| |
| |
| |
9 Wette en Regering van Bobbejane
Nadat die trop bobbejane op Doornhoek so mak was dat ons hulle van taamlik naby kon bestudeer, het ons onmiddellik talle ontdekkings gedoen. Die meeste daarvan was vir my heeltemal onbekend en party daarvan het as 'n merkwaardige verrassing gekom.
En dit was nie die slimheid of die menslike verstand van die bobbejane in sy natuurstaat wat my die meeste verwonder het nie. Ons was in dié rigting natuurlik baie te wagte, want ons was, soos die meeste Afrikaners, vertroud met die gedrag en gewoontes van die bobbejaan in gevangenskap en ons wis goed genoeg dat hy ‘slimmer’ is en doeltreffender kan redeneer as enige laer dier in Afrika. Weliswaar het ons hier die eerste keer kennis gemaak met party ‘redelike’ gewoontes van die trop wat merkwaardig genoeg was en wat in baie gevalle besoekers - meer bepaald buitelandse dierekenners - getrek het as byna ongelooflike wonders; nietemin was dit nie in hierdie rigting dat ons verbasing en nuuskierigheid in besonder gaande gemaak is nie.
Wat my eerste en geweldig getref het, was die feit - bo alle twyfel verhewe - dat ons hier in aanraking was met dinge wat in sy hoogste ontwikkeling by die mens onder grootse name bekend staan. Eers newelagtig en onduidelik en later klaarder en helderder het ons onder die bobbejaantrop die begin bespeur van ‘wette’, ‘orde’, ‘regering’, ‘kultuur’ - of wat ons dit ook al mag noem wat die menslike gemeenskap meer bepaald van die dierlike trap onderskei.
Om in verband met bobbejane van ‘sedes’ te praat, sal die meeste mense laat glimlag, en tog is dit seker dat die trop nie een week sonder die eerbiediging van bepaalde ‘sedewette’ sou kan bestaan nie. Dit geld alle tropdiere. Die bestaan van die trop word enkel deur die eerbiediging van bepaalde wette moontlik gemaak. By die laer diere is dit moeiliker om te ontdek en met juistheid te konstateer, en by die bobbejaantrop is hulle duideliker alleen omdat die gedrag wat hulle lei, mensliker van aard is.
Die eerste feit in verband met ‘regering’ wat ons by ons trop gewaar het, was die bestaan van 'n bepaalde leiding.
As gevolg van die dierekennis wat elke Afrikaner in sekere mate besit, was ons natuurlik iets van hierdie aard te wagte. Ons wis ten minste dat mak diere (soos skape en bokke) dikwels deur 'n bepaalde individu gelei word, 'n kapater of ram, en dat vir skape 'n voorbok dikwels aangehou word om geen ander doel as om die trop te lei nie. Ons wis ook dat onder ‘wilde’ Afrikanerbeeste 'n ou bul in die meeste gevalle die leier van die trop is en dat geen ander individu hom ooit van hierdie waardigheid sal probeer beroof nie. Dit is ook die ondervinding van jagters dat daar by wilde tropdiere 'n bepaalde leier of leiers is. Onder olifante word hierdie onderskeiding dikwels aan 'n ou ‘poenskop’-koei ('n
| |
| |
koei sonder tande) toevertrou. By alle ander Afrikaanse tropdiere is die leier of leiers sonder uitsondering van die manlike geslag.
Ons eerste kennismaking met die leiers van ons trop was toe ons kos begin uitdeel het as eerste stap in ons pogings om die trop te probeer tem. Ons het in die begin elke aand ‘droë’ mielies op die rotse in die nabyheid van die slaapplek geplaas en toe hulle daaraan gewoond was, is die mielies altyd nader aan die hutte in die gras gesaai. In die begin was hulle baie agterdogtig en vreeslik versigtig. As die mielies na hulle sin enigsins te na aan die hutte was, het die oueres beslis geweier om gelok te word. In 'n groot halfmaan het hulle onbeweeglik op die rotse gesit en al ons doen en late op 'n veilige afstand noukeurig nagegaan.
