n monster van sowat vyftig voet in die vleiloop te sien gekry. Van noue ontkomings was daar ook nie min nie. Die slange se geliefkoosde plekke was die perskelanings en 'n lang kweperlaning wat tot aan die riet loop. In lg. laning het die heer Andries van Heerden twee-en-vyftig swart makoppas in 'n tydperk van drie maande geskiet. Die leser sal hier wil stuit, maar ek sal later my persoonlike ondervinding van Rietvlei gee wat sal bewys dat dit byna onmoontlik is om van te baie te praat. Die heer Piet van Heerden, eienaar van die plaas, had verskeie ontmoetings wat die hare laat rys. Twee maal, onderwyl hy besig was om perskes te pluk, het hy aan 'n swart makoppa geraak, in die boom opgedraai. Een maal, onderwyl hy met twee swart werkers besig was om 'n kalf uit 'n watergat te haal, het hy skielik 'n swaar gewig aan sy loopkierie gevoel. Dit was 'n makoppa wat in sy woede die stok vasgebyt het! Op 'n ander keer, toe hy kreupel van jig was, het hy deur die vlei na die woning van sy broer gegaan. Net toe hy 'n waterlopie | |
[pagina 200]
| |
oorspring, voel hy iets roer onder hom. Hy kyk ondertoe en sien net swart rol op swart rol. Hy probeer vooruitspring, maar met die eerste trap op sy verlamde been val hy plat. Toe hy sy kop draai, staan 'n reusagtige swart makoppa met bewende kop oor hom orent. Hy kruip vooruit en hou altyd as beskerming die stok agter sy kop. Toe hy vyf of ses tree weg was, waag hy dit om op te staan om ten minste die slang van voor te ontmoet as hy sou kom. Skielik hoor hy 'n gefluit en geblaas in die riet op 'n afstand van omtrent vyftig tree, en soos 'n weerligstraal kom 'n ander makoppa deur die riet op die plek af. Die eerste, dik en groot, was die wyfie, en die tweede, langer en dunner, was die mannetjie. Toe die twee bymekaarkom in die voetpaadjie, lig die mannetjie ook sy lyf orent en met gekruiste nekke staan hulle die heer Van Heerden en aankyk. Nooit, waarskynlik, was hy nader aan sy dood nie. Dit was natuurlik in die broeityd, wanneer maar min storing nodig is om 'n aanval uit te lok. Die heer Van Heerden het roerloos met die stok in die hand gestaan totdat die mannetjie weer uiteindelik neersink en die riet inseil. Die wyfie het bly staan, en naderhand het mnr. Van Heerden dit gewaag om voet vir voet agteruit te gaan totdat hy op 'n veilige afstand was. Toe het hy vinnig die riet uitgeloop en om 'n roer geskreeu. Toe hy die riet uit was, kon hy nog bo die toppe die nek en kop van die lang sien uitsteek - en die riet is hier ten minste tien voet hoog. En so gaan dit van dag tot dag voort. Die onbegryplikste van alles is dat die slange hulle skyn te beperk tot net 'n klein hoekie van die vlei onmiddellik onder die rant. Hiervan is die uitleg van die bewoners dat hulle elke dag uitgaan na die kranse om dassies te vang. By mnr. Carel van Heerden, nie meer as duisend tree langs die vlei af nie, is nog geen makoppa gewaar nie. My eie gedagte is dat die watervoor ook 'n aantrekking is. In die somer is die swart mamba lief om gedurende die hitte van die dag in die water te lê. Sodra hy uitkom, rol hy in die stof of sand, waardeur die skubbe van sy vel blink en skoon gevryf word totdat hy soos 'n stuk swart fluweel lyk met 'n donkerpers weerskyn. Daar is hier plekke in die voor waar die water 'n val het, sodat die geruis 'n hele ent ver gehoor kan word. Dit is na dié plekke waar die meeste slange gedurende die dag oor die pad gaan. Hoe baie daar is, sal die leser duidelik word uit my eie ondervinding. Op die dag van my aankoms ry mnr. Van Heerden huis toe langs die pad; 'n swart makoppa gaan kort voor hom oor die pad en neem dadelik 'n dreigende houding aan op die wal van die voor. Mnr. Van Heerden sit in 'n oop karretjie met 'n kind by hom. Daar is geen plek om om te draai nie, en om verby te gaan is uiters gevaarlik, want hy weet deur lang ondervinding hoe vinnig die slang kan wees. Hy kies egter die laaste weg, slaan die perd en kom veilig verby. Die huis is vyftig tree van die plek. En daar mnr. Van Heerden weet dat ek groot belang in slange stel, neem hy dadelik die haelgeweer en skiet die dier in die watervoor. Die eerste skoot is te ver na agter, en die slang storm dadelik op die aanvaller af. Dit kos nog twee skote voor die slang dood lê, nie meer as | |
