maai Waterbergse luislangvel van byna vier meter present gegee. Agtien voet is nog 50% langer! Die woorde ‘sauve qui peut’ (Frans) beteken ‘elkeen vir homself’.
p. 126a (eerste reëls): Sien die vergelykbare opmerkings oor geboortepyn in Die Siel van die Mier (p. 62 e.v. van hierdie versameling).
p. 132a (eerste reëls): Hierdie telkense verwysings na 'n naamlose ‘jong dame’ of ‘dame’ in Marais se geskrifte is vir 'n biograaf besonder intrigerend. Ná sy mooi jong vrou se dood in 1895 het Marais deur sy lewe 'n behoefte aan vrouegeselskap gevoel, en daar was gewoonlik die een of ander vriendin in die nabyheid. Dit is 'n versoeking om die ‘jong dame’ in dié geval te assosieer met Susanne (p. 117 e.v. van Die Groot Verlange).
p. 135b: Slypsteenkop is dieselfde plaas waaroor P.G. Hendriks in 'n Spyker vir Slypsteenkop so boeiend en ontroerend skryf.
p. 138: Die verskriklike ompad wat Marais op pp. 138 tot 141 loop voor hy weer by die bobbejane kan uitkom, is tekenend van sy latere werke. Die Siel van die Mier, om maar een voorbeeld te noem, is meer op die man af.
p. 145c (laaste reëls van voorlaaste paragraaf): Om die een of ander rede (dit is des te verbasender by die vader van Dwaalstories, wat deur 'n Boesman vertel is), het Marais nooit 'n hoë dunk van hierdie volk se evolusionêre vlak gehad nie. Vgl. ‘The Yellow Streak in South Africa’ (p. 1293 van hierdie uitgawe).
p. 147b: ‘'n Wilde bobbejaan sal die toutjie en blik dadelik gebruik ...’ Tog seker 'n oordrywing, een van talle in Marais se werk wat neig om dit minder oortuigend en geloofwaardig te maak.
p. 151c: Emil Tamsen se ‘beroemde vrugteplaas naby Nylstroom’ was waarskynlik Tweefontein, waar hy volgens 'n mededeling van sy seun wilde diere uit alle dele van die Waterberg versamel en na Hagenbeck se dieretuin in Duitsland verskeep het (vgl. Die Groot Verlange, p. 214).
p. 151c (laaste reël): Die plaas was Steenboksvlei, waar Marais gaan vertoef het om die eienaar, Andries van Heerden, se nierkwaal te behandel (vgl. Die Groot Verlange, p. 223 e.v.).
Mnr. Van Heerden se ‘sekere gevoel van medelye’ teenoor sy bobbejane (p. 152) strook met mededelings oor hom in onderhoude. Hy was blykbaar 'n goeie, sagmoedige mens.
p. 155a (tweede reël): Marais se stelling dat daar ewe veel mannetjies as wyfies was (die oorspronklike, ongeredigeerde sin lui: ‘Meestal was mannetjies en wyfies van eweredige getal’), is in die lig van die volgende sin moeilik verstaanbaar.