Soos in baie ander aangeleenthede was die kleintjies hier die voorbarigste. Hulle was altyd gereed om vyftig of sestig tree nader te kom as die oues. Hier het hulle allerlei kaskenades aangevang, klaarblyklik met die plan om ons tot verraaiing van ons doel uit te lok. Hulle was altyd gereed om enigiets in 'n grap of 'n speletjie om te sit.
Een van hulle grappe was om skielik in 'n digte drom direk na ons toe te hardloop asof hulle heeltemal vreesloos is en die hopies mielies onverwyld wou buit; maar met al die skyn van voorbarigheid was dit belaglik om te sien hoe hulle probeer om gedurende die opmars die een agter die ander te skuil. Sodra hulle op die punt kom wat hulle as gevaarlik beskou, is halt geroep en 'n soort belaglike dans uitgevoer. Dit het bestaan uit op- en neerspring met uitgestrekte arms wat tegelyk op en neer gewaai word. As dit geen beweging van ons kant uitlok nie (wat natuurlik altyd die geval was) maak die een na die ander die mees beledigende gebaar wat in bobbejaan-gedrag voorkom. Dit is 'n gebaar wat die meeste Afrikaners sal ken, en by bobbejane het dit verskillende wyduiteenlopende betekenisse, waarvan elkeen deur die omstandighede bepaal en deur klein verskille van houding aangedui word. In hierdie geval was dit egter bloot beledigend, spottend, uittartend. Dit word uitgevoer met die rug na die voorwerp van die gebaar gekeer, maar ons kleintjies het ons altyd ‘onderdeur’ skelm beloer om te sien wat die uitwerking van hierdie uitdaging is. As niks gebeur nie, stap hulle met stywe bene en stert omhoog na die kring van die grotes terug. As houding en gebaar iets kan vertel, dan is hierdeur sonder enige twyfel die uittarting te kenne gegee: ‘Ons is nie bang vir julle nie en julle beteken ook niks!’
Die onverskrokkenheid van die kleintjies het by die dag toegeneem, en hier het ons die eerste bewys van 'n stelselmatige regering waargeneem. Ons het opgemerk dat daar 'n klompie besonder groot oues is wat altyd bymekaarbly en meestal 'n ent van die groot trop verwyder was. (Die getal is later vasgestel op elf.)
Saans (natuurlik in die begin van ons kennismaking) terwyl die kleintjies
| |
| |
hulle kaskenades uitvoer, was hierdie klompie altyd die verste van ons verwyder. Hier het hulle bewegingloos bymekaar gesit met 'n houding asof ons die voorwerp binne die gesigseinder is waarin hulle die minste belangstel. Daar was egter 'n gedurige sagte gemompel onder hulle, wat so na menslike gepraat klink dat ons dikwels byna oortuig was dat die bobbejane 'n geartikuleerde spraak magtig is. Ons swart helpers het vas geglo dat dit so is.
Daar was altyd die skyn dat hierdie klompie oues hoegenaamd geen notisie van die kaskenades van die kleintjies neem nie, totdat by een geleentheid hulle nader aan die hutte gekom het as ooit tevore. Skielik was daar 'n bassoprofondo-uitroep deur een lid van die ou raad en dadelik, sonder versuim, sonder om weer na ons te kyk, het die kleintjies tot by die sirkel van die ouers die spat geneem. Elkeen het hom dadelik by sy moeder aangesluit. Daar was 'n oomblik stilte, toe kom weer van dieselfde oue 'n basgebrom en onmiddellik was die hele trop in beweging. Hulle het nie gehardloop nie; hulle het stadig van ons weggeloop, elke moeder met haar kleintjie op haar rug, in die rigting van die slaapplek en op die voorpunt was dieselfde ‘raad van elf’ wat toe reeds vir ons 'n sekere identiteit gehad het.
Aan die betekenis van hierdie twee geluide was nie te twyfel nie. Die eerste was 'n gebod aan die kleintjies om dadelik terug te keer en die tweede 'n bevel aan die hele trop om na die slaapplek te trek - of ten minste om in beweging te raak en die elf leiers te volg.
Ons het dit daarna honderde male gehoor en mettertyd het ons tot die vaste oortuiging gekom dat ons hier nie met blote leiers van 'n diertrop te doen het nie. Dit was 'n bepaalde vorm van regering wat by geen ander diersoort in Afrika voorkom nie.
