meenskap of omgang nie. By een geleentheid sit die eienares van die ‘lord’ sy bord kos voor hom neer, maar hy het intussen iets geruik wat in die kombuis gebraai word. Dit wou hy liewer hê as die gewone kos. Hy sit die bord kos en aankyk sonder om sy mond daaraan te sit. Sy eienares wis dadelik wat in sy gemoed aangaan en sy sê aan die kat: ‘Jy sal niks anders kry tot jy alles wat nou voor jou is, opgeëet het nie.’ En wat doen die wonderlike kat? Hy bring dadelik 'n besoek aan die ‘straatkat’, wat hy vroeër altyd met die grootste minagting bejeën het en 'n paar minute daarna kom hy weer ingestap, gevolg deur die vreemde kat, wat nooit tevore in die huis was nie.
Hy lei die besoeker na die bord kos en in sy eienares se teenwoordigheid moedig hy hom aan om die ongewenste gereg te eet. En die besoeker doen dit.
Ek glo nie daar is 'n Afrikanerkind van tien jaar binne die Unie wat so 'n storie vir soetkoek sal opeet nie. Verbeel jou net hoe het die ‘lord’-kat geredeneer. ‘Ek ruik lekker kos in die kombuis; my eienares sal my niks daarvan gee tensy die kos in die bord opgeëet word nie; as ek dit self doen, sal ek nie meer plek vir die lekker kos hê nie; hoe sal ek dit regkry?
‘Daar is die ou vent hierlangs. Hy is altyd uitgehonger. Ek sal hom gaan haal om hierdie bord gewone kos namens my op te eet. Dan sal ek natuurlik van die lekker kos te ete kry.’
En dan moet 'n mens verder dink aan wat tussen die twee katte plaasgevind het. Daar moet natuurlik die een of ander soort uitnodiging gewees het. Die ‘lord’ moet aan die vent te kenne gegee het: ‘Jong, kom saam met my. Dis waar, jy was nog nooit in my huis nie, maar as jy nou saamkom, sal ek jou 'n lekker bord kos gee. Jy hoef nie bang te wees nie; ek sal by jou bly en die bord kos self aan jou aflewer.’
Daar was nog nooit 'n dier onder die uitspansel des hemels, benede die redelike gehalte van die mens, wat so kon redeneer nie. 'n Kat wat dit dan doen, kan maklik geleer word om te lees en te skrywe.
Alle huisdiere wat eeue lank op intieme voet met die mens omgegaan het, het 'n hoër en meer menslike verstand ontwikkel as hul wilde rasgenote van woud en veld. Maar die slimste hond in die wêreld kan nie so redeneer nie en die hond staan teenoor die kat in dieselfde verstandelike verhouding wat die mens teenoor die aap staan. Die mensaap kom na die mens in 'n redenering van hierdie aard, maar ek twyfel of selfs die slimste sjimpansee so 'n reeks oorsake en gevolge kan bemagtig. Van die bobbejaan sou ek nooit droom om so iets te verwag nie en om die verstand van 'n bobbejaan met dié van 'n kat te vergelyk, is om die denkvermoë van 'n universiteitsprofessor met dié van 'n Kalahari-Boesman op gelyke voet te wil stel.
Die Strand-artikel het my op die gedagte gebring om ook 'n paar aapstories te vertel en die redenering wat gewone aap- en bobbejaangedrag vertoon met die uiterste verstandsvermoë van die kat te vergelyk.