Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd13 Die Termiete se WatervoorraadOndersoekers is in alle dele van die wêreld met die waarneming van die termietlewe besig. Twee feite in verband met al die selfopofferende arbeid is vir ons in Suid-Afrika 'n gedurige bron van verbasing. Die eerste is dat g'n enkele waarnemer tot dusver die sielkundige funksies van die koningin ontdek het nie en die tweede, nog verbasender feit, is dat g'n enkele waarnemer (selfs in die dorste streke van ons aardbol) ooit teen die geheimsinnigheid van die watervoorraad gestuit het nie. Bathellier, 'n Fransman, is in Indo-China besig, in streke wat seker net so dor is as Waterberg. 'n Engelsman, Carpenter, het sekere termietsoorte lank in Brits-Oos-Afrika bestudeer, Maxwell le Roy in Brits-Indië, 'n Duitser, Prell, in Duits-Oos-Afrika, die Belge Hegh en Ghesguière in | |
[pagina 88]
| |
die Kongo, Hill in Australië (Queensland) en 'n menigte in alle dele van Noord- en Suid-Amerika. Die gesamentlike werk van al die waarnemers maak - in boekvorm - 'n hele biblioteek uit. En by g'n enkele het dié twee vrae ooit ontstaan nie: (1) Waarom eindig die gesamentlike arbeid van werkers en soldate sodra jy die koningin vernietig; en (2) waar kry die termiete hul water vandaan? Die feite self het hulle nooit raakgesien nie: die aanhoudende voorraad water in die droogste jaargetye en die verandering van gedrag wat die vernietiging van die koningin ten gevolge het. As 'n mens die feit nie raaksien nie, kan die vraag en die onvermydelike ondersoek wat daarop volg, natuurlik nooit ontstaan nie. Ek wil hier ons waarneming omtrent die watertoevoer beskrywe. Dit het destyds 'n diep indruk op my gemaak - die waarneming self en die uitwerking daarvan op die oordeel en gemoedstemming van verskillende menslike toeskouers. Ek dink dat die gedrag van die menslike toeskouers miskien net so interessant was as die gedrag van die termiete. Die reine geluk het dit meegebring dat ons die kans had om maande lank die ontsettende stryd - want dit was 'n stryd op lewe en dood - voor ons te sien ontvou, oop en bloot, soos 'n rolprentdrama op die doek. Dit was gedurende die grootste droogte waarmee Waterberg tot dusver geteister was. Dit kan met sekerheid die grootste binne mensekennis genoem word, want op die plaas Rietfontein 1638, waar die waarneminge plaasgevind het, is 'n sestigjarige lemoenboord deur die droogte wortel en tak vernietig. Daar was baie bewyse in die natuur dat dit die toppunt (tot dié tyd) was van 'n stelselmatig toenemende droogte wat vir meer as driehonderd jaar stadig aan groei was. In 'n monografie wat ek destyds opgestel het, is toe vir die eerste keer verklaar dat die grootste deel van Suid-Afrika aan 't opdroë was.Ga naar eind1. Net agter die huis op Rietfontein is daar 'n reeks rante wat die plaas middeldeur sny. Op die kruin van die rant was 'n menigte miershope van ‘Waterberg’-termiete. Baie was lank reeds dood, maar net so baie was gedurende die toppunt van die droogte hard en lewendig. Die geheimsinnigheid van die watervoorraad het ons lankal gepla. Toe het dit 'n verbysterende raaisel geword. Die dampkring was so waterloos dat daar snags nooit 'n skynsel van dou was nie. Die hele oppervlakte van die plaas was deursny met myngragte en slote, en dit was waarneembaar (deur noukeurige verdamping) dat daar langs die rante, op 'n diepte van veertig voet, g'n spoor van water in die grond was nie. Met ontsettende arbeid het ons twee miershope bo op die rant oopgemaak. (In een was 'n kobra van agt voet wat die ou heer Gys van Rooyen en skrywer met gif betakel het. Ons het dit altwee in die gesig gekry, maar gelukkig nie in die oë nie.) In altwee gevalle was die paleisholte ses voet onder die oppervlakte in kliphar- | |
