Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 105]
| |
Burgers van die Bergeaant.1 Die Lewenswyse van BobbejaneDaar is in ons tyd geen diersoort waarin wetenskaplike ondersoekers groter belang stel as die verskillende spesies ape nie. Veral word gesoek na kennis van die lewenswyse van die ape in hul natuurstaat en juis hier skiet ons kanse en ons kennis bygevolg te kort. Ons weet minder van die lewenswyse van die aapsoorte as van byna enige ander landdier. Die oorsaak lê natuurlik in die ontoeganklikheid van die meeste ape. In alle lande - behalwe Afrika - is die ape bewoners van die ruigste houtbosse en oerwoude, waar dit onmoontlik is om hulle langer as 'n paar minute binne gesig te hou. Sonder dat jy diere dae agtereen onafgebroke in die oog kan hou, is daar geen kans om die geheime van hul lewenswyse te ontdek nie. Veel word natuurlik gedoen deur waarnemings in gevangenskap, maar juis in hierdie opsig is die aap die moeilikste van alle diere om te bestudeer. Sy sielkundige ontwikkeling bring mee - net soos by die mens - dat hy hom skielik in enige nuwe omgewing kan aanpas. In gevangenskap leer hy gou allerhande nuwe gewoontes en sy algemene gedrag verander so volkome dat dit onmoontlik is om uit sy gedrag in gevangenskap af te lei wat sy lewenswyse in die natuurstaat is. Daar is in die hele wêreld slegs een aapsoort wat in die natuurstaat maklik bestudeer kan word - indien die ondersoeker van die gunstige omstandighede gebruik maak - en dit is die Suid-Afrikaanse bobbejaan. Ons bobbejaan was natuurlik oorspronklik 'n boomdier en hy word nog dikwels as 'n ware boomdier in ons groot houtbosse en langs die riviere aangetref. Maar die grootste deel van die ras het lank reeds sy toevlug tot die ‘ewige heuwels’ geneem, van waar hy in veiligheid al sy vyande kan trotseer - die mens inbegrepe. Langer as honderd jaar voer die mens, gewapen met alles wat die wetenskap hom skenk, 'n onverbiddelike kryg teen die bobbejaan en tog bly hy voortbestaan, selfs in die streke waar die oorlog altyd die hewigste gewoed het. En nie alleen bly die bobbejaan voortbestaan nie, maar binne die tydperk van 'n enkele menseleeftyd het hy nuwe gewoontes aangeleer wat hom in vele streke die gevaarlikste vyand maak waarteen die landbouer in sy bestaanstryd te kampe het. Terwyl hy eers sy vyandige bedrywigheid tot die vrugteboorde en graanlande beperk het (want die bobbejaan is van nature 'n plant- en insek- | |
[pagina 106]
| |
te-eter) het hy spoedig onder drang van droogte en hongersnood aangeleer dat voedsel te vinde is in die lewende hawe wat die mens aanhou. Sy natuurlike weersin in vleis het hom in sekere dele tot dusver verhinder om 'n volkome roofdier te word (maar nie oral nie, soos ons later sien). Hy het ontdek dat die maag van skaaplammers voedsame melk bevat. Die bobbejaan het ongeveer tagtig jaar gelede vir die eerste maal in Suid-Afrika sy verskyning as lamvanger gemaak, en dit slegs in die droë middelgedeeltes van die Kaap. In geen ander deel van Suid-Afrika het hy die gewoonte vanself aangeleer nie. In Noord-Transvaal is dit byvoorbeeld tot vandag toe onbekend. Maar van die Karoo-streke het die kwaad stadig noordwaarts voortgegroei, totdat dit vandag tot aan die Vaalrivier 'n vaste gewoonte is. Byna daagliks word ander nuwe gewoontes aangeleer. In die Suikerbosrand, byvoorbeeld, waar 'n trop bobbejane 'n vreeslike bestaanstryd teen die gedurige inkrimping van hul gebied deur die mens moet voer, het hulle binne die afgelope tien jaar die toevlug tot ander middels van bestaan geneem. Tot dusver het die bobbejaan lammers gevang, alleen om die ingewande oop te skeur en die verdikte melk te eet. In