| |
8 Die Wêreld se Mees Gevreesde Slang
Nieteenstaande Suid-Amerika en Indië 'n veel gunstiger omgewing verskaf, is Afrika nog die land van grootheid wat die organiese lewe betref. Ons het veel meer groot diersoorte dan enige ander vasteland op aarde. In byna alle soorte staan Afrika die eerste, behalwe in een - slange. In beide Suid-Amerika en Indië (altwee by uitstek slanglande) is daar constrictors veel groter dan ons luislang, waarvan slegs een soort deur geheel Afrika gevind word. In die twee ander genoemde lande is daar 'n groot hoeveelheid verskillende soorte, waarvan die grootste egter waterslange is wat nooit buite die groot riviere aangetref word nie.
Maar in een slangsoort staan Afrika vér bo alle ander lande, en wel in 'n soort waar dit die minste te wagte sou wees; naamlik giftige slange. Ons mamba of makoppa is sonder twyfel die grootste giftige slang in die wêreld. Die twee wat waarskynlik die naaste aan hulle kom, is die dodelike fer de lance van die Oos-Indiese eilande en die hamadryad of koning-bakkop van Brits-Indië.
Dit was tot nog toe onmoontlik om met sekerheid vas te stel hoe groot die mamba word, omdat daar geen verkrygbare gegewens bestaan nie. Alle be- | |
| |
staande syfers hang grootliks af van mondelinge getuienis. Wat in my besit is - onbetwyfelbare getuienis - is die volgende: (1) Die oorlede heer Karel van Heerden van Swaershoek, Waterberg, het met sy skoonseun die plek afgemeet waar 'n mamba dwarsoor die pad gelê het. Die lengte van die reptiel was agtien voet. (2) In een van die myndorpies naby Barberton het 'n mambavel teen die muur van die kantien gehang wat ongeveer agtien voet lank was. (3) Ongeveer 'n maand gelede het enige Vaderland-mense op 'n besoek aan Rooiberg uit 'n geloofwaardige bron gehoor van 'n loodslang onlangs in die nabyheid geskiet, wat een-en-twintig voet lank was! (4) Ek het ook geloofwaardige getuienis omtrent 'n ander opgesette eksemplaar in die distrik Lydenburg wat vier-en-twintig voet (by skatting) gemeet het. (5) Die langste mamba wat ek persoonlik geleentheid had om te meet, was 11½ voet. Dit was 'n loodslang, op die wal van Magalakwên gedood.
As ons alle gissings en skattings uitsluit, dan kan met sekerheid aangeneem word dat 'n makoppa van minstens twintig voet in Transvaal aangetref is. Hoe ontsettend groot dit is, sal die leser besef wanneer hy tegelyk onthou dat die grootste constrictor of luislang wat ek ooit in my lewe gesien het, 19½ voet lank was.
Die mamba is tegelyk ook, sonder enige twyfel, die giftigste slang in die wêreld. Selfs die gevreesde klein daboia van Indië wat ongeveer 'n voet lank word, is nie so dodelik soos die mamba nie. Ek weet nie of die gif van die mamba juis dodeliker is as dié van die pofadder of van enige ander giftige slang nie, maar die mamba is in staat om met sy byt meer gif in te spuit dan enige ander bekende slang. Die gifkliere van 'n tien voet lange mamba is minstens twintig maal so groot en bevat twintig maal soveel gif as dié van die grootste pofadder. Die gifkliere van die mamba strek aan elke kant van die long (die slang besit slegs een long) byna die gehele lengte van die lyf. 'n Tienvoet-mamba met volle gifkliere kan 'n gewone koppie vol gif in sy slagoffer spuit. Met so 'n ontsettende dosis direk in die bloedstroom gelos, het die menslike liggaam hoegenaamd geen kans om die nodige hoeveelheid af te skei voordat die dood intree nie. En die dood kom snel in geval van mambabyt. In gevalle waar 'n aar geraak word, duur dit sekondes. In gevalle waar min gif ingespuit is, kan dit van twintig minute tot drie of vier uur strek.
