6 'n Paradys van Weleer
Die landstreek ten noorde van Magaliesberg, vanaf Hornsnek tot ver by Wolhuterskop verby, was in die ou dae deur geheel Transvaal bekend as Agter-die-Berg. Dit was destyds 'n onderskeidingsterm net so bepaald as Hoëveld, Bosveld en Laeveld.
Agter-die-Berg was ongetwyfeld die Paradys van Transvaal. Skrywer is op Daspoort gebore en ons familie het die Agter-die-Berg-mense as ons naaste bure beskou. Altwee paaie na Pretoria, een oor Silkaatsnek en een oor Hornsnek, het oor ons werf gegaan. Langs die werf, waar die sementfabriek nou staan, had ons 'n watermeul waarvan die meeste van die inwoners van Hornsnek-Hartebeestpoort gebruik gemaak het. Die sogenaamde Moot, van die Apiestot aan die Krokodilrivier, was destyds bekend as 'n onvrugbare streek met swak weiding - behalwe die rivierplase self.
Niemand kan vandag 'n denkbeeld vorm van die onderskeid wat destyds tussen die Moot en Agter-die-Berg bestaan het nie. Dit was asof jy 'n nuwe wêreld binnetree sodra jy Hornsnek of Silkaatsnek oorgaan. Altwee nekke was swaar en selfs gevaarlik, met ongemaakte paaie, vreeslike steiltes, met kort draaie deur gevaarlike valle begrens. So, altans, leef die opwekkende passate nog voort uit my kinderlike herinneringe. Met sekere families van Agter-die-Berg was ons intiem bevriend. Met die Fouries van Wildebeesthoek was daar 'n intimiteit wat voortgeduur het totdat die hele vorige geslag tot die vadere vergader was. Daar was wederkerige besoeke - natuurlik in groot ossewaens - waaraan die hele gesin gewoonlik deelgeneem het.
Die besoeke aan Agter-die-Berg was ligkolle in my eerste kinderlike gewaarwordings wat alleen met my lewe sal eindig. Ou oom Josef (die gewone uitspraak was ‘Josop’), grootvader van ons beroemde Afrikanerheld Jopie, was destyds nog eienaar van die hele plaas. Daar was gewoonlik gedurende die besoek 'n gesamentlike reis deur die Bosveld tot aan die Rustenburgse grens. Elke insident van die towerreise leef nog baie helder in my geheue, maar wat ek die beste van alles onthou, is die pragtige reeks plase teen die hang van die berg. Hier het ons waens en families uit alle dele van Transvaal en die Vrystaat teengekom wat Agter-die-Berg besoek om graan, meel, vrugte (droog en vars), brandewyn, tabak en ander landbouware te handel, meestal vir vee.
Niemand kan vandag van die weelde wat destyds Agter-die-Berg bestaan het, die geringste denkbeeld vorm nie. So geil en vrugbaar was hierdie geseënde geweste dat vrugte, en bruikbare gewas van alle aard, in werklikheid wild gegroei het. Magaliesberg-tabak was deur geheel Suid-Afrika beroemd as die fynste opbrengs in ons land te vinde; en Magaliesbergse brandewyndruiwe, -perskes, en -stamvrugte was, in Transvaal altans, veel hoër gewaardeer dan