Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd14 Eerste Boumeesters in die NatuurEk dink nie dat daar ooit 'n navorser in termietklassifisering of-gedrag was wat nie by die een of ander geleentheid verbysterd gestaan het voor die reusagtige enormiteit van hulle bou- en ingenieurswerk nie. Die magtigste bouwerke op aarde: die piramides van Egipte; Londen met sy onderaardse verkeer; New York se wolkekrabbers; die Simplon-tonnel; die grootste katedrale; die langste brûe - dit alles is nes molhopies met berge vergeleke, wanneer ons die grootste | |
[pagina 93]
| |
werke van die mens langs dié van die termiet beskou - met inagneming van gelyke liggaamlike grootte. Wilhelm Bölsche (Der Termitenstaat) het uitvoerige berekeninge gemaak om 'n vergelykende besef te gee van die werk van die mens en die termiet respektiewelik. Met inagneming van die respektiewe liggaamlike groottes sal die mens 'n gebou moet oprig so hoog soos die Matterhorn - d.w.s. 4 500 meter - indien sy werk in eweredige verhouding moet staan tot 'n termiettoring van 12 meter - wat dikwels in Afrika voorkom; tot dié resultaat voer die berekenings van die Duitse skrywer. Maar dit is nie die grootte van die bouwerk alleen wat die navorser verbyster nie. Ook die uitgestrektheid van hulle onderaardse bedrywigheid grens aan die ongelooflike. Van hulle diepteskagte het ek reeds gewag gemaak; die magtige ingenieurswerke wat hulle in hul ewigdurende stryd teen droogte verplig is om uit te voer. Hulle is verplig om die dieptes van die aarde binne te dring in hul onophoudelike soek na water, wat hulle nag en dag uit die dieptes moet aandra, druppel vir druppel, om hul reusagtige staat aan die lewe te hou. Hoe diep gaan die termiete se waterskagte? Ons kan slegs gissings maak. Self het ek slegs een gesien wat dieper gegaan het as vyf-en-sestig voet - hoeveel dieper weet ek nie. Ek wil hier 'n paar feite aanhaal wat tot my kennis gekom het gedurende 'n reis deur die vallei van die Limpopo en die Laeveld van Soutpansberg 'n paar jaar gelede; feite wat my begrip van termietbouwerk aansienlik vergroot het. Die leser het waarskynlik dikwels gelees en foto's gesien van die enorme termietbouwerke wat in die meer tropiese dele van ons land aangetref word. Ek gee hier twee kiekies van twee mierneste, beide in die Laeveld van Soutpansberg afgeneem.Ga naar eind1. Die leser moet egter nie dink dat dié gevaartes uitsonderinge is en om daardie rede afgeneem is nie. Die teenoorgestelde is die waarheid. In sommige dele van die Limpopo-geweste is hierdie reuse-miershope 'n normale verskynsel van die gewone landskap. Dit was in die reëntyd, waaraan die donkerheid van die kiekies toe te skrywe is. Hulle is egter duidelik genoeg om die leser bekend te stel met die feite wat ek verlang om onder sy aandag te bring. Op kiekie A sien die leser 'n taamlike groot miershoop wat vir die doeleindes van padmaking middeldeur gesny is. Voor die gesnede kant staan drie mans besig met opmetinge, wat die leser 'n besef sal gee van die hoogte van hierdie kolos. 'n Ingenieur-vriend van skrywer, die heer Norman Hugel, het 'n noukeurige opmeting en berekening gemaak van die hoeveelheid grond wat die gebou bevat. Die miershoop het bestaan uit elfduisend sewehonderd en vyftig ton aarde! Die miershoop het behoort aan 'n klein Eutermes-soort, waarvan verskeie tekeninge reeds in hierdie uiteensetting gegee is. Dink daaraan: elfduisend sewehonderd ton, alles deur die klein werkertjies aangedra, klippie vir klippie, want Eutermes messel nooit met modder nie. Hulle gebruik alleen mikroskopiese klippies, waarvan elkeen eers skoon gevrywe en gepoleer en dan | |
[pagina 94]
| |
met 'n lymagtige sement omwoel word; waarna elke klippie presies op die regte plek in die muur geplaas word. En so het hulle grein vir grein elfduisend sewehonderd ton aangevoer. 'n Mens sou dink dat dit duisende jare moet geneem het. Dit was hopeloos om te trag om 'n skatting van tyd op enige stelsel van berekening te grondves. Ongetwyfeld moet dit 'n saak van eeue gewees het. En hier stuit ons weer op 'n donkere raaisel in verband met termietwerksaamheid, waarvan ek nooit enige melding deur ander ondersoekers gesien het nie. Die raaisel is eenvoudig dit: waar kom die enorme massas grond vandaan? 