| |
| |
| |
5 Weskoppies
Die grap skuil altyd naby trane - daarom is dit dat die mens geneig is om met alles wat tragies is in sy lewe, die spot te drywe. Vir wêreldhumor was die dood altyd 'n ryke bron gewees, en dit is 'n algemene gewoonte dat die naam van elke gestig waar sielkrankes bewaar word, mettertyd in die buurte spreekwoordelik en in grappige sin gebruik word. Tot onlangs - nou die ander dag nog - was Robbeneiland die enigste inrigting wat op dié wyse vir geheel Suid-Afrika moes diens doen; en dit is twyfelagtig of dit 'n teken is van vooruitgang dat daar vandag agt dergelike gestigte in Suid-Afrika is, elkeen ses maal so groot soos die ou Robbeneiland-inrigting van vyftig jaar gelede!
Hierdie groot toename is nie alleen te wyte aan 'n wassende bevolking nie: dit is ook grotendeels die gevolg van 'n vermeerdering in die menslike sielskrankheid self wat in alle lande die vermeerdering van bevolking oortref. Só groot is hierdie vermeerdering dat dit maklik is om ons teenswoordige kranksinnigheidsyfers in 'n alarmistiese lig te stel, om met nadruk op die feit te wys dat in die begin van ons tyd die volgelinge van Darwin so 'n toename reeds voorspel en beweer het dat kranksinnigheid oorsaak sal word, binne berekenbare tyd, van die finale ondergang van die mensdom.
Maar daar is ook 'n keersy. Daar is gerusstellers wat glimlag oor al die alarmblasery, en wat sulke gevolgtrekkings uit die syfers en feite maak dat hulle enige dag gereed is om ‘'n huis te bou en 'n vrou te trou’, nieteenstaande die Darwinistiese voorspelling.
Vir geen van beide partye sal ons die saak waarneem nie; laat die Suid-Afrikaanse syfers die leser vertel wat hulle te vertel het. Papier is geduldig, en met statistieke is dit moontlik om te bewys, miskien nie dat 'n wit saak juis swart is nie, maar ten minste dat dit effentjies donkervaalagtig van kleur is. Vir die onpartydige staan een feit in die hele gedagtewisseling bevestig, en dit is dat die buitensporige vermeerdering van al die grade van oorsaaklose sielslyding op een of ander manier verbonde is aan, of tred hou met die vermeerdering van bevolking. Vir die gewone leser skyn dit 'n onuitlegbare teenstrydigheid dat een helfte van die wêreld, blind vir al die gevare, gedurig roep: ‘Stuur ons mense en nog meer mense’; terwyl die ander helfte alle middele in die werk stel om van die oortollige mensevloed verlos te word. (Kranksinnigheid is natuurlik nie die enigste nadelige gevolg van 'n digte bevolking nie.) In Suid-Afrika het die kranksinnigheidsyfers gestyg van 0.72 per duisend in 1914 tot 0.78 in 1918. Waarom die syfer onruswekkend is, kom natuurlik daaruit dat, as dit so aanhou, moet die hele mensdom eindelik in gestigte woon!
Onlangs het dr. Dunstan, hoof van die betrokke departement van ons Unie, in 'n redevoering verklaar dat ses uit elke honderd van die bevolking van Suid- | |
| |
Afrika in gestigte woon, en dat twaalf uit elke honderd daar behoort te wees! Dit is moeilik om dié bewering te laat stryk met bostaande syfers, al word aangeneem dat die dokter blanke bevolking bedoel het. Hy is waarskynlik verkeerd gerapporteer.
Met al die syfers gewapen, het 'n besoek aan die Pretoriase inrigting (vir die gesonde mens) nietemin verbasing as gevolg - verbasing vanweë die onverwagte grootte. In stede van 'n hospitaal met die mensetal van 'n gewone hospitaal, ontwaar die besoeker dat Weskoppies 'n stad is met 'n bevolking wat die meeste van ons tweede- of derderangsdorpe oortref. Van die sowat sesduisend bekende kranksinniges in Suid-Afrika bevat Weskoppies tweeduisend. Buiten Weskoppies is daar nog sewe ander dergelike inrigtings in Suid-Afrika.
