| |
| |
| |
6 Vriendskap tussen Mense en Bobbejane
Die liefde wat bobbejane dikwels vir alle klein diertjies toon, strek soms ook tot mensebabas. Ek praat hier net van mak bobbejane in gevangenskap. Verskeie gevalle het tot ons kennis gekom van mak bobbejane wat buitengewoon geheg raak aan mensebabas en van 'n moeder wat haar baba aan die sorg van 'n jong bobbejaantjie toevertrou het. So 'n geval het op die plaas voorgekom. Ons het destyds mak bobbejaantjies gehad wat los op die werf rondgeloop het. 'n Vrou van 'n bywoner op die plaas het twee keer in die week in ons dam klere gewas. Sy was gewoond om haar klein babatjie in 'n stootwaentjie wat sy uit 'n seepkissie en vier ploegwiele aanmekaargesit het, saam te bring, en terwyl sy werk, is die baba in die skaduwee van 'n boom gelaat. Ons bobbejaantjie het dadelik die grootste belangstelling in die babatjie getoon. Dit het die moeder in die begin met geweld afgeweer. Maar die grootste van ons bobbejaantjies was vir haar te slim. Met die uiterste sluheid het hy die baba bekruip en verskeie male die waaksaamheid van die moeder ontduik, met die gevolg dat sy af en toe die bobbejaantjie met sy arms om die kleintjie gevou in die waentjie by die kindjie ontdek het. Mettertyd het sy aan die geselskap gewoond geword.
Sy het selfs ontdek dat, wanneer die babatjie lastig is, die teenwoordigheid van die bobbejaantjie die kleintjie spoedig gerus maak. Die gevolg was dat sy, in stede van die bobbejaantjie af te skrik, dikwels sy hulp ingeroep het om haar kind aan die slaap te sus.
Daar het gevalle in Waterberg voorgekom waar volgroeide mak bobbejane dieselfde belangstelling in babatjies getoon het en waarvan die gevolge baie ernstiger was en maklik noodlottig kon gewees het.
Op die plaas Slypsteenkop, tussen Warmbad en Rooiberg, was daar 'n groot bobbejaanmannetjie op die werf aan 'n paal vas. Die dame van die huis het die lewe geskenk aan 'n baba wat die vader, toe die kind 'n paar weke oud was, aan die bobbejaan getoon het, maar sonder om aanraking toe te laat. Die bobbejaan het dadelik die grootste belangstelling in die kind getoon en daarna sy verskyning altyd begroet met die gewone geluide van liefkosing wat bobbejane ook maak as hulle iets van 'n mens afsoebat.
Die bobbejaan het ontdek dat wanneer hy bo op sy slaapkissie regop staan, hy die babatjie deur die slaapkamervenster te sien kon kry. Hy het die gewoonte aangewen om elke paar minute op die slaapkis te klim en die kind te beloer solank hy in die kamer slaap. Dit het 'n grap geword waaroor die gesin dikwels gelag het en wat aan besoekers as 'n eienaardige bobbejaan-greep vertoon is.
By een geleentheid was die man afwesig en daar was ook geen enkele man op die werf teenwoordig nie, toe die bobbejaan sy ketting breek.
Die moeder en 'n swart vrou was in die kombuis besig en het vir die eerste
| |
| |
maal onraad gewaar toe hulle die baba geweldig hoor huil. Toe hulle die slaapkamer binnestorm, sit die bobbejaan op die vensterbank met die baba in sy arms, terwyl hy die twee indringers met ontblote tande bedreig. Sonder aarseling het die moeder toegesnel om haar kind te red. Dit was 'n besonder groot en sterk bobbejaan en hy sou na alle waarskynlikheid sy buit deur geweld kon behou het, trots alles wat die twee vroumense kon doen. Maar hy het besluit om 'n ander weg in te slaan. Daar was langs die venster 'n dik klimop waarvan die hoogste takke die dak bereik het. Met die baba onder die arm het die bobbejaan hierlangs opgeklouter en binne 'n paar sekondes was hy, wat die pogings van die moeder betref, veilig bo op die vors. Die ongelukkige moeder moes hom radeloos en byna rasend van onder gadeslaan. Sy het spoedig ingesien dat die grootste gevaar nou was dat die bobbejaan die baba skielik kon los, wat natuurlik die gewisse dood van die kleintjie sou veroorsaak het. Alle pogings is dadelik aangewend om die bobbejaan weer ondertoe te lok. Brood, beskuit, suiker, skottels