hierdie afwyking is baie seldsamer as die geel soort. Hulle word alleen in die hoogste gebergtes gevind en dan slegs in klein troppe, wat die verkryging van eksemplare baie moeilik maak.
In die minder bevolkte dele van Betsjoeanaland en gedeeltes van die Kalahari word 'n swart bobbejaan aangetref, wat in ons tyd so skaars geword het dat hy, wat die soort betref, as uitgesterf beskou mag word.
Sommige ondersoekers rangskik hierdie afwykings as suiwer natuursoorte. Dis myns insiens onjuis. Daar is geen twyfel dat hierdie soorte geredelik kruis wanneer hulle langs mekaar woon nie, en daar is nie die minste anatomiese verskil te bespeur nie. Ook word onder ons gewone grou bobbejane in Noord-Transvaal enkelinge van al die afwykings aangetref.
In westelike Midde-Afrika word 'n suiwer groen soort gevind wat ook anatomies in 'n groot mate van ons bobbejaan verskil.
Die kleurafwykings wat onder ons grou bobbejane gevind word, is meer bepaald tot die babatjies beperk. Die kleur verander met groei en die gewone grou word herstel nog voordat die individu volwasse is.
Individuele anatomiese afwykings kom ook veel meer dikwels voor as onder enige ander diersoort. Die verskil tussen enkelinge het dit vir ons moontlik gemaak om binne geringe tyd elke individu onder ons mak trop te onderskei, wat nooit met 'n ander diersoort sou kon gebeur het nie.
'n Mens hoor dikwels die ou jagters en ook die Swartmense van 'n kortkopen 'n langkopbobbejaan as afsonderlike soorte praat. Ek was egter nooit in staat om die bestaan van hierdie onderskeid op so 'n skaal vas te stel nie. Weliswaar is aansienlike onderskeid in skedelbou te vind, maar ek glo nie dat dit moontlik is om twee soorte op hierdie basis te rangskik nie.
In verband met die verhoogde graad van afwyking wat onder die babatjies te vind is, is daar 'n interessante feit wat vermelding verdien.
Dit is 'n bekende wetenskaplike feit dat veranderinge wat 'n diereras in die verlede deurgegaan het in baie gevalle weer in die ongebore fetus 'n verskyning maak en selfs ná die geboorte 'n tyd lank in die kleintjie.
Daar bestaan byvoorbeeld geen twyfel dat die walvis vroeër 'n viervoetige landdier was nie. Dit word met sekerheid afgelei uit die hele skeletbou van die reuse-seedier. Die ongebore walvis is nog 'n volmaakte viervoetige landdier met die algemene voorkoms van een of ander varksoort. Kort voor die geboorte vind die finale aaneensmelting van bene plaas, wat die voorbene in roeiers verander en die agterbene in 'n horisontale stert wat alle vroeëre landdiere van die ware waterdiere (met die vertikale visstert) onderskei. Op hierdie wyse is dit dikwels moontlik om die meeste groot stadiums in die ontwikkeling van 'n diereras in die ontwikkeling van die ongebore fetus te bespeur.
Dit sal die meeste lesers waarskynlik verbaas om te verneem dat die fetale ontwikkeling van ons bobbejaan 'n groot agteruitgang bewys; dit wil sê, indien