Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 162]
| |
Die Skepbekertjie
| |
[pagina 163]
| |
vorige jaar was. Nie op dieselfde graspol of onder dieselfde bossie nie, maar gewoonlik nie meer as drie of vier tree van die plek af nie. Dit wil sê as niks hulle die vorige jaar gestoor het nie. As die nessie deur die poot van 'n os verpletter is - en dit gebeur dikwels - kom hulle nooit weer na dieselfde plek terug nie. En noudat ek van die nessie praat, moet ek tegelyk vertel hoe moeilik dit is om hul nessies te kry as jy hulle nie baie goed ken nie. Al weet jy dat daar 'n nessie 'n paar tree van jou af is, sal jy somtyds ure soek om dit te kry; en as jy dit eers sien, dan wonder jy waarom dit so moeilik was. Dit laat my altyd dink aan die verdwyn-fonteintjie waarvan ons ou Boesman vertel: 'n kristalhelder koue fonteintjie onder die krans - net 'n klein holte in die rots vol water. Maar as jy warm en dors is, dan moet jy die fonteintjie bekruip, plat op jou maag seil met die skepbeker in die hand. Soos jy naby genoeg is, moet jy met een swaai die beker vol skep; want as jy die minste geraas maak, verdwyn die water soos 'n dassie onder die krans! Dit lyk of die koesternessie hom ook onsigbaar kan maak. As jy nog dom is, dan dink jy as jy die klein grou wyfie sien opvlieg - a, daar is die nessie! Maar moenie glo nie! sy is glad te slim om haar dierbare geheim so te verklap. Weet jy wat sy doet? - Net soos sy iets gewaarword, dan kruip sy deur die gras vinnig, laag op die grond, van polletjie na polletjie. Meestal kruip sy na jou toe; en as sy 'n heel ent van haar nessie af is, dan vlieg sy skielik op met groot alarm asof sy nou net wakker geskrik het. Maar die nessie is altyd ver van die plek waar sy opvlieg. Gewoonlik is dit anderkant die plek, wat bewys dat sy na jou kant toe gekom het. Maar onder geen omstandighede sal sy ooit direk van die nessie opvlieg nie. Terwyl die wyfie sit en broei, vlieg die mannetjie hoog in die lug om sy vreugde en dankbaarheid uit te stort. Net drie van ons koesters sing. Een is stil en dit word vertel dat juis hy die lewerik is wat in Europa so heerlik sing, hoog in die lug, en waar so baie oor geskrywe en van vertel word. Waarom hy by ons nie sing nie, kan ek nie sê nie, maar ek dink dit is om hulle nie hier nessies maak nie. Ek ten minste het nog nooit een gesien nie. Ons koestertjies sing nie besonder mooi nie; ten minste, dit sou nie pragtig beskou word as hulle in 'n hok sou sing nie; maar hier hoog in die skitterende sonlig in die stil eensaamheid, is sy liedjie tog mooi. Een het die manier om regop te vlieg en dan weer stadig met oopgespreide vlerke af te sak, en terwyl hy sak, fluit hy 'n lang droewig-soet noot wat met sy neersak al sagter en soeter klink. Somtyds sing hy 'n aanhoudende liedjie, en dikwels gaat hy al hoër totdat hy glad onsigbaar is, en dan in die hoogste hoogte sing hy nie meer nie. Miskien in die stilte daar bo kan hy die liedjies hoor wat die engeltjies in die hemel sing - wie weet? Ons pragvoëltjie van die vlakte is ongetwyfeld die rooiborskalkoentjie. Waarom ons hom ‘rooibors’ noem, weet ek nie, want sy bors is geel - oranjegeel. Oor ons wilde voëls sal ek nie skrywe nie; dit alleen sou 'n opstel vra, en ek moet plek bewaar vir ons ware voëlwêreld. | |
[pagina 164]
| |
