7 Waar die Wêreld Verkeerd om Wentel
Boshof is 'n Vrystaatse dorpie ongeveer dertig myl van Kimberley. Dit is geleë binne die sogenaamde ‘woestyngebied’, wat groot gedeeltes van Betsjoeanaland, die Vrystaat en Noordwestelike Transvaal beslaan.
In vroeër dae was Boshof 'n ware oase in die woestyn. Die omgewing is nie juis inspirerend vir mense wat natuurskoon alleen vind in die grootste verskyning van bome, berge en riviere nie. Hier is alleen die eensame en oneindige vlakte, besaai met klein koppies en rantjies van swart ysterklip.
En dan is daar panne. Boshof is te midde van die grootste pannestreek binne die grense van die Unie. Nou, helaas! is die panne meestal leeg. Vroeër het Boshof self 'n onuitputlike watervoorraad besit, en die dorpie was wyd en syd beroemd om sy pragtige vrugtetuine en blomme wat die strate in die somer van 'n kleurvertoning voorsien het waarvan die weerga ver sou gesoek moet word.
In groot reënjare, as die panne vol word, is die distrik in 'n nuwe wêreld herskep. Dit was die toevlugsoord van miljoene watervoëls, waaronder 'n menigte besoekers uit Midde-Afrika en selfs van die Nyl - so het natuurkenners destyds vasgestel. Daar was een reënjaar toe die grootste van die panne - Karree - oorstroom en met Prinspan aangesluit het, en daarvandaan was daar een breë waterweg, van pan tot pan, tot in die Vaalrivier.
Dit lyk of Boshof so 'n verbasende verskynsel nooit weer sal beleef nie. Die watervoorraad van die dorpie is tot op die grens van wegdroging verminder, en deur die hele distrik het die watervlak dieper en dieper gesak en tegelyk minder geword. Vroeër was Kimberley uitsluitend van Boshof afhanklik vir al sy groente en vrugte. Vandag lewer die dorpie vir eie gebruik selde genoeg.
Dit is merkwaardig dat hierdie klein dorpie in die woestyn eertyds verbonde was aan die name van verskeie merkwaardige persoonlikhede. Ek wil slegs van een hier melding maak, omdat hierdie artikel werklik met 'n geheel ander oogmerk geskrywe is. Hier in Boshof het die ou heer James Bain die laaste jare van sy lewe deurgebring. Bainsvlei naby Bloemfontein was sy oorsponklike woonplaas. In Boshof het die ou man die laaste jare van sy lewe geslyt in die aanlegging en onderhou van 'n wondertuin. Niemand het Boshof in dié dae besoek nie sonder verlof te verkry om die hoog-ommuurde praghof van plante te deurwandel. Weinig mense het geleentheid gehad om die huis binne te kom. In die laaste jare van sy lewe was die ou heer 'n ware kluisenaar. Al die kamers van sy huis was vol boeke gepak. Hy had o.a. 'n verbasende versameling Suid-Afrikaanse boeke, pamflette, prente en handskrifte.
In sy jong dae het hierdie merkwaardige man geen onaansienlike rol in die openbare lewe van die Vrystaat gespeel nie. Geen beroemde reisiger het die binneland van Suid-Afrika besoek sonder Bainsvlei aan te doen nie, en van die