Die stoet het altyd op een manier die toer afgelê. Op die voorpunt was die groot mannetjies; dan volg die wyfies sonder kleintjies, daarna wyfies met babas op die rug en laaste kom die klomp kleintjies wat reeds van die moeders geskei is.
Dit was vir ons altyd 'n grillerige skouspel. Die geval van die moeders met taamlike groot kleintjies op die rug het ons besonder gevaarlik voorgekom. Deur die verkyker het dit ons dikwels voorgekom asof party die oorhangende gewig onmoontlik kon dra - en daar was hier en daar hoekies waar almal om 'n uitstaande punt in die krans moes gaan, waarvan hulle self die gevaar ingesien het, want hier het dit altyd uiters stadig en sorgvuldig gegaan.
Die bobbejaan is baie selde stil. Dit lyk asof hulle 'n lawaaimakery besonder geniet. Maar hierdie reis het hulle altyd in doodse stilte volvoer en ek dink dit het stellig daartoe bygedra om die skouspel vir ons indrukwekkender te maak.
Ons gemoedstoestand kan hieruit afgelei word: dat daar verskeie male sprake was van 'n skoot op die bobbejane te los net wanneer hulle op die gevaarlikste van die kransweg was; maar by ‘sprake’ het dit gebly. Geeneen van ons het ooit genoeg moed geskep om die geweer te haal nie.
En nog het ek die vreeslikste van die skouspel nie vertel nie. Selfs hier - te midde van die vreeslikste gevaar - kon die klein bobbejaantjies hul grapmakery nie 'n paar oomblikke prysgee nie. Een van hul geliefkoosde grappies was om een hand van die lys te los en, terwyl hy in die lug aan een hand bokant die ontsettende afgrond swaai, sy maat aan die stert te pak en 'n geweldige ruk te gee. Dit het ons dikwels voorgekom asof dit net 'n haar geskeel het of altwee kleintjies het in so 'n geval in die diepte afgetuimel.
Maar ons het waarskynlik die gevaar oorskat en die bobbejaantjies het dit beter bereken. In elk geval het ons nooit een sien val nie.
'n Besondere eienaardigheid in die karakter van klein bobbejaantjies is die liefde wat hulle vir alles wat klein is, toon. Dié wat by ons op die plaaswerf aangehou is, het elkeen 'n klein diertjie gehad, waaraan hy so geheg was dat dit altyd op 'n tragedie uitgeloop het wanneer, soos op 'n plaas onvermydelik is, 'n skeiding moes plaasvind.
Klein bok- en skaaplammetjies, klein varkies, hondjies, katjies en selfs kuikens, en klein eende en gansies is almal deur my aangeteken as geliefkoosde speelmaats van klein bobbejaantjies wat op die werf opgegroei het. Dit is natuurlik soortgelyk aan die aantreklikheid wat alle klein diertjies vir mensekinders het. Ons klein bobbejane het egter nooit die minste belangstelling in poppe of nagemaakte diere getoon nie. Dié is altyd onmiddellik aan stukke gebreek ‘om te sien wat binne is’.
Ek het in Europa jare lank 'n klein apie aangehou - 'n Suid-Amerikaanse marmoset wat tot die kleinste aapsoort in die wêreld behoort. My apie was so klein dat sy maklik in my onderbaadjiesak kon wegkruip. Sy was seker nie gro-