[pagina 201]
| |
tien tree van mnr. Van Heerden af nie. By ondersoek blyk dat dit 'n wyfie is, nege voet twee duim lank. Kort daarna skiet mnr. Van Heerden 'n tweede in die pad. Dit is ook 'n wyfie, tien voet vier duim lank. Ek wil graag self'n slang in lewe sien, en op advies van die eienaar gaan ek opsit by 'n bossie omtrent drie-uur smiddags, op 'n warm somerdag. Die ent pad waar die slange oorkom uit die vlei, is uiters sestig tree lank. Ek neem 'n koeëlgeweer, en 'n klein kindjie van mnr. Van Heerden wat my vergesel, dra 'n dubbelloop-haelgeweer. Voor ons gaan sit, blyk dit dat drie slange van taamlike grootte reeds dié dag oorgegaan het, maar geeneen is in die voor of op die wal sigbaar nie. Ons sit vir omtrent 'n uur, maar sien geen slang nie. Ons loop weer die pad af en vind dat nog drie slange in dié kort tydjie oor die pad gegaan het; en toe ons terugkom, is daar 'n vierde sleepsel agter ons oor die pad. Net toe kom mnr. Van Heerden self aan om te hoor watter geluk ons gehad het. Ons loop nou weer die sestig tree af en vind weer twee nuwe sleepsels. Dit lyk my onmoontlik dat soveel slange in die kort tydjie kon oorgaan waarvan geeneen in die voor of op die wal sigbaar was nie. Op my voorstel loop ons weer die pad af om die wal goed te ondersoek, mnr. Van Heerden voor, met 'n kierie in die hand, ek tweede en die seun agter. In die groen gras by ons voete het een makoppa so weggekruip dat ons almal verbyloop en byna op hom trap sonder om hom te sien. Die seun moes hom egter te na gekom het. Hy is skaars verby, of die slang staan met 'n groot geblaas orent. Voor ek die geweer kan oorhaal, het mnr. Van Heerden hom met die kierie platgeslaan. Dis 'n jong mannetjie. Die leser sal begryp dat dit onmoontlik is om 'n plaas onder sulke omstandighede te bewerk sonder dat iemand iets oorkom. Dit was ook nie lank ná die makoppas hulle verskyning op Rietvlei gemaak het nie, toe 'n treurspel plaasvind wat die hele Swaershoek ontroer het. Mnr. Piet van Heerden se jongste seun, ongeveer sestien jaar oud, kom een middag uit die land huis toe. Omtrent dertig tree van die huis gaan die voetpad deur 'n kol taamlike lang gras. Net toe hy in die middel van die gras kom, voel hy skielik 'n geweldige slag en gewig aan sy been, sodat hy op sy hande neerslaan. Dit was 'n enorme makoppa wat sy slagtande met sulke geweld in die been ingedryf het dat hy nie in staat was om self los te raak nie. Die seun moes hom losruk, en daartoe was sy uiterste krag nodig. Die slang gaan toe weg, en die jong man die huis in, waar sy ouers met enkele besoekers sit en praat. Sy eerste woorde was: ‘'n Makoppa het my gebyt, en ek moet doodgaan!’ Hy het toe omslagtig en wonderlik bedaard 'n verhaal van die hele gebeurtenis gegee. Dadelik was alles in rep en roer. Perde is opgesaal, die familie is bymekaargeroep en 'n boodskapper na die naaste winkel ('n uur te perd) om eau-de-luce te haal. Intussen is allerhande middels aangewend: brandewyn en melk, teerbande bo die wond, bossiespappe, ens. Maar die eerste kenteken van vergiftiging het so gou verskyn dat maar min gedoen kon word. Die asemhaling het dadelik moeilik geword en die gewonde | |