'n Mens sou stellig verwag dat daar 'n holte onmiddellik onder so 'n ophoping moet wees; 'n gat in die aarde van dieselfde grootte as die miershoop op die oppervlakte, want daar is g'n twyfel dat die steentjies vir die bouwerk van onder na bo gedra word nie. Maar so 'n holte is nog nooit blootgelê nie, nieteenstaande 'n menigte reuse van hierdie aard in alle dele van Afrika deurgesny is en sommige geheel en al weggevoer is vir die bou van paaie, spoorweë, huise, damme, vliegvelde en al die ander duisende bedrywighede van die beskaafde mens. Van Bulawayo se vliegveld alleen is twintigduisend ton miershoop weggery om die oppervlakte gelyk te maak. In al sulke gevalle - vernaamlik spoorweë, damme en swaar geboue - is die aarde sorgvuldig vir holtes getoets ná die miershoop verwyder is; en nog nooit is 'n eweredige holte onder so 'n miershoop blootgelê nie. Nietemin moet al die grond êrens uit die aarde kom. Die leser sal hom nog herinner hoe ek deur blote geluk die bron van die termiet se watervoorraad ontdek het, nadat dit vir jare 'n onverklaarbare raaisel was, en nadat ek tot die onvermydelike gevolgtrekking gekom het dat die termiete weet hoe om water uit die twee betrokke gasse saam te stel. Dit kom my nou voor dat as ek destyds beter opgelet en beter geredeneer het, hierdie holtelose miershope my tot die waarheid moes gelei het. In die eerste plek het dit miljoene gellings water vereis om al hierdie bouwerk te verrig en 'n ander onophoudelike stroom om in al die benodigdhede van die termiete self en van die inwendige van hul kolossale nes te voorsien. 'n Aansienlike rivierstroompie moet so 'n reuse-nes dag en nag binnevloei om die samestelling aan die lewe te hou. Skyn die uitleg nou nie onvermydelik nie: dat beide die water en die grond uit tallose klein gaatjies kom wat die termiete gedurig moet vermeerder om hul bouwerk op die oppervlakte en hul watervoorraad te vergroot, eweredig met die toename in bevolking? Die termiete het in hierdie opsig in 'n bose kringloop verval. Op kiekie B (sien voetnoot elders) verskyn 'n rotsgestapelde koppie, met naturellehutte en mense op die voorgrond, in die Sabie-vallei. Die hele koppie was 'n enkele miershoop van die gevreesde Termes bellicosus (die strydlustige termiet), waarvan 'n afbeelding hierby gegee word. Die kwaadaardige soldate van bellicosus kan so diep deur die mensehuid byt dat dit aansienlike bloeding kan veroorsaak. 'n Soldaat wat ek na Pretoria meegebring het, het vir meer dan | |
[pagina 95]
| |
'n week gelewe na verwydering van die nes. Hy kon dwarsdeur die hout van 'n vuurhoutdosie byt met 'n knal wat op 'n afstand van vier of vyf tree duidelik hoorbaar was. Hierdie koppienes het my ook 'n lastige raaisel aangebied. Nie vir een oomblik kon ek aanneem dat die termiete die enorme rotse deur hulle bouwerk opgelig het nie. Dit kon ek nie aanneem nie, nieteenstaande dr. Preller en ek klippe van tien en twaalf pond gewig hoog binne die miershope van Eutermes op Pelindaba gevind het wat alleen daar kon gekom het as die termiete hulle self opgelig het! Maar hier was daar rotse van honderde ton in gewig! Elke stukkie grond tussen en onder die rotse het bestaan uit 'n konstruksie van aangedraagde klippies, die werk van Termes bellicosus. Die waarskynlikste uitleg was dat die termiete eers al die oorspronklike grond tussen die rotse weggevoer het en toe vervang het deur hul aangedraagde klippies. Maar so iets het ek nog nooit van enige termiet gesien nie. En dan ontstaan nog die vraag: wat het hulle met die weggevoerde aarde gedoen? Want die ‘normale’ grond was weg! Ek noem hierdie geval slegs as een uit die tallose onverklaarbare probleme wat die termiet-ondersoeker gedurig verbyster. Gedurende hierdie reis deur die Laeveld het ek ook 'n reeks eksperimente gemaak om vas te stel in hoeverre en op watter wyse magnetisme termiete affekteer. Die heer Piet Haak van Pretoria het my goedgunstiglik van 'n dosyn van die sterkste staalmagnete voorsien. Dit het vir my egter spoedig duidelik geword dat my magnetiese veld veels te swak is. Om tot enige sekerheid te geraak, sal 'n baie kragtige elektriese magneet aangewend moet word. Daar is egter by my geen twyfel dat die magnetisme van die aarde die werk van alle termiete beïnvloed nie. Die leser sal hom ons diepteskag in Waterberg herinner wat slegs buigings had in die vlak suid-noord en geen buiging in die vlak ooswes nie. Dan is daar die ‘kompastermiete’ van Australië, wat hul miershope altyd met die dunste deursnee na die magnetiese noorde van die aarde bou. Die oorlede heer Claude Fuller beweer dat die punte van die miershope van bellicosus altyd oorhang in die regte westelyn. In die Laeveld het ons vasgestel dat die miershope van Termes bellicosus altyd smaller is in een rigting dan in die ander. 