Heidelberg was dit gedurende die afgelope jare nie langer 'n afdoende bron van voedsel vir die beleërde trop nie. Hulle het die vleis van die gedode lammers begin eet. En vandag word lammers in die Suikerbosrand vir geen ander doel gevang nie. Die wyse van slagting het ook verbasend verander. Die lam word nie meer gedood deur die maag oop te skeur nie. Hy word op sy rug uitgestrek, altwee slagare word sorgvuldig blootgelê en deurgebyt. Dan word gewag totdat die dier dood en die liggaam van bloed geledig is, want dit skyn asof die bobbejaan tot nog toe 'n weersin in bloed het. Daarna word die lam behoorlik afgeslag, soos geen roofdier dit kan doen nie, en die vleis van die bene geskeur en opgeëet. Die vleisetende gewoonte in die Suikerbosrand skyn byna daagliks nog in ander rigtings uit te brei. Die bobbejane daar het onlangs ontdek dat die volgroeide skaap net so 'n bevredigende slagoffer is as die hulpelose lam. Hy slag dus nou groot skape - en nie net skape nie. Varke, eende, hoenders, tarentale en kalkoene, is reeds op die lys van sy buitgemaakte diere en gevogelte in die Suikerbosrand. Die leser sal dadelik insien dat daar geen ander dier op aarde is wat in die natuurstaat sulke wysigings van gewoontes toon nie. Daar is in Australië 'n papegaai wat die wol van die rug van skape getrek het om sy nes mee uit te veer. By toeval het hy die smaak van vleis gekry en nou val hy skape vir hul vleis aan. Dit word dikwels genoem as die grootste verandering van gewoonte in die natuur, maar dit kom nie naby die bobbejaan se aanpassing nie. Dit is juis hierdie veranderings van gewoonte wat die studie van die aap in sy natuurlike omgewing so belangrik en tegelyk so moeilik maak. Wat die studie van die aapsoorte van soveel dringende belang maak, lê in 'n | |
[pagina 107]
| |
baie selfsugtige rede opgesluit - soos meestal by die mens die geval is. Daagliks win die oortuiging in die wetenskaplike wêreld grond dat die voortbestaan van die mens op aarde in onmiddellike gevaar verkeer. Al sy nuwe kennis skyn meer bewyse te lewer dat die dreigende noodlot van die mens binne berekenbare tye geleë is. Ek sal probeer om kortliks uiteen te sit wat die algemene sienswyse van die ‘georganiseerde wetenskap’ in verband met die saak is. Soms word beweer dat daar in die ontwikkeling van die mens doel en rede sigbaar is, dat hy die volmaakte voortbrengsel is, die doel waarna die organiese ontwikkeling deur al die miljoene jare gestreef het. Hierdie veronderstelling ontstaan uit die dwaalbegrip dat die organiese ontwikkeling altyd na 'n toestand van absolute volmaaktheid streef. Al wat die ontwikkeling kan bewerkstellig, is om 'n organisme deur uitsoeking vir een of ander bepaalde natuurlike omgewing geskik te maak. Onder hedendaagse soogdiere is daar 'n sielkundige ontwikkeling sigbaar in die rigting om 'n diersoort sielkundig te bevry van die nadeel van opsluiting in 'n beperkte omgewing, byvoorbeeld waar 'n skielike verandering van klimaat tot uitdelging mag lei. Hierdie sielkundige ontwikkeling gaan in die rigting om alle erflike omgewingskennis (instinkte) te vernietig en die organisme van individueel aangeleerde omgewingskennis afhanklik te maak. Die onmiddellike voordeel is om so 'n diersoort in staat te stel om sy toevlug tot enige natuurlike omgewing te neem en daar onmiddellik die nuwe kennis op te doen wat vir sy bestaan noodsaaklik is. Die aapsoorte, die mensape en die mens het in hierdie rigting die verste gevorder. Daarom kan die mens in die Sahara-woestyn en op die Poolys tegelyk bestaan, daarom vind ons die bobbejaan op die vrugbare berge van die Kaapse Skiereiland; op die sneeubedekte spitse van die