[pagina 202]
| |
kla gedurig oor ondraaglike benoudheid en geweldige pyn in die bytplek. Hulle neem hom buite op die stoep, en daar volg die laaste kentekens vreeslik gou op mekaar: gedurige vomering, en die asemhaling al moeiliker. Eindelik het die gesig swart geword en het die seun in geweldige stuipe gesterf. In die algemeen is dit die gewone loop van vergiftiging deur bakkopgif waar die tande nie onmiddellik in 'n groot aar geslaan het nie. Die heel eerste teken in alle warmbloedige diere is 'n versnelling van die hartklop. Op die hart self het die gif in die eerste oomblikke geen ander nadelige uitwerking nie. Dit lyk of die versnelling van die hartklop ten doel het om die gif so gou as moontlik goed in die bloedstroom te voer, want sy dodelike uitwerking vind op 'n geheel ander plek plaas. In die ruggraatstelsel van alle diere is daar sekere kolle (ganglione) van waar die gevoelsenuwees uitgaan wat die beweginge van die liggaam regeer. Langs die gevoelsenuwees uit twee sulke kolle loop die lewenskrag wat die gedurige werking van die longe verseker. Dit is hierdie gevoelsenusentrums wat deur die gif vernietig word, waardeur asemhaling onmoontlik word. En dit is nie 'n tydelike verlamming nie, maar 'n volkome vernietiging so ver as die gif gaan. Die verdonkering van die gelaat is nie 'n direkte werking van die gif soos baie mense dink nie: dit is eenvoudig die gevolg van die werkstaking van die longe, waardeur die ongesuiwerde bloed nie langer helderrooi slagaarbloed word nie, maar donker van kleur word en in die buite-are bly. Dieselfde gevolg sien 'n mens wanneer iemand gewurg word. Maar dit is nie die enigste manier waardeur die gif sy groot doel bereik nie. As dit onmiddellik in 'n groot aar gespuit word, dan sterf die dier onmiddellik - gouer as wanneer 'n koeël deur die harsings gaan. Die oorsaak van die dood in sulke gevalle is waarskynlik die te geweldige stimulasie van die hart, want dié orgaan is dan altyd, ná die dood, krampagtig inmekaargetrek, terwyl geen ander lewensentrum verandering aantoon wat aan die werking van die gif kan toegeskrywe word nie. Addergif het in die algemeen dieselfde loop, met die onderskeid dat dit in sommige gevalle onmiddellike stuipe veroorsaak, wat dikwels ook dadelik die dood voorafgaan. Die stuipe lyk veel op die senuweewerking wat in die beskrewe geval van bakkopgif so 'n vinnige dood veroorsaak deur hartslag. Daar is in dié gevalle geen gif in die hart self te bespeur nie, en die instorting is ook in alle gevalle te vinnig vir die gif om die hart self te bereik. As die dood nie deur die stuipe veroorsaak word nie, kom die dier weer reg; en daarna is die loop van die gif dieselfde as dié van bakkopgif. Daar is nog een ander verskynsel in verband met altwee soorte gif waarvan die oorsaak min of meer duister is. In sommige gevalle ly die dier of mens gedurende die loop van vergiftiging aan geweldige bloedstorting. Nie alleen stroom bloed deur al die liggaamsopeninge nie, maar deur die vel self bars bloedsweet - 'n toestand wat ook spoedig in die dood oorgaan. My gedagte is dat dit te wyte | |
[pagina 203]
| |
is aan die geweldige bloeddruk en stimulasie van die hart, want dit is 'n eerste voorteken van die gif. Daar was enige jare gelede so 'n geval in Port Elizabeth. Die Direkteur van die Museum in dié stad het die skrywer, in 'n voorlesing deur hom gegee, aangeval omdat skrywer beweer het dat 'n sekere middel (kaliumpermanganaat) nie in die ware sin van die woord 'n teëgif is nie. In dieselfde artikels het die skrywer ook as sy opinie te kenne gegee dat 'n sekere Suid-Afrikaanse boomslang (Bucephalus lapensis) 'n giftige slang is, waaroor groot meningsverskil bestaan. Enkele weke daarna is 'n bediende