2 Hesperiese Neerslagtigheid
Hesperiese neerslagtigheid is 'n psigologiese toestand wat by dagtropdiere voorkom; wat by die hoër aapsoorte duidelik waarneembaar is en wat by die mens as 'n nuttelose oorblyfsel in enkele gevalle sy verskyning maak; ook kom dit by die mens voor as 'n patologiese toestand. Die inval geskied geleidelik met sonsondergang en hou vol solank die skemer voortduur. Met toename van die nagtelike donker verdwyn dit.
Die natuurkundige voordeel van dié verskynsel as 'n normale toestand by tropdiere sal duidelik word in verloop van die artikel.
By laer soogdiere, soos byvoorbeeld bosbokke en rooibokke, sou dit moeilik wees om bepaald neerslagtigheid te konstateer. Al wat waarneembaar is, is dat die trop stil word en in 'n digte klomp bymekaartrek. Die lammers bly so dig by die moeders as moontlik. Die ooie vergaar in een klomp, met die groot ramme in 'n kring buite-om. Die trop hou op met wei en gee die indruk van bedeesde waaksaamheid, asof hulle iets te wagte is. 'n Mens sou geneig wees om dadelik aan te neem dat die gedrag te wyte is aan normale nagtelike strategie; maar sodra die skemer in donker oorgaan, begin die gewone lewe van die trop weer. Hulle begin weer wei, gaan uitmekaar, en in die donkerste van die nag trek hulle water toe. Die jonges speel meer in die donker as gedurende die dag. Dié toestand is meer bepaald simptomaties by tropdiere wat in bosse lewe.
Dit sou moeilik gewees het vir 'n waarnemer om 'n besef te vorm van die psigologiese toestand wat gedrag van dié aard veroorsaak, as dit nie was dat daar 'n onafgebroke ketting van soortgelyke gedrag waarneembaar is deur al die soogdiere tot by die hoër aapsoorte en die mens, wanneer die oorsaaklike sielstoestand nie langer in duister gehul is nie. Dit is 'n natuurlike en praktiese gevolgtrekking dat, daar die gedrag gelyksoortig is, die sielstoestand wat dit veroorsaak, ook van dieselfde aard moet wees.
By vergelyking van sielstoestande in die dierlike wêreld is die enigste weg om die toestande af te lei uit die gedrag, en in die hoogste beroep is die mensesiel en menslike gedrag altyd die kriteria van beide die waargenome gedrag en die sielstoestand.
Daar is sekere sielstoestande, die hele dierlike wêreld gemeenskaplik, waarvan die uitwendige uitdrukking ons vir geen oomblik in twyfel laat nie. Woede, byvoorbeeld, kan ons dadelik in enige dier lees, selfs by eerste kennismaking. Die toorn van 'n skerpioen, leeu, of 'n bul is almal dadelik herkenbaar, en ons is seker daarvan, omdat ons dieselfde sielstoestand deelagtig is en op gelyksoortige wyse uitdruk. Daar is egter duisende ander gedragsoorte waarvan ons die oorsprong nooit kan deurgrond nie, omdat ons dit nie kan terugbring op enigiets soortgelyks in ons eie siel nie. Daar is geen mens wat weet waarom