'n Regte lyn deur die wydste van die miershoop was altyd in die suiwere kompas-rigting oos-wes. Kiekie D (sien vorige opmerking - Red.) is 'n normale Bellicosus-miershoop wat die ‘oorhangpunt’ van Claude Fuller aantoon, asook die breë seksie oos-wes deur my vasgestel. In die nabyheid van hierdie miershope is 'n palmboom van 160 voet hoog. Deur die toeval het ek 'n gemesselde termietgang langs die stam op ontdek, wat tussen die blare verdwyn. Ons het ontdek dat die gang deur Eutermes-werkers gebruik word om water uit die top van die palmboom aan te dra na hul nes, wat sestig tree van die stam af lê. Ek het ook gedurende hierdie tyd van die kans gebruik gemaak om die bou- | |
[pagina 96]
| |
kuns van Eutermes noukeuriger waar te neem en tesame met die bouwerk het die vraagstuk van voedsel gedurig opgedoem. Claude Fuller en ander vermaarde termietkenners noem Eutermes ‘hooimakers’ en neem sonder enige twyfel aan dat die gras wat hulle aandra, as voedsel gebruik word. Wanneer jy 'n Eutermes-miershoop ondersoek, vind jy dat 'n groot gedeelte van die gange opgevul is met droë grasstingels van ongeveer 'n halfduim lank. Die gras word snags deur die werkers na die miershoop aangedra deur gange wat in alle rigtings uitstraal. In die gange is daar kamers waar 'n gedeelte van die aangevoerde gras weggepak word en in die miershoop self word sommige gedeeltes so vol gestop dat daar nouliks ruimte is vir soldate en werkers om deur te kom. ‘Voedsel’ sê my oorlede vriend Claude Fuller, en ‘voedsel’ sê alle ander ondersoekers sonder die minste twyfel of kwessie. ‘Voedsel’ - omdat daar so baie opgegaar word en omdat so 'n groot deel van hul werksaamheid daaraan gewy word. Daar was geen ander rede om ‘voedsel’ te sê nie. Geen mens het nog ooit 'n Eutermes-termiet gras sien eet nie, nòg het enige mens ooit ‘gras’ in die ingewande van 'n Eutermes-termiet ontdek. Ek moet erken dat ek baie jare gelede reeds die voedselteorie verwerp het. In die eerste plek het ek onder die mikroskoop seker gemaak dat die Eutermes-soldaat nooit onder enige omstandighede in staat is om droë gras fyn te kou en in te sluk nie. Ek twyfel sterk of die werker dit kan doen. Ongetwyfeld is sy monddele meer ontwikkel as dié van die soldaat, maar die hoëre ontwikkeling is slegs in bepaalde rigtings: om klippies aan te dra en te belym, en om vloeibare voedsel aan koningin en larwe toe te dien - ook om grasstingels af te knyp. Maar van fynkou en insluk is daar myns insiens geen sprake nie. Die tweede rede wat my tot hierdie gevolgtrekking gedwing het, was die feit dat ek nooit, onder die hoogste vergroting van die mikroskoop, enige tekens van gras binne die ingewande van soldate of werkers kon ontdek nie. Al wat ek kon vind, was 'n vloeistof wat alle tekens gegee het dat dit afkomstig was van die humus van die aarde en die vloeistof uit plantwortels. Later het ek kennis gemaak met sekere waarnemings in Suid-Amerika wat my in hierdie gevolgtrekking gesterk het. Ek het tevore in hierdie uiteensetting verklaar dat die lewenswyses van termiete en miere dikwels so eenders is dat die gedrag van die een 'n sleutel verskaf tot die gedrag van die ander. In Suid-Amerika en Mexiko is daar miere bekend as die ‘sambreeldraers’, wat ontsettende skade aan bome aanrig deur ronde stukkies uit die blare te knip. Dié laat hulle na die grond val, waar duisende ander werkers klaarstaan om die ronde stukkies op te tel en na die nes te vervoer. Sonder enige verdere ondersoek is altyd aangeneem dat die blare as voedsel gebruik word. Nou onlangs het 'n waarnemer in Mexiko vasgestel dat die miere die blare nooit eet nie. Dit word in digte massas aan die kant van die nes gepak waar die hitte van die son die sterkste is. Sy teorie is dat dit alleen dien om die nes teen die strale van die tropiese | |
[pagina 97]
| |
son te beskerm. Of dit nou reg is of nie, een ding lyk seker: voedsel is dit nie. Dit het by my opgekom dat dieselfde miskien Eutermes en hul grasstingels kan geld, maar ek kon nie aanneem dat Eutermes die gras bloot vir beskaduwing gebruik nie. Meestal was die wegpakking in hierdie rigting ondoelmatig. 'n Weinig noukeuriger bestudering het my oortuig dat die gras uitsluitlik in hul bouwerk aangewend word. As jy die kors van 'n ou dooie miershoop van
F.-Eutermes-werkers besig aan die bou van 'n boog deur gestadige toenadering van die twee symure.
Eutermes met water afspoel, sien jy die grasstoppels deursteek, nes penne op die rug van 'n ystervark, en as jy hulle nuwe bouwerk ná die eerste reëns onder 'n weinig vergroting gadeslaan, sal jy spoedig sien hoe die grasstingels gebruik word. Al die bouwerk van Eutermes gaan uit van die boog. Hulle is waarskynlik die eerste boumeesters op aarde wat die geheim van die boog ontdek het. Die mens was al duisende jare 'n beskaafde wese voordat hy die boog in die boukuns ontdek het. Daardie magtige boumeesters, die Egiptenare, het daar niks van geweet nie en het hulle beperk tot vertikale pilare met 'n kolos van 'n klip as dwarsbalk. Die Grieke en Romeine het die eienaardighede van die boog nooit | |
[pagina 98]
| |
begryp nie. Dit was in die middeleeue dat die mens vir die eerste maal tot 'n volstandige begrip van die waarde van die boog geraak het. Dit is uiters merkwaardig dat in die boukuns van die termiete twee stadiums in die menslike ontwikkeling van die boog bespeurbaar is. Laat ons nou terugkeer tot die nuwe messelwerk van Eutermes ná reën. Een gedeelte van die miershoop toon 'n donker kol. As jy dit onder die vergrootglas
G. - Eutermes-werkers besig aan die bou van 'n boog deur kruislegging van 'n grashalm, waarop dan stene gelê word.
bekyk, sien jy dat dit 'n nat kol is waar die buitenste kors verdwyn het. Dit is moontlik om 'n stukkie weg te sny sonder om soveel storing te veroorsaak dat die werk gestaak word. En dan sien jy vir die eerste maal die werk van die wêreld se eerste boumeesters. Al die bouwerk van Eutermes gaan van 'n boog uit. Die boog word op twee maniere gemaak: die eerste en die mees primêre is om die vertikale pilare skuins na mekaar te bou, totdat hulle mekaar ontmoet (tekening F). Dit is die wyse waarop die mens sy eerste boog bewerkstellig het. Maar elke agste werker wat uit die diepte opkom, het in sy bek 'n grasstingel in plaas van 'n klippie. Hy bestyg een van die pilare en vestig haastig een end van | |
[pagina 99]
| |
die stingel met 'n druppel lym aan die top van die pilaar, dan stryk hy terug sonder om ooit om te kyk wat met sy stingel gebeur. Dit is wat gebeur: Die grashalm sak stadig oor na die ander pilaar totdat die uiteinde presies op die top te rus kom. En daar staan 'n ander werker en wag. Sodra die end van die stingel binne sy bereik kom, rek hy sy lyf boontoe, pak dit met sy kake en trek dit af tot op die top van sy pilaar, waar hy dit met 'n druppel lym vassit. Oor hierdie kruisbalk word stene gepak totdat 'n volmaakte boog ontstaan. Maar dit loop nie altyd so af nie. Elke nou en dan bly die grashalm regop in plaas van af te sak. In sulke gevalle word die boog deur ‘toenadering’ voleindig en word die grashalm uiteindelik regop vasgemessel. Waarom die gras gebruik word, terwyl die termiete klaarblyklik in staat is met klippies alleen klaar te kom, weet ek nie. Miskien is dit 'n rudimentêre oorblyfsel van 'n beginsel wat aan verdwyn is. Maar wat ook al die geval mag wees, een ding lyk seker: dat Eutermes die grasstingels nooit as voedsel gebruik nie. |
|