Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd15 Die Koningin in Haar SelDit was lank nadat die grootste deel van hierdie uiteensetting verskyn het dat ek vir die eerste maal geleentheid had om die belangrikste aangeleentheid in die sielkundige lewe van die termiet op my gemak gade te slaan: dit is die gedrag van die koningin as 'n lewende en aktiewe deel van die samestelling. Ek het honderde male in die oop veld probeer om die paleisholte op so 'n wyse bloot te lê dat die werk van die koningin, en wat in haar onmiddellike omgewing plaasvind, sigbaar sou wees - dit wil sê van 'n volwasse nes. Ek had eenmaal die kans om die wording van 'n nes gade te slaan. Maar die waarneming was kort van duur en het geen die minste besef gegee van wat later plaasvind, wanneer die koningin in haar sel opgemessel is en as die brein van die samestelling voortlewe nie. Die kans het my onverwags in Pretoria te beurt geval. Daar was 'n ou huis in Arlouis-laan wat jare reeds deur termiete beset isGa naar eind1.. Hulle het behoort aan die groep bekend as Natalse termiete waarvan daar twee kaste soldate en twee kaste werkers is: een klein en die ander groot, bekend as major-werkers en soldate en minor-werkers en soldate. Hierdie termiete het gedurig 'n verskriklike vernieling aangerig en in die loop van jare is agtereenvolgende pogings aangewend om hulle uit te roei - tevergeefs. Die koningin is nooit gevind nie en onmiddellik ná elke herstelling was die termiete weer opnuut met hul vernieling besig. Oplaas het die stadsraad twee jaar gelede die werk onderneem. Die heer Victor Foster en ek het die slopingswerk met groot belangstelling gevolg. Nadat die | |
[pagina 100]
| |
soekers dae lank tevergeefs na die koningsholte gesoek het, het ek 'n voorstel aan die voorman gedoen. Ek was toe reeds oortuig dat hulle hier met 'n enkele koningin te doen had en nie met 'n samestelling waar die invloed van twee of meer koninginne oor mekaar loop en die onderdane van een uitgeroeide koningin by 'n naburige aansluit nie. Ek het voorgestel dat ek die paleisholte sou aanwys, mits die werkers ons 'n geleentheid gee om die lewende koningin twee of drie dae waar te neem. Hiertoe het die voorman ingestem. Die vasstelling van drie vername loopgange en die punt van interseksie het my binne 'n paar minute in staat gestel om met 'n taamlike mate van sekerheid die plek aan te wys. Die paleisholte was - gelukkig vir ons - onder 'n vuurherd in die donkerste hoekie van een kamer. Met behulp van 'n flits het die heer Foster en ek die paleisholte self blootgelê. Ons het daarin geslaag om eers die paleisholte en daarna die sel van die koningin in die helfte deur te sny sonder om 'n vernielende storing van die samestelling teweeg te bring. Ons het eenvoudig 'n gedeelte van die skedel weggesny en voor ons was die lewende en werkende brein van die organisme. Dit was voorwaar 'n skouspel wonderliker as al my verwagtings. Jammer dat ons tyd so kort was! Van sommige van die verskynsels wat die blootlegging aan ons openbaar het, het ek geweet en was ek derhalwe te wagte. Ander was vir my onbekend - volstandige verrassing en tegelyk verbysterende geheimsinnighede. Dit was wat ons gesien het: Die koningin was enorm groot en het in 'n lyn direk oos en wes gelê, met haar kop na die weste. Die koning - natuurlik van die gewone grootte van 'n vlieënde mier - was altyd op haar reusagtige lyf of in haar onmiddellike nabyheid. Ons het in sy gedrag nooit enige feite waargeneem wat kon strek om sy funksionele werksaamheid vas te stel nie, nieteenstaande ek noukeurige aantekenings van al sy bewegings gehou het. Om en op die koningin was 'n groot massa van die kleinere kaste werkers gedurig besig. Vlak voor die kop van die koningin was 'n klein opening wat toegang tot die sel verleen het - natuurlik veels te klein vir haar om ooit daardeur te gaan. Deur hierdie ingang het twee strome werkertjies gedurig beweeg: een stroom wat inkom en een wat uitgaan. Ons het spoedig vasgestel dat die klein werkers met drie verskillende soorte arbeid besig was: (1) Een stroom was besig om die koningin te voed. Elkeen wat voor haar kom, staan orent om haar monddele te bereik. Onmiddellik verskyn aan sy kake 'n klein druppel fyn vloeistof, blink soos 'n diamant, wat dadelik in die mond van die koningin verdwyn. Sodra hy klaar is met die toediening van sy bydrae, loop die werker om die koningin se reuse-liggaam, sodat hy die selopening van die ander kant nader as waar hy ingekom het. Die werk het derhalwe met die grootste spoed en reëlmatigheid voortgegaan sonder dat een werker ooit in 'n ander se pad kom. (2) Saam met die voeders en in dieselfde strome, was daar werkers wat belas was met die wegdra en versorging van die eiers. Ook dié het om die koningin | |