konfyt is hom aangebied - alles tevergeefs. Lekkernye wat hy gewoonlik gretig en gulsig sou gepak het, het alle aantrekkingskrag verloor. Hy het natuurlik die plan van die moeder gou deurgrond en uitvoering daarvan wou hy ten alle koste vermy. In plaas van af te klim, het hy begin twyfel aan die veiligheid van sy posisie op die vors. Langs die gewel was 'n inheemse boom - 'n reus met wyd uitgespreide takke, waarvan een binne bereik van die bobbejaan was. Spoedig was hy in die boom en op die hoogste bereikbare tak het hy sy intrek met die babatjie geneem, goed vyftig of sestig voet van die grond af. Die meeste van die tyd het hy die kind onder een arm gedra, somtyds met die kop na onder, maar toe hy veilig op die tak was, het hy die baba weer in sy arms geneem en toe het die gehuil van die kind vir die eerste keer skielik opgehou. Wat gebeur het, was dat die geskud gepaard met die warmte
van die bobbejaan se liggaam die kleintjie aan die slaap gesus het. Intussen het die moeder die bediende na die naaste bure gestuur om hulp te ontbied. Daar was êrens in die nabyheid 'n man wat die geroep en geskreeu van die vrou gehoor het en spoedig bygekom het om te help. Toe blyk dat die man net so hulpeloos is as die vrou. Die enigste raad wat hy kon aanbied, was om die bobbejaan dood te skiet en die kind te vang, maar dit is voorlopig van die hand gewys as 'n uiterste middel wat alleen aangewend kon word indien die kind in nog groter gevaar sou verkeer. Al wat die man en vrou kon doen, was om met 'n uitgestrekte kombers gedurig reg onder die bobbejaan te staan. 'n Uur later was die swart vrou terug met 'n Boesman wat vroeër op Slypsteenkop in diens was en met die bobbejaan goed bevriend was.
Dit is 'n bekende feit dat Boesmans oor die algemeen die eienaardigheid besit om gou met diere op vriendskaplike voet te kan omgaan. Tussen die bobbejaan van Slypsteenkop en hierdie Boesman het lank tevore 'n intimiteit van hierdie aard bestaan en dit het spoedig geblyk dat die bobbejaan sy vriend nie
| |
| |
vergeet het nie. Die Boesman het die lekkernye opsy gesit. Hy was van mening dat dit slegs sou dien om agterdog van die dier gaande te hou. Hy het die moeder, die man en die swart vrou by die huis laat ingaan en die deure en vensters toegemaak; toe begin hy in die taal en op die wyse van Boesmans met die bobbejaan praat. Dit het dadelik 'n snaar in die harsings van die bobbejaan geroer. Sonder die minste wantroue het hy met die kind onder die arm die boom afgeklim en toegelaat dat die Boesman hom aan die halsband beetkry. Toe hy weer sy ketting aanhet, het sy moed hom verlaat. Sonder die minste verset het hy die baba aan die Boesman oorhandig. Die moeder het haar kleintjie teruggekry sonder enige nadelige gevolge, behalwe 'n paar skrapies aan die hande en gesig wat deur die takke veroorsaak is.
Die bobbejaan het natuurlik met sy lewe vir die avontuur betaal.
'n Ander voorval waar wilde bobbejane in vriendskaplike verhouding tot mense gestaan het, het ek self naby die ingang van Bokpoort, in die Hangklipgebergte gesien. Daar was twee ou Waterbergers in my geselskap toe ons onverwags op die gebeurtenis afkom. Een van die twee, mnr. Willem van Staden, was diep in die sewentig en mnr. Gys van Rooyen was in sy sewentigste jaar. Altwee is so te sê in die jagveld gebore en het onder wilde diere grootgeword. Vir altwee ou here was die gebeurtenis 'n verrassing wat hulle met die uiterste verbasing vervul het. Nog nooit tevore het hulle self so iets beleef of daarvan gehoor nie.
Dit is eienaardig dat die makmaak van ons trop bobbejane op Doornhoek geen verwondering onder die ou veldmense in ons nabyheid verwek het nie.
Hulle kon maklik besef hoe ons op die wyse waarop ons te werk gegaan het, so 'n toestand geskep het.
Hul verwondering is meer bepaald deur die stigters van die toestand verwek, van wie die verstandsgesindheid onder die swaarste verdenking geval het.