Drakensberg; in die groot houtbosse as 'n volkome boomdier; en te midde van die dorstige streke van die Kalahari-woestyn. Soos alle diere op aarde moet die mens vir sy sielkundige ontwikkeling in die rigting van bevryding van 'n beperkte natuurlike omgewing duur betaal. Sy verstand bring die mag om hom teen alle vyandige natuurlike toestande te kan beskerm, deur aangeleerde omgewingskennis en die vernietiging van erflike omgewingskennis (instinkte). Maar dit is alleen deur die werking van die vyandige natuur dat uitsoeking binne 'n ras kan plaasvind en dit is deur uitsoeking alleen dat die tipe van 'n ras bewaar word. In 'n menigte gevalle is eksperimenteel vasgestel dat die individue wat die verste van die tipe afwyk, gedurende 'n skielike omwenteling in die natuurlike omgewing, die eerste omkom. In Amerika is vasgestel dat van duisende voëls wat gedurende skielike storms sterf, byna elkeen afsonderlik in een of ander rigting van die tipe afwyk. Daarenteen toon alle diere wat 'n hoë mate van beskerming geniet, 'n eweredige individuele afwyking van die tipe. Op sommige eilande van die Stille Oseaan is daar inheemse insekte wat geen natuurlike vyande het nie en die klimaat | |
[pagina 108]
| |
is so gunstig en so onveranderlik dat geen sterfte onder insekte ooit aan skielike veranderings te wyte is nie. Die gevolg is dat in al die bergklowe wat dikwels net deur 'n krans van mekaar geskei word, daar verskillende soorte van dieselfde ras te vind is. Dit kan alleen toegeskrywe word aan die feit dat die afwykende individue nooit deur ongunstige omstandighede in die natuur vernietig word nie. Van enige lewende diersoort geniet die mens die hoogste beskerming teen natuurlike uitsoeking. In die algemeen geniet die afwykende individu dieselfde mate van beskerming as die tipiese individue. Die gevolg is dat onder lewende diersoorte die mens die grootste mate van individuele afwyking van die tipe toon. Plaas 'n Chinees, 'n Neger, 'n Boesman en 'n Europeër langs mekaar en geen natuurkenner (sonder dat hy met die feite bekend is) sou hulle ooit anders dan as afsonderlike diersoorte rangskik waarvan die kruising onvrugbaar behoort te wees nie. Ons weet egter dat hulle slegs groep-afwykings van presies dieselfde soort en presies dieselfde tipe voorstel. Die individuele afwyking is net so wydlopend as die groep-afwyking. In alle menserasse is daar reuse en dwergies, genieë en idiote. Daar is groter onderskeid in enige liggaamlike afmeting as in enige ander diersoort te vind is. Selfs wat die inwendige organe betref, is daar dieselfde reusagtige onderskeid tussen individue. Naas die mens sou ons natuurlik die grootste tipiese afwykings onder die mensape en aapsoorte verwag, omdat hulle presies dieselfde aard van beskerming, deur dieselfde eienaardige psigiese ontwikkeling as die mens geniet. En dit is so. Ons groter kennis van die mensape het dié feit lank reeds vasgestel. Op twee bergreekse in Midde-Afrika wat binne gesig van mekaar lê, woon twee gorilla-rasse wat so van mekaar verskil dat 'n mens byna geneig sou wees om hulle as twee aparte soorte te rangskik. Die onderskeid is egter slegs die gevolg van tipiese afwykings. Onder die weinige mensape wat die mens gedurende die afgelope vyftig jaar in gevangenskap gehou het, is in 'n menigte gevalle 'n individuele onderskeid aangetref wat groter was as in enige ander bekende diersoort behalwe die mens. Daar is geen twyfel dat tipiese afwykings van hierdie aard die eerste en tegelyk die grootste bewys van natuurlike ondergang is nie. By die mens het hierdie beskerming en afwyking meer liggaam- en sielsiektes teweeggebring as by enige ander diersoort te vind is. Die feit dat beskerming 'n reusagtige bevolkingstoename veroorsaak, doen niks ter sake nie. Bevolkingstoename is 'n tydelike en verbygaande verskynsel, terwyl afwyking van tipe permanent en onherstelbaar is. Op soortgelyke wyse vernietig die natuur alle rasse wat nie langer binne 'n natuurlike omgewing pas nie. Die optimistiese geloof dat die mens sielkundig tot een of ander volmaakte toestand aan ontwikkel is, berus op 'n onwetenskaplike dwaalbegrip. Sonder natuurlike uitsoeking kan geen ontwikkeling | |
