Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd2 'n Nuwe Sielkundige TeorieIn die voorafgaande artikel oor hipnotisme het ek beweer dat die sogenaamde bewussyn wat werksaam is tydens die hipnotiese toestand, slegs 'n oorblyfsel is van die dieresiel wat nog êrens in die menslike mentaliteit bestaan, en dat dié dieresiel in gewone omstandighede in 'n toestand van onwerksaamheid verkeer en net werkend optree onder abnormale toestande van die normale bewussyn. Dit is, met ander woorde, 'n oorblyfsel, net soos die blindederm 'n organiese oorblyfsel is. Ek het ook gesê dat die teorie berus op proefnemings wat in Suid-Afrika gedoen is. Ek sal nou probeer duidelik maak op watter feite hierdie teorie berus. Wat is nou werklik die onderskeid tussen die mensesiel en die dieresiel? Die ou antwoord was altyd: die mens besit rede, die dier nie. Elke leser wat oor die saak nagedink het, moet tot die gevolgtrekking kom dat die antwoord werklik niks verklaar nie. Wat ons rede noem, vind jy by al die diere in hoër of laer graad. Feitlik is dit net 'n kwessie van graad. Fundamenteel is daar geen onderskeid nie. En tog voel en weet ons dat daar sielkundig 'n hemelsbreë onderskeid is tussen die mens en die dier. Waar moet ons dan na die grondslae van die onderskeid soek? Die ontwikkeling van die sielsvermoë van 'n dier strek altyd in een rigting, om die dier geskik te maak vir sy natuurlike omgewing. Die otter verstaan alles | |
[pagina 176]
| |
wat nodig is vir 'n bestaan in die water. Die dassie, weer, het al die nodige sielsvermoë om op die hoogste en droogste berge te lewe. As jy die twee omruil, dan vergaan altwee spoedig. Nog meer, jy kan die dassie nooit leer om in die water te boer nie, net so min as jy die otter kan leer om in die klipskeure sy huishouding op te neem. Dit is dus 'n algemene natuurreël, sonder uitsondering, dat elke dier die nodige sielsvermoë besit om in 'n beperkte natuurlike omgewing te lewe. As jy hom in 'n ander omgewing plaas, dan vergaan hy. Altyd gaan die liggaamlike ontwikkeling gepaard met die sielsontwikkeling. Die erdvark het 'n liggaamsbou om gate te grawe en miere te vang; die otter om te swem en visse en krappe te vang. En daar is nog iets van die grootste belang in dié verband. Die sielsvermoë van die dier is erflik, net soos sy liggaamsbou. Laat, byvoorbeeld, 'n otter deur 'n hondeteef grootgemaak word; laat hom nooit 'n krap of vis sien nie; voer hom met melk, rou vleis en dies meer en gee hom nooit meer water as net genoeg om te drink nie; dan, wanneer hy volgroeid is, neem hom na 'n rivier - en wat gebeur? Hy mag 'n paar oomblikke weifel, maar dit sal nie lank duur nie, of hy spring die water in en duik en swem asof hy nooit iets anders gedoen het nie. En as hy honger is, vang hy netnou 'n krap en gaan hom op die wal sit en eet. Hy weet watter kos om te eet en waar om daarvoor te soek sonder dat hy dit ooit self geleer het.Ga naar eind1: Dit is wanneer jy by die hoogste diereklas kom dat jy die eerste uitsondering op die algemene reël in die natuur vind. Laat 'n bobbejaan, byvoorbeeld, in gevangenskap grootword van sy geboorte af en beskerm hom kunsmatig teen reën en koue. Laat hom nooit 'n gogga of die natuurvrugte of wortels van sy eie natuuromgewing sien nie, en neem hom dan, as hy groot is, na die berge waar hy gebore is. Hy is onnosel-dom. Hy skrik hom byna dood vir 'n lewende skerpioen of ander gogga. Al vergaan hy van honger, weet hy nie om 'n klip op te tel om kos te soek nie. Hy eet net so geredelik 'n gifblaar-appel as 'n sandappel.Ga naar eind1: Met ander woorde, as jy hom nie leer nie, sal hy van honger vergaan te midde van oorvloed. Maar dan bestaan daar nog dit: hy kan gou leer. Haal hom net een maal oor om 'n gogga te eet, laat hom die ondervinding opdoen dat 'n skerpioen lekker smaak, maar dat hy kan steek, en wys hom dat daar goggas onder elke klip skuil - en daarvandaan is hy gered. Wat was nou die gevolg van die onerflikheid van omgewingskennis en die leerbaarheid by die bobbejaan? Dat hy in meer verskillende omgewings lewe as enige ander dier in Suid-Afrika en van meer verskillende soorte kos. Jy kry hom op die hoë, waterryke, koue berge van die suide; op die dor, byna waterlose kliprante van die woestyn. In elke omgewing eet hy verskillende soorte kos en moet hy hom beskerm teen verskillende natuurvyande. In sommige dele het hy geleer om lammers te vang en die maag oop te skeur, om die dik melk so beet | |