Die gebou self lyk by die eerste oogopslag baie kleiner as wat dit werklik is, omdat die besoeker dit in die skuinste sien. Die groot gebou is reëlmatig. Dit bestaan uit die gewone, Sentrale Massief, met twee vleuels, die Westelike vir vrouens en die Oostelike vir manne, en die Sentrale bestaan uit kantore, wagkamers, pakkamers en personeelvertrekke. Die groot gang wat dwarsdeur die gebou loop, van oos na wes, is meer as 'n kwartmyl lank! Behalwe die groot gebou is daar nog baie ander inrigtings, onreëlmatig oral in die omheinde gebied versprei.
Oor die grootte van die terrein is dit moeilik om uit oënskou te oordeel. Tot bo aan die rant gaan die draadheining en geplante bome en in die ander rigting tot na die spoorweg onder. Die ligging na die weste is nie duidelik waarneembaar nie.
En oral in die tuine loop en sit of speel die ingesetenes, sonder die minste teken van ‘bewaring’ of gevangenskap. Hier en daar, weliswaar, sien 'n mens iemand wat na 'n bewaarder lyk, maar wat is hy teen al die menigte? Tussen hulle en die vryheid is alleen 'n gewone draadheining. Later verneem 'n mens dat dit deel uitmaak van die nuwer behandeling van sielskrankheid. As 'n straf (en die noodsaaklikheid van straf word algemeen erken) is niks doeltreffender bevind nie as ontneming van die voorreg om elke dag vir 'n sekere tyd vry in die tuine rond te loop.
By my besoek is juis 'n krieketspel aan die gang op die pragtige oefenterrein tussen die Pasiënteklub en die S.A. Spoorwegklub. Onder eersgenoemdes is verskillende eersterangspelers. Een, die seun van 'n Engelse biskop, kom met ons gesels. Geen sigbare teken het hy in sy manier van praat, of in gelaatstrekke, van sy kwaal nie. Hy vertel dat hy krieket in Oxford gespeel het, maar dat hy nooit daar in die eerste spanne was nie. Nie te lank nie, of hy begin raad vra om sy bevryding uit die gestig te verkry. Sewe jaar sit hy al daar, en onlangs het hy 'n klompie geld geërwe waarvan hy geen genot het nie. In antwoord op ons
| |
| |
vrae erken hy naïef dat hy beter binne as buite is, ‘oor die algemeen gesproke!’
Wat was die oorsaak van sy opsluiting? Sy antwoord is 'n hoflike bestraffing: ‘Julle kan begryp, menere, dat dit my nie aangenaam sal wees om julle nuuskierigheid te bevredig nie!’
Van die toeskouers kom stadig nader om deel te neem aan die gesprek. Verskeie is Transvalers wat begerig is om die laaste eleksienuus te hoor. Sal Smuts inkom of die Nasionaliste? Ons word gou gewaar dat die politieke geskille van ons volk nie buitekant die hekke van Weskoppies bly nie! Spoedig is 'n lewendige argument, met spore van groeiende bitterheid, aan die gang, waaraan 'n paar van die bewaarders ernstig deelneem!
Onderwyl ons die graniettrappies na die middelingang optree, hoor ons onverwags, in die ware preektoon, woorde uitgespreek wat bereken is om die mees senulose besoeker die skrik op die lyf te ja. In Engels resiteer iemand Dante se beroemde opskrif voor die poort van die Hel:
‘Wie hier binnetree, versaak vir ewig alle hoop!’
(‘Abandon hope all ye who enter here.’)
Dit is die woorde van 'n jongkêrel, deftig geklee, wat naby die ingang teen 'n pilaar geleun staan, met 'n bewaarder op die agtergrond - klaarblyklik iemand wat 'n passende dramatiese omgewing behoorlik waardeer. Sy woorde bring almal in die buurt onwillekeurig tot stilstand.
‘Ja, menere,’ vervolg hy, ‘selfs ek, die minste onder die dienare van God, moes ook eindelik die hoop versaak!’