[pagina 109]
| |
plaasvind nie - alleen ontaarding. Die weg wat die mens meer bepaald betree, is in die rigting van die kranksinnigegestig. Die toename van sielsiektes is sonder enige twyfel groter as dié van enige ander kwaal wat die mens teister. Alle meer beskaafde lande is besorg om plek te vind vir en die onderhoud te bekostig van die steeds groeiende leër kranksinniges. Die ondergang van uitgestorwe diersoorte wat aan afwyking van tipe te wyte is, toon aan dat 'n onveranderlike weg gevolg word. Vermeerdering mag met afwyking tred hou, maar daar is 'n grens in die natuur wat nie oorskry kan word nie. Skielik val die geboortesyfer, terwyl die sterftesyfer onveranderd bly. 'n Mens sou geneig wees om te verwag dat die geboortesyfer weer sal styg sodra 'n ewewig bereik word. Maar dit gebeur nimmer. Sodra die natuurlike uitdelging begin het, is geen herstel moontlik nie. Dit gaan voort totdat die hele ras, hoe magtig ook al en hoe goed ook al teen die vyandige natuur gewapen, vir ewig vanaf die aardbodem uitgedelg is. So het die miljoene draakakkedisse wat miljoene jare lank in besit van die hele aarde was, verdwyn, sodat die wetenskap vandag die geskiedenis van hul bestaan en ondergang slegs in die onverganklike rotse kan lees. Die dinosourus, met die bewapening van 'n gepantserde kruiser, wat 'n olifant as 'n maaltyd kon geniet, waarvan die ontwikkeling ontelbare miljoene jare geduur het en wat die aarde miljoene jare regeer het, het verdwyn. Van sy magtige heerskappy het hy niks op die aarde nagelaat nie as miskien enkele reusagtige voetspore in die rotse en sy versteende geraamtes in ou rivierspoelsels vir die berging waarvan ons grootste museums te klein is. Daar bestaan vandag by die georganiseerde wetenskap nie die minste twyfel dat die grootste gevaar wat die voortbestaan van die mens op aarde bedreig afwyking van tipe, gepaard met 'n steeds groeiende bevolkingstoename is nie. Die beskerming van afwykende individue vermeerder die algemene neiging tot afwyking van tipe, terwyl die toename in bevolking altyd 'n toename in die persentasie afwykende individue veroorsaak. Dit sou vir die hedendaagse wetenskap byna 'n mirakel wees as die mens aan die end van sy bestaan 'n uitsondering op dié onveranderlike natuurreël lewer. Indien hy die noodlot wil ontkom wat sy bestaan op aarde onmiddellik bedreig, indien hy die onverbiddelike natuur nog in die laaste loopgrawe wil beveg, skyn dit alleen deur toepassing van 'n enkele strategiese middel moontlik te wees, nl. die afwyking van tipe en die reusagtige bevolkingsgroei moet op een of ander kunsmatige wyse stopgesit word. Vir dié doel moet die wetenskap ingeroep word en die eerste stap tot insameling van die nodige kennis om die mens vir sy laaste bestaanstryd op aarde te bewapen, is 'n grondige studie van die diersoort wat die naaste aan die mens verwant is: die ape en mensape. Die gewone leser het dikwels min besef van die praktiese voordele wat die mens reeds deur die studie van die ape verkry het en nog daagliks verkry. Op | |
[pagina 110]
| |
