(1) 'n Klein wilde bobbejaan is skielik, by die aanvang van die nag, in 'n pikdonker kamer opgesluit. Daar was onmiddellik 'n geweldige geskreeu, wat skielik stil word. Toe die deur na 'n paar minute geopen is, was die diertjie bewusteloos in stuipagtige katalepsie. Later het die dood gevolg.
(2) 'n Klein mak bobbejaantjie. 'n Onsigbare geweer was by hom so gestel dat by die aanraking van 'n piesang hy die skoot moes aftrek. (Hy was altyd baie bevrees vir vuurwapens van enige aard.) Die skrik het onmiddellike bewusteloosheid en katalepsie veroorsaak.
(3) 'n Volgroeide wyfie. 'n Dooie pofadder was skielik om haar nek so gebind dat sy dit nie kon afruk nie. Diep bewusteloosheid met katalepsie.
'n Ander jong, mak bobbejaan wat hom eenmaal bewusteloos geskrik het vir 'n pofadder, het so vatbaar vir die toestand geword dat dit moontlik was om hom te hipnotiseer deur blote vertoning van die slang vlak voor sy gesig. Die simptome, tot op sekere hoogte, was presies soos dié wat die toestand van hipnose in die mens voorafgaan. Eers word die hand slapagtig uitgestrek; die kop sak op die bors, en die dier sak bewusteloos ineen. Daar was gewoonlik in hierdie geval algemene liggaamlike slapheid, maar as jy hom dadelik opneem en tussen twee takke stel, sodat sy hande een gryp en sy voete die ander, dan het hy dadelik in 'n toestand van katalepsie geraak. Elke spier van die liggaam was so verstyf dat hy tussen die twee takke uitgestrek bly hang het. Met die terugkeer van die bewustheid het die spiere stadig verslap. Die voete raak los, sodat die dier aan sy arms hang. Sodra hy ten volle weer bykom, val hy van die tak en kom op sy voete te lande.
Ek het vir 'n lang tyd proefnemings met verskeie jong Afrikanermeisies, asook met nie-blanke mans en vroue, gemaak. Dit was moontlik deur ‘suggestie’ om die spiere van selfs 'n swak gehipnotiseerde mens so te verstyf dat die liggaam tussen twee stoele met die agterhoof op een en die hakke op 'n ander reguit vir 'n onbepaalde tyd kon bly. Hulle kon selfs 'n aansienlike gewig op die middel van die lyf verdra. Hierdie toestand van katalepsie gedurende hipnose is natuurlik algemeen bekend en word dikwels deur toneelhipnotiseurs op die verhoog gebesig om die verwondering van die gehoor te verhoog. Ek beskryf dit hier enkel om aan te toon hoeveel dit ooreenstem met die kataleptiese toestand in die bobbejaan, en om daaruit af te lei dat die toestande in alle waarskynlikheid gelyksoortig is.
Wat die bobbejaan betref, is die toestand waarskynlik 'n oorblyfsel wat deur sy oervoorouers gebesig is as 'n beskermingsmiddel en wat nou deur sy vyande tot sy verderf gebruik word.
Die bergtier, die vyand by uitstek van die wilde bobbejaan, gebruik twee maniere om sy prooi te bemagtig. Die een is om die trop voor te lê, teen die aand, by die terugkeer na die slaapplek, om een afgedwaalde te gryp en dood te byt of, ten minste, die rug af te byt. Sodra hy dit gedaan het, vlug die rower vir