[pagina 89]
| |
de aarde. Die hele paleisholte, in altwee gevalle, en die paddastoeltuine was nat. In die paleisholte was die hitte twee grade bo die normale bloedwarmte van die mens. Oral in die ruimtes was waterwasem teenwoordig. Die koningin en al haar onderdane was van normale voorkoms. Die enigste eienaardige verskynsel was dat baie tuine in holtes naas die paleis opgedroog was. Waar kon al die water vandaan kom? Die leser sal glimlag as hy verneem dat ek uiteindelik plegtig tot die oortuiging geraak het dat die termiete op een of ander wyse water uit suurstof en waterstof fabriseer! Waar hulle die waterstof sou kry, was ook 'n onuitlegbare geheim. Maar die termiete doen baie wonderlike dinge - en dit, ten minste, was die enigste denkbare uitleg. Ons het eers op die spoor van die waarheid gekom deur die verklaring van die heer Jan Wessel Wessels, 'n praktiese natuurkenner van die eerste rang. 2 Hy het ons vertel dat hy twee keer in sy lewe in Betsjoeanaland in putte gesien het dat die termiete tot op ongelooflike dieptes vertikale skagte maak om water te bereik. Op sigself was dit 'n baie moeilike uitleg om aan te neem. Op die rant op Rietfontein sou hulle ten minste honderd voet regaf moes gaan om water te bereik. Ook het al ons pogings om die ingang van die diepteskag in die oopgemaakte neste te kry, misluk. Later het ons die rede ontdek. Dit was alleen die alombekende en sekere geloofwaardigheid van die heer Wessels wat ons die uitleg laat aanneem het. En toe bring die geluk dit mee dat ons die ding self kon gadeslaan en die hele werking van naby kon nagaan. In die droogte was die mense ook aan water soek. Bo teen die genoemde rant was 'n kol groen bosse wat sterk afgesteek het by die verdroogde veld. Die heer Van Rooyen dag dat daar water moes wees ('n geloof waarin hy deur 'n waterwyser gesterk is), en 'n begin is dadelik gemaak met 'n vierkantige skag in die middel van die groen kol. Toe die skag ongeveer dertig voet diep was, het die werkers ons vertel dat daar vir die hele diepte in die noordelike wal 'n ‘miergat’ sigbaar was. Die leser sal begryp dat ons die wonderwerk dadelik noukeurig bestudeer het. Die eerste feit wat ons gekonstateer het, was dat die nes waarmee die diepteskag in verbinding was, minstens dertig voet van die kant van die put geleë was. Ons het die hele tonnel blootgelê en ook 'n gedeelte van die tuine naas die paleisholte. Laasgenoemde het ons met 'n houtdeksel weer toegemaak, sodat ons dit te eniger tyd kon bekyk. Ons het toe gesien dat die diepteskag nie direk onder die nes afgaan nie, maar op die uiteinde van 'n gewone horisontale tonnel. Daarom was dit dat ons dit nie in die oopgemaakte neste kon kry nie. Ons kon toe ook op 'n feit in verband met termietgedrag gekom het wat ons sou gehelp het om die bestaan van 'n diepteskag te vermoed selfs voor ons dit gesien het. As die grond nat is, in reëntyd, dan begin die werkers dadelik met die herstel van enige letsel aan die kors. In die droë jaargetye neem dit ure - soms dae - voor die boumeesters hul ver- | |
[pagina 90]
| |
skyning maak en met die werk voortgaan. Geen wonder nie as elke werkertjie honderd voet moet afgaan om sy messelstof te kry! Maar ons het nooit daaroor gedink nie. 