die gebied van die medisyne en sielkunde is ons vooruitgang in die afgelope jare in die hoogste mate te danke aan die gebruik van die ape vir waarnemingsdoeleindes. So na verwant aan ons is die aap dat hy feitlik die enigste dier is wat in alle opsigte dieselfde reaksies as die mens toon. Daar sou in alle waarskynlikheid vandag nog geen snydokter gewees het wat die nodige kennis en moed sou besit het om die blindederm uit die mens te sny as eksperimentele operasies op die mensape dit nie vooraf moontlik en seker gemaak het nie. En dit is die geval met honderde ander van die grootste en belangrikste operasies wat die wetenskap in ons tyd moontlik gemaak het. So is dit ook op die gebied van die medisyne. Die bekamping van 'n menigte dodelike siektes is alleen deur proefwaarnemings op die aap moontlik gemaak. Die leser sal dus insien dat die studie van die aap in sy natuurlike omgewing seker nie aan blote wetenskaplike nuuskierigheid te danke is nie. 'n Veel groter kwaal as enige siekte van die individu skyn die mens as ras te bedreig en as hy hoop om dit te ontkom, is die studie van die kwaal by sy eerste verskyning in die aapsoorte ongetwyfeld die belowendste weg. Maar om terug te kom na die moeilikhede wat die studie so swaar en in baie gevalle onmoontlik maak: in verskillende wêrelddele word vandag pogings aangewend om die ongunstige gevolge van gevangenskap te oorkom deur die kunsmatige skepping van 'n natuurlike omgewing. Die eerste poging is deur bemiddeling van die Smithsonian Institution by Montecito, Kalifornië, gedoen. My advies en hulp is hiertoe gevra, nieteenstaande ek voorspel het dat die eksperiment in alle waarskynlikheid op 'n mislukking sou uitloop om presies dieselfde redes wat waarneming in gevangenskap nutteloos maak. 'n Aantal Suid-Afrikaanse bobbejane en ander ape is in 'n groot eikewoud vrygelaat onder omstandighede wat dit moontlik gemaak het om hulle gedurig dop te hou. My voorspelling is ongelukkig bewaarheid en die waarneming in sy geheel kan nouliks 'n sukses genoem word. Die bobbejane en ape het dadelik allerhande nuwe gewoontes vanself aangeleer en hulle in hul nuwe omgewing so aangepas dat hul lewenswyse, vergeleke met die natuurstaat, spoedig onherkenbaar was. Selfs wat gewoonlik die mees onveranderlike insident in die dierlike lewe is - die loop van die seksuele sin - is by die Amerikaanse bobbejane so verander dat dié belangrikste natuurlike verskynsels by hulle nooit voorgekom het nie. In Madeira het die Duitsers 'n proefstasie van sjimpansees ingerig en daar is sprake van 'n tweede in Florida in die Verenigde State. Maar op dié stasies word min pogings aangewend om 'n natuurlike omgewing te skep. Al wat beoog word, is om die seldsame mensape aan die lewe te hou en hul aanteel te verseker. Die ondersoek is beperk tot sielkundige eksperimente in vergelyking met die mens. | |
[pagina 111]
| |
Intussen het skrywer in Suid-Afrika 'n kans waargeneem wat in geen ander land voorkom nie om ons bobbejane van naby en intiem te bestudeer. Die heer Alec Austin - 'n Transvaler wat in die veld grootgeword het - en skrywer het enige jare ná die Tweede Vryheidsoorlog 'n permanente woning ingerig in die hooggeleë valleie tussen die dubbele gebergtes van die welbekende plaas Doornhoek in Waterberg, waar tin later ontdek en jare lank bewerk is. Die omgewing was 'n heerlike oord vir die doel wat ons beoog het en ek dink nie dat ek ooit in my lewe 'n gelukkiger tydperk deurleef het as die drie jaar wat ons in die gebergte van Doornhoek deurgebring het nie. Die hele distrik Waterberg was destyds baie dun bevolk. Bowendien was 'n menigte inwoners nog as krygsgevangenes in die buiteland, want die repatriasie was nog aan die gang en ons was meer as 'n jaar in Waterberg voordat die