briewe. Daarteenoor is die feite in Marais jr. se aantekeninge noukeurig. Selfs die verwantskap met baron Van Rheede van Oudtshoorn (dié opvatting was 'n familietradisie), hoewel onseker, is nog nie verkeerd bewys nie. Die toon van die kort oorsig is besadig. Dit is nòg ophemelend, nòg bevat dit tekens van die bitterheid teenoor sy vader wat die seun vermoedelik so kort ná sy dood nog sterk moet gevoel het.
p. 14: Die volledige vers uit Job lui as volg: ‘'n Einde maak die mens aan die duisternis, en tot die uiterste grens deursoek hy die klip van donkerheid en doodskaduwee.’
p. 17 (derde reël): Antipon: verslankings-middel, in die jare dertig beter bekend as vandag. A.G. Visser skryf: ‘As ou tant Siena straat-op loop/om Antipon of spek te koop ...’
p. 20a: ‘... een van die mees liggelowige goggatjies.’ In die oorspronklike uitgawe van Die Siel van die Mier heet dit ‘bygelowig’.
p. 20: ringvinger: Marais noem dit die ‘naaspink’.
p. 20c: lugleegte: In die oorspronklike uitgawe was dit ‘lugruimte’, een van talle voorbeelde wat wys hoe selfs 'n knap skrywer soos Marais in die jare dertig nog moes sukkel om sy ongevormde taal te skryf.
p. 21a: eter: Die woord is behou, hoewel die konsep verouderd is. In 1955 noem die Afrikaanse Woordeboek dit 'n ‘hipotetiese, onwaarneembare medium wat orals teenwoordig is, selfs in absolute vakuum, en alles deurdring’ (maar voeg by: ‘Hedendaags word die begrip van die eter deur die meeste fisici as oorbodig beskou.’)
p. 21c: ‘honderd meter’: Marais se gebruik van metrieke mate (sy dit by wyse van uitsondering) in die jare twintig, toe selfs Britse wetenskaplikes nog in ‘imperiale’ mate gedink het, dui op kontinentale invloede - moontlik net uit boeke, moontlik die invloed van die Duitse studente met wie hy in Londen saamgewoon het.
p. 23c: ‘oreksis’ of 'n verwante woord kom nie in Schoonees se Handwoordeboek (HAT), die Afrikaanse Woordeboek of die Nederlandse Standaard-woordeboek Van Dale voor nie, maar in die Shorter Oxford word ‘orectic’ as 'n mediese term aangegee, met die betekenis: ‘having the quality of stimulating appetite or desire’.
p. 29c: twintig jaar gelede: Dit wil sê tot kort ná die Tweede Vryheidsoorlog, toe blanke plase vir die eerste keer in dié streek uitgesny is.
p. 30c: Met De Vries verwys Marais stellig na die Nederlandse plantkundige Hugo de Vries (1848-1935). ‘In sy teorie (1889),’ skryf die jongste uitgawe van die Algemene Winkler Prins-ensiklopedie oor hom, ‘beweer hy dat alle erflike eienskappe in elke sel van die individu aanwesig is, gelokaliseer in materiële deeltjies wat hy pangenes genoem het (later genes).’ Deur eksperimente (die kruising van 'n teunis-blom) kom hy uit by sy revolusionêre mutasieteorie as verklaring vir die ontstaan van nuwe spesies.
p. 33c: In Die Groot Verlange stel die skrywer dit as 'n teorie dat Marais, hoewel hy lynreg met Freud verskil het, dit nie wou waag om Freud in The Soul of the Ape aan te val nie. In Die Siel van die Mier, wat vir 'n tydskrif geskryf is, val hy Freud heftig aan, soos hier blyk.
p. 38a: Marais gebruik ‘theses’, wat ek as ‘teses’ gehandhaaf het. Die gebruiklike moderne vorm sou ‘tesisse’ wees.
p. 40a: Metsjnikof, Ilja Illitsj (1845-1916), Russiese dierkundige, veral bekend om sy studies oor mikroörganismes en immuniteit. Ontdekker van die feit dat die witbloedliggaampies bakterieë bestry. Deel in 1908 'n Nobelprys met Paul Ehrlich.
p. 40b: foramina (enkelvoud foramen) - klein opening of deurboring. Die voorbeeldsin in die Afrikaanse Woordeboek kom uit Die Siel van die Mier!
p. 41a: Rooi en wit organismes: In die oorspronklike uitgawe gebruik Marais die woord ‘goggatjies’, vermoedelik om die situasie vir sy lesers verstaanbaar te maak. Geen wonder hy sou later sê dat hy Die Siel van die Mier geskryf het met die bewuste of onbewuste gevoel dat hy ‘vir kinders skryf’ nie.
p. 44a: Die werklike foto's in die oorspronklike uitgawe is lankal verlore en word om teg-