Maar die Bokpoort-voorval was 'n natuurlike ‘outomatiese’ ontwikkeling wat al hul opgedane kennis van dierlike gedrag laat wankel het. Ook vir my was dit iets wat ek nooit vantevore waargeneem het nie. Die voorval is in my geheue geheg deur 'n afsonderlike reeks gebeurtenisse wat in sekere opsigte net so verbasend is as die bobbejaan-voorval self, waarmee hulle in noue verband staan. Nieteenstaande die afwyking wat dit gaan veroorsaak, het ek besluit om kortliks die hele geskiedenis te vertel. Dit sal minstens dien om die leser 'n lewendiger beeld van die natuurlike omgewing te verskaf, waarin ons die bobbejaanvoorval teëgekom het.
Daar was destyds twee weë van ons kant wat toegang deur die Hangklip-gebergte tot die Palala-plato en Purekrans verskaf het. Die een was die groot wapad deur Tarentaalstraat wat vir ons 'n omweg van byna 'n dagreis was. Die ander was deur Bokpoort. Daar was toe nog geen gemaakte pad deur Bokpoort nie. Dit het baie jare later eers gekom. Die enigste weg was 'n voetpad wat
| |
| |
moeilik en taamlik gevaarlik was. 'n Rytuig van enige aard kon natuurlik nie gebruik word nie. Te voet of te perd was die enigste twee maniere waarop die gevaarlike poort gekruis kon word. As 'n perd gebruik word, moes dit oor lang afstande gelei word en selfs dan was dit gevaarlik as die perd enigsins skrikkerig of senuweeagtig was. 'n Groot gedeelte van die voetpad was op 'n kranslys met 'n rotswand aan die een en 'n afgrond aan die ander kant. Die eerste plaas op die plato is Purekrans, die eiendom van 'n ou en alombekende inwoner van Waterberg, die oorlede heer Piet van Rooyen.
Ek was destyds die enigste persoon in ons hele geweste wat mediese hulp van enige aard kon verleen. By een geleentheid het mnr. Van Rooyen my laat roep, daar hy deur 'n skielike en ernstige kwaal oorval is. Sy seun Piet was die boodskapper.
As 'n mens geneig is om in ‘voorbodes’ te glo, sou hy seker aanneem dat die noodlottige uiteinde van die saak aan ons bekend gemaak is deur die reeks sonderlinge voorvalle wat daarmee gepaard gegaan het.
Op sy reis ondertoe, net toe hy onder 'n reuse-boom in die poort deurry, gewaar hy 'n geritsel in die takke bokant hom. Toe hy opkyk, sien hy 'n groot tier wat besig is om 'n duiker, wat hy waarskynlik net tevore gevang het, in een van die hoogste mikke van die boom op te hang. Dit is algemeen bekend dat tiers die gewoonte het om gevange wild wat hulle nie in staat is om dadelik te verslind nie, in bome op te hang, maar ek het nooit tevore van iemand gehoor wat die gebeurtenis self gadegeslaan het nie. Van Rooyen was ongewapen en moes die roofdier met sy buit in vrede laat.
Die volgende dag het ek mnr. Van Rooyen te perd na Purekrans vergesel. Hy het op 'n groot rydonkie wat aan die voetpad gewoond was, gery en ek het my makste perd vir die reis uitgesoek. Alles het voorspoedig gegaan tot laat in die middag net toe ons die plato aan die noordelike ingang van Bokpoort bereik. Mnr. Van Rooyen het nog voor in die voetpad gery, wat dáár natuurlik gelyk en mooi was, en hy was net besig om my al die merktekens van die skone en merkwaardige streek aan te dui, toe ons gesprek deur 'n snaakse gebeurtenis onderbreek is. Sy donkie het skielik - en vir hom heeltemal onverwags - na een kant padgegee en tegelyk sy kop omgekeer tot sy bek aan die stiebeuel raak. Van Rooyen was gou genoeg om met die een hand die kort maanhaar beet te pak en dit het hom van 'n val gered. Maar sy toestand was nie veel beter as 'n val sou gewees het nie. Sy voete was nog in die stiebeuels, maar bo in die lug, waar sy kop onder normale omstandighede moes gewees het. En so hang hy, tussen hemel en aarde, met sy kop na onder, terwyl hy dringend om hulp roep. Die skouspel was so snaaks dat ek seker is dat Van Rooyen self daaroor sou gelag het as hy dit uit 'n veiliger en gemakliker oord kon aanskou het. As ek miskien geneig was om oor die dilemma van my waarde vriend te lag, is die begeerte spoedig gedemp toe ek van my perd afspring en hom te hulp snel.
