Gewoonlik sou 'n verskyning van ons lanternlig in die middel van die nag 'n aansienlike ophef by die slaapplek veroorsaak het; maar toe ons tussen die rotse onder die slaapplek kom, was alles nog doodstil. Hier het die ander lede van die ‘Raad’ ook hul verskyning gemaak. Hulle was nie op die slaapplek nie, maar dit lyk of hulle op die spitse van die hoogste rotse in die nou kloof waghou. Toe ons aankom, klim hulle af asof hulle ons koms te wagte was. Die enigste geluid wat ons gehoor het, was 'n grof fluisterende gemompel van een of twee van die mannetjies.
Ek kan my die indruk wat die skouspel op my gemaak het, nog goed herinner. Die woeste rotse met donker klipgewas beskadu, die groot onseker swart gedaantes om ons heen geskaar, die flikkerende lig van die lantern en bo alles die onaardse stilte - het alles daartoe bygedra om 'n grillerige gevoel te wek wat baie na verwant was aan vrees, as dit nie dalk vrees was nie!
Ons was altwee gewapen met geweers en Mauser-pistole.
Die blykbare bedaardheid van die bobbejane het ons mettertyd meer gerusgestel en ná ons die saak van alle kante bespreek het, het ons die slaapplek self genader.
Ek het tevore duidelik gemaak dat die slaapplek 'n diep holte in die krans is, van voor deur 'n groot wildevyeboom bedek. Toegang tot die slaapplek is deur 'n skuins rotsval verskaf wat van die vloer van die nou kloof tot aan die laagste takke van die wildevyeboom gereik het.
Ek het ook duidelik gemaak dat die slapende bobbejane nooit wou toelaat dat ons gedurende die nag op die vloer van die slaapplek voet sit nie. Die takke van die vyeboom was die naaste wat hulle ons wou toelaat. Net wanneer ons probeer om nader te kom, tree lede van die ‘Raad’ met 'n houding so dreigend vorentoe dat ons goed wis dat 'n enkele tree verder 'n aanval sou uitlok wat ons lewe in die grootste gevaar sou stel.
Dis die rede waarom ons die slaapplek nooit gedurende die nag besoek het nie. In die dag kon ons dit besoek en noukeurig bekyk, want gedurende die dag was die bobbejane nooit daar nie.
Hierdie nag was een van die weinige uitsonderings op dié reël wat ons ooit beleef het.
Toe ons tussen die takke van die vyeboom kom, bereik die groot mannetjies die een ná die ander ook die slaapplek langs die rotsval.
So stil en rustig was hulle houding dat ons dit uiteindelik gewaag het om op die vloer af te klim en die trop op 'n afstand te nader. Soos gewoonlik was hulle in 'n digte bol versamel: die mannetjies buite-om, dan die wyfies en die gespeende kleintjies in die middel.
Ons kon die nuuskierige ogies van die kleintjies af en toe in die lanternlig sien uitblink wanneer hulle by die wyfies opklouter om ons oor die koppe van die grotes belangstellend gade te slaan. Maar ook hulle was doodstil - iets so