[pagina 101]
| |
geloop om later in die uitgaande stroom met 'n eier in die kake te verskyn. Die heer Foster het bereken dat sy elke vier-en-twintig uur vyftigduisend eiers lê, wat 'n denkbeeld sal verskaf van die spoed waarmee hierdie werk moes verrig word. (3) 'n Baie kleiner klompie werkers was met 'n veel geheimsinniger werk belas. Ek was nie in staat om presies vas te stel wat dit was nie, maar ek vermoed dat dit een of ander aard van reiniging van die huid van die koningin was. Hulle was gedurig op haar enorme lyf as enkelinge of in groepies druk besig. Al wat ons kon uitmaak, was dat hulle die huid van die koningin saggies met hul kake streel terwyl hulle stadig vooruitbeweeg. Ons het vasgestel dat hulle die sel leeg binnekom en dat hulle vol van 'n kleurlose vloeistof is wanneer hulle uitgaan. Hierdie vloeistof moet hulle derhalwe op een of ander wyse deur die vel van die koningin verkry sonder om ooit die huid self te beskadig. Ons het hulle masseurs genoem. Dit kan egter ook wees dat hulle met een of ander spesiale voedingswerk van kleintjies belas is en dat die koningin in haar enorme liggaam die vloeistof afsonder wat hulle vir hierdie doel gebruik. Waarop ek hierdie moontlikheid grond, was wat ons sien gebeur het toe ons sommige van hierdie masseurs ná hul vertrek uit die koninginsel gevolg het. Hierdie waarneming was nie geheel en al seker nie, omdat dit besonder moeilik was om die termiete te volg. Dit het ons egter voorgekom dat dieselfde masseurs, ná hulle die sel verlaat, een van die groot swamtuine besoek, waar daar 'n groot versameling van die kleinste wit babatjies bymekaar was. Hier het ons gesien dat hulle die babatjies op kleurlose druppels vloeistof voer, presies soos die koningin deur ander werkers van dieselfde kaste gevoed word. Dit het my derhalwe voorgekom dat dit slegs 'n verdere spysverteringstadium van die samestelling is. Die koningin word gevoer op vloeistof wat die werkers uit hul paddastoeltuine vergaar. In haar liggaam ondergaan dit 'n verdere verandering wat dit dan geskik maak om die babatjies daarmee te voer. Dit sou dan die eerste verskyning in die natuur van melkafsondering deur die moeder wees! Behalwe hierdie drie klasse werkers en hul verskillende bedrywighede het ons binne die paleisholte met 'n nog interessanter verskynsel in aanraking gekom: die sel van die koningin was omring deur 'n sirkel van die grootste soldate. Bygaande is 'n aftekening van die paleisholte, daar en dan deur die heer Victor Foster gemaak, wat 'n goeie denkbeeld verskaf van die voorkoms van hierdie geheimsinnige sirkel. Die soldate was op gelyke afstande van mekaar. Die vlak van die sirkel was met 'n hoek van ongeveer 45 grade na die watervlak gewend. Aan die voorkant van die paleisholte was die soldate op die vloer, terwyl hulle aan die ander kant onderstebo aan die dak hang. Al die koppe, voor en agter, was in 'n direkte lyn na die magnetiese noorde gekeer. Ek dink hierdie laaste feit is van belang, omdat ek vas oortuig is dat die magnetisme van die aarde 'n waarneembare uitwerking op die meeste termietsoorte het, soos reeds geblyk | |
[pagina 102]
| |
Koninginselle (Uit: Claude Fuller, Witte Mieren in Natal. Staatsdrukker.)
| |
[pagina 103]
| |
het in verband met die waterskag hier in Afrika, en wat lank reeds bekend is in verband met die miershoopvorm van die ‘magneettermiete’ van Australië. Die lede van die lyfwag was die meeste van die tyd volkome bewegingloos. Af en toe het een egter skielik tot 'n eienaardige beweging oorgegaan: 'n heen-en-weer swaai van die kop en voorlyf, wat my baie gelyk het op die bekende termietedans wat dikwels deur waarnemers beskrywe is. Sodra een hiermee begin, word die beweging binne 'n paar sekondes aan die een naaste aan hom aan sy regterkant oorgedra, en so vervolgens van een na die ander, totdat die sonderlinge roering die hele sirkel omgegaan het en eindig waar dit begin het. Ons het ook een afwisseling van die lyfwag gesien. Die nuwe wagte het die paleisholte deur 'n groot opening byna reg teenoor die kop van die koningsel ingekom en binne die sirkel van staande wagte 'n tweede sirkel gevorm, wat stadigaan binne die spasies tussen elke twee soldate plaasgeneem het. Dit was die teken vir die vorige wagte om die holte in 'n enkele ry by dieselfde opening te verlaat. Ons het nooit enige ander bedrywigheid van die wagte waargeneem nie. Wat sou die funksie van hierdie geheimsinnige sirkel wees? 