Ons het derhalwe van die begin besondere aandag aan die gedrag van ons ‘Raad van Elf’ geskenk en ook van alle kante informasie ingewin omtrent die leiding van ander wilde troppe in Waterberg.
Ons het eindelik vasgestel dat die regering van troppe wat die getal betref aanmerklik verskil. In baie gevalle was daar, afgesien van die grootheid van die trop, ongetwyfeld 'n enkele leier en regeerder. Van mnr. Emil Tamsen het ek byvoorbeeld verneem dat op sy beroemde vrugteplaas naby Nylstroom daar 'n trop bobbejane was onder regering van 'n enkele leier. By een geleentheid het dit sy seun geluk om hierdie leier dood te skiet en die gevolg was dat die hele trop dadelik in die uiterste verwarring geraak het. Tot op dié tydstip het hulle altyd eenparig die leier gevolg en sy bevele gehoorsaam, met die gevolg dat dit uiters moeilik was om die kwaaddoeners onder skoot te kry. Hy het hulle altyd uit alle strikke en hinderlae veilig gelei. Toe hy egter sneuwel, was hulle so vervaard en deurmekaar dat hulle selfs nie kon vlug nie en 'n hele klomp is doodgeskiet voordat hulle veiligheid kon bereik.
Op die plaas van mnr. Andries van Heerden in Swaershoek het ek 'n lang tyd
| |
| |
die geleentheid gehad om 'n trop wilde bobbejane van naby waar te neem. Hulle nagtelike woning was 'n pragtige klein grot vlak teenoor die huis en nooit het ek 'n trop gewaar wat so gereeld deur tiers geteister is nie. Byna elke nag kon ons van die veranda van mnr. Van Heerden se huis die hele tragedie stap vir stap volg. Die trop is byna elke nag voorgelê. Ons kon die aanval van die tier deur die angskrete van die slagoffer hoor. Dit is onmiddellik deur die woedende gebrul van die groot mannetjies gevolg. En dikwels kon ons hulle van die huis in slagorde teen hul aartsvyand sien optrek. Die tier was vir ons natuurlik onsigbaar. Daarna was die loop van sake altyd dieselfde. Ná hulle mislukte veldtog teen die tier kon ons die trop met aanhoudende geweeklaag na hul grot sien terugkeer. En onophoudelik klink ook die gekerm en gesmeek van die gewonde dier wat deur 'n enkele byt van die tier - voordat hy vir sy eie lewe vlug - hulpeloos gemaak is. Daarna, wanneer die nag die berge geheel in sy donker mantel omsluier het, kon ons die dowwe gebrom van die tier hoor, wanneer hy op sy terugweg is om sy ongelukkige slagoffer die genadeslag toe te dien. Sy gewoonte was om eers in 'n dam onder die voet van die berg te drink en daarna op sy gemak die gekweste bobbejaan te haal. Die nader sluip aan sy slagoffer het gewoonlik die laaste angskrete aan die bobbejaan ontlok. Dit is altyd met 'n donderende gebrul uit die ingang van die slaapgrot begroet. Maar die moed van die dapperste bobbejaan was nooit teen duisternis en die vyand tegelyk bestand nie. Aan hulle kant het dit by gebrul en dreigemente gebly. Jy kon duidelik hoor hoe die tier met 'n wrede gebrul sy prooi bespring en daarna het die ewige stilte van die berge die wêreld stadig weer bedek.
Mnr. Van Heerden en ek het 'n paar maal probeer om die tier op sy tweede reis by die dam voor te lê, maar ons het spoedig geleer dat veel meer voorbereiding nodig was om die sluuste dier wat lewe as 't ware in sy eie strik te vang.
Ek dink dat hierdie nagtelike treurspel by mnr. Van Heerden 'n sekere gevoel van medelye teenoor sy bobbejane verwek het. In enige geval was hy die enigste Waterbergse boer wat in my ondervinding 'n goeie woord vir die bobbejane gehad het en hulle het hom voorwaar genoeg oorsaak tot wraakneming verskaf. Maar toe daar sprake was van 'n uitvinding waardeur dit moontlik sou wees om 'n hele trop gelyk te vergewe, het mnr. Van Heerden beslis verklaar dat hy hom nooit van dié middel sou bedien nie. ‘Ek gee nie om om hulle af en toe onder die lood te steek nie, maar om almal dood te maak, dit is 'n ander saak. Ek sou my ou kese vreeslik mis!’
