saak daarvoor te noem - dikwels baie slim en vernuftig. Dat hy 'n ‘bevel’ uitvoer, weet hy egter nooit.
Dit, kortliks, is wat na-hipnotiese suggestie beteken.
Dit is egter nie alleen direkte bevele wat die onderwerp uitvoer nie: as die operateur 'n toestand van sake voorstel wat in werklikheid nie bestaan nie, sal die onderwerp daarop reageer asof die sinnebeeldige toestand werklik bestaan. Jy kry hier dikwels gelaatsuitdrukkinge en gedrag wat menige akteur of aktrise sou beny. Aan 'n onderwerp is bv. vertel dat 'n kussing 'n huilende babatjie is. Hy het onhandig probeer om die kleintjie aan die slaap te sus. Daarna is aan hom gesuggereer dat daar 'n leeu in die kamer is. Die vertoning van vrees deur gelaatsuitdrukking en gebare en die latere pogings om die gevaar te ontvlug, was uiters realisties. Van wat gebeur het, herinner die onderwerp hom egter niks wanneer hy ‘wakker word’ nie, tensy die herinnering ook die gevolg van 'n na-hipnotiese suggestie gemaak word.
(Dit lê te ver buite die doel en strekking van hierdie artikels om aan te dui die wyse waarop hipnotiese suggestie as terapeutiese middel gebruik word en die waarskynlike grense van bruikbaarheid. Daar bestaan hieroor 'n massiewe bibliografie wat in enige groot boekery geraadpleeg kan word.)
Daar is nog een toestand waarvan ek reeds terloops gewag gemaak het, wat nie juis onder ‘suggestie’ val nie, maar wat, as 'n simptoom van die hipnotiese toestand, hier inskakel. Hierop wens ek weer die aandag te vestig.
Spontaan in die diepste stadium van die hipnotiese toestand (en ook as gevolg van direkte bevel in enige stadium) verskyn somtyds algemene katalepsie. Elke spier van die liggaam verstyf op 'n wyse wat onder normale omstandighede vir die onderwerp absoluut onmoontlik is. Selfs in 'n swak onderwerp ontstaan 'n spierspanning wat die uiterste kragsinspanning van 'n atleet ver sou oortref. 'n Voorbeeld hiervan is waar die onderwerp met die nek en enkels op die leunings van twee stoele neergelê word. Dit is moontlik om ongelooflike gewigte op hom te plaas sonder enige buiging. Die spiere het die gevoel en voorkoms van onbuigbare hout. Die toestand is van belang omdat dit in die natuur ook voorkom; en dit sal derhalwe van waarde wees wanneer ons die natuurlike herkoms van die hipnotiese toestand opspoor.
Ons het dus twee afsonderlike simptome van die hipnotiese toestand: (1) die verhoogde gevoeligheid vir suggestie, en (2) katalepsie. As ons teorie gegrond is dat hipnose in die mens in werklikheid 'n afwykende ontwikkeling is van natuurtoestande, dan sou die ondersoeker verwag om êrens 'n spoor van hierdie twee simptome in die natuur te vind.
Laat ons eers die vatbaarheid vir suggestie neem. Ek wil aan die hand gee dat dit hierdie beginsel van ‘suggestie’ is wat die roofdier in staat stel om sy gehipnotiseerde prooi in die hande te kry. Wanneer die gehipnotiseerde bobbejaan op sy veilige rotsspits (soos in 'n vorige artikel uiteengesit) eenvoudig sy hande