waarnemers ontdek, ofskoon ek moet erken dat ek nog nooit 'n uiteensetting daarvan teëgekom het nie. Die beginsel is dat geboortepyn deur die hele organiese natuur met kindersorg tred hou. Waar daar hoegenaamd geen kindersorg is nie, is daar geen bespeurbare teken van geboortepyn nie. (Die lê van eiers word vir my doel onder geboorte gerangskik.)
'n Tweede groot beginsel wat ek in die ondersoek van die vraagstuk vasgestel het, is dat alle vername ‘gemoedstoestande’ of sielsbewegings in die organiese wêreld deur 'n sielkundige ‘sleutel’ op tou gesit word. Dit sal te lank duur en my te ver uit die weg voer om hierdie aspek van die saak breedvoerig te bespreek. Om dit duidelik te maak sal ek slegs die inwerkingstelling van die seksuele sin noem. Dit geskied op drie verskillende wyses in die natuur: òf geur òf kleur òf geluid; en soms deur vermenging van twee of van al drie ‘sleutels’. Van die meeste soogdiere kan die seksuele sin sonder die nodige geur, wat vir dié doel op die gepaste tyd te voorskyn kom, nooit in werking kom of verlewendig word nie. Met hierdie twee groot beginsels voor oë is dit nie moeilik om tot 'n teoretiese oplossing van die hele saak te geraak nie.
Laat ons eers 'n oomblik terugkeer na die verband tussen kindersorg en geboortepyn.
Pyn is so 'n belangrike verskynsel in die natuur dat dit maklik is om die gebare wat pyn aandui, in alle organismes te onderskei. Dit is iets so algemeen en so fundamenteel dat daar iets gelyksoortigs in alle uitdrukkings van pyn is. Wat die lewe betref, is pyn die Engel met die vlammende swaard wat die weg na die dood versper. Indien pyn uit die organiese wêreld verdwyn, sou alles dierliks wat op die aarde bestaan, binne enkele geslagte tot niet gaan.
Betrag nou eers die laagste stadium van dierlike lewe. Daar is 'n menigte insekte wat geen die minste sorg vir hul kroos toon en hulle selfs nooit sien nie. In alle gevalle word eiers met die uiterste gemak en sonder die minste teken van pyn gelê.
Die skerpioen is een van die uitsonderlike insekte wat haar kleintjies lewend in die wêreld bring. Hulle word twee-twee gebore, en daar is hier nooit aan te twyfel dat die proses met aansienlike pyn gepaard gaan nie. Onmiddellik nadat haar twintig of meer kleintjies gebore is, word hulle sorgvuldig deur die moeder met haar gevaarlike knypers op haar rug geplaas, waar hulle, net soos die klein bobbejaantjies, vasklou. Hulle word deur die moeder opgepas, teen gevare beskerm en gevoer, totdat hulle groot genoeg is om vir hulself te sorg.
In die geval van ons antilope kan uit hul gedrag duidelik gesien word dat die onmiddellike uitwerking van geboortepyn is om die aandag van die moeder op haar pasgebore kleintjie te vestig.
Geboortepyn - nes geur in die geval van die seksuele sin - is die sleutel wat die sielkundige moment van moederliefde verlewendig. Die twee gaan gepaard en is altyd eweredig.