| |
| |
Toe gewaar ek die eerste keer die verskriklike oorsaak van die toer wat die donkie so onverwags uitgevoer het en van die snaakse houding waarin hy nog steeds volhard. In die voetpad, vlak voor Van Rooyen, staan 'n mamba orent met swaaiende bolyf, woedend en klaar om te byt. Die donkie het net ver genoeg padgegee om sy eie kop buite gevaar te kry, maar Van Rooyen se posisie was gevaarlik genoeg. Sy kop was nie meer as 'n paar voet van die oop bek van die slang nie, want hy hang nog altyd met die kop ondertoe. As hy val, moet hy onvermydelik op die dodelike slang neerstort. Baie stadig en met bewende hande het ek Van Rooyen vasgehou en die donkie 'n bietjie verder van die slang weggetrek. (Ek was natuurlik aan die veilige kant van die donkie.) Stadig en versigtig het ek Van Rooyen weer in die saal gehelp. Om die een of ander rede het die slang sy dreigemente nie tot uitvoer gebring nie en met 'n sug van uiterste verligting het ek Van Rooyen eindelik buite gevaar gesien. Ons het toe met ons diere stadig uit die gevaarlike nabyheid getrek, terwyl die slang nog steeds dreigend op wag staan. Toe ons op 'n veilige afstand was, begin ons aan wraak dink, maar op die kale sandvlakte was geen enkele klip te vind nie. Ons het toe op die gedagte gekom om die slang met 'n stiebeuel dood te gooi, of ten minste buite geveg te stel. Dit was op sy beste 'n dwase ding om te doen. Kort tevore het 'n ouer broer, nl. Gys van Rooyen, 'n soortgelyke ontmoeting met 'n loodslang opgerol in 'n ou wapad gehad. Hy het suutjies omgeloop, maar toe hy op 'n veilige afstand was, besluit hy ook om die vyand met klippe te bestook. Met sy eerste skoot, wat die grond 'n voet van die slang geraak het, was daar skielik 'n stofdamp en 'n sekonde later staan die twaalfvoet-mamba reg voor hom orent met sy kop 'n paar duim van mnr. Van Rooyen se gesig. Sy teenwoordigheid van gees het hom gelukkig nie verlaat nie. Hy het 'n ruk wat vir hom 'n eeu moes gelyk het, doodstil bly staan, sonder om 'n spier te
verroer. Uiteindelik sak die makoppa en trek na die plek waarvandaan hy oorspronklik gekom het en rol hom weer in die wintersonnetjie op. Mnr. Van Rooyen het voetjie vir voetjie agteruitgeskuif, totdat die slang buite gesig was en toe sy reis voortgesit sonder om die loodslang verder te molesteer.
In ons geval het die slang ons bombardement met die stiebeuel roerloos verdra, totdat 'n skoot van my so swak was dat die stiebeuel 'n paar voet van die slang bly lê het. Ons het toe besluit dat dit beter is om sake voorlopig so te laat en ons is met die vyand in tydelike besit van ons wapen voort na Purekrans.
Ná ek mnr. Van Rooyen ondersoek het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat 'n onmiddellike operasie die enigste kans bied om sy lewe te red. Ons is toe terug na Naboomspruit, waar ek tevergeefs probeer het om 'n dokter van een van die groter dorpe in die hande te kry. Eindelik het ek telegrafies in aanraking gekom met 'n vriend, dr. Corkery van Warmbad. Nadat ek die moeilikhede van die reis en die gevaarlike toestand van die pasiënt verduidelik het, het hy onmiddellik besluit om te kom, al was hy 'n volkome ongeoefende ruiter.
| |
| |
Mnr. Piet van Rooyen en ek het hom, gereed vir die reis deur Bokpoort, op Naboomspruit ontmoet. Ek het dr. Corkery 'n jong merrie gegee, wat 'n weinig senuweeagtig was, maar aan haar was die voordeel verbonde dat sy al verskeie male deur die poort gegaan het. Piet van Rooyen was met die swaar medisyne- en instrumentekas van die dokter voorop, weer op sy donkie en sou die stoet lei. Ek het die agterhoede gevorm op 'n hings wat ook al verskeie male deur die poort was. En in hierdie orde het ons die voetpadreis aanvaar.
Dr. Corkery het op my instruksies die merrie vrye teuels gegee, met die gevolg dat sy baie stadig geloop het en ons gids op die donkie by tye ver vooruit geraak het.
Daar was 'n gevaarlike plek in die voetpad op die lys, waarvan ek dr. Corkery niks vertel het nie. 'n Rotsval het die gewone voetpadlys gesluit en om daaroor te kom, het iemand 'n uitweg gemaak wat toegelaat het dat die reisiger na 'n hoër lys kon klim. Onder lê 'n ontsettende afgrond tot op die vloer van die bergstroom wat die poort af vloei. Die uitgang wat 'n toegang van die een lys na die ander verleen, was ongeveer twintig tree van die suidekant van die rotsval wat die ou voetpad sluit.
