Een beskrewe Suid-Afrikaanse geval is van groot wetenskaplike belang, in die eerste plek omdat dit nie met enige teken van sielskrankheid gepaard gegaan het nie, en in die tweede plek, omdat hierin al die bekende verskynsels duidelik bespeurbaar was.
Mnr. A., toe sy geval eers bekend geraak het, was 'n jong Afrikaner van ongeveer agt-en-twintig jaar oud. Hy was destyds onderwyser op 'n groot buiteskool in Transvaal, wat egter ver van die naaste dorp was. Later het hy sy verblyf in 'n stad opgeneem, en met 'n geleidelike verbetering in sy toestand, was hy in staat om 'n aansienlike rol in die openbare lewe van sy volk te speel. Hy het 'n loopbaan gevolg wat vandag nog belowe van geen geringe nut vir Suid-Afrika te wees nie. Toe hy nog onderwyser was, was sy eienaardige sielstoestand so hinderlik dat hy verskeie maal sy toevlug tot deskundiges geneem het met die hoop op genesing. Op dié wyse het sy toestand bekend geraak.
Liggaamlik was hy gesond, sterk en fris gebou, 'n vermaarde voetbalspeler en fietsryer, en in sy ‘normale’ persoonlikheid was dit dadelik op te merk dat hy buitengewone begaafdhede besit.
Die eerste ongewoondheid in sy lewe was dat hy in sy kindsdae vir jare deur slaaplopery gepla is. Byna elke nag gaan hy aan loop, sodat sy ouers allerhande maatreëls moes neem om hom uit gevaar te hou. Dit was waarskynlik die eerste verskyning van die wonderlike tweede persoonlikheid wat later so 'n magtige invloed in sy lewe geword het.
Die ontwikkeling van die tweede siel het baie stadig voortgegaan. Die eerste wat hy herinner, is dat hy nou en dan skielik bewusteloos word of ‘aan die slaap raak’, dikwels te midde van 'n gesprek. As hy weer ‘wakker word’, vind hy homself op 'n ander plek, sonder dat hy weet hoe hy daar gekom het. Wanneer dit in die teenwoordigheid van ander mense plaasvind en hy later vrae stel, was dit meestal uit die antwoorde duidelik dat niemand iets van sy ‘insluimering’ opgemerk het nie. Wanneer die bewusteloosheid hom byvoorbeeld oorval onderwyl hy aan 'n gesprek deelneem, dan word hom later vertel dat hy aangehou praat het en miskien deelgeneem het aan ander redelike handelinge waarvan hy niks weet as hy wakker word. Hy het sy toestand natuurlik toegeskrywe aan 'n eienaardige soort somnambulisme. Hy dag destyds dat dit die voortduur van sy jeugdige slaaplopery was.
Maar mettertyd is hy gedwing om tot 'n ander gevolgtrekking te kom. Die nuwe inkomeling wat op dié wyse besit van sy liggaam geneem het, het spoedig ontwikkel, en met die toenemende ontwikkeling het die toestand aan toeskouers duidelik geword. Wanneer die verandering gedurende 'n gesprek plaasvind, kon die ander deelnemers sien dat die man 'n kort rukkie ‘wegraak’. Dit lyk asof hy vir een of twee sekondes aan die slaap raak; en as hy aan die praat was op die moment, breek die praat heeltemal af. Wanneer hy weer ‘bykom’, praat hy waarskynlik oor 'n geheel ander onderwerp.