By hierdie trop was daar in my tyd ook 'n enkele leier wat allerlei snaakse gewoontes gehad het. Een daarvan was om altyd eerste en alleen na die mielieland af te kom. Hy pluk 'n enkele kop en gaan dan op sy gemak in 'n oop kaalte sit om dit te verslind. Van die kaalte af het hy 'n gesig oor die huis en oor alle toegange tot die mielieland.
Nadat hy homself oortuig het dat alles veilig is, maak hy 'n enkele geluid wat
| |
| |
die trop onmiddellik van die berg af roep en tot die feesviering uitnooi. Solank hy die bevel nie gee nie, is daar geen beweging onder die trop nie. As hy iets by die huis opmerk wat hom verdag voorkom, het hy ewe koel sy mielie opgeëet sonder om sy volgelinge af te roep. Dan pluk hy 'n tweede kop en herhaal dieselfde gedrag. Somtyds het hy versadig teruggekeer sonder om sy onderdane af te roep ... solank die gevaar by die huis voortduur.
Hierdie gedrag was ongetwyfeld die gevolg van 'n lang reeks pogings wat mnr. Van Heerden aangewend het om die ‘ou President’ in die hande te kry. Die ondervinding deur mnr. Van Heerden gedurende hierdie bedrywigheid opgedaan, het sekere feite bevestig wat ek tevore met ons mak trop eksperimenteel vasgestel het. Hy het, nes ek, tot die sekerheid geraak dat daar geen sprake van getalkennis by die bobbejaan is nie. Die ou bewering wat gedurig herhaal word dat die bobbejaan twee kan tel, maar nie drie nie, is herhaaldelik deur my eksperimenteel geloënstraf en hier op die plaas van mnr. Van Heerden het ons weer vasgestel dat dié begrip op onjuistheid gegrond is. Wat egter waar is, is dat die bobbejane elke lid van die huisgesin met wie hy gedurig te doen het, ken. Hy ken die gevaarlike inwoners van die huis en die onskadelikes. As tien inwoners van die huis land toe gaan en net twee van hulle gevaarlik is, sal die bobbejane al hul aandag aan die twee skenk. As een gevaarlike terugkeer, bly die trop weg; as altwee terugkeer, kom hulle af, al bly agt onskadelikes in die land.
In Swaershoek het mev. Van Heerden die bobbejane geen vrees ingeboesem nie. As haar man van die huis af wegry, is die trop binne 'n paar minute in die land. Selfs die teenwoordigheid van mev. Van Heerden in die land het hulle nooit afgeskrik nie. Met die uiterste vrypostigheid het hulle binne 'n paar tree van haar mielies gebuit. Selfs 'n groep vroue en meisies het hulle met dieselfde minagting bejeën. Dit het ons 'n plan gegee wat ons dadelik uitgevoer het. Mnr. Van Heerden het 'n rok van sy vrou aangetrek en is met sy sorgvuldig bedekte geweer saam met haar land toe. 'n Uur lank het hulle tevergeefs gewag; die bobbejane het in die berg te kere gegaan, maar geen enkele een het onder skoot gekom nie. Ek het voorspel dat die poging 'n mislukking sou wees, want ek het geweet hoe ongelooflik ver die oplettendheid en skerp gesig van die bobbejane strek.
Mev. Van Heerden het toe alleen huis toe gekom, terwyl haar man in die land weggekruip het. Weer het geen bobbejaan die berg verlaat nie, maar toe die twee 'n tweede keer land toe gaan (die man nog in vroueklere vermom) en mnr. Van Heerden alleen terugkeer, was hy skaars by die huis of die trop was in die land.