van die museum deur dieselfde boomslang gebyt onderwyl hy besig was om die slang van een hok in 'n ander te plaas. Die Direkteur had toe 'n praktiese demonstrasie van die waardeloosheid van permanganaat as 'n middel. Die stof is dadelik op aangegewe manier aangewend, en desnieteenstaande het die gif sy gewone loop geneem. In die hospitaal was die beskrewe bloedstorting 'n kenteken in hierdie geval. Alle uit- en inwendige middels is aangewend, ook adrenalien, 'n nuwe middel van die grootste waarde om bloed te stuit. In dié geval had die middel geen sukses nie. En juis dit bewys ook myns insiens die bewering dat die geweldige bloeding toe te skrywe is aan die stimulasie van die hart en die verhoging van die bloeddruk wat die gif voor alles veroorsaak; want adrenalien, ofskoon dit in gewone gevalle van verwonding die bloed dadelik stop, is tegelyk ook die sterkste verhoër van die hartslag en die bloeddruk. Wat teëgif aangaan, kan eenvoudig dit gesê word, dat onder gewone middels nog geen teëgif in die ware sin van die woord ontdek is nie. Verskillende middels besit die hoedanigheid dat hulle dadelik die gif vernietig wanneer hulle in onmiddellike aanraking daarmee gebring word. Kaliumpermanganaat doen dit ook, maar ek het self in die laboratorium op alle maniere tevergeefs probeer om die middels aan te wend ná die inspuiting van die gif - en in die laboratorium geskied die aanwending van die middel natuurlik baie gouer ná die inspuiting van die gif as dit ooit kan gebeur in geval van 'n ongeluk onder gewone omstandighede. Ware middels is daar egter in die laaste tyd ontdek in verskillende lande. Dit berus almal op die inentingstelsel. 'n Fransman, dr. Calmette, van die Pasteurinstituut op Ryssel, was die eerste om dié ontdekking te maak. Hy spuit slanggif in 'n perd en verhoog die dosis elke dag totdat die perd veertig maal 'n dodelike hoeveelheid met gemak kan verdra. Uit die bloed van sy perd word dan 'n serum gemaak wat in alle opsigte doeltreffend is. Nie alleen is dit 'n middel teen die gif nie, maar die inspuiting beskerm 'n mens of dier vir enige jare teen die werking van die gif. Ongelukkig hou die serum nie goed in warm lande nie; en of dit vir alle slanggif goed sal wees, moet nog bewys word, ofskoon Calmette dit beweer.Ga naar eind1: By kruipende diere (akkedisfamilie) werk die gif gewoonlik as 'n sterk slaap- | |
[pagina 204]
| |
verwekkende middel. Ná inspuiting val die dier in 'n diepe slaap waarvan die dood die end is. En dis opmerklik dat, ofskoon voëls warmbloedige diere is, die gif op hulle presies net so werk as op die akkedisse.Ga naar eind2: Onder warmbloedige diere is daar maar min onderskeid wat vatbaarheid van die gif betref. Die gewig van die dier staan altyd in sekere verhouding tot die hoeveelheid gif wat 'n dodelike dosis uitmaak. My eie ondervinding is dat 10 mg gedroogde bakkopgif, in alkohol opgelos, genoeg is om 'n hond van 20 pond gewig gou dood te maak. In alle lande is daar stories dat sekere diere onvatbaar vir slanggif is. So word in Indië vertel dat 'n klein meerkat (mongoose) wat gewoonlik slange doodmaak, nie doodgaan van slangbyt nie. In die laboratorium is bewys dat dit onwaar is. Die enigste middel wat die mongoose teen slangbyt besit, is sy ratsheid. In Suid-Afrika word ook dieselfde onware storie van verskillende diere vertel. Enige jare gelede was die skrywer toevallig ooggetuie van 'n voorval wat aanleiding tot 'n interessante ondersoek gegee het. 