'n Ander waarnemer wat hulle later ook gesien het (in Duits-Wes-Afrika) beskrywe hulle sonder die minste twyfel as egte ‘lyfwagte’ wat dieselfde pligte opgelê is as in die geval van koninklike lyfwagte by die mens. Ek is seker dat prof. dr. Bugnion ook hierdie teorie sonder twyfel sou aanneem as die enigste moontlike uitleg! Nietemin moet ons dit - ná die minste nadenke - verwerp. Enige vyand wat so ver die nes binnegedring het, sou seker ook in staat wees om hierdie enkele ry soldate te oorrompel, want ons moet onthou dat so 'n vyand reeds deur myle gange sal moet gegaan het, waar hy tallose soldate van dieselfde kaste sal teëkom wat elke duim van sy vordering verbete sal beveg. Hier sou geen ‘wagte’ (in die menslike sin van die woord) van die minste waarde wees nie. Ook moet dit bygevoeg word: ons was nooit in staat om hierdie lyfwagte tot 'n aanval aan te spoor nie. Ons kon hulle met 'n vinger aanraak en effentjies rondskuiwe sonder dat hulle ooit 'n poging gemaak het om te byt, wat alle ander soldate van dieselfde kaste binne die gange van die nes dadelik gedoen het. Hulle het ons voorgekom as half bewusteloos - gechloroformeerde termiete! By my het dadelik 'n ander teorie opgekom. Die termietnes is so 'n volmaakte analoog van die dierlike liggaam met sy brein, sy maag en lewer, sy bloedstroom, van twee verskillende bloedliggame, dat ek geneig is om elke onbekende verskynsel deur hierdie toets te verklaar. Vir my was daar altyd een ‘analoë orgaan’ wat in die termietnes ontbreek het. Ek het altyd verwag dat daar êrens 'n koppeling moet bestaan met gelyksoortige funksies as dié van die dierlike sentrale senustelsel. Ek het altyd na iets gesoek wat gelyk staan met die dierlike medulla oblongata en ruggraat, wat as 'n skakel dien om die misterieuse ‘invloed’ van die koningin na alle dele van die samestelling uit te saai. Ek moet er- | |
[pagina 104]
| |
ken dat dit 'n teorie is wat deur baie min waargenome feite bekragtig word. Ek stel dit voor vir wat dit werd mag wees. Miskien sal latere waarnemers die kans hê om dié geheimsinnige sirkel deeglik en grondig te ondersoek. Van een ding kan ons verseker wees en dit is dat so 'n gekompliseerde en reëlmatige verskynsel nooit doelloos sal wees nie. Die ‘lyfwagte’ vervul ongetwyfeld een of ander belangrike funksie. Daar is nog een ander verskynsel wat ons gesien het en wat ek moet beskrywe alleen omdat dit 'n uitwerking het op die teorie van die organiese eenheid van die termietnes. Gedurende die tyd van ons waarneming by die koningin het 'n taamlike groot stuk harde klei uit die rand van die paleisholtedak los geraak en afgeval, en die koningin 'n taamlik harde slag toegedien. Onmiddellik daarna was daar 'n sonderlinge reeks gebeurtenisse. Die enigste uitwerking wat die skok op die koningin self gehad het, was dat haar kop ritmies heen-en-weer begin swaai het. Die werkers het dadelik alle werk binne die sel gestaak en in doellose massas rondgedryf. Die sirkel lyfwagte is dadelik opgebreek en die meeste het in die gange agter die paleisholte verdwyn. Toe sien ons massas klein werkers die sel en paleisholte in digte dromme binnedring. Hulle het die liggaam van die koningin eenvoudig toegepak om die vloeistof deur haar huid op een of ander wyse uit te suig, presies oos die ‘masseurs’ dit onder normale omstandighede doen. Die koning het hieraan ywerig deelgeneem. So vinnig het dit gegaan dat ons binne 'n paar minute slap voue in die huid van die koningin kon bespeur. Intussen het ons dadelik alle verafgeleë dele van die nes besoek waar werk nog aan die gang was voor die ongeluk plaasgevind het. Tot op die uiteindes van die groot nes was alle werk gestaak. Major-soldate en -werkers het in groot opgewondenheid in verskillende dele van die nes vergaar. Daar was 'n neiging om in klompies opmekaar te dring. Daar was nie die minste twyfel nie dat die skok aan die koningin die uiterste dele van die nes binne 'n paar minute bereik het. Herstel het begin waar die eerste en grootste storing plaasgevind het. Stadigaan het die vernielende werkers hulle aanval op die koningin gestaak. Die lyfwagte het hulle herstel; die koningin het stil geword. Dit was nouliks moontlik om al die stappe in volgorde waar te neem, toe was alles weer in normale werking. Die enigste verandering in gedrag wat ons daarna kon bespeur, was dat die voeding van die koningin deur die werkers verhaas is en dit het nie lank geduur voordat haar liggaam weer sy normale grootte bereik het nie. Die volgende dag was die werk op die uiteindes van die nes weer in volle gang. En dit was die einde van ons waarneming. Die werksmense het hulle intussen met die uitgrawing en verwydering van swamtuine in ander kamers besig gehou, maar nou was die tyd aan ons toegestaan, verstreke. Die koningin is uit haar halfsel gegrawe en gevanklik weggevoer. |
|