3 Verhoogde Waarnemingvermoë onder Hipnose
Ons proefnemings wat, na ek meen, gestrek het om die voortbestaan van die dieresiel in die mens te bewys, in aansluiting by voorgaande artikel oor ‘'n Nuwe Sielkundige Teorie’, het eers almal gestrek om die bestaan van die ‘pleklokalisasie’ van diere gedurende hipnose te bewys. Die resultate was ook uiters belangrik, maar dit val onder 'n ander afdeling van ons werk.
Hier volg nou die beloofde proefnemings wat skerpte van sintuie betref, met die mens onder hipnose en die bobbejaan nie.
Met die vervolmaking van die kousale geheue in die primate (hoogste klas van soogdiere) moet die sintuie agteruitgaan. Die opeenhoping van afsonderlike herinneringe is klaarblyklik van baie meer waarde in die dier se stryd teen sy omgewings as die skerpste sintuie ooit kon wees. Die teeltkeus sou dus die strekking vertoon om die nuwe bewussyn te ontwikkel eerder as om die sintuie te handhaaf. Die agteruitgang van die sintuie sou min of meer gelyke tred hou met die ontwikkeling van die bewussyn van afsonderlike herinneringe.
In die primate word die sintuie meer volmaak hoe laer 'n mens in die ontwikkelingsreeks afdaal. In die mens het die agteruitgang van die sintuie die verste deurgewerk.
Hipnose bewys egter dat die degenerasie in die mens nie organies en selfs nie funksioneel in die gewone sin van die woord is nie. Die organe is nog in hoë mate gevoelig, en onder hipnose kan hulle nog so funksioneer ook. Hierdie gevoeligheid moet dus in normale toestand buite werking gestel word deur die hoër bewussyn; en wanneer dié bewussyn self onder hipnose opgehef word, dan tree dit weer in werking. In die bobbejaan het hierdie opheffing van sintuiglike gevoeligheid, soos te verwagte was, nog nie ver gevorder nie.
Die skerpte van sy sintuie volg 'n middeweg tussen dié van die normale mens, aan die een kant, en dié van laer soogdiere, aan die ander. Die volgende verslag van proefondervindelike vergelykings tussen 'n gehipnotiseerde mens en die normale bobbejaan sal aantoon hoe dig die hipnotiese bewussyn ten opsigte van die sintuie staan by dié van die normale bobbejaan ...
Opmerking deur die redakteur: Die beskrywings van eksperimente waarna Marais verwys, is 'n letterlike vertaling van gedeeltes van The Soul of the Ape en word hier weggelaat. Hoewel Marais reeds laat in Wêreldoorlog I en daarna aan die Engelse manuskrip gewerk het, het dit (oftewel 'n deel daarvan) eers sowat 'n halfeeu later, in 1969, in boekvorm verskyn. Sien p. 1168 e.v. van die Versamelde Werke vir die Engelse teks. Daar is by my geen twyfel dat die Engelse werk eerste geskryf en die Afrikaanse gedeeltes daaruit vertaal is nie.