'n Ander vyand wat die bobbejane in ons tyd geteister het, was die luislang, wat in ons geweste dikwels 'n lengte van agtien voet bereik het. Dis egter waar dat die luislang in ons buurte veel minder bobbejane gevang het as die tier. Ek dink dis meestal te wyte aan die feit dat die slang veel gouer sigbaar is as die tier en derhalwe veel minder op verrassing in sy aanval kan reken.
Ook by die bobbejaan besig die luislang uitsluitend die verlammingsmetode om sy prooi te bemagtig. Maar die slang het in een opsig 'n besondere voordeel bo sy mededinger geniet. Alles wat leef, het 'n ingebore vrees vir 'n slang; by die bobbejaan verskyn die vrees in die uiterste graad. 'n Bobbejaan sal 'n tier aanval en versit hom altyd teen die aanval van die tier, maar in die teenwoordigheid van 'n slang sak sy dapperheid dadelik tot nulpunt. 'n Trop sal nooit die geringste poging aanwend om 'n gevange makker van 'n luislang te verlos nie. Al wat hulle in so 'n geval doen, is sauve qui peut, onder 'n alarmgeskal wat die kranse laat weergalm. En dieselfde trop wat lafhartig deur 'n luislang op loop gejaag word, sal die grootste en wreedste tier aanval om 'n makker te red - solank dit nie in die donker gebeur nie.
Die tier gebruik meestal een wyse om sy prooi te bekom. Hy beloer 'n trop wat op weg na die slaapplek is. Net met sononder is sy uitverkore tyd. Uit een of ander hooggeleë spioenplek kies hy 'n afgedwaalde halfvolgroeide bobbejaan wat op 'n afstand van die trop sy eie koers volg en met al die sluheid van sy ras soek hy 'n voorlêplek wat die bobbejaan binne bereik van sy meedoënlose kloue sal bring.
Hoe skerp die bobbejane ook al kan sien, die mantel van onsigbaarheid wat die tier skyn te besit, dryf selfs met sy verbasende gesigsvermoë die spot.
Hy wag totdat sy slagoffer goed binne sy bereik is en dan, met een vlamagtige beweging is sy ongenaakbare kloue in die bobbejaan vasgeslaan en voordat hy aan vlug of weerstand kan dink, het die tier hom gebyt. Hy byt alleen op twee plekke: òf in die nek òf oor die smalste deel van die ruggraat. In die eerste geval volg die dood onmiddellik - dikwels sonder dat die slagoffer selfs die kans gehad het om sy doodskreet aan sy makkers hoorbaar te maak.
Maar in die meeste gevalle wat ek self ondervind het, is die ruggraat as die verwondingsplek uitgekies. En dit is juis hierdie omstandigheid wat die vang van 'n bobbejaan vir die menslike toeskouer of toehoorder (waar dit in donker voorval), so 'n afgryslike tragedie maak.
Wanneer die tier in die ruggraat byt, veroorsaak dit onmiddellike en onherstelbare verlamming van die agterlyf.
Hoe die aanval ook al geskied - of hy dadelik dood is of slegs verlam - die gedrag van die tier onmiddellik ná die aanval is altyd dieselfde. Hy vlug dadelik en met die uiterste snelheid na 'n vesting waar hy teen die aanval van die bobbejane volkome beskut is.
'n Diep klipskeur, 'n kransgrot met 'n nou ingang, of selfs die punt van 'n