Hier by ons is twee soorte patryse - die groot rooivlerk en die klein grysvlerkie. Hierdie tyd van die jaar is hul graweplekke in die lande oral sigbaar. Hulle leef van goggatjies en sand gemeng. Die koesters en rooiborskalkoentjies leef van goggatjies alleen. Dan is daar byna altyd kwarteltjies. Nou en dan het een van ons die geluk om 'n paar kwarteltjies met hul kleintjies te sien wei. Dit is 'n gesig wat 'n mens nooit weer sal vergeet nie. Vooraan stap die klein mannetjie - jy kan hom met een hand glad toemaak; maar as jy sien hoe manhaftig hy stap met die kop orent, die borsie uitgedruk, dan lyk hy na 'n groot hoenderhaan; en sy groot spore laat jou ook aan 'n veghaan dink. Hy lei sy klein familie trots en sorgsaam, en dit moet 'n groot ding wees wat hy nie vir hul beskerming sal aanval nie. Hy is 'n ware klein krygsman. Al hul maniere laat jou aan 'n hoender dink. Agter kom die nog kleiner grou wyfie met haar kuikentjies. Kort-kort gee die mannetjie 'n skerp, fyn ‘kwink’; dan storm wyfie en kleintjies toe. So gou dat jou oog dit nie kan volg nie, word 'n gaatjie in die grond gekrap, en onder uit haal hy of sy klein vroutjie 'n papie of 'n wurmpie wat dadelik deur een van die kleintjies gegryp word; en dan is daar dieselfde hardloop en worsteling wat 'n mens by hoenderkuikens sien. En die kleintjies - jy moet skerp oë hê om hulle goed te kan sien. As hulle pas uit die nes is, is hulle net klein bolletjies geel dons, so klein as 'n ordentlike groot duim. Maar hulle gespikkelde veertjies kom gou uit, en dan is hulle klein ewebeeldjies van die mammie. Van al ons vlaktevoëltjies is daar g'n wegkruipertjie so slim soos die kwartel nie. Maak maar net die minste beweging wat die klein mannetjie gewaarword en dan sal jy self sien dat die kwarteltjie die verdwynmussie moet besit. Sy alarmkreet is net een skerp ‘tjirp’, so kort dat jy dit skaars hoor, en tegelyk klap hy met die vlerke, so vinnig dat dit 'n sagte gedreun maak; maar alles vind in een oogwink plaas. Met die geluid sien jy net 'n stofwolkie waar die klein gesin gewees het, en dan is dit skoonveld. Moenie glo dat die twee grotes sal wegvlieg nie; nooit sal hulle die kleintjies verlaat nie. Al die voëltjies het hulle kleintjies lief, maar ek dink die kwarteltjies is bobaas in dié opsig. Hulle gaat nooit 'n kaalte in nie - vernaam nie solank die kleintjies nog klein en swak is nie. Daar voor jou oë verdwyn hulle in die kort gras; en hardloop maar na die plek - as jy weer een van die gesin te sien kry, is jy slimmer as ek ooit was! Die grootste vyand van die kwarteltjies is die klein bruin valkie, maar selfs die skerp oë van dié moordenaar soek tevergeefs as die kwarteltjies eers 'n grasplekkie bereik het. Ek weet ook hoe die kwarteltjies snags slaap. Hulle krap 'n skoon plekkie diep onder 'n digte graspol, en daar sit hulle in een digte verebolletjie. Die moedertjie bedek haar kleintjies met haar vlerkies net soos 'n moederhen. In die winter begin die vinke te ‘swerm’, soos ons dit noem. Daar is verskillende soorte vinke en rooibekkies wat by ons nou in groot swerms rondtrek, en | |
[pagina 165]
| |
later in die jaar sal hulle groot skade in die koringlande aanrig. Byna orals in Transvaal moet die voëljaers van rooidag tot donker in die lande wag hou, anders kom van die oes niks. Dit is net gedurende die winter dat hulle die skade doen. Meer as helfte van die jaar probeer hulle om deur goed doen hulle kwaad van die een wintermaand te vergelde. Dan gaan die groot swerms uitmekaar. Die geel- en rooivinke wat by ons broei, trek na die rietvlei en begin nessies maak. Stadigaan begin die mannetjies hul somerklere aan te trek. Wie is daar in Suid-Afrika wat hulle nie ken nie? Wie het hulle nog nie deur die riete sien trek nie, soos rooi vlamme of wolkies van goudgeel, met kop en bors van swart fluweel? As die mannetjie pronk en sy liedjie sing, het hy 'n manier om sy vere op te trek totdat hy byna twee maal so groot lyk as hy werklik is. En hul nessies, wie ken nie die meesterstukkies vlegwerk nie? Daar is duisende ongediertes wat gedurende die broeityd na die geel- en rooivinke op die loer lê. Wee die arme paartjie wat hul nessie op 'n bereikbare plek hang. Die muishonde, mierkatte, selfs die rolvarkie bereik die nessie om die eiers of klein voëltjies te verslind. Daarom is dit dat die vinke so lief is om hul nessies aan dun takkies oor diep water te hang, waar dit van bo en van onder af veilig is. Het julle al ooit daaraan gedink om uit te vind hoe die vink die eerste grassie aan die punt van 'n swaaiende takkie bind? Dit is die moeite werd om dit van naby te bekyk, want die voëltjie moet baie verstand gebruik om dit altyd reg te kry. Somtyds is sy gras kort en sleg vir die doel; dan gebruik hy twee in plaas van een grassie. Maar gewoonlik neem hy een lang grassie. Met sy bekkie plaas hy dit mooi oorkruis op die takkie, en dan gryp hy dit met een voet; met die lang naels word die twee ente om die takkie gebuig sodat hulle onder bymekaarkom; dan vat hy een punt met sy bekkie en steek dit onder die ander deur sonder natuurlik om met die pootjie te los. Dit maak sy eerste vlegsteek onder die takkie. En dan hou hy eenvoudig aan die een punt om dit deur te steek totdat dit weer bo die takkie kom. Hy het dan 'n grasringetjie taamlik styf om die takkie heen. Hy kan dan loslaat om sy aandag te wy aan die ander punt van die grassie wat nog onder loshang. Dié word op dieselfde manier na die ander kant oor en deur gevleg totdat die twee punte weer bo die takkie bymekaarkom; en dan is sy eerste ringetjie klaar. Dit is altyd die moeilikste van die vlegwerk. Meestal is dit die wyfie wat die eerste ring vleg terwyl die mannetjie naby sit te sing en spog asof alles van hom afkomstig is. Daarna gaat die werk vinnig aan. As die nessie eers fatsoen begin kry, dan werk die paar dikwels saam, een binne en een buite, net soos mense wat dek: die een steek die graspunt deur en die ander steek dit terug, en so vleg hulle die klein mandjie na hulle smaak dig. Die ingang moet natuurlik na onder wees, reg bo die water as daar 'n geskikte plek is. Maar hulle is snaakse voëltjies wat hulle nesbou betref. Dikwels net sodra die nessie klaar is, verlaat hulle dit om 'n nuwe op 'n ander plek te bou. Dikwels sal | |
[pagina 166]
| |
een paar ses nessies klaar of halfklaar maak voordat hulle een na hulle sin kry. Ek het dikwels ou mense hoor sê ‘so dom soos 'n vink’, en die spreekwoord is van die nuttelose nesbou afkomstig. Maar is die vinke regtig so dom soos die wyse mens wil te kenne gee? Ek dink nie so nie. As daar so 'n vasgewortelde gewoonte by 'n voëltjie is, dan moet daar 'n goeie rede voor wees. En ek dink ek weet waarom die rooi- en geelvink so baie nessies maak om net één te gebruik. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink ek is reg! As jy weet hoeveel duisende vyande die vinke het - naglopers wat g'n lewende ding in lewe laat nie, dan moet jy wonder hoedat 'n enkele eier of klein vinkie deurkom, al dink jy maar net aan die slange wat van een nes na die ander klim om eiers te soek! Wie weet hoeveel honger oë nie op die loer is nie vandat die vink die eerste grassie bind: sluipmoordenaars wat geduldig die plek oppas totdat die nes klaar sal wees en die eiers gelê. Daar moet ontelbare roofdiertjies gefop word deur die gewoonte van die voëltjies om ses nessies te bou en net in een te lê! Ek dink ook aan die beskerming wat dit aan die ras verskaf dat net een uit ses nessies eiers in het - dit is omtrent waar dit gemiddeld op uitkom. Dink aan die rolvarkie wat met uiterste moeite en miskien 'n uur se harde werk uiteindelik 'n dik riet plat kry om 'n dowe nessie te kry as bekroning van sy arbeid. Meer as vier riete in een nag kan hy skaars klaarkry, en sy kanse is altyd ses teen een dat hy teleurgestel word. Sien jy wat 'n magtige beskerming al die leë nessies vir die vinkvolkie beteken? Laat niemand ooit weer in julle teenwoordigheid van die ‘dom vinke’ praat nie! Jy kan die segsman met gerustheid verseker dat die natuur altyd slimmer is as wat hy ooit kan hoop om te wees. Die domheid sit in ons onmag om in elke geval die wyse doel van die natuur te ontdek. Die vinke is slim genoeg en weet goed wat hulle verrig met die oënskynlik verkwiste arbeid. As 'n mens in Transvaal van vinke praat, dink jy onwillekeurig aan die oneindige stryd tussen die koringboer en die voëltjie. Een maand in die jaar doet hulle baie skade, en om die één maand van kwaaddoen word die vink meer gehaat as enige ander wilde voël in ons land. As die boer in woede uitbars teen die swerms vernielers, dink hy nooit aan die goed wat die voëltjie doen nie. Hy vergeet dat byna vier maande in elke jaar die voëltjie nie alleen onskuldig is nie, maar hard besig om in belang van die boerdery te werk. Solank as die pare besig is om die kleintjies te voer, gebruik hulle g'n ander voedsel as ruspers, wurmpies en goggatjies nie. Onthou dat elke paar drie maal lê en drie maal kleintjies grootmaak. As jy die moeite doen om op te pas en te tel, sal jy uitvind dat elke paar gemiddeld sestig ruspers of wurmpies per dag na die nessie dra. Gedurende die broeityd maak elke paar vinke meer as tienduisend goggas dood, waarvan die meeste toekomstige vernielers en kwaaddoeners is. Vermenigvuldig dit met duisend en dan kry jy 'n denkbeeld van die werk wat die vinkie doen. Dink maar net aan die tienduisend maal duisend wurmpies of rus- | |
[pagina 167]
| |
pers later losgelaat op die mielielande, die groentetuine en die vrugteboorde! Jy hoor dikwels van die vreeslike verwoesting wat die goggas aan die boerdery veroorsaak. Hier by ons gebeur dit meestal in die streke waar mense die gruwelike en onmenslike misdaad begaan om die vinke met strignien te vergewe! Nooit kan die mens so 'n misdaad teen die natuur pleeg sonder dat die natuur hom wreek nie. Dink net, om die vrolike, weerlose goedjies op so 'n wrede manier uit te delg. Waarlik, vergewe van voëltjies is iets waar die volk teen behoort te protesteer. As die Here enige gevoel dra vir die lieflikste onder Sy skepsels, sal Hy die wreedaards seker straf vir so 'n gruweldaad. Dit is iets afgrysliks om die vergewe van vinke met strignien te aanskou - iets wat 'n mens nie maklik weer vergeet nie. En dit is altyd die lui boer wat alles so maklik vir homself wil maak, sonder om daaroor te dink dat die bietjie moeite wat hy vandag spaar, ten koste is van 'n duisend maal verdubbelde arbeid môre. En die vergelding van die natuur val ongelukkig nie net op hom alleen nie. Hele streke waar die mense spog ‘ons het die vinke byna uitgeroei’, word deur ruspers en ander goggas jaar ná jaar verwoes. Die rustelose werkertjies is nie meer daar nie; en terwyl die mens maklik die voëltjies kan uitroei, is hy magteloos teen die ruspers. Die natuur sal altyd self sorg dat die vinkies nie te veel word nie - en die Hemel weet hulle het vyande genoeg in die veld, en daar is duisend ander middels wat die koringboer kan aanwend. Van alles is die beste om rondom sy lande 'n streep fyn manna of kanariesaad te saai, en 'n streep hier en daar deur die land. Die moeite is klein; en as hy die werk deeglik doen, sal hy g'n koringkorrel verloor nie en kan hy die helfte van sy voëljaers afskaf. Die man wat vergewe, maak ongelukkig nie net die vinke dood nie. Hy vernietig byna alles in die veld wat lewe. Die onskuldigste diertjies en voëltjies word ook die slagoffers van sy wreedheid. Soek maar die veld deur ná so 'n slagting en dit sal jou hart breek om die vreeslike gevolge te sien. Patryse, kwartels, meerkatte, rolvarkies, koesters - die veld is besaai met dooie diere, en om die huis sterf ook meestal alles wat leef. As hy wreed genoeg te werk gegaan het, sterf mettertyd honde, katte, varke, hoenders, eende, ens. ens. Dit lyk of daar g'n einde kom aan die kringloop van dood wat strignien veroorsaak nie. Ek weet van 'n geval waar 'n hond 'n jaar ná die vergiftiging die geraamte van 'n vink in die land opgetel het, en binne 'n halfuur, ná vreeslike lyding, is hy onder verskriklike stuiptrekkings dood. Uiteindelik kom ek nou by die ware voëlwêreld van ons plaas; my inleiding het so lank geword dat ek vrees die gedeelte waar ek die grootste plan mee had, moet nou die minste van my opstel word. In die leegte naby ons huis is 'n groot graspan wat nooit opdroog nie. Meer as die helfte is dig toegegroei met hoë riet, en een kwart van die oppervlakte is heeltemal bedek met sagte watergras wat omtrent 'n voet bo die water uitkom. Net een kwart van die pan is oop water, buiten 'n paar plekkies hier en daar in die middel van die riet waar ook oop wa- | |
[pagina 168]
| |
ter blink. Die water is altyd so blou soos die pragtigste edelsteen; en as jy aan die kant staan, lyk die grootste gedeelte van die pan net soos 'n stuk gewone veld met een of ander eienaardige soort bossie of gras begroei. Dit is moeilik vir 'n vreemdeling om te verstaan dat wat op 'n distansie van 'n paar tree soos gewone harde veld lyk, in werklikheid twintig voet water is. Dit noem ons die Groot Pan. Net oor die bultjie is die Klein Pan. Een kwart is oop water met 'n bodem van rots. Driekwart is ruie riet en biesies deurkruis met watergange. Die Klein Pan droog partykeer in die winter op. Vandat ons klein kindertjies was, ken ons die panne en die voëls wat in hulle woon; en nietemin sien ons kort-kort 'n watervoël wat ons nie ken nie en wat ons nog nooit tevore gesien het nie. ‘Onoplettendheid’ - sê julle. Moenie glo nie! Luister maar. Omtrent ses maande gelede het drie groot swart voëls hulle verskyning gemaak wat dadelik ons belangstelling gaande gemaak het. Hulle was klaarblyklik vreemdelinge uit 'n verre land. Hulle was besonder lief vir die Klein Pan, wat skaars vyftig tree breed is en teenaan die grootpad. Hier was hulle gewoonte om op 'n ry op die rotsplaat in die son te sit. Gewoonlik sprei hulle die vlerke wyd uit en strek die lyf agteroor om die son ten volle te geniet. In die middel van die dag vlieg hulle oor die Groot Pan om te eet - en hulle kan duik! In ons pan had hulle g'n weerga nie. En toe begint ons ondersoek doen. Wat was die naam van die snaakse voëls met slangnekke? Waar kom hulle vandaan? Van ons bure - ou mense wat 'n leeftyd naby die panne deurgebring het - kon ons niks vertel nie. Almal gee ons die versekering dat hulle nog nooit sulke voëls gesien het nie. Uiteindelik het 'n voëlkenner kom kyk, en toe word ons vertel dat hulle egte seevoëls is - die groot swart duiker orals aan die Suid-Afrikaanse kus bekend. Ek dink die Engelse naam is ‘cormorant’, maar in elk geval, volgens die prentjie van 'n Europese ‘cormorant’, lyk die Afrikaanse heeltemal anders. Sy nek is baie langer en die fatsoen van die lyf ook anders. Hulle het omtrent drie maande by ons gewoon, en toe eendag het hulle ooswaarts verdwyn. En die naaste see is meer as driehonderd myl van ons af ... En nou skaars 'n maand gelede het 'n nog eienaardiger voël eendag op die oop water in die Groot Pan verskyn. Daar was aan hom g'n oomblik te twyfel nie: dit was 'n swaan. Ons het so dikwels prentjies, en sommige van ons het lewendige swane gesien, dat ons ons besoeker dadelik herken het; maar net die kleur was verkeerd. In plaas van wit was die swaan bruinswart met witvaal plekke onder die bors en vlerke. Hy was ongelukkig so wild dat dit onmoontlik was om naby te kom, en hy het maar 'n paar dae gebly, toe probeer 'n jagter om hom te skiet! Twee skote met 'n koeëlgeweer word op hom gelos, en daarna het hy sy magtige vlerke uitgesprei om na sy land (of water!) terug te gaan. Ons het hom nie weer gesien nie ... En nou die ander dag sien 'n eendvoëljagter 'n snaakse voël voor hom uitswem met 'n dik beveerde kop en 'n kuif. Hy skiet | |
[pagina 169]
| |
hom dood en het dit huis toe gebring om ons te wys. Weer was dit 'n vreemdeling! Die voël had glad g'n stert nie, en die voete was ver na agter - byna waar die stert moes wees. Ek is later, op my beskrywing, vertel dat dit die groot gekuifde Europese fuut was. 'n Mens verwonder jou oor die vreemdelinge - en tog is dit nie so vreemd nie wanneer ons onthou dat ons groot sprinkaanvoëls elke jaar na Hongarye en Suid-Rusland trek. Naby ons is een gevang met 'n ring om die been wat die bewys gelewer het dat hy in Hongarye deur 'n voëlvereniging gelos is. Wat daar in ons panne is wat voedsel verskaf aan die duisende voëls, is my 'n raaisel. Visse is daar nie; paddas taamlik baie, maar ek twyfel of dit die paddas is wat die aantrekkingskrag verskaf. Ek dink die water wemel van diertjies wat vir ons meestal onsigbaar is ... En dan weer is dit moeilik om te sien hoe die seeduikers en die swane genoeg voedsel alleen daaruit kan kry. Eendag hoop ek sal een of ander geleerde ons die geheim vertel. Wat die voedsel ook mag wees, een ding is seker: dat dit vreeslik lekker moet wees. Ons gewone en bekende inwoners van die pan is eers en vernaam: bleshoenders, duisende! Dit is hulle wat snags die onaardse geluide maak. Ek dink dat hulle al die ander watervoëls namaak, net soos ons skaapwagtertjie met die ander vlaktevoëltjies doen. Hier by ons is hulle baie mak, want niemand vervolg hulle ooit nie. As jy naby die pan kom, is hulle die laaste om te vlug. Hulle het 'n snaakse gewoonte om op die water te loop. Dit wil sê, hulle vlieg net so hoog dat hulle voete die oppervlakte van die water raak, en dan help hulle hul vlug voort deur vinnig met die voete in die water te trap. Hulle maak hul neste in die riet maar altyd in diep water, en in dié opsig verskil hulle geheel en al van ons twee soorte eendvoëls, wat meestal hul nes op die grond maak, 'n hele ent van die water af. Ek dink dit is een oorsaak waarom eendvoëls by ons so skaars is, afgesien van die menslike vervolging waaraan hulle blootgestel is. Baie neste en baie voëls word deur ongediertes gepak voordat die kleintjies 'n kans het om die water te bereik. As hulle eenmaal in die pan kom, is hulle veilig genoeg. Die bleshoender bou sy nes van riete wat hy met sy skerp bek onder die oppervlakte van die water afsny. Hy pak hulle oorkruis totdat hy 'n lomp opgestapelde hoop het wat half op die water dryf en half op die watergras en biesies rus. Die hele ding lyk vreeslik onveilig. Met die minste druk is alles onder water. Seker moet die eiers dikwels nat word, want die bleshoender doen die minste moeite van al ons watervoëls om sy nes van vere te voorsien ... Vere? Waar kry die watervoëls die vere vandaan? Gerus kan die leser wees dat die natuur voorsiening maak. Die meeste watervoëls, behalwe die slordige bleshoender, doen die uiterste moeite om die voering van hulle nes sag en dig en warm te maak, want die meeste van hulle maak hulle neste (net soos die bleshoender) òf op die water òf op baie nat grond. Vir iemand wat min van watervoëls af weet, is die planne wat | |
[pagina 170]
| |
hulle maak, verbasend genoeg. Eers net bo die growwe riet word gewoonlik 'n laag van die sagte dons uit palmiet en rietsaad neergelê, en daar bo op kom die verebed. Die broeityd van die watervoëls val saam met die tyd wat hulle verveer, en die mannetjie en wyfie altwee trek groot bosse sagte donsvere uit hulle eie lyf om die nes mee uit te voer. Ons snaakse ou klein duikertjie verloor gedurende die broeityd so baie vere dat hy glad nie kan vlieg nie. Maar dit maak maar min onderskeid wat sy veiligheid betref, want hy kan amper net so lank en net so goed onder water lewe as bo! Die eende maak selde in die helder dag hul verskyning in oop water met hul kleintjies. Vernaamlik die groot geelbek is in dié opsig versigtig. Jy sal gelukkig wees as jy ooit 'n wyfie met haar kleintjies te sien kry. Dit is 'n mooi gesig en nog mooier om hul wegraak te sien. Wat die kwarteltjie op die grond doen, doen die eendemoeder op die water - met 'n weinig verskil. Ons sal veronderstel dat dit jou geluk het, ná ure roerloos in die riet te sit, om 'n wyfie te sien uitswem in die oop gang voor jou met haar klomp geel donsies. Die kleintjies hou nooit 'n oomblik op met duik nie. Nouliks is die koppie bo water of daar sien jy die voetjies en stertjie omhoog, en weg is hy weer. Die moeder is te besig om wag te hou om self te duik. Dit moet baie veilig wees voor sy self sal waag om onder die water te verdwyn. Jy sien in haar hele houding dat sy vreeslik onrustig is. Miskien voel sy die gevaar in haar nabyheid. Maar die kleintjies is ewe doodgerus. Hulle vertrou geheel en al op die waaksaamheid van moeder. Dit gebeur somtyds dat een van die klompie alleen afdwaal en in die oop water kom, weg van sy moeder. As dit gebeur, kan jy tot teen hom aan loop. Hy steur hom glad nie aan jou nie en gaat ewe onbekommerd met sy duike voort. Maar laat die moeder daar in die riet jou tog net gewaar! Sy gee net een ‘kwaak’ en soos 'n blits is die kleintjie weg onder die water. Dié keer is daar doodsangs in die haas van sy duik, en dit is ook die laaste maal wat jy hom sal sien. As hy weer opkom, is dit êrens diep en veilig in die riet en waarskynlik digby sy moeder. Maar om terug te keer na die moeder en kleintjies in die watergang voor jou. Al hoe onrustiger word die moeder. Sy doen alles in haar vermoë om haar kleintjies bymekaar en naby haar te hou. Gedurig swem sy om en om hulle; en as een kleintjie geneig is om af te dwaal na die kant van die oop water, druk sy hom eenvoudig met die boog van haar vlerk terug na die ander. En dan skielik word sy jou gewaar. Miskien het jy 'n vinger geroer, miskien het die wind 'n stuk van jou klere in beweging gebring - en daar sien sy uiteindelik waar die gevaar is wat sy so lank reeds gevoel het. Weer hoor jy die alarm-‘kwek’, en weg is al die kleintjies - soos met 'n towerslag! Maar nie die moeder nie! Skielik sien jy dat sy swaar gewond is. As jy ooit 'n gekweste eendvoël in die water sien spartel het, sal die moedertjie jou werklik bedrieg. So goed maak sy dit na dat ek self verskeie maal die gedagte gekry het: ‘Maar dié keer is dit tog regtig - sy is dodelik gewond.’ Een vlerk is onder die water uitgestrek; sy lê op haar sy, en | |
[pagina 171]
| |
een voet steek vlak bo die water uit. Met die ‘gesonde’ vlerk slaat sy geweldig in die water sodat sy al in die rondte draai en tog ook altyd stadig verder van jou af gaat. As jy haar volg, kan jy die blydskap in haar gebare merk. Die ‘doodgaan’ word altyd geweldiger; en as die gevaar vir haar kleintjies groot is, sal sy toelaat dat jy tot op 'n tree of vyf van haar af kom: en dan as jy ver genoeg van die kleintjies af is, word sy skielik reg. Met vier of vyf vlerkslae is sy bo die water, en daar trek sy die lug in asof klein eendjies die laaste ding in haar gedagte is. En keer nou terug na die plek waar die kleintjies verdwyn het. Tevergeefs soek jou oë elke hoekie en donker plekkie onder die riet. Daar is niks! En tog, as jy lank weer doodstil staan, hoor jy vlak voor jou ‘kwirk, kwirk’. Dit is hulle wat begin roep na die moeder wat myle ver weg is! En dan, as jou oë geoefen is, sien jy uiteindelik een en dan 'n tweede! - Maar nie die hele eendjie nie - net die bekkie en helfte van die koppie met twee blink ogies is bo die water! As hulle nie die geluid gemaak het nie, sou jy hulle nooit gesien het nie. As jy dit kan oorlê om so weg te kruip in die nabyheid dat die moeder jou uit die lug nie kan bespeur nie, is dit die moeite werd om haar terugkoms af te wag. As haar kindertjies nog baie klein is, sal dit binne 'n halfuur wees. Voordat sy verskyn, sal geeneen van die kleintjies uit sy wegkruipplekkie roer nie! Gedurig hou hulle aan roep, maar roer? - Nooit nie. En nou hier kom die moeder terug. Om en om die pan vlieg sy, so laag dat dit jou geduld byna uitput. Uiteindelik sak sy in die water so ver van die kindertjies as sy met moontlikheid kan kom. Sy sal die plek tien maal nader en weer wegswem voor sy dit waag om haar kleintjies te roep. Sy kan teen hulle aan verbyswem sonder dat een van hulle 'n beweging sal maak. Hulle wag om haar stem te hoor. Dit is lieflik om hulle blydskap te sien wanneer die moeder uiteindelik roep en hulle almal uit hul wegkruipplekkies storm. Hulle dring om haar; elkeen probeer om naaste aan haar te wees om met die koppie teen haar vere te vrywe. Die klein swart duikertjie gaat baie net soos die eendvoël te werke onder dieselfde omstandighede - net sy probeer nie om die vyand weg te lei nie. As sy die alarmkreet gee, verdwyn sy en al die kleintjies tegelyk; en as jy die geduld van Job het om wag te hou, sal jy later uitvind dat die klein gesin wyd uitmekaar onder die water versprei het. Een ding is ook seker, dat as die duikertjies eers weggeraak het, jy hulle tevergeefs sal soek. Anders as in die geval van die eendvoëltjies, hulle sal jy nie te siene kry nie, al lê hulle 'n tree van jou af. Hulle besit sonder enige twyfel die verdwynmussie van die towenaar! Een van ons watervoëls is baie seldsaam, en geeneen van ons het nog ooit hulle nessies gekry nie. Ons noem hulle ‘waterhoendertjies’, en hulle is in baie opsigte wonderlike voëltjies. Kort gelede het ek 'n dooie voëltjie langs die pan opgetel en had toe 'n kans (vir die eerste maal) om hom van naby te beskou. Die lyf en vere is dié van 'n watervoël. As jy die bene en bek afsny, sou elkeen dit as 'n soort eendvoël of duikertjie beskou. Maar die bene en bek is dié van 'n land- | |
[pagina 172]
| |
voël. Die voëltjie is omtrent so groot soos 'n kiewietjie, maar die bene is nog langer. Die kleur is bruinswart op die rug, en vaal onder die bors en vlerke. Op die rug en onder die bors is twee pers plekke asof iemand twee kolle met 'n verfkwas haastiglik aangeplak het toe die voëltjie reeds klaar was! Die twee briljante kolle lyk glad ontuis by die origens eenvoudige kleed; 'n stert is daar glad nie. In dié opsig lyk die voëltjie byna mismaak, net soos die fuut wat ek reeds beskrywe het. Ofskoon die voëltjie nooit op die grond te sien is nie - hy is baie wild en kom selde uit die digste riet en gewas te voorskyn - besit hy g'n swempote nie. Die tone en naels is dié van 'n gewone landvoël, maar daar is een groot onderskeid: die waterhoendertjie het seker die grootste voet (of liewer langste tone) van alle voëls in die wêreld van dieselfde grootte. Die voet van die klein voëltjie bedek 'n groter oppervlakte as die hand van 'n groot man! Die middelste lang toon is vyf duim lank, terwyl twee tone byna dieselfde lengte reg na agter uitsteek. Wanneer die voëltjie dus staan, rus hy op 'n sirkel van tone nege en 'n half duim in deursnee! Wat doet hy met die ontsettende voet? ‘Seker om een of ander lewendige prooi mee te gryp,’ was my eerste gedagte. Maar dit was verkeerd. Later eers, toe ek nadink oor die lewenswyse van ons waterhoendertjies, het die doel van die voet my duidelik geword. Hy gebruik dit om op die blare van die waterlelie en op die toppe van die watergras te loop: want ofskoon die waterhoendertjie in diep water woon, kan hy seker nie swem nie. Maar hy loop oor plekke waar net hier en daar die toppies van watergras te sien is; en altyd bly hy hoog bo die water op sy lang bene. Of hy by ons broei en wat hy eet, weet ek nie, want van al ons watervoëls is hy die moeilikste om mee vriende te maak. Die grootste van ons watervoëls is natuurlik die wildemakou. Dié tyd van die jaar wei hulle gedurende die dag in die afgeoeste mielielande en kom alleen teen sononder na die water; want van al ons watervoëls is die makou die grootste graaneter. Vir die eende het nòg mielie- nòg koringland die minste aantreklikheid. Maar oor die makoue is niks te vertel wat alle Transvaalse kinders nie weet nie, want hy is oral tuis waar water is. |
|