My jarelange verblyf in Waterberg, toe die noordelike gedeelte (die Bosveld van Waterberg) en die Springbokvlakte nog totaal deur blankes onbewoon was, het my geleentheid verskaf om tamelik dikwels in aanraking met die gevreesde makoppa te kom, en ook van gevalle te hoor wat in my onmiddellike nabyheid voorgekom het.
Die eerste maal wat ek 'n swart makoppa gesien het, was in Swaershoek op die plaas Rietvlei, toe bewoon deur die vier Van Heerden-broers wat deur geheel Waterberg bekend was om alles wat in die mens minlik en aantreklik is.
| |
| |
Twee van hulle - oom Karel en oom Piet - is helaas! enige jare gelede reeds die ewigheid ingegaan.
Swaershoek het sowat dertig jaar gelede 'n ongewenste vermaardheid deur die gehele noorde erlang wat mambas betref. Tot ná die Engelse oorlog was die makoppa op Rietvlei totaal onbekend. Sedert die aanleg van die plaas 'n mensegeslag tevore is geen enkele mamba ooit binne die bakens van Rietvlei of myle en myle ver in die omtrek gesien nie. Die meeste inwoners van Rietvlei het nooit tevore in hul lewe 'n swart mamba gesien nie. (Die oorlede here Karel en Piet van Heerden was waarskynlik die enigste uitsonderings in hierdie opsig.) Enige jare ná die Engelse oorlog is die eerste swart mamba op Rietvlei gesien. Twee jong veewagters het 'n swart slang in 'n boom in die veld gesien en hom vanaf 'n veilige afstand met klippe bestook. Dit het een geluk om die reptiel die rug af te gooi, en hulle het die aand die dooie slang huis toe geneem om die oubaas die onbekende dier te toon. Dit was 'n swart mamba van ongeveer ses of sewe voet. Hoe onbekend die makoppa destyds op Rietvlei was, kan hieruit afgelei word dat groot verskil van mening onder die bewoners geheers het omtrent die identiteit van die onbekende slang. En toe, binne enige maande, was Rietvlei vergewe van mambas. Daar was 'n tyd dat 'n mens slegs met lewensgevaar die vrugteboord van die heer Van Heerden kon besoek. Dit was gedurende hierdie tyd dat ek Rietvlei die eerste maal besoek het om die gasvryheid van my beminlike vriende daar te geniet. Ek het laat die eerste middag by die woning van die heer Piet van Heerden aangekom. Die huis is skilderagtig geleë teen 'n steil ruie kop, met 'n hoë veranda wat 'n pragtige uitsig oor die vrugteboord en lande verskaf. By die onderent van die vrugteboord is 'n rietvlei en 'n groot populierbos. 'n Kweperlaning versper die boord aan die een kant en links van die huis, tussen hierdie kweperlaning en die groot watervoor, gaan die grootpad na die noorde. Hierdie beskrywing moet in geheue gehou word omdat dit dit betrekking het op wat ek verder
gaan vertel omtrent die mambas van Rietvlei.
Onmiddellik ná my aankoms hierdie eerste middag het die gesprek spoedig oor mambas gegaan. Dit was met aansienlike huiwering dat ek die onderwerp geopper het, want daar het kort tevore 'n verskriklike tragedie op Rietvlei plaasgevind waarvan die herinnering nog vars en teer was. Die enigste seun van my gasheer, die heer Piet van Heerden, is tussen die vrugteboord en die huis deur 'n mamba in die kuit gebyt. Hy het net lank genoeg gelewe om die huis te bereik en sy moeder te vertel. Voordat die heer Van Heerden self, of die naaste mense, van die geval in kennis gestel kon word, was die seun reeds dood. Hy moes in die laaste oomblikke die vreeslikste foltering deurstaan, want hoewel snel, is die dood deur makoppa-vergiftiging nie maklik nie. Die seun was agtien jaar oud.
