'n skouspel van bobbejaangedrag gewaar wat hulle albei nooit sou geglo het as hulle dit nie met hulle eie oë gesien het nie.
Net onder die Poort was 'n groot plaat dorings, deursny van wilde voetpaadjies, want daar was toe nog geen pad en geen deurweg vir enige soort rytuig nie.
Net voor ons die dorings uitkom, hoor ons naby ons die geprewel van 'n trop bobbejane wat ons klaarblyklik nog nie gewaar het nie.
Ek herinner my dat een van die here opgemerk het: ‘Hulle is druk besig om gom te soek.’
Links voor ons was 'n aansienlike opening in die bosse. In die middel daarvan loop die spruit wat van die Poort afkomstig is. In die middel van die opening gewaar ons so 'n eienaardige groep dat ons die perde dadelik ingehou en die skouspel ongeveer 'n halfuur lank met die grootste verbasing beskou het. Vir die groep was ons onsigbaar agter die laaste doringbosse van die plaat.
Op die wal van die spruit was 'n rysknop, van verskillende kante uitgehol, en by een van die uitgrawings was agt of tien klonkies, klaarblyklik bees- en bokwagters van 'n stat in die nabyheid. Party was besig om met hul hande potklei uit die gat te grawe, terwyl ander osse en ander diere uit die klei vervaardig. Ons eerste indruk was dat dit almal kinders is, maar gou merk ons dat meer as die helfte van die groep uit jong bobbejane bestaan.
Daar was die grootste bedrywigheid aan die gang en so geweldig was die gewoel om die gat dat dit die vernaamste rede was waarom ons so naby hulle kon kom sonder om ontdek te word. Bobbejane en klonkies stoot mekaar van die gat weg in 'n poging om klei in die hande te kry, want die ingang is te nou vir meer as twee om die sagte potklei by te kom. Van die stoeiende boel het daar 'n gedurige gelag gemeng met Sesoeto-skelwoorde van die grofste aard opgeklink en bo alles kon 'n mens die gebabbel van die bobbejane hoor. Sodra 'n bobbejaan van die ingang besit neem, word hy deur 'n knaap aan die stert gepak en agteruit gesleep en sodra 'n klonkie die oorhand kry, word hy deur die bobbejane van alle kante gepak en so geknyp dat hy die klei moet laat los om hom van sy aanvallers te bevry.
Drie of vier van die groter seuns het hulle met die gestoei nie ingelaat nie. Hulle sit in 'n kring, elkeen met 'n groot klomp klei langs hom op die grond en tussen hulle is reeds 'n plaat osse en ander diere wat hulle van klei gemaak het. Die helfte van hierdie sirkel word ook deur bobbejane gevorm en net soos die seuns het hulle vir ons effens ouer as die ander gelyk.
Stil en bedaard en met die diepste aandag het hulle die swart seuns se werksaamhede en voltooide werk bekyk. Af en toe het die nuuskierigheid egter een van hulle baasgeraak. Stilletjies en skelmagtig word 'n harige handjie op die grond langs uitgestrek om een van die kleidiertjies in die hande te kry. 'n Enkele keer slaag die dief in sy doel. Dan word die kunsstuk van die een na die ander oorhandig en eindelik stukkend gebreek. Wanneer 'n klonkie die poging