Ek het eenmaal die ‘ou President’ op aandrang van mnr. Van Heerden 'n lelike poets gebak. Ek moet erken dat dit teen my sin gegaan het en dat ek dankbaar was dat dit sonder bloedvergieting afgeloop het.
| |
| |
Op sy verkenningstogte na die land het die ou voorman altyd 'n wakker oog vir 'n geweer gehad. Die verskyning van 'n man met 'n geweer by die huis, nieteenstaande die afstand van seshonderd tree, was altyd genoeg om hom die hasepad te laat kies. Eendag toe hy op sy gewone verkennerskaalte met 'n geroofde mielie besig was, het ek hom van agter die huis bekruip en net genoeg van my gesig getoon om hom goed onder korrel te kry. Ek het 'n Mannlichter met 'n baie fyn kaliber en harde koeëls gehad, sodat ek die hoop gekoester het dat selfs as ek hom per geluk raak, die wond in alle waarskynlikheid nie dodelik sou wees nie. Die ‘ou President’ was 'n reus van 'n bobbejaan. Toe ek hom onder korrel kry, het hy vir my meer na 'n gorilla gelyk as na 'n bobbejaan. Toe die skoot val, sien ons hom geweldig agteroorslaan, terwyl sy mielie die lug in waai. Ons het almal gedink dat dit 'n doodskoot was en ek het 'n sug van verligting geslaak toe ons hom sien opspring en berg toe hardloop, waar sy onderdane my poging intussen met die uiterste woede en 'n groot lawaai begroet het. Die meeste van die trop het hom tegemoetgestorm en belangstellend omsingel. Ons kon hom omring van sy onderdane hoog in die berg sien sit, terwyl hy ons en die huis aandagtig gadeslaan. Met die geweer in die hand is ek dadelik land toe, later gevolg deur mnr. Van Heerden. Daar was geen kolletjie bloed op sy spoor nie, maar op die plek waar hy neergeslaan het, was die trossie lang hare wat soms tussen die ore op die kop van ou mannetjies voorkom. Voorwaar 'n noue ontkoming vir die ‘ou President’.
Dit is merkwaardig dat die bobbejaan, solank ek in die huis vertoef het, nooit weer 'n verkenningstog na die land onderneem het nie.
Die vraag kan gestel word hoe ons die bestaan van die ‘wette’ en regering van die bobbejane vasgestel het. Hulle kan natuurlik nie praat nie; daar is geen geskrewe ‘grondwet’ nie. Die bestaan daarvan moet, soos by alle ander natuurlike eienskappe van diere benede die mens in geestelike ontwikkeling, net van gedrag afgelei word.
Sodra ons die trop individueel begin ken het, kon ons met sekerheid bepaal dat daar elf groot ou mannetjies is wat altyd min of meer 'n enkele groep uitmaak. Terwyl hulle trek, kon jy hulle nie maklik van die ander onderskei nie. Maar sodra daar die geringste stoornis is wat die trek tydelik ophou, was die elf êrens op 'n voorpunt bymekaar. Dit het so gou gegaan dat dit moeilik was om vas te stel of daar 'n vaste reëling bestaan; dit wil sê of een van die elf in elk geval die middelpunt van hierdie skielike bymekaarkoms was. Een ding was egter seker en dit is dat daar algehele gelykheid onder die elf was. Daar was nooit 'n geveg of die minste teken van tweedrag nie. Gevegte tussen ander lede van die trop het taamlik dikwels voorgekom, maar nooit tussen lede van die ‘Raad’ nie. Geslagtelike naywer is die gewone oorsaak van tweegevegte onder alle diersoorte. Onder ons trop het daar nooit iets van hierdie aard voorgekom nie, maar ek het rede om te glo dat dit nie by alle troppe so is nie.