Ons deskundige gids gee ons te kenne dat dit in sommige opsigte 'n merkwaardige geval is. En waarlik blyk hy 'n spreker met 'n aangebore redenaarskuns te wees! Alles wat hy sê, word op 'n boeiende wyse in woorde gebring; en hy besit 'n kennis van die Bybel wat eenvoudig verbasend is. Elke draai van ons gesprek, elke argument of bewering weet hy met 'n passende teks te staaf of te vernietig. Hy gee ons sy papiere ter insae: almal getuigskrifte van die grootste winkeliers in die groot stede van Suid-Afrika, en almal beweer dat die houer in sekere opsigte die beste klerk is wat ooit by hulle in diens was - egter nooit lank by een baas nie.
'n Paar jaar gelede is hy skielik in Kimberley ‘bekeer’ (ons gids bevestig dit alles); hy het gereeld na byeenkomste van 'n sekere Apostoliese genootskap gegaan en is onmiddellik erken as 'n bekeringsprediker van buitengewone krag. Hy lê sy betrekking neer om hom geheel en al aan die saak te wy, en word deur die genootskap van die een dorp na die ander gestuur; eindelik na een van ons grootste hawestede. Hier was 'n godsdienstige triomf hom te wagte. Sy prediking het 'n ongeëwenaarde opwekking as gevolg gehad. Honderde is aand ná aand bekeer, onder al die gewone tekens van uiterste ontroering; duisende volg hom deur die strate. Hy self gaan ook hoër in die bekering. Hy ontvang die
| |
| |
‘Geestesdoop’ en ‘tale-gift’ (en eindelik gee hy ons 'n voorbeeld van 'n ‘vreemde’ taal!). Maar dis niks ‘gekker’ as wat nog daagliks op sekere godsdienstige platforms gehoor kan word nie. Hy word deur die leiers van die genootskap begroet as 'n ware ‘Apostel der bekering’. En uit die midde van sy seëpraal in die kranksinnigegestig!
Daarna is sy geskiedenis 'n eentonige loop van bevrydings op proef en weer van opsluiting.
Ons is deur ons gids gewaarsku om tog nie in die gewone besoekerstrik te val nie - d.w.s. om die kranksinnigheid te betwyfel van elkeen wat in 'n oomblik redelik met ons praat nie. Maar een van ons geselskap kon dit nie hou nie. Hy het dikwels vergaderings van die Apostoliese Broederskap besoek, en kon uit eie ondervinding konstateer hoe ons vriend baie minder ‘mal’ was as die vernaamste leiers! Sonder 'n woord laat die dokter ons die dagboek van die ‘redenaar’ sien (daar word 'n noukeurige dagboek van elke pasiënt gehou). Gister is hy vir ses uur agtereen ‘afgesonder’. Dit beteken die swaarste straf wat in die gestig toegepas word: opsluiting in die matraskamer, waar die pasiënt nòg homself nòg enigiets anders kan beseer of verniel. Dit het die uiterste krag van vier bewaarders gevat om hom daarin te kry! Uit die geskiedenis van die prediker blyk ook dat die onmiddellike oorsaak van sy opsluiting gedrag was wat hom binne die bereik van die kriminele wet geplaas het, en wat geheel en al teenstrydig is met sy geloofslewe!
Die dokter verklaar dat daar geen enkele geval is van godsdienswaansin wat nie gepaard gaan met diepe storing van die geslagsin nie. Daaruit kom dikwels allerlei publieke skandale te voorskyn wanneer mense van 'n uiterlik hoë godsdienstige lewe hulle skuldig maak aan misdrywe wat hulle blootlê aan 'n beskuldiging van die grootste huigelary.
Iemand wat iets van kranksinnigheid af weet, sou in so 'n geval 'n ander vonnis vel.
Ons gaan die gang op om die matraskamer te besien - die inrigting wat in romans so 'n vername plek inneem. Daar is twee soorte: die muur en vloer van die een is met gladde yster bedek; in 'n ander word gladde gomlastiek in plaas van yster as vloer- en wandbedekking gebruik. Die eerste is vir pasiënte wat altyd dreig om hulself te beseer, maar nooit so ver kom nie. Hy hou op om sy kop te stamp sodra hy regtig seerkry. Die ander is vir pasiënte wat dadelik selfmoord sou pleeg as die mure hard genoeg was.