Ek het die heer Van Heerden vertel dat ek nooit tevore 'n mamba gesien het
| |
| |
nie, en ek het so baie van die mambas van Rietvlei gehoor, dat ek die hoop koester om een te sien te kry gedurende my verblyf in Swaershoek. Hy het hom bereid verklaar om so gou moontlik my begeerte in hierdie opsig te bevredig. Twee swartes is dadelik geroep, aan wie die heer Van Heerden 'n haelgeweer en 'n paar lang kieries oorhandig het, met die bevel om so gou moontlik 'n makoppa in die hande te kry.
Ongeveer twee uur later - net voor sononder - kom die twee by die huis aan met 'n swart mamba van tien en 'n kwart voet. Dit was die eerste maal dat ek die pragtige lyne en wonderlike kleure van die swart makoppa kon bewonder. Ek het dadelik begryp waarom die swart mamba deur sommige mense groen genoem word. (Daar is natuurlik 'n ware groen makoppa - so groen soos die boomlower waarin hy woon.) Die slang vertoon alleen in 'n donker skadu as volstandig swart. In direkte sonlig is die kleur weerskynend met glanse van purper en metaalgroen.
Wat sy lyne betref, as daar ooit 'n slang vir spoed gemaak was, dan is dit die makoppa. En in werklikheid loënstraf hy sy vorm nie. Daar kan nooit op aarde 'n slang wees wat sneller dan die makoppa oor die toppe van struikgewas, deur die takke van bome of op die blote grond kan beweeg nie. Daar is geen ongevleuelde dier wat nader aan vlieg kom nie. Om 'n groen of vaal makoppa deur takke te sien beweeg, gee altyd die indruk van 'n pyl uit 'n boog. Anders dan die meeste slange maak hy op die gelyke grond geen kronkelende bewegings as hy vinnig gaan nie, daarom is sy spoor net so reguit as dié van 'n fietswiel op 'n sagte pad.
Ná die dood van die heer Piet van Heerden se seun was daar 'n reeks ongelukke en gevaarlike voorvalle op Rietvlei en in die omtrek. Dit sou 'n boekdeel verg om alles te beskrywe wat hier tussen die mens en hierdie dodelike gevaartes gebeur het. Laat ek slegs enkeles noem wat die lewendigste in my geheue voortlewe.
'n Klein seuntjie is in die nek gebyt terwyl hy onder die skadu van 'n boom naby die huis sy skoolles aan 't lere was. Twee klein seuntjies was besig om bessies om 'n rysknop te pluk toe hulle op 'n afstand 'n geblaas hoor; toe hulle omkyk, sien hulle 'n swart makoppa op volle vaart, met opgehewe voorlyf, na die rysknop aankom, waar sy verblyfgat was. Die seuntjies het dadelik op loop gegaan na die familietent, wat ongeveer tweehonderd tree van die rysknop gestaan het. Een was ongeveer tien en die ander ses jaar oud. Die kleinste was taamlik ver agter toe sy broertjie 'n angskreet hoor. Toe hy staande bly en omkyk, was dit net om die mamba te sien slaan. Dit blyk toe dat die ondier die vlugtende seuntjies agtervolg en die kleinste ongeveer dertig tree van die rysknop ingehaal het. Hy het hom in die nek gebyt en die ongelukkige klein slagoffer was op die plek dood asof hy 'n koeël deur die hart gekry het.
In 'n ander geval had 'n jong dame van ongeveer agtien jaar twee van haar
| |
| |
skoolmakkers by haar op vakansiebesoek. Op 'n sekere aand, net met sononder, stap die drie gearmd na die veekraal om die melkery by te woon. Op weg moes hulle deur verskeie plate dwerg-wag-'n-bietjie gaan, en by een geleentheid laat die jong dame haar 'n klein uitroepie ontval: ‘Soe, hoe steek die wag-'n-bietjie-dorings my!’ Sonder 'n verdere opmerking is hulle na die kraal. Daar het sy aanhoudend begin kla oor die ongewone brand van die doringsteekplek. Spoedig het sy begin naar word, met hewige pyn in die been. Toe die plek ondersoek word, is onmiddellik die twee wonde van 'n slang se slagtande herken. Sy is dieselfde nag dood voordat die naaste geneesheer die plaas kon bereik.