[pagina 177]
| |
te kry. In die noorde van Transvaal sal hy dae lank met skape omgaan sonder om 'n lam aan te raak. Hy eet nie vleis nie en van die dik melk weet hy niks af nie. By geen ander dier sal jy so 'n verskil van natuurlike omgewing vind nie. Daar is egter by die bobbejaan natuurkennis wat ongetwyfeld erfbaar is. Hy weet (sonder om te leer) dat 'n slang uiters gevaarlik is; hy ken sonder leer al die roofdiere en hy weet sonder ondervinding hoe om ander bobbejane te roep; hy ken sonder leer die betekenis van die bobbejaan-gevaarkreet. As ons nou die mens neem, dan sien ons dadelik dat hy nog 'n groot stap verder op hierdie weg is as die bobbejaan. Hy kom die wêreld in sonder die minste omgewingskennis. Hy sal nie weet hoe om hom teen koue en reën en teen roofdiere te beskerm nie. Van natuurkos weet hy niks nie. In watter omgewing jy hom ook plaas, sal hy nooit weet waar daar kos is en hoe om dit in die hande te kry nie - met ander woorde, wil hy bestaan, dan moet hy self alles leer deur oorlewering of persoonlike ondervinding. Plaas skielik 'n mensefamilie uit die trope oor op die Poolys. Hoe lank sal hulle bestaan as hulle nie weet dat die see vol voedsel en liggaamsbedekking is tensy jy hulle leer hoe om van ys en kapok 'n huis te maak nie? Ons kom dus tot hierdie onderskeidsbeginsel wat die mens en die laer diere aangaan: (1) Die dier word met bepaalde omgewingskennis gebore. Tot dié kennis is hy vir altyd beperk. Sonder hulp (van die mens) kan hy nie in 'n vreemde omgewing bestaan nie. Self kan hy nooit die nodige vreemde omgewingskennis opdoen nie. (2) Die mens erf hoegenaamd geen omgewingskennis nie: hy moet alles van die begin af leer. Al die kennis wat sy voorouers in 'n sekere omgewing geleer het, is vir hom geheel en al nutteloos - dus, as jy 'n klein Eskimo in die Sahara grootmaak en hom leer om daar te lewe en jy neem hom skielik terug na die Poolstreke, dan sal hy geheel en al hulpeloos wees. Wat was die gevolg hiervan? Dat die mens 'n wêreldburger in die ware sin van die woord geword het. Die hoogste berge, die diepste dale, die koudste ysvlaktes, die warmste woestyne - oral het die mens ingedring en oral leer hy die nodige omgewingskennis om die vyandige natuur die hoof te kan bied. By die ontwikkeling van die nuwe siel met onerflike kennis, raak die ou siel met erflike omgewingskennis gelykmatig buite werking. Die leser sal dadelik begryp dat daar 'n groot voordeel in die nuwe siel moet gewees het. Die ontwikkeling van een of ander hoedanigheid in 'n diereras kan alleen plaasvind as daardeur die voortbestaan van die enkeling en die ras wat dit besit, beveilig word. Wat is nou in die natuur die grootste gevaar wat 'n ras gewoonlik bedreig, vernaam op land? Ongetwyfeld is die grootste gevaar 'n skielike verandering van die natuurlike omgewing. Droogte, hongersnood, watersnood, verandering van klimaat, die verdwyning van meer- en rivierstel- | |
[pagina 178]
| |