Die kamertjies is ongeveer 12 by 12 voet en 14 voet hoog, en 'n mens sou dink dat niemand sonder gereedskap so 'n kamer van binne sou kon verniel nie. Daar is g'n skeur of voeg in muur of vloer nie, en as die deur toe is, is 'n mens binne 'n soomlose spelonkie van yster of gomlastiek wat geen skroef of skeur laat sien nie. In die deur is 'n klein vierkantige ruit van glas, 'n duim dik, waardeur die bewaarder die opgeslote pasiënt kan waarneem. Gewoonlik word
| |
| |
die pasiënt nakend opgesluit, of eers nà 'n deeglike ondersoek na die aanwesigheid van voorwerpe waarmee hy homself sou kon seermaak.
Die eerste les wat 'n bewaarder in so 'n gestig moet leer, is dat hy met ‘slim’ mense te doen het - gewoonlik slimmer as die mens wat glo gesond is!
Daar was een pasiënt wat nieteenstaande al die voorsorgsmaatreëls die wande en vloer van die gomlastiekkamer stukkend sny sodra hy opgesluit word. Hy word nakend opgesluit en byna gedurig deur 'n bewaarder onder oë gehou; maar as hy weer uitkom, is daar 'n nuwe sny in die muur of die vloerkussings. Die sny is altyd in die hoekie of net langs die ruit - die enigste plekke buitekant die gesigskring van die bewaarder. Waarmee doen hy dit? Keer op keer word hy deur die dokters self ondersoek (en hulle weet hoe om so 'n ondersoek deeglik te doen!) om die geheimsinnige stuk gereedskap te ontdek - maar tevergeefs! Met sy tande of naels kon hy dit onmoontlik doen.
Eindelik merk 'n bewaarder dat sy wang opgeswel is. (Elke keer word sy mond en keel natuurlik goed deurgesoek.) Die dokter wil toe sy kiestande nagaan om die oorsaak van die swelling te kry, maar hierteen versit die man hom so geweldig dat die ondersoek met behulp van chloroform moes plaasvind.
En daar kom die ‘mes’ te voorskyn. Hy het eenvoudig gedurende sy vrye tyd in die tuin, met behulp van 'n klip of ander soortgelyke voorwerp, een van sy groot kiestande losgewerk en uitgetrek; daarop het hy die tand mooi skerp geslyp en weer terug in die tandvleis gedruk! Met die skerp geslypte tand kon hy maklik die gomlastiek van die muur deursny.
Hier is 'n ander storie wat 'n nog wonderliker bewys van kranksinnigheid oplewer.
'n Pasiënt steek elke nag sy beddegoed aan die brand. Ons gids was belas met die naspoor van sy modus operandi, en weke lank was die vuurmakery van ons vriend 'n verbasende geheimsinnigheid wat die hele gestig eindelik in spanning gebring het. Elke nag net voordat hy gaan slaap, word vir die pasiënt 'n nuwe katel met beddegoed reggeplaas. Hy self word in die badkamer uitgeklee en van toonnael tot kophaar ondersoek, en dan in 'n bad gedompel. Vervolgens word hom 'n slaappak aangetrek. Sorgvuldig word hy bewaar teen aanraking met enige ander pasiënt. En binne 'n paar minute is sy kombers of deken aan die brand!
Hier, ook, het die gekrenkte liggaam eindelik die geheim openbaar. Die bewaarder wat hom in die bad moes sit, merk op 'n aand dat sy een oog rooi is en traan. Met 'n glimlag laat die pasiënt 'n ondersoek toe; sy grap het homself al waarskynlik begin verveel. En ... onder die boonste ooglid vind die bewaarder 'n paar afgebreekte vuurhoutjiekoppe en 'n stuk dosiekant om die fosfor aan die brand te stryk!
| |
| |
Byna al die pasiënte word toegelaat om te rook; van een van hulle kry hy in die loop van die dag, onderwyl hul buite is, die vuurhoutjies en 'n stukkie dosie. Dit word dan op die nodige lengte afgebreek en onder die ooglid weggesteek! Byna ongelooflik dat 'n mens dit kan uitvoer, en nog wonderliker is dit dat dit so lank nie ontdek kon word nie. Hy het later erken dat dit hom dikwels misluk het, omdat hy die vuurhoutjies nie weer behoorlik droog kon kry nie.