Die ou heer Piet van Heerden (en 'n meer onbevreesde mens wat slange betref het ek nooit in my lewe gesien nie) het meer noue ontkomings gehad van deur mambas gebyt te word dan enige mens van wie ek ooit gehoor het. Terwyl hy met 'n swartman deur die veld loop, voel hy skielik 'n loodswaar gewig wat sy wandelstok byna uit sy hand ruk. Dit was 'n reus van 'n mamba wat sy slagtande in die kierie vasgeslaan het. Hy het sy aanvaller met die kierie bestorm en doodgeslaan, terwyl die swarte, sonder om om te kyk, die hasepad kies. By 'n ander geleentheid is hy deur 'n groot makoppa in die middel van die rietvlei bestorm. Hy was op 'n klein voetpad wat die vlei kruis na die woning van die heer Willem van Heerden. Hy was so kreupel van jig dat hy nouliks kon loop. Met die poging om sy gesig met sy twee loopkieries te beskerm, slaan hy neer net toe die slang hom bereik. Hy lê doodstil en draai stadig sy kop om sy aanvaller binne gesig te kry; en toe sien hy bo hom twee makoppas - 'n mannetjie en 'n wyfie - met gekruisde nekke, waarvan een 'n gedurige geblêr van woede uiter.
'n Amerikaanse ingenieur - die heer Ford - en ek is eenmaal deur 'n mamba oor die boomtoppe bestorm. Ons was in 'n kar met ses muile bespan en het net op 'n lang hoogte uitgekom, tussen Rooiberg en Krokodilrivier. Daar was ruie bosveld met groot bome aan elke kant van die pad. Terwyl ons op die hoogte stilhou om die muile te laat blaas, hoor ons dieselfde geblêr wat die heer Van Heerden beskrywe het. Met die verkyker sien ons bo-op die top van 'n plat doringboom, ongeveer driehonderd tree van die pad, twee groot slange met gekruisde nekke, waarvan een verantwoordelik was vir die geblêr. Ons had by ons 'n klein outomatiese rewolwer, en die heer Ford begin skiet op die slange - sonder natuurlik die minste kans om hulle te raak of selfs met die koeëls te bereik. Skielik sak een van hulle weg; daar was 'n geruis van blare en 'n paar sekondes later verskyn die slang op 'n boom nie tien tree van ons af nie. Ons Boesmandrywer het soos 'n sak mielies aan die teenoorgestelde kant van die kar in die pad neergestort, waar hy as 'n lyk bly lê het totdat alles verby was. Die heer Ford en ek was op die agterste bankie waar daar geen kans vir vlug was nie. Ons het onsself so plat gedruk as wat enigsins in die beknopte ruimte moontlik was. Die slang het ons bedreig met hoog verhewe voorlyf en kop van
| |
| |
kant tot kant swaaiende. Nooit in my lewe het ek ooit die weerga van so 'n skouspel van dreigende boosheid en woede gesien nie. Ek het tevore die bedreiging van 'n gekweste leeu gesien, maar hy was by die makoppa nie te vergelyk nie. Die lang, smal kop was na vore gebuig, die kake was wyd oop sodat ons duidelik die sneeuwit slagtande in die bokaak kon sien, terwyl die gesplitste swart tong vinnig soos 'n vlam uit en in beweeg. Ons aanvaller het egter geen hoorbare geluid gemaak nie, maar van die een wat nog op die oorspronklike boom agtergebly het en daar orent staan, kom onophoudelik die geblêr van woede of waarskuwing. Dit was die wyfie wat die geluid maak. Ek het dikwels van ou jagters en van swartes van die gevaarlike ‘blêr-slang’ gehoor en dit altyd as 'n ongegronde legende beskou; hier moes ek ontdek dat die ‘blêr-slang’ die mamba in die paartyd is.
Ons het tien minute so inmekaar doodstil bly sit, toe die slang stadig neersak en terugseil na sy maat. Ons is met 'n groot omweg deur die bome en het die makoppas nie weer gewaar nie.