laaste van ons bure weer hul verskyning op hul plase gemaak het. Ons woonstede was dus in die begin uiters eensaam, maar die wonderlike natuurskoon het ons daarvoor meer as vergoed. Van die beskaafde wêreld was ons feitlik heeltemal afgesonder. Daar was slegs een toegang tot ons woonstede in die bergvallei, naamlik deur 'n kloof wat destyds so woes en ruig was dat dit groot kragsinspanning van 'n geoefende man vereis het om bo te kom. Die kloof is aan die een kant begrens deur 'n krans van twee- of driehonderd voet hoog en aan die ander deur 'n kop so steil dat dit byna ook 'n krans genoem kan word. Die kloof self was opgevul met 'n opstapeling van enorme rotsblokke wat deur splitsing van die krans in die verlede neergestort het. Selfs in ons tyd was daar twee maal 'n val van rotse wat soos donderende ontploffings deur die berge weergalm het. Die krans, die gevalle rotsblokke en elke duim bereikbare grond in die kloof was dig oorgroei met reuse-bome en die pragtigste berggewasse wat Waterberg voortbring. Ek het nooit op enige ander plek 'n pragtiger versameling boomvarings gesien nie en die blommeprag in sekere jaargetye was vir die meeste besoekers uit die stede altyd 'n verrassing. Vas teen die krans het verskeie massiewe wildevyebome gegroei. Die wortels van hierdie reuse het vir honderd tree soos reusagtige luislange oor die aangesig van die krans gekronkel gelê. Waar die wortels die nodige vogtigheid en voedsel vir hul bome gevind het, het tot vandag vir my 'n raaisel gebly. 'n Kristalhelder bergstroom het in die vallei afgekom en 'n uitweg na die vlakte deur hierdie kloof gevind. Die opstapeling van rots het die stroom in die kloof in 'n reeks helder klipkom-watervalle en kaskades verander. In hierdie berge van Doornhoek het 'n trop van ongeveer driehonderd bobbejane gewoon. Hulle had net een vaste slaapplek. Dit was in 'n holte in die krans wat van voor deur die takke van een groot wildevy beskerm is. Hier het | |
[pagina 112]
| |
hulle elke dag met sononder vergader, tensy hulle deur tiers afgekeer is - wat af en toe plaasgevind het. Wanneer dit gebeur het, het hulle gewoonlik die hele nag op die spits van die aangrensende kop slaaploos deurgebring en gewoonlik is ons ook verplig om saam met hulle te waak! Die heer Austin en ek het ons hutte binne 'n paar honderd tree van die boonste ingang van die kloof in die bergvallei gebou, en binne enkele maande het ons op so 'n vriendskaplike voet met die bobbejane verkeer dat ons tussen die trop kon deurloop soos 'n eienaar deur sy skape. Hulle was al mak toe ons daar gekom het, want byna vier jaar lank - gedurende die Anglo-Boereoorlog - is nooit op hulle geskiet nie. Later moes ons hulle beskerm deur betaling van geringe bedrae as vergoeding aan die eienaars van gebruikte mielies en vrugte. Uiteindelik - ná 'n broederskap van drie jaar - het alle beskerming onmoontlik geword en moes ons ons vriende uit die hooggebergtes vir altyd vaarwel bied. Deur uitstrooiing van droë mielies in die gras het ons hulle baie gou aan ons gewoond gemaak. So intiem het die verhouding geword dat ons hul absolute vertroue gewen het. Ons het elke volwasse dier geken en met sy naam en nommer in 'n lys aangeteken. Ons het hulle in die begin dikwels op hul daaglikse reise deur die berge gevolg en deur uitstrooiing van mielies elke nou en dan het ons die gang so vertraag dat ons kon byhou. Gedurende die drie jaar het ons geleentheid gehad om meer kennis van die natuurlike lewenswyse van die bobbejaan op te doen as waarskynlik enige ander ondersoeker voor ons tyd. Juis daarom waag ek dit om die interessantste verskynsels in hulle lewensgeskiedenis hier te beskryf. |
|