sels, die intrek van natuurlike vyande - dit is almal omgewingsveranderinge wat die verdelging van rasse teweegbring wanneer die ras onbevoeg is om hom na die nuwe toestande te skik of na 'n ander omgewing te vlug. Dit word nou aangeneem dat sulke veranderings die uitdelging van die reuse-draakdiere van die vroeër wêreld teweeggebring het. Dadelik sal die leser nou insien waarin die natuurlike voordeel van die nuwe siel en die nadeel van die ou siel bestaan. Die mens of die bobbejaan kan hom skik na die nuwe omgewing of kan gou leer om in 'n ander omgewing te bestaan - daarom is dit dat die bobbejaan, ná die mens, in meer verskillende omgewings kan bestaan as enige ander dier in Afrika. Van 'n boomdier het hy 'n bergdier geword (ofskoon 'n gedeelte - die sogenaamde rivier-bobbejane - hulle ou omgewing getrou gebly het), en, soos voorheen gesê, kry jy hom in alle oorde - van die vrugbare Kaapse Skiereiland tot in die hongerige en dorstige Kalahari-woestyn - en oral is hy voorspoedig. Selfs sy grootste en gevaarlikste vyand - die mens - kon hom tot dusver nog nie uitroei nie. Neem nou, aan die ander kant, die geval van 'n ras wat nog onderhewig is aan die dieresiel. Hier in Transvaal op die Springbokvlakte in Waterberg was groot troppe springbokke op 'n vlakte-eiland in die Bosveld vasgekeer. Die springbok besit alleen die erflike kennis om op oop vlaktes te bestaan. Nou in die laaste tien jaar het mense stadigaan die Springbokvlakte ingedring. Die gebied van die springbokke word al nouer en nouer. Vandag staan hulle op die drempel van totale uitroeiing. Rondom hulle is 'n pragtige toevlugsoord, 'n oneindige en so te sê onbewoonde boswêreld, en die ongelukkige springbokke kan daarvan geen gebruik maak nie. Hulle is gebind onder die dwingelandy van hul erflike kennis. Hulle kan geen nuwe kennis opdoen nie. In die nuwe sielsontwikkeling sou die besit van die siel met erflike omgewingskennis 'n hindernis en 'n belemmering vir 'n ras wees. As, byvoorbeeld, die springbokke die boswêreld kon ingaan en daar die kennis opdoen om te kan bestaan, is dit begryplik dat die voortbestaan van erflike vlaktekennis 'n groot nadeel vir die ras sou wees. Hulle sou hulle vlakte-omgewingskennis in die boswêreld toepas - en dit kan nie. Daarom is dit dat met die groei van die nuwe siel die ou siel buite werking raak. Dit raak aan die slaap, maar dit bestaan nog altyd. Nou kom ons tot die vername punt: watter bewys is daar vir die bewering dat die dieresiel in 'n slapende toestand voortbestaan? In die bobbejaan is die bewys dadelik waarneembaar. Die ras is 'n oorgangstipe. Jy kry enkelinge (‘langkoppe’) wat baie erflike kennis besit. Dan kry jy rondekoppe, wat niks besit nie. By die mens is daar eers 'n organiese bewys. By alle diere gaan die ontwikkeling van die nuwe siel gepaard met die ontwikkeling van die harsingskors - die grou gedeelte van die harsings. Hoe groter die grou deel word, des te groter is | |
[pagina 179]
| |
die ontwikkeling van die siel met onerflike kennis. By die mens is die harsingskors groter as by enige dier. Maar die ou brein, wat ongetwyfeld in verband staan met die siel met erflike kennis, verdwyn nie. Dit bestaan nog in die mens. Dit is dus redelik om te veronderstel dat die ou gedeelte van die brein alleen funksieloos geword het. En die hipnotisme sowel as 'n menigte histeriese kwale bewys dat die ou gedeelte weer in werking kan tree. Maar dit is altyd 'n min of meer abnormale of siekteverskynsel. Die bewys, gelewer deur hipnotisme en sekere sielskwale, dat die dieresiel bly voortbestaan, kan kortliks soos volg uiteengesit word: Buite en behalwe die besit van erflike omgewingskennis is daar nog ander merkwaardige hoedanighede aan die dieresiel verbonde. Al die sintuie is baie sterker en skerper as in die nuwe siel. Dink maar hoe 'n hond of enige wildsbok kan ruik; vergelyk dit met die mens, dan kom dit ons byna as 'n wonderwerk voor. En so is dit met alle diere. Waar fyn gehoor nodig is vir die omgewing, ontwikkel 'n dier 'n gehoorvermoë wat onmoontlik is om te verstaan en moeilik om te glo. Neem die gewone toktokkie. Die leser kan 'n interessante proef met dié diertjie neem wat, sover ek weet, nog onbekend is in die wetenskap. In die paartyd antwoord die diertjie as jy met jou vinger op 'n klippie tik; drie tikkies is sy liefdesein. Nou, sodra jy 'n mannetjie kry wat antwoord, begin dan al hoe sagter en al hoe verder af te tik. Hy wag altyd geduldig op jou tik, en dan antwoord hy dadelik. Tussenin soek hy