| |
| |
Dit bring ons tot die beskouing van die seksuele gedrag wat gedurende die tyd van ons samesyn onder ons trop reël was. Meestal was daar ewe veel mannetjies as wyfies. Daar was altyd 'n trop volwasse jong mannetjies sonder wyfies. Sodra 'n wyfie geslagtelik volwasse geword het, was daar gewoonlik 'n sekere mate van mededinging. Dikwels was konkurrensie egter heeltemal afwesig. In sulke gevalle was daar 'n soort verstandhouding tussen 'n jong mannetjie en wyfie, voordat laasgenoemde vir die eerste maal seksuele rypheid bereik. 'n Week of twee tevore was die twee altyd bymekaar. Die ontwaking van die eerste liefde was duidelik bespeurbaar. Die jong mannetjie het meestal sy liefde getoon deur aanhoudende en onvermoeide deursoek van die hare van sy geliefde. As hy meer as een mielie van 'n strooptog meebring, het hy stilswyend toegelaat dat sy een onder sy arm neem, wat geen ander enkeling van die trop ooit sou gewaag het nie. Hy keer vir haar klippe om en sit en kyk hoe sy die goggas voor hom wegvang. Snags slaap hulle omarm. In sulke gevalle was daar nooit die minste mededinging deur ander mannetjies nie. Sodra die wyfie op hierdie wyse haar keuse duidelik te kenne gegee het, is die huwelik deur die hele trop as 'n voldonge feit aanvaar. Nie een van ons mannetjies het ooit meer as een wyfie gehad nie, maar ek dink dit was alleen omdat die twee geslagte altyd gelyk was. In troppe waar daar meer mannetjies as wyfies is, is veelwywery die reël. By ons het dit nooit voorgekom nie, of daar was ten minste altyd twyfel of 'n skynbare geval werklik 'n geval van veelwywery is. En dit was te wyte aan die feit dat geslagtelike ontrou algemeen was. Sover my ondervinding strek, het geen mannetjie ooit probeer om die erkende wyfie van 'n ander deur geweld te ontvoer, of haar van hom te probeer afvry nie. Dit het dikwels voorgekom dat 'n ou wyfie op 'n jong mannetjie verlief raak voordat hy self 'n gade aangeskaf het. In sulke gevalle het sy altyd op die sluuste wyse
probeer om die bobbejaan-Josef tot haar onsedelike togte oor te haal en hy was nooit teen die verleiding van Potifar se vrou bestand nie. Die ontroue ou wyfie moes uiters versigtig wees, want as haar wettige man die paar op heterdaad betrap, het hy altwee met die uiterste strengheid van bobbejaanwet gestraf. Ná hy sy vrou goed afgeransel het, het hy sy aandag aan die galant geskenk, wat goed gesorg het om voet in die wind te slaan eer die straf van die ontroue vrou voltooi is. Maar sy vroegtydige vlug het hom nie gehelp nie; die verwoede man het hom met onverbiddelike volharding vervolg, totdat hy hom in die hande kry, en dan was sy straf dikwels wreed. 'n Vervolging van hierdie aard het dikwels weke aaneen geduur. Elke keer waarop die twee met mekaar in aanraking kom, het die woede van die onteerde eggenoot opnuut ontbrand, sodat die lewe van die jong Josef dikwels 'n marteling was. Sy vrou is egter nooit meer as een maal gestraf nie, maar dit was merkwaardig dat 'n ontroue vrou dikwels maande agtereen nie meer die volle vertroue van haar man verwerf het nie. Hy het haar gedurig onder sy oë gehou en om haar selfs in die nabyheid van haar vorige galant te
| |
| |
sien, was genoeg om hom weer briesend teen die jong mannetjie te laat uitvaar.
Maar dit het nie altyd gebeur dat die onteerde ‘man’ die ontrou van sy gade dadelik ontdek nie. 'n Onwettige liefdesgeval het soms maande lank geduur wanneer die eggenoot buitengewoon dom en besonder gerus was. Dit was sulke gevalle wat ons in die begin van ons kennismaking met die trop as veelwywery aangesien het.
Die stille huwelik van twee wat voor seksuele rypheid verlief raak, was nie 'n vaste reël onder die trop nie. In net so veel gevalle het twee of drie jong mannetjies 'n jong wyfie wat volwassenheid bereik het, gelyk die hof gemaak. In sulke gevalle het die wyfie haar altyd preuts aangestel en op loop gegaan - met haar minnaars op 'n streep agter haar aan. Daar was nooit die minste geweld of vegtery nie. Die wedren het somtyds 'n volle dag geduur, totdat almal so uitgeput was dat hulle nie vinniger as op 'n drafstappie kon voortslinger nie. Wat ek die eienaardigste van hierdie gedrag gevind het, was dat die jong bobbejane gedurende hierdie periode van liefdesbetowering dikwels hul gewone mensevrees en oppassendheid kwytgeraak het. Ek weet van gevalle waar drie of vier sulke liefdeswedlopers sonder die minste teken van vrees of skrik tussen 'n klomp mense op 'n werf deurgehardloop het. Meestal was dit die mense wat geskrik het. Ek weet van gevalle waar dames in 'n voetpad naby die huis deur die bobbejane op hulle liefdesvaart strykelings geraak is. Ek weet van gevalle waar verliefde bobbejane in die aandskemer vir spoke aangesien is, sodat die plaas die permanente reputasie van 'n spookwerf verkry het.