Dit is begryplik dat so 'n gestig baie stories oplewer. Hier is nog een wat die dokter ons van die gomlastiekkamer vertel.
Die kamertjie is tussen 13 en 15 voet hoog, en die wande so glad as papier, sonder 'n voeg of riffie. In die middel van die plafon is 'n elektriese lampie aan 'n koperhaak.
Nou is daar 'n soort kranksinnigheid waarvan die uitstaande simptoom 'n verbasende ratsheid is. Die dokter maak ons dit duidelik dat die wetenskap die meeste kranksinnigheid beskou as 'n tree terug na ons aap-voorouers - daarom is dit dat 'n toeskouer so baie aapagtige gebare in die gedrag van 'n kranksinnige gewaar. Hierdie ongelooflike ratsheid is een van die aapkaraktertrekke wat die kranksinnigheid weer in die mens te voorskyn bring.
Onder ander van dieselfde tipe het hulle ook 'n jong Boereseun gehad wat die gestig 'n vreeslike las aangedoen het. Dit was eenvoudig onmoontlik om hom in die hoog ommuurde agterplaas op te sluit. In 'n kits was hy bo op die dak van die hoogste gebou, en net so moeilik om weer in die hande te kry as 'n bobbejaan. Onmoontlik was dit ook om hom op die gewone wyse in die matraskamer op te sluit.
Drie bewaarders neem so 'n opsluiting waar. Twee druk hom teen die verste muur op die vloer vas onderwyl die derde klaar staan om die deur te sluit. Maar net soos 'n kat of 'n aap is hy tussen hulle bene of oor hulle koppe uit, nog vóór die twee bewaarders kan buite kom.
Dr. Dunstan gee toe die plan aan die hand om die mensaap 'n gewone streepsak oor sy kop te trek en hom dan op die vloer vas te druk; dit sou hom ten minste twee of drie minute neem om sy bolyf uit die sak los te kry, en op dié wyse sou die bewaarders voldoende tyd hê om uit te kom en die deur weer agter hulle te sluit. Uitmuntend het die plan gewerk - vir die eerste maal, naamlik. Toe hy die sak van sy kop af het, vind die seun hom in die matraskamer toegesluit.
Een bewaarder moes hom elke twintig minute deur die glasruitjie betrag, en binne 'n halfuur ontvang dr. Dunstan die onrusbarende berig dat die seun - ons sal maar sê X - spoorloos uit die matraskamer verdwyn het! Die bewaarder het geen sleutel gehad nie, en dr. Dunstan moes self kom om die deur oop te sluit. 'n Beskouing vooraf deur die ruit toon aan dat die bewaarder niks minder as die waarheid gerapporteer het nie. Die kamertjie was leeg; X het skoon verdwyn. Hy het die geheim ontdek om deur 'n agtienduim-muur te gaan sonder om 'n spoor na te laat!
| |
| |
Die werklikheid was byna net so wonderlik as die eerste veronderstelling. Toe die dokter en sy bewaarders binnetree, sien hulle X bo teen die plafon. Met die twee vingers van een hand hang hy aan die haak van die elektriese lig!
Hoe hy dit uitgevoer het, is vandag nog 'n verborgenheid in Weskoppies.
In die groot middelgebou is die teater - 'n saal wat kan wedywer met die beste in die hoofstad. Hiernaas is ook die wassery van die gestig, waar alleen vroue werksaam is - pasiënte en bewaarderesse. Een pasiënt hou vol dat sy alleen bekwaam is om die ingewikkelde masjinerie aan besoekers uit te lê, en haar eis word goedwillig deur die dokter toegestaan. Daar is niks in Suid-Afrika wat hiermee gelyk staan nie. Sy wys ons 'n elektriese strykyster wat met een stryk 'n tafellaken klaarmaak; 'n masjien wat in 'n paar minute 'n bondel wasgoed droogmaak, sonder hitte of persing, alleen deur vinnig draai.
In die middel van haar betoog neem ons nuwe gids 'n geleentheid waar om ons in die oor te fluister dat sy werklik die Koningin van Portugal is; en dat die dokters dit goed weet, maar om een of ander geheime oorsaak weier om haar aanspraak te erken.