met alle haas na die ‘tikster’. Nou sal jy ontdek dat jy eindelik met die sagte punt van jou vinger (nie met die nael nie) op 'n klippie so sag kan tik dat jy seker is dat daar hoegenaamd geen geluid kan wees nie, en tog gewaar die toktokkie dit en antwoord altyd onmiddellik. As 'n mens op die spoor van sy medemens op reuk kon loop, sou dit ons as 'n wonder voorkom. As hy soos die toktokkie kon hoor, sou ons geneig wees om òf bedrog òf 'n wonderwerk te veronderstel. Met gesig is dit net so. Daar is diere wat ongelooflike gesigsvermoë besit. Die volgende is wat ons deur wetenskaplike proefnemings bewys het: Ten eerste, dat die sintuie van die bobbejaan swakker is as dié van die meeste wilde diere, behalwe wat gesig betref. Daar is maar min agteruitgang van hierdie sintuig. Ten tweede, dat by die normale mens al die sintuie veel swakker is as by die bobbejaan. En ten derde: onder hipnose is die sintuie van die mens presies of byna presies dieselfde as dié van die bobbejaan. Wanneer, dus, die mens gehipnotiseer is, word daar 'n siel in hom wakker wat in alle opsigte wat sintuigskerpte betref, dieselfde is as dié van 'n diereras wat onder hom staan. In enkele gevalle is die mens onder hipnose nog dierliker wat sintuigskerpte betref, as selfs die bobbejaan. | |
[pagina 180]
| |
In baie gevalle van sielskrankheid by die mens kom dieselfde verskynsels voor as by hipnose - dieselfde dierlike sintuigskerpte. Nog meer: in die meeste gevalle van sielskrankheid maak die lydende die indruk dat daar 'n tweede of vreemde mentaliteit in hom werksaam is tesame met sy gewone verstand - vandaar die ou indruk dat die mens deur 'n vreemde siel of duiwel besete was. Hy hoor geluide en stemme wat niemand anders hoor nie; hy voel en smaak en ruik dinge wat, vir sover ons kan oordeel, geen bestaan in die werklikheid het nie. En oral kom ons op bewyse van die bestaan van 'n dubbele individualiteit, of, ten minste, van dubbele sielsvermoë - vandaar die oneindige verwarring waarin die ongelukkige gedompel word. Hy probeer 'n uitleg daaraan gee, en gewoonlik is dit 'n verkeerde uitleg. Dit wek by hom òf woede òf vrees. Sy normale rede raak glad in die war. Hoe sal hy reg kan dink of redeneer terwyl 'n vreemde, halfbewustelose siel met sy eie vreemde gedagtes en gevoelens altyd opduik? In sommige gevalle van manie word die gewone mensesiel volkome buite werking gestel. Die dieresiel alleen is werksaam; die mens word in alle opsigte 'n dier (die leser herinner hom Nebukadnesar). In ons kranksinnigegestigte is honderde sulkes te sien. Maar daar is nog 'n verwikkeling. Die uitvloeistelsel van die ou harsings na die spiere en die organiese sintuie is vergroei. Daar bestaan alleen 'n goed gebaande pad tussen die nuwe brein en die beweegbare liggaam en die uitwendige sintuie. Die prikkel van die ou brein neem 'n verkeerde koers gewoonlik deur die nuwe brein - daarom is dit dat in manie die mens nie 'n rein dier word nie: hy word 'n ‘verkeerde’ en, gewoonlik, rasende dier. In al sulke gevalle van manie is daar altyd ná die dood veranderings in die harsingskors (die setel van die nuwe siel) te bespeur. En die leser sal die beginsel onthou: ‘Die ou siel kan werksaam word alleen waar die nuwe siel in 'n abnormale toestand verkeer.’ Die siekte van die harsingskors bring die ou siel weer in werking.
Daar, kortliks, is die bewyse van ons nuwe sielkundige teorie. Dit is een van die teorieë wat oortuigingskrag in homself dra, net soos die ontwikkelingsteorie. Net soos die ding jou duidelik word, voel jy dat dit die waarheid bevat - seker nie al die waarheid nie en miskien nie in elke onderdeel die hele waarheid nie, maar tog in hoofsaak die waarheid. Daarmee sal die natuur-ondersoeker vir eers tevrede wees. Dit is baie moeilik om die hele saak in 'n kort artikel duidelik te maak, veral aan lesers wat nie besonder belang stel in sielkunde nie. Die skrywer hoop dat die hoofsaak ten minste vir die gewone leser duidelik sal wees. |