Ten laaste wil ek nog een geval noem wat 'n diep en onuitwisbare indruk op my gemaak het - dit is die dood van 'n oue en diep beminde vriend, die heer Jan Wessel Wessels. Jare agtereen het ons elke jagtyd onder grootwild saam deurgebring. Die heer Wessels, behalwe al sy ander beminlike karaktertrekke, was 'n verbasende natuurkenner, en dit was 'n voortdurende genot om met hom in die veld te vertoef. Hoe dikwels het hy my nie snags by die vuur van al sy ontmoetings met makoppas vertel nie, en hoe goed het hy nie die slang en al sy eienskappe geken nie. Min het ek toe gedroom dat hy deur 'n makoppa 'n verskriklike dood sou moet verduur. Maar so was dit. Terwyl ander lede van 'n klein jaggeselskap onder aan die Klein-Galakwên besig was om 'n heuningnes onder die wortels van 'n boom uit te haal, het die heer Wessels in die nabyheid onder die skadu van 'n ander boom gaan sit. Hy was onwetend langs die verblyfgat van 'n makoppa. Die slang het hom van agter bestorm en in die nek gebyt - 'n geliefkoosde plek vir 'n aanvallende makoppa - en my arme vriend was dood voordat mediese hulp hom kon bereik.
Bostaande is min of meer persoonlike ontmoetings met hierdie mees gevreesde slang in die wêreld. Dit sal egter van belang wees om enkele historiese voorvalle te beskrywe ten einde die leser 'n beter begrip te gee van die aanvallende optrede van die makoppa.
In verband hiermee word dit my veroorloof om 'n kort verklaring te maak omtrent 'n boek onlangs uitgegee en geskrywe deur die heer Fitzsimmons van die Port Elizabethse slangpark. In hierdie boek het die heer Fitzsimmons my die eer aangedaan om verskillende mamba-insidente, vroeër deur my in 'n Engelse oorsig beskrywe, oor te neem, sonder egter my naam te noem. Ek sou geen beswaar hierteen gehad het nie, indien die heer Fitzsimmons hom tevrede gestel had met 'n juiste aanhaling van my beskrywings. Dit het hy egter nie ge- | |
| |
doen nie. Hy het stukkies van sy eie bygevoeg, waarskynlik met die doel om die voorval meer dramaties te maak. Dit kom my egter voor dat hy alleen daarin geslaag het om hulle onwaar te maak! Sommige van die voorvalle (wat gebeur het lank voordat die heer Fitzsimmons Engeland verlaat het en sommige selfs voor sy geboorte) het die heer Fitzsimmons beskrywe as 'n gebeurtenis waarby hy self teenwoordig was! Ek is tot hierdie verduideliking geregtig omdat sommige van die mense wat deelgeneem het aan die voorvalle wat mnr. Fitzsimmons in sy boek dramatiseer, nog lewe, en mag dink dat dit ek was wat verantwoordelik was vir die onwaarhede in die beskrywings.
Om een oomblik na Swaershoek terug te kom. Dit sou onmoontlik wees om die ongelooflike uitgestrektheid van die verpesting te vergroot. Neem egter die volgende as voorbeeld: Die mambas was in die gewoonte om snags in die rietvlei deur te bring. Vroeg in die oggend kom 'n menigte uit, op langs die kweperlaning. Dan kruis hulle die grootpad regs van die huis, geniet 'n bad in die groot voor en dan klim hulle die steil rant uit, om dassies te jag. Dit was dikwels moontlik om verskeie nog nat ná die bad teen die rant te sien uitseil met die weerskyn van gepolyste staal in die helder sonlig. Langs hierdie kweperlaning het die heer Andries van Heerden (seun van die heer Piet van Heerden) by een geleentheid die slange 'n week lank voorgesit. Binne een week het hy tweeen-vyftig mambas in die laning doodgeskiet!