Buite die gang is die agterplase, waar 'n menigte kranksinniges doelloos ronddwaal - sommige ‘gevaarlik,’ sommige lank reeds skadeloos vir goed of kwaad. In die laaste gevalle is die verstand geheel uitgewis; dink of praat, lag of huil, onthou of vergeet, haat of liefde - niks van dit alles het nog enige betekenis nie. Laer as die diere - dit is die laaste stap: die volstandige amentia.
En hier maak 'n mens kennis met lede uit elke rang van die maatskaplike lewe: die ou rondlopers van die strate, aan elke ingesetene vir jare bekend; langs hom 'n man wat eenmaal op die voorgestoelte van die Staat gesit het - begrawe en vergete en tog nog lewend; lewend-dood!
Op elke agterplaas vind ons Transvalers uit bekende families. Verskeie van dié wat aan ons voorgestel word, het hul loopbaan begin met alles wat gewoonlik die lewe aantreklik maak: pragtige plase, 'n gelukkige huwelik en liggaamlike gesondheid. Wat kan 'n mens meer verlang? In elkeen van dié gevalle is daar een feit wat die aandag vashou. Die gestig doen veel moeite om die ‘familiegeskiedenis’ van elke pasiënt op te spoor.
En daar is geen enkele Transvaalse geval van dié aard waarvan die ‘familiegeskiedenis’ nie bedenklik is nie. Kranksinnigheid of spore van kranksinnigheid word in die voorgeslag gevind; en in baie gevalle is die kranksinnige ‘neiging’ deur 'n huwelik tussen bloedverwante vererger.
Een van die slegste simptome van kranksinnigheid in 'n ras is vallende siekte, want feitlik is vallende siekte 'n vorm van kranksinnigheid. Niemand wat aan vallende siekte ly, verklaar die dokter, behoort in 'n huwelik te tree sonder die beste raad en sonder lang nadenke nie; en seker nooit met 'n bloedverwant
| |
| |
nie. Volgens die syfers van ons Verdedigingsdepartement is die Afrikanervolk méér onderhewig aan vallende siekte as enige ander beskaafde volk op aarde. Uit 'n higiëniese oogpunt is die syfers skrikbarend hoog - so hoog dat deskundiges in ander lande altyd die juistheid van ons opgawes betwyfel. Aan die ander kant word die waarskynlikheid van juistheid gesterk deur die feit dat huwelike met bloedverwante vir jare 'n ongelukkige noodsaaklikheid onder ons volk was. Die Trek het ons in die noorde feitlik tot 'n afgesonderde familie gemaak. Ons spruit alreeds uit 'n klein ras voort, en dit kan nog vandag met waarheid gesê word dat die Afrikanervolk een familie uitmaak.
Daar is dus 'n voorbehoedmiddel wat die feite self aanbeveel. 'n Huwelik tussen nig en neef het nie onvermydelik kranksinnigheid tot gevolg nie, maar daar is altyd groter gevaar in so 'n huwelik as in 'n huwelik buitekant die familie.
Mismaaktheid, met of sonder amentia, is 'n ander gevolg van 'n huwelik tussen bloedverwante. Wat mismaaktheid aangaan, word ook veronderstel dat ons syfers hoër is as dié van die meeste beskaafde lande, behalwe miskien 'n paar Suid-Europese streke.
Omtrent duisend tree van die groot gestig af is 'n inrigting waar mismaakte kranksinniges bewaar word. As die opskrif deur ons ‘prediker’ verkondig, daarginds passend was, dan is hierdie inrigting ongetwyfeld die laaste sirkel van die Inferno! Onnodig om te sê dat dit nie aan elke besoeker getoon word nie. Hier word wesens aan die lewe gehou, met die uiterste moeite, inspanning en koste; skepsels in die ware betekenis van die woord wat nouliks die menslike gedaante voorstel. Sommige het 'n afsonderlike verpleegster nodig, en moet kunsmatig gevoer word.
Hier kan die besoeker ‘familiegeskiedenis’ hoor wat dadelik die oortuiging wettig dat die Staat sommige huwelike sonder versuim onder die hoogste misdade behoort te rangskik.