Sodra die wyfie so flou is dat sy nie verder kan volhou nie, gee sy dadelik en duidelik haar keuse te kenne en van hierdie keuse is daar in die bobbejaanwet geen beroep nie. Sonder die minste teenstand berus die teleurgestelde minnaars by haar beslissing. Ewe bedees stap hulle saam terug na die slaapplek, wat hulle dikwels in pikdonker bereik, met die moontlikheid van 'n sluipende tier om die uiteinde van hul wedren met 'n slagting te bekroon. Die getroude paar kom alleen terug en vanaf dié oomblik word hul huwelik deur die trop erken en eerbiedig.
Dit is nie altyd die wenner van die wedren wat gekies word nie. Dikwels word die aanbod van die wenner - miskien 'n groot sterke - van die hand gewys ten gunste van 'n swakke wat heel agter is. Dit is waarom die mededingers tot die laaste volhard, hoe ver hulle ook al agtergelaat mag word. Dit is 'n merkwaardige feit - en een waaroor nie die minste twyfel bestaan nie - dat die wyfies altyd vinniger kan hardloop en langer kan aanhou as die mannetjies.
Elke lid van die ‘Raad’ het 'n enkele wyfie gehad en onder hulle, asook onder die heel oues van die trop, was daar ongebroke egtelike trou.
Die wyfies het sekere regte wat deur die hele trop stelselmatig gehandhaaf word. Die mannetjies moet hulle in alle aangeleenthede beskerm en verdedig. As gevaar dreig, vorm die volwasse mannetjies 'n voorhoede en hulle sal dik- | |
| |
wels hul lewe opoffer om die aanranding van die wyfies en kleintjies te voorkom. Die wyfie is altyd geregtig op 'n deel van die voedsel wat deur haar man vergaar is. As hy 'n boom of plant met ryp vrugte ontdek, sal hy haar daarnatoe lei en - sonder om self te eet - ander wegkeer, terwyl sy die ontdekte kos geniet. As hy 'n land buit en sy uit vrees in die berg agterbly, sal hy by sy terugkeer haar 'n deel van die mielies of vrugte oorhandig, of liewer haar toelaat om dit van hom af te neem. Hulp deur die mannetjie aan die wyfie verleen, strek nog verder en in een opsig dra dit baie daartoe by om die karakter van die bobbejaan in 'n beter lig te stel: dit het naamlik ten doel om homself beminlik te maak. Sodra die kleintjie so groot word dat hy van die bors van die moeder na haar rug verskuiwe, dan is dit die mannetjie wat hom op alle swaar plekke dra. As daar 'n skielike alarm is en die trop moet vlug, dan is dit hy wat die kleintjie uit die gevaar dra. So seker weet die moeder dat sy hom tot die dood toe in dié opsig kan vertrou dat sy dikwels vlug sonder om moeite te doen oor haar kind.
Maar die gedrag van die mannetjie is nog edeler in sy betrekking tot die kleintjies van die trop. Hy sal natuurlik altyd probeer om sy eie kind eerste te red, maar daarna is hy altyd gereed om sy lewe in te skiet tot beskerming van ander kleintjies van die trop. As die alarm baie skielik kom en die gevaar dreigend is, sal elke groot mannetjie die kleintjie gryp wat naaste aan hom is, ongeag of dit sy kind is of nie.
By die beskerming en vervoer van kleintjies, by die algemene verdediging van die trop, was die ‘Raad van Elf’ altyd eerste en op die voorpunt. Hulle pos is seker geen erebaantjie nie. As daar gevaar kom, loop hulle dit die eerste tegemoet en gee die laaste pad. En dit geld alle leiers van troppe. |
|