grondheid van die uitdrukking: ‘Ek het my lam geskrik.’ Dit is moontlik vir 'n geoefende operateur om onmiddellik die diepste stadium van hipnose deur skrik te veroorsaak. Die mees doelmatige tegniek is om die pasiënt skielik en onverwags met die regterhand vas onder die ken te gryp, die hoof 'n weinig agteroor te ruk en met die vingers van die linkerhand die hoogste werwelbene van die ruggraat vas te druk. Die gevolg in baie gevalle, is onmiddellike en algehele bewusteloosheid.
(Dit is byna onnodig vir my om te waarsku dat hipnose nooit vir ligsinnige doeleindes behoort gebruik te word nie - en dan alleen deur 'n geoefende. In hierdie skrik-hipnose - asook in gewone hipnose - bestaan die gevaar dat die toestand voorafgegaan word deur 'n geweldige histeriese aanval wat maklik chroniese patologiese toestande as gevolg kan verwek.)
Die tweede, en miskien die vernaamste, element in die veroorsaking van die hipnotiese toestand by die mens is 'n indruk van aanhoudende eentonigheid. Wanneer 'n roofdier sy prooi hipnotiseer, begin hy eers deur skrik te veroorsaak of iets gelykstaande met skrik; daarna gaan hy voort met 'n eentonige beweging, of geluid, om die toestand tot 'n stadium te verdiep waar sy slagoffer nie langer in staat is om teëstand te bied of om te worstel nie. As die leser die voorbeelde in die vorige artikel nagaan, sal hy sien dat dit altyd die toedrag van sake in die natuur is. By die mens word dieselfde proses gewoonlik deur die operateur uitgevoer. Ná die atmosfeer van vrees of vreesagtige ontsag daargestel is, word die toestand deur eentonige manipulasie verdiep. Drie verskillende sintuie mag gebruik word: die gesig, gehoor of gevoel. Die verdere stadiums van hipnose kan bereik word deur die stipte aandag van die pasiënt op 'n enkele punt te vestig; deur 'n eentonige beweging voor sy oë (soos die swaai of aankruip van die slang). Tweedens kan 'n eentonige geluid gebesig word: die stem van die operateur; die tik van 'n klok, ens. En derdens: eentonige aanraking - soos vrywe op 'n sekere wyse van die voorhoof. Die laaste metode is altyd gebesig deur professor Von Krafft-Ebing, van Wenen, die alombekende outeur van die Psychopathia sexualis; gesigseentonigheid was die geliefkoosde proses van professor Charcot, van die Salpêtrière, wat 'n blink en snel-draaiende wiel gebruik het om al sy pasiënte tegelyk te hipnotiseer. In die beroemde Nancyskool is die eentonige mensestem gebruik, onder die indruk dat dié toestand geheel en al deur suggestie bewerkstellig is. Die operateur staan agter die pasiënt en deur gedurig op: ‘Slaap, slaap,’ aan te dring, in 'n sagte, slepende stem, word spoedig die eerste stadium van hipnose teweeggebring.
Ek sal later terugkeer na die Nancy-leer. Ek is daarvan oortuig, en ek dink dat ons dit ten volle deur eksperimente bewys het, dat dié leerstelling geheel en al verkeerd is. Die woord suggestie in verband met hipnose (wat vandag gedurig gebesig word) is verkeerd en misleidend. Dit is nooit suggestie wat die hipnotiese toestand teweegbring nie, dit is die aanhoudende suggestie: of, liewer, die