Ver verwyder van alle ander geboue, aan die westekant van die Sentrale, is 'n ander eensame saal wat besoekers ook maar selde sien - tot groot ongenoeë van die verpleegsters. Hulle klagte is naamlik dat besoekers (o.a. die Goewerneurgeneraal) alleen die ‘mooi’ gedeelte van die gestig getoon word en nie die harde werk sien nie. In dié ‘mooi’ gedeelte is alles verbasend stil. Daar is niks van die geraas, gekerm en geskreeu wat die meeste mense altyd in hul gedagtes met die woord ‘gestig’ verbind nie. (Vandag is dit nog die geval in Europa. Daar is veel meer geraas as by ons. Ons mediese gids skryf dit toe aan ons klimaat.)
Die verpleegsters van die eensame saal beweer dat die meeste besoekers 'n glad verkeerde denkbeeld vorm van wat die personeel mee te kampe het: van wat hulle pligte werklik is wanneer die ‘mooi’ kant alleen besien word.
Ons nader die gebou net met sonsondergang - die stilste tyd, word ons ver- | |
| |
tel. Ons bereik dit na 'n taamlike wandeling deur die bome - Australiese bloekoms en groot inheemse dorings, wat genadiglik deur die tuinmakers gespaar is.
'n Dreuning, 'n gekletter van oneindige gepraat, 'n gesing, gestamp, gelag, gehuil en nou en dan 'n geweldige kreet tussenin, begroet meestal die naderende besoekers. Hier word ‘rasende’ vroue bewaar, onder 'n staf van vyf of ses jong vroue, van wie die meeste Afrikanermeisies is. By ons besoek is dit ‘taamlik stil’. Die meeste van die pasiënte is in hul kamers opgesluit. Nog vyf of ses sit buite. Vir ons is die ‘taamlike stilte’ van die matrone 'n onuithoudbare lawaai.
Die gebou is V-vormig: 'n eetsaal aan die bo-ent en slaapkamers langs die vleuels. Elke pasiënt is in 'n afsonderlike kamer, die deur van buite gesluit, met die gewone loerruit van matraskamers. En hier, ook, is dit verbasend om alles oop te sien. Geen muur, geen heining, niks wat keer nie. Uit die agterplaas kan die pasiënte eenvoudig die veld instap as hulle wil, en 'n mens sou dink dat dit makliker moet wees vir ses manne om dertig springbokke op die oop veld vas te keer as vir die staf van meisies om hulle pasiënte te regeer.
Die matrone, 'n dame wat baie jonk vir haar gewigtige betrekking lyk, vertel ons dat hulle 'n ‘slegte’ middag gehad het. Nou is die meeste gelukkig veilig opgesluit (maar nog ver van stil). Haar blink-wit, gestyfde voorskoot is ontsier met vars vlekke wat dadelik die aandag van die dokter trek.
‘O,’ sê sy, ‘dit was weer Anna Maria gewees!’
Ons verneem dat sy dié middag deur verskeie pasiënte aangeval is en deur 'n verwoede aan die hare rondgesleep is totdat ander verpleegsters haar kom red het. Waarlik, dit het 'n sterk senugestel nodig om oor dié eensame gebou, ver in 'n bos verwyder, die wag te hou: alles om jou oop en geen man in die nabyheid om te help nie. Dit het 'n kwaliteit van dapperheid nodig wat min mense besit.
Die dokter vertel ons dat familielede, magistrate, ens. met die opstuur van pasiënte byna altyd 'n groot fout begaan wat die latere behandeling agteruitsit. In byna ieder geval word die pasiënt onder valse voorwendsels na die gestig gebring. Dit word hom of haar vertel dat hy of sy op 'n besoek uitgaan, 'n dokter moet geraadpleeg word of iets dergeliks. Die skrik en teleurstelling wanneer die pasiënt hom dan in 'n ‘kransinnigegestig’ bevind, werk uiters nadelig, en verwek 'n weersin of woede wat lank voortduur. Die beste - die enigste reël - met sielly dendes is: vertel altyd die waarheid; stem ook nooit toe in hul waansin nie. |
|