'n Ander merkwaardige feit in verband met die diepteskag was dit: In een vlak, oos-wes, was daar hoegenaamd g'n buiging nie. In die ander vlak, suid-noord, was daar gedurige en nodelose buigings van die skag. Dit het meegebring dat die diepteskag altyd sigbaar was in die noordelike wal van die put, nieteenstaande die buigings oos en wes. Die vertikale rigting op een vlak was natuurlik 'n groot besparing van arbeid vir die termiete; maar waarom nie absoluut vertikaal nie? Dit het (soos alles wat die termiete doen) byna volmaak gelyk, maar nooit heeltemal volmaak nie; slim in een rigting en baie dom in die ander. Dit was egter moontlik dat die magnetiese pole van die aarde 'n uitwerking gehad het op hierdie werk van ons termiete. In Australië is daar een termietsoort wat 'n lang miershoop maak, altyd presies noord en suid parallel met die magnetiese lyne van die aarde. In hierdie geval is daar min twyfel dat die bouwerk bepaal word deur die magnetiese pole van die aardbol. So merkwaardig was die buigings, slegs in een vlak van ons termiete se diepteskag dat ons ook maar voorlopig kan aanneem dat die vertikale rigting in een vlak te danke is aan die magnetisme van die aardbol. Oos-wes is daar g'n kraglyne om die termiete in 'n vertikale rigting te hou nie. Elke twee of drie voet in die skag was daar 'n klein, wit tuinkoekie, droog en onbeplant. Maar die leser sal onthou dat ons waarskynlik nooit meer as die helfte van die skag gesien het nie. Op veertig voet is die put opgegee, omdat die grond toe nog horingdroog was en die waterwyser mnr. Van Rooyen 'n reusagtige voorraad op vyf-en-twintig voet belowe het. Die afstand van die nes tot op die bodem van die put was vyf-en-sestig voet; en hier het die miere se skag in die grond verdwyn. Dit was byna seker dat daar tuinkoekies dieper en nader aan die water was. Ons het gedurig werkers wat uit die skag opkom, mikroskopies ondersoek, en byna almal het lewende hylae (d.w.s. saad klaar om te plant) in hul liggame gehad. Ons het dadelik sekere dinge vermoed: (1) Dat die samestelling g'n enkele dag in die ontsettende droogte sonder water kon lewe nie; (2) dat dit die enigste skag was waarlangs water kon toegevoer word, want selfs vir werkers soos die termiete, sou dit jare neem om dié diepte te bereik; en (3) dat hulle verplig sou wees om die skag te gebruik nieteenstaande hulle ingewortelde afkeer van blootstelling aan lig. Van 'n nuwe skag was g'n sprake nie, en daar sou g'n kans wees om die bestaande skag weer toe te maak nie, want haas, haas en nogmaals haas moes die krygskreet van die termiete wees in die onophoudelike stryd waarmee hulle besig was. Die uitslag het bewys dat ons vermoedens in elke opsig reg was. Dit was een van die seldsame gevalle waar 'n mens met sekerheid kon profeteer. | |
[pagina 91]
| |
En toe het ons maande lank kans gehad om die verskriklike stryd gade te slaan en trapsgewyse al die verskynsels te leer en te verstaan. Gedurende dié tyd het ons die skag te alle ure van die nag besoek, van sonsondergang tot sonop, en nooit by een geleentheid het ons vir een oomblik 'n staking van die werk bespeur nie. Daar was selfs nooit enige bespeurbare vermindering nie. Ons het 'n menigte werkers in die skag een dag met anilien-blou gekol en kon toe konstateer dat hulle nooit rus of slaap nie; dat hulle dag en nag werk; dat dieselfde werkers wat ons in die dag gekol het, in die nag nog besig was met onophoudelik af- en opklim. Dit is merkwaardig dat ons in die begin nie die indruk gekry het van die haas en ontsteltenis wat later ontwikkel het nie. Daar was twee strome werkers, regs af en links op, en die orde is tot op die laaste gehandhaaf. Die twee strome was enkel en in gansorde en daar was 'n gemiddelde ruimte van twee duim tussen elkeen. Gemerkte werkers het in die begin gemiddeld 'n halfuur geneem om die einde van die skag te bereik en weer terug na die nes te kom, met hul lading uit die diepte. Later is die tydperk verkort tot gemiddeld twintig minute. En toe bemerk ons dat die hele toedrag van sake aan verander was. Daar was 'n stadig toenemende konsentrasie op die diepteskag. Die strome word dikker en dikker en 'n indruk van algemene vervaardheid maak sy verskyning. Dit het ons lank geneem voordat ons die werklike rede ontdek het. Ons kon sien dat hulle met iets besig was wat al die krag en weerstandsvermoë van die samestelling in beslag geneem het - maar wat presies was dit? Daar was 'n feitlik algehele staking van herstelwerk. G'n poging is aangewend om die diepteskag weer toe te maak nie. 'n Aangebragte wond in die kors van die miershoop is eenvoudig so gelaat, terwyl werkers en soldate van die geweste verdwyn. Ná 'n week of tien dae verskyn 'n dun kordon soldate op die rand van die breuk, en dan wend die werkers sporadiese pogings tot herstel aan. Die nodige boustof word ook uit die diepteskag aangevoer. My eie vermoede was dat al die ontroering en verhoogde sirkulasie op die paleisholte gekonsentreer was, en dat die aanvoer van water na die koningin, larwes en soldate die doel was. Ek wis dat die koningin enkel 'n sak vloeistof was; dat sy elke vier-en-twintig uur gemiddeld honderd-en-vyftigduisend eiers lê; en dat sy vir die doeleindes van al haar funksies 'n gedurige en massiewe voorraad water moes opgebruik, terwyl die liggaam van elke termiet vir negentig persent uit suiwer water bestaan. Maar die verskaffing van water aan lewende termiete was nie die enigste rede vir hierdie verhoogde polsslag nie. Toe ons die buitenste tuine blootgelê het, merk ons dat daar 'n lyn is wat die tuine gelykmatig deursny en waarop gedurig 'n horde werkers krioel. Ons het een ding vergeet: dat vir koning en koningin, vir soldate en larwes die tuine net so noodsaaklik was as die watervoorraad. Die tuine (soos ons reeds heeltemal duidelik gemaak het) is spysverterende organe | |
[pagina 92]
| |
waarsonder die samestelling g'n enkele dag kan bestaan nie. Al die bogemelde ordes is absoluut afhanklik van die tuine. Die werkers is die enigste orde wat voedsel in die eerste stadium van vertering kan gebruik. Die tuine is die maag, die gewei en die lewer van die samestelling. Die werkers is die mond en tande. Dit het langdurige en noukeurig observasie vereis om die enorme konsentrasie op die tuine te verstaan. Ons bemerk uiteindelik dat al die tuine aan die buitekant van die genoemde sirkellyn uitgedroog was. Hulle was nog gedurig aan uitdroë; en op die lyn van verdroging was die grootste konsentrasie. Dit was 'n verskriklike beleëring, so woedend voortgesit dat werkers en soldate g'n oomblik rus had nie. Dit was 'n stryd teen die stadig insluipende dood waarin die verdediging dag of nag g'n respyt had nie. Die werkers was besig om op die lyn van verdroging hylae te plant en te besproei, en elke saadkorreltjie en elke druppel water moes hulle honderd voet diep uit die aarde aandra. Vyf-en-sestig voet van die afstand was aan ons sigbaar. Gedurende elke nag was daar 'n veranderende aanwins vir die verdediging. Die lyn word, gedurende die koel tyd, wanneer verdamping die minste is, miskien 'n half- of kwartduim na buite gestoot, en elke dag word die aanwins weer verloor. Gedurende die warm ure dring die droogte stadig weer na binne. Dit was gedurende die stilste ure van die nag dat die indruk van die hewigheid van die stryd die mees gemoedstorend geword het. Met die blote oor kon jy uit alle hoeke van die nes die onophoudelike getrompetter van die soldate hoor. Dit was 'n gedurige alarm-blaas waarvan die blote geluid die gevoel van dodelike angs weergee. En onder die elektriese soekliggie gaan die rustelose stroom gedurig voort, seker en doeltreffend soos die noodlot self. Niks stoor hulle, niks van buite skrik hulle af nie. Die dood van duisend enkelinge maak geen die minste indruk op die stroom nie. Vaag en dof het ons begin besef wat die stryd om die bestaan in die natuur beteken. |
|