Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 173]
| |
Natuurkundige en Wetenskaplike Studiesaant.1 Hipnotisme(Die woord siel word in hierdie artikels natuurlik in sy bloot fisiologiese betekenis gebruik, by gebrek aan 'n noukeurige term. ‘Bewussyn’ dek die begrip wel enigermate; maar ‘siel’, hoe dubbelsinnig ook, word tog algemeen aanvaar in geskrifte oor die onderwerp.) Hipnose is 'n sielstoestand wat by die mens teweeggebring word deur 'n prosedure in die wetenskap bekend as hipnotisme. Daar is verskillende maniere waarop hipnose kan veroorsaak word, maar almal is afhanklik van 'n stipte vestiging van die aandag en enige manipulasie wat 'n gevoel van eentonigheid in die gemoed veroorsaak. Ongeveer negentig uit honderd mense is vir hipnose vatbaar. Karakter en wilskrag het niks daarmee te maak nie. Gewoonlik kan mense van sterk wilskrag makliker gehipnotiseer word as mense van 'n teenoorgestelde karakter; van almal is vroue met 'n senuweeagtige gestel die meeste vatbaar. Ek het nog nooit 'n swartman gesien wat nie byna onmiddellik gehipnotiseer kon word nie. Wat die toestand werklik is en watter liggaamlike veranderinge dit veroorsaak, is onbekend. Daar bestaan by my geen twyfel dat dit dieselfde toestand is wat by voëls en ander diere te sien is wanneer hulle deur 'n slang of roofdier tot volkome roerloosheid gebring word nie. By die mens is daar verskillende stadiums van die toestand. Gewoonlik neem dit die volgende loop: (1) Verlies van die mag om uit eie beweging enige deel van die liggaam te roer. In hierdie stadium begin (en dit verdiep deur al die volgende stadiums) die suggestibiliteit - d.w.s. die pasiënt doen alles en neem alles aan as waar wat hom vertel word deur die operateur. (2) Volkome bewusteloosheid: die oë val toe en die pasiënt verval in 'n toestand wat baie op natuurlike slaap lyk. Die vernaamste onderskeid tussen dié stadium en gewone slaap is dat die pasiënt gewoonlik deur niemand of niks gewek kan word as deur die woord van die operateur nie. (3) Somnambulisme. Op bevel van die operateur maak die pasiënt sy oë oop. Hy loop en praat, antwoord op vrae; is diep vatbaar vir suggestie, maar bly geheel en al bewusteloos. As hy uit dié toestand geraak, onthou hy niks wat hy gedoen of gesê het nie. | |
[pagina 174]
| |
(4) Diep, beweginglose slaap. In die laaste en diepste stadium raak die pasiënt buite bereik van onmiddellike suggestie. Hy doen nie meer wat die operateur hom gebied nie. Jy kan hom nie wakker kry nie, of alleen met die uiterste moeite. Tog neem hy alle suggesties aan wat 'n begin moet neem ná hy wakker word. Nodeloos om te sê dat geen operateur ooit met opset hierdie laaste stadium teweegbring nie, tensy in gevalle van uiterste nood, en dan alleen in die loop van geneeskundige behandeling. Wanneer ek van bewusteloosheid praat, dan moet nie verstaan word die bewusteloosheid van gewone slaap nie. Net sodra hipnose begin, word daar 'n ander en vreemde bewussyn in die mens wakker wat niks met sy normale bewustheid te maak het nie. Elke leser sal begryp dat die ondersoek van dié vreemde bewussyn uit 'n sielkundige oogpunt van die uiterste belang is. Die teorie tot op hede algemeen aangeneem in die wetenskap is dat die verborge en buite die bewustheid geleë siel iets is wat altyd in die mens werksaam is tesame met die siel waarvan bewussyn die vernaamste eienskap is. 'n Ander teorie is dat die hipnotiese bewussyn 'n verskynsel is van nuwe en groter verstandsvermoë wat die mens nog in die loop van sy sielsontwikkeling moet bereik. Ons ondersoekings in Suid-Afrika het ons tot die oortuiging gebring (gegrond op jare van vergelykende proefnemings) dat die hipnotiese bewussyn slegs 'n oorblyfsel is van die dieresiel in die mens, net soos die blindederm en ander dergelike nuttelose oorblyfsels in sy liggaam; dat dit iets is wat nie langer normaal werksaam is nie; en dat dit alleen gedurende 'n abnormale toestand van die gewone bewustheid tot werksaamheid kan kom. Op watter feite hierdie sienswyse gegrond is, sal in 'n ander stuk nader uiteengesit moet word. Ek mag net vertel dat ons Suid-Afrikaanse proefnemings in Amerika herhaal is, met dieselfde uitslag; en dat ons gevolgtrekking van groot belang is, meer bepaald omdat dit 'n nuwe lig werp op baie duistere verskynsels in kranksinnigheid by die mens.
Maar dit alles latende vir latere uiteensetting, sal ek hierdie artikel eindig met 'n woord nog oor, en een voorbeeld van, suggestie en die waarde daarvan in die geneeskunde. Met verlof van die betrokke persone sal ek die ware name gebruik. Die meeste lesers sal al gehoor het van die gebruik van suggestie gedurende hipnose met die doel om sekere siektes te genees. Gedurende ons ondersoek het baie mense uit nuuskierigheid gekom en baie om behandeling, en somtyds is ons oorgehaal om suggestie vir een of ander lydende te probeer. Hier nou is een geval: Mev. Hessie van Deventer van Rooiwal, Waterberg, was min of meer deur die hele distrik bekend. Sy was 'n welopgevoede dame, en was baie jare onderwyseres gewees. Sewentien jaar lank het sy gely aan totale verlamming van die bene. Sy moes in 'n waentjie gestoot word. Dwarsdeur Suid-Afrika had haar | |
[pagina 175]
| |
eggenoot 'n middel gesoek, en baie behandelings had sy ondergaan onder beroemde geneeskundiges, sonder baat. Sy het na ons gekom omdat verskeie dokters haar vertel het dat daar 'n kans vir haar in hipnotisme was, maar sy kon nooit een kry wat haar die behandeling wou of kon gee nie. Dit was duidelik in haar geval dat daar geen breuk of letsel in die organiese stelsel was nie. Die stoornis was wat die dokters funksioneel noem. Ek twyfel of suggestie 'n organiese verandering kan teweegbring - ek altans het dit nooit gesien nie. Dit het dadelik geblyk dat mev. Van Deventer sterk vatbaar was vir hipnose. Sy is drie maal gehipnotiseer om haar aan die toestand gewoond te maak. Die vierde maal is sy in 'n baie diep stadium gebring, en toe is die suggestie gemaak dat net sodra sy wakker word, sy 'n sterk begeerte sou hê om te loop; dat sy dadelik sou probeer en dat sy weer mag sou kry om die verlamde bene te roer en dadelik sou kon loop. Ná 'n hipnotiese slaap van drie uur (om die suggestie te versterk) is sy wakker gemaak, en tot haar eie verbasing en uiterste blydskap het sy dadelik begin loop. Die verlamming het nooit weer verskyn nie - ook ten gevolge van 'n suggestie. |
|