In hierdie pad het die heer Piet van Heerden een van sy vreeslikste ontmoetings met 'n mamba gehad. Hy was in 'n karretjie met een perd bespan, en had langs hom sy kleinkind, 'n seuntjie van sowat vyf jaar oud. Net toe hy die hek nader wat toegang tot die werf verleen, staan 'n ontsettende mamba uit die gras langs die pad orent en bedreig hom met die gewone gebuigde nek en oop kake. Daar was geen ruimte om met die kar om te draai nie, en die heer Van Heerden had geen wapen by hom nie. Dadelik druk hy die kind plat voor die sitbank en plaas sy eie bene oor hom om hom ten minste vir die aanval te beveilig. Toe gee hy die perd 'n paar harde rapse en skiet verby in volle galop. Gelukkig het die slang nie gebyt nie, waarskynlik verskrik deur die skielike beweging. Toe die heer Van Heerden by die huis aankom, het hy gou die gelaaide haelgeweer gegryp (wat altyd op die stoep klaarstaan) en teruggegaan om met die groot slang af te reken. Toe hy op die plek terugkom, was die slang net deur die groot voor en was besig om die oorkantse wal te beklim. Sodra hy die heer Van Heerden in gesig kry, vlieg hy om en storm reguit op hom af. Die eerste skoot is op 'n afstand van ongeveer vyf-en-twintig tree gelos terwyl die slang in die water was.
Dit was mis; die tweede net toe hy die naaste wal bereik, weer mis! Die heer Van Heerden had gelukkig een los patroon in sy hand. Hy moes die geweer oopruk, een dop uithaal en die loop weer laai, alles terwyl die mamba soos 'n bliksemstraal op hom aankom. 'n Hakdoringbossie het sy vaart gelukkig 'n paar sekondes vertraag. Die derde skoot het die heer Van Heerden op hom ge- | |
| |
los een tree voor sy voete net toe die mamba hom oplig om sy slag te lewer. Hy het die skoot deur die keel en die nek gekry. Toe hy neerslaan, was sy kop nie meer dan drie duim van die heer Van Heerden se voorste voet nie.
Swaershoek was nie geheel eienaardig wat hierdie infestasie betref nie. Bastersnek in die Hangklipgebergte was voor en gedurende die Engelse oorlog net so berug om 'n besetting van loodslange - die vaal mamba. So volop en gevaarlik was hulle 'n tyd voor die oorlog dat geen nie-blanke in enige omstandighede die nek wou deurgaan nie. Gedurende die oorlog moes by een geleentheid 'n klein patrollie van ons mense Bastersnek oorgaan op weg na Potgietersrus. Soos gewoonlik het hulle die hele nag deur getrek en toe hulle die pas in enkel kolom langs 'n voetpad nader, was die meeste van hulle vas aan die slaap op die perde. Skielik staan 'n groot makoppa langs die voetpad orent. Die offisier aan die hoof van die kolonne was wakker en had net tyd om sy perd uit die pas te pluk en 'n waarskuwing uit te roep. Die tweede manskap het sy voorbeeld gevolg, maar die derde was vas aan die slaap en het sy flou perd ongehinderd laat voortgaan. Die mamba byt hom in die dikte van die been bo die knie. Die oorlog het ons manskappe geleer om gou by hulle positiewe te raak. Ooggetuie verklaar dat dit geen vyf sekondes geduur het nie voordat die jongkêrel begryp het wat gebeur het. Sonder om 'n oomblik te aarsel het hy van die perd gespring, sy skerp jagmes uit die skei getrek, die bytplek met 'n stuk van die rybroek saam in die ander hand gepak en met een sny uit sy been verwyder. Toe hy die stuk vlees op die grond neergooi, besef die toeskouers vir die eerste maal wat hy gedaan had. Hy het natuurlik 'n verskriklike wond veroorsaak en verskeie slagare deurgesny. Die naaste dokter was ure te perd ver. Die been is dadelik met 'n toerniket verbind, en die verwonde is met 'n begeleiding van twee man op die sterkste perde deurgestuur. Hulle het die dokter betyds bereik en sy lewe is gered. Daar was geen teken van vergiftiging nie, maar die gevaar van dood te bloei, was 'n tyd lank byna net so dreigend as wat mamba-vergiftiging sou gewees het.
In dieselfde bergreeks het jare gelede 'