Die Skepbekertjie
Die volgende aantekening deur die uitgewer (Tafelberg) het in 1968 by die eerste druk van hierdie boekie verskyn:
‘'n Waardevolle vonds! - 'n stuk werk uit die hand van Eugène Marais, oor jare gebêre in die woonhuis van 'n Transvaalse plaas, Witklip, naby Bronkhorstspruit. Hoe dit daar gekom het, is 'n mooi storie.
Witklip, 'n myl of ses buite die dorp, was die plaas van die heer Mike Henn, ryk bedeel met drie seuns en sewe dogters. 'n Goeie vriend van mnr. Henn, mnr. Fanie van Wyk, was prokureur op Bronkhorstspruit. By hom het Eugène Marais 'n ruk lank in die vroeë twintigerjare gewerk. Hy het gou bevriend geraak met Witklip se mense, en byna elke naweek daarheen uitgegaan. 'n Stil man; nie spraaksaam nie. Sy plesier was om in die veld te gaan voëls kyk; altyd het hy dan die tien klein Henntjies saamgeneem en vir hulle baie van die veldgoed geleer en vertel. Een van die dogters, Ann(a), nou mev. Mataai Prinsloo van Ouweswaanskraal in die distrik, onthou veral hoe hulle geprobeer het om die nessie te kry waar 'n koestertjie skielik opvlieg.
Eugène Marais was veral lief vir die dogtertjie Mara, wat in die Rebellie gebore was. Maar dit was vir haar opgeskote suster Anna (gebore 1906) dat hy beloof het om 'n bietjie te help met