Net hier het Van Rooyen op sy donkie so ver voor geraak dat hy 'n tyd lank buite ons gesig was, en toe val dit hom by van die uitweg en ook van die moontlikheid dat die dokter dit onwetend mag verbygaan en hom op die onderste lys teen die rotsval mag vasry. Hier is die lys so nou dat dit onmoontlik is om 'n perd om te draai. Hy keer toe dadelik terug om te sien wat van ons geword het en was net betyds om ooggetuie van 'n verskriklike skouspel te wees.
Wat hy gevrees het, het gebeur. Dr. Corkery het sy perd toegelaat om die uitdraaipaadjie na die boonste lys, waarvan hy niks geweet het nie, verby te loop. Ek was ongeveer twintig tree agter hom en het gesien dat hy verkeerd gaan, maar net te laat om dit te verhinder. Alles het hierna vreeslik snel verloop. Ek het die dokter net toegeroep om in te hou toe die merrie sien dat sy haar op die nou lysie vasgeloop het. Omdraai kon sy nie sonder om van die afgrond af te stort nie. Sy begin snork en rondtrap, terwyl ek langs my perd afgly om dr. Corkery te gaan help. Ek kon sien dat hy in onmiddellike en dodelike gevaar verkeer. Maar ek was te laat om iets te doen. Net op die gevaarlike moment verskyn Van Rooyen met die donkie op die boonste lys net reg bokant die merrie. Toe sy die donkie, wat sy die hele dag reeds gevolg het, bokant haar gewaar, verloor sy al haar verstand en staan regop teen die krans, waarskynlik in 'n poging om op dié wyse die donkie te bereik en uit haar benoudheid te raak. So skielik was die beweging en so ver agteroor was sy dat dr. Corkery agteroor uit die saal val. Ek het hom net oor die rand sien verdwyn, toe die perd ook agteroorslaan en buite my gesig raak. Die geraas van die val was ontsettend. Die weerklanke in die nou poort het dit vergroot en herhaal en weer herhaal, totdat dit vir my geklink het na die weergalming van 'n donderstorm in die berge.
| |
| |
Dit het natuurlik bygedra om die indruk wat die ramp op my gemaak het, tiendubbel te vergroot. Dat perd en ruiter op die rotsvloer in die diepte verpletter was, was by my 'n uitgemaakte saak en die leser kan maklik besef met watter gevoelens Van Rooyen, ná hy die onderste lys weer bereik het, en ek na die plek van die ongeluk gesnel het.
Maar dr. Corkery se doodsuur het nog nie geslaan nie.
Net reg onder die plek waar hy en sy perd afgestort het, was daar 'n groot rotsval, wat uit die krans gekalwer en teen 'n laer lys gestuit het. Dit het 'n skuins tafel van vergruisde klip gevorm, toegegroei met groot polle tamboekiegras. Op die polle het dr. Corkery op sy rug te lande gekom en net langs hom die perd. As die perd toe aan 't spoke gegaan het, sou die voorval nog 'n noodlottige einde gehad het, maar sy was waarskynlik slim genoeg om haar gevaar in te sien en doodstil te lê, totdat ons met ontsettende moeite haar weer op haar bene gehelp het. Ons moes al ons teuels en halterrieme aanmekaarbind om 'n tou lank genoeg te maak om haar te span. Met behulp hiervan en die inspanning van al ons kragte het ons na 'n lang worsteling daarin geslaag om haar weer op die voetpadlys te kry.
Die geluk en ongeluk wat in gedurige ewewig was, het nog verder volgehou. Toe ons die poort uiteindelik uit is, merk dr. Corkery vir die eerste maal dat hy sy bril kwyt is en hy is so bysiende dat hy onmoontlik sonder bril kan opereer. Mnr. Van Rooyen is dadelik terug om na die bril te soek, nieteenstaande ons geen die minste hoop gehad het dat hy dit heel sou kry nie. En tog het dit gebeur. In die graspolle waar dr. Corkery geval het, kry Van Rooyen die bril sonder enige krakie.
Die volgende dag het dr. Corkery die operasie op mnr. Van Rooyen gedoen.
Tot dusver is nog niks van die bobbejane van Bokpoort vertel nie, maar ek kan ten minste die verontskuldiging vir die afwyking aanbied dat al die gebeurtenisse tot die bobbejaan-voorval gelei het. |
|