'n Bont ratel (nie die gewone witrug nie) is deur twee honde in sy nabyheid gevang. Voor iemand kon bykom, was die dier vreeslik verskeur. Die ingewande was geheel uitgeruk, die mantelvlies geskeur en die hart en longe blootgelê. Toe die gevange dier van die honde vrygemaak is, was hy nie alleen nog lewendig nie, maar het dadelik weer begin vlug. Daarna is skrywer oortuig dat daar geen dier is wat moeiliker is om dood te maak as 'n ratel nie. Goed gegrond op waarheid is die Afrikaanse spreekwoord: ‘Taai soos 'n ratel.’ En die vraag het hom voorgedoen as 'n saak wat waarskynlik anatomies oplosbaar is, waarin juis die taaiheid bestaan. Ongelukkig was daar maar min kans vir grondige ondersoek, want ofskoon ratels in sommige distrikte volop is, is dit een van die moeilikste diere om in die hande te kry. Die uitslag van 'n paar anatomiese ondersoekings in dié rigting was negatief, ofskoon dit gedien het om die skrywer te sterk in 'n sekere teorie wat hy later miskien in die geleentheid sal wees om verder te bestudeer. 'n Ander bekende feit in verband met die ratel het aanleiding tot proefneming met slanggif gegee, naamlik die volstrekte onvatbaarheid van dié dier vir byegif. Dit is algemeen bekend dat daar geen groter heuningdief in Suid-Afrika is nie as die ratel (die mens natuurlik uitgesluit!). Wanneer hy 'n nes aanval, maak die wapens van die verdedigers op hom hoegenaamd geen indruk nie. In die meeste gevalle moet hy genoeg byegif in sy lyf kry om die dood van 'n groot os te veroorsaak, terwyl dit by hom hoegenaamd geen ongemak veroorsaak en geen nadelige gevolge nalaat nie. Die proef is uitgevoer op twee jong ratels wat in gevangenskap grootgeword het. Die volgende notas sal die verloop van gebeure voldoende aantoon: I - Ratel. Gewig 17½ pond. Polsslag 133. Asemhaling 42. 10 mg gedroogde bakkopgif, in absolute alkohol opgelos, om 10.5 vm. direk in slagaar gespuit. | |
[pagina 205]
| |
10.6 - Tekens van geweldige pyn by inspuitplek; die dier loop gedurig in 'n sirkel en krap met agterpoot aan inspuitplek. 10.8 - Dier bedaar weer; eet voorgelegde kos. 10.10 - Polsslag 190; asemhaling 160. Dit was die enigste tekens van vergiftiging wat voorgekom het. 10.20 - Pols en asemhaling weer normaal. Die volgende dag was die dier, soos gewoonlik, gesond, en later het ook geen tekens van bloedvergiftiging hulle voorgedoen nie. II - Ratel. Gewig 18 pond. Polsslag 130. Asemhaling 41. 20 mg gedroogde bakkopgif (genoeg om 'n hond van 40 pond gewig dadelik te dood) in alkohol opgelos, om 4.31 nm. in die lies onder die vel ingespuit. 4.32 - Groter tekens van pyn as in vorige geval. Die dier kerm gedurig en rol heen en weer in sy hok. 4.50 - Dier begin vir die eerste maal te bedaar. 4.60 - Pols ongeveer 226; asem gejaag. 4.65 - Dier vreet aangebode voedsel. 4.70 - Hart en respirasie bedaar. 4.90 - Hart en asem normaal. Die dier word gesond sonder enige nadelige gevolge. Ongelukkig het ek geen proef geneem om te sien in hoever die absolute alkohol alleen vir bostaande verskynsels verantwoordelik was nie. Dit is natuurlik moontlik dat die alkohol alleen die styging van die hartkloppings en asemhaling veroorsaak het, want 'n aansienlike hoeveelheid moes gebruik word om die gif op te los om dadelik in die sirkulasie te bring. Oppervlakkig, en vir lesers wat geen besondere kennis van die saak het nie, sal hierdie resultaat van maar min belang skyn, maar iedere deskundige sal dadelik die waarde daarvan insien. Indien uit latere ondersoek sou blyk dat daar niks verkeerd was met bostaande proefneming nie, en dat die dier vir ander gif en siekte-inenting net so min vatbaar is, dan sal dit vir die wetenskap van die uiterste belang wees om die verskynsels breedvoerig te ondersoek. Daar is in die laaste jare veel navorsing gedoen na die stowwe wat die verskillende kliere van warmbloedige diere afskei, met resultate van die grootste waarde vir die wetenskap in die algemeen en meer bepaald vir die geneeskunde. Myns insiens sou navorsing in dié rigting, wat die ratelfamilie betref, ook nie vrugteloos wees nie. Nog een woord omtrent middels voor ek sluit. Onder ons mense word gedurig van middels teen slanggif gehoor. Hier heg een sy geloof (en sal sy lewe daarby laat) aan die vel van 'n swart hoenderhen; 'n ander weet verseker dat geen makoppagif bestand is teen likkewaanvet nie; 'n derde besweer jou (as dit ooit nodig sou word) om niks anders as wolwemis te gebruik nie. En so gaan dit voort. In alle distrikte is daar ou jagters en Voortrekkers wat een of ander mid- | |
[pagina 206]
| |
del sien gebruik het met goeie gevolg, en waar 'n ooggetuie was, kan 'n mens nie lig met woorde die geloof vernietig nie. En dis juis die kennis van ooggetuies wat in die saak die gevaarlikste kennis is. In kort kan verklaar word dat geeneen van dié middels die minste effek op slanggif het nie - en dit nieteenstaande die verklarings van geloofwaardige ooggetuies. Dit kan gebeur, en dit gebeur ook dikwels in die natuur, dat 'n slang 'n mens of dier byt, selfs vasbyt, sodat die bloed uit die wonde loop, sonder om een druppel gif in die lyf van die gebyte dier of mens te los. In so 'n geval is dit altyd moontlik om verskillende middels (soos wit hoendermis selfs en dergelike meer) met goeie gevolg te gebruik. Maar om in alle gevalle jou geloof aan sulke dinge te heg, is om die dood ver tegemoet te gaan. Waar 'n mens ver van 'n dokter woon en waar geen erkende middels binne bereik is nie, is die beste raad om so gou as moontlik die gebyte plek so diep moontlik uit te sny. Die wond sal somtyds minder gevaarlik wees as die gif. Dan moet die bytplek van die hart afgebind word deur twee of meer verbindings wat met 'n stok vasgewoel word en so lank styf gehou word as die pasiënt dit kan uithou. Inwendig is dit ook nutteloos om middels te gebruik. Brandewyn kan alleen die opname van die gif in die bloedstroom bevorder en het hoegenaamd geen voordelige uitwerking nie. Melk doen waarskynlik ewe min kwaad as goed, tensy wanneer (soos die leer is) dit by die groot maat ingegiet word in afwisseling met brandewyn. Dan moet ook die uitwerking nadelig wees. Die liggaam het genoeg werk om die gif te bestry sonder dat 'n mens die ongelukkige pasiënt in melk en brandewyn verdrink.
Eindelik nog 'n paar aantekeninge oor die mamba of makoppa, soos hy algemeen bekend staan. Selfs die mees ervare naturalis of die mees geoefende veldsman kan 'n volgroeide mamba in sy natuurlike omgewing nie sonder 'n onaangename gevoel aansien nie. Dikwels is dié gevoel verdeel tussen afkeer, aan die een kant, en bewondering van 'n dier wat so hoog gespesialiseer is, en so pragtig, aan die ander. Die grootte - dit is die grootste giftige slang in die wêreld, met uitsondering, miskien, van die hamadryad - word gewoonlik baie oordryf deur die skielike gewaarwording van die toeskouer. Onder die invloed van skrik en vrees word die slang gewoonlik op twee maal sy grootte geskat. Hierdie oordrewe indruk van grootte, aantal of nabyheid volg altyd op onverwagte ontmoetings met gevaarlike kruip- of soogdiere deur onbedrewe toeskouers. Maar in die geval van die mamba is dit nie alleen die grootte wat daartoe bydra om 'n gruwelike indruk te bewerkstellig nie; elke trek, elke beweging vertolk boosaardigheid, spoed, dodelikheid. In hierdie geval is die swart mamba bobaas. Die Sesoetoe-sprekende swartes van die noorde het dit gepas die naam van ‘Muriti wa lesu’ - skaduwee van die dood - gegee. In Waterberg bereik dit, as dit volgroeid is, 'n lengte van omtrent twaalf | |
[pagina 207]
| |
voet. Dit is lank en spitsuitlopend na die kop en stert. Volgens die vorm lyk dit baie op 'n Australiese skaapsweep. Die kop is lank en smal; die oë so helder as juwele; en dit is in staat om meer as die helfte van sy lyf regop te hou - die posisie wat dit gewoonlik inneem voordat dit aanval. Die giftande is spierwit, groot, effens na agter gebuig en steek helder af teen die donkerswart van die lyf. In 'n dreigende houding het die slang dieselfde skrikaanjaende voorkoms as sy neef, die swart rinkhals, hoewel dit nie die rekkende plat kop het as 'n verdere vreesaanjaende eienskap nie. Dit is 'n ware renperd onder die slange. Daar is miskien geen vinniger slang in die wêreld nie. Om 'n mamba in volle vaart oor die toppe van bossies of deur die takke van bome te sien seil, of selfs oor die kaal grond, laat 'n mens eerder dink aan die vlug van 'n pyl as aan die beweging van 'n ongevlerkte dier. Gedurende die paarseisoen uit die slang soms 'n harde, ratelende geluid van woede, sonder iets van die gewone slanggesis, om oortreders te waarsku. Wanneer ongestoord, is sy bewegings altyd sonder die minste teken van kragsinspanning, die bevalligheid self. In die skaduwee is sy kleur 'n diep, doodswart. In die sonlig is die hele lyf oortrek met skitterende weerskynsels van pers, groen en goud, wat in 'n oomblik se tyd omsit in gitswart. Anders as die ander lede van die slangfamilie seil die mamba voort sonder enige kronkelings. Hy gaan in 'n reguit lyn oor die grond en lyk dan presies soos 'n smal stroom swart vloeistof wat vinnig sy weg oor en deur alle hindernisse baan. Die sg. mamba is deur Smith aan die wetenskap bekend gestel. In die eerste uitgawe van sy werk oor die wilde diere van Suid-Afrika is daar 'n pragtige gekleurde plaat van 'n mamba. Dit is van 'n diep groen kleur. Smith beweer dat die slang deur een van sy draers gevind is, en dat hy self dit geskiet het, iewers naby Delagoabaai. Hy gee 'n gedetailleerde anatomiese beskrywing van die dier, en het natuurlik dadelik ontdek dat dit nou verwant was aan die Suid-Afrikaanse kobra, of bakkoppe. Die rekbare kopstuk, egter, ontbreek - vandaar die naam wat hy daaraan gegee het: Naja angusticeps. Naja is die natuurkundige naam van ons kobra. Die mamba word in die tropiese dele van Suid-Afrika aangetref. In Transvaal is sy suidelike perk 'n lyn van oos na wes getrek omtrent sestig myl ten noorde van Nylstroom. Dit is die enigste beperking van lokaliteit. Na die noorde van die lyn word dit in baie verskillende omgewings gevind. Dit kom in groot aantalle voor in al die vernaamste hoë bergreekse van Waterberg. Dit word ook aangetref in die droë Bosveld, langs die groot riviere, en is besonderlik lief vir moerasse. Sonder om in te gaan op die netelige kleurkwessie van die mamba, kan dit hier alleen terloops aangehaal word dat in Waterberg, altans, die kleur deur die natuurlike omgewing bepaal word, of miskien van die omgewing afhanklik is. | |
[pagina 208]
| |
Die swart mamba word byna uitsluitlik in moerasse gevind; die grys of loodkleurige - die loodslang van die Boere - word hoofsaaklik gevind in bergagtige streke en in die droër streke van die Bosveld, terwyl die verskillende groenes beperk is tot die dig-beboste riviere. Dit lyk waarskynlik dat hierdie lokalisasie in sekere mate in verband staan met beskermende kleur. Die mamba is tegelyk die vinnigste en dodelikste van alle Suid-Afrikaanse giftige slange. Sy gevaar lê in sy uitermate onsekere humeur. Met rukke sal hy sonder die minste rede of oorsaak aanvallend optree. Gewoonlik vlug hy met ongelooflike spoed van enige menslike indringer, maar nooit kan met sekerheid gesê word of hy gaan vlug of aanval nie. En wee die mens wanneer die mamba besluit om aan te val. Die aanval van 'n kwaai mamba is so vreeslik vinnig en hy pik met sulke dodelike sekerheid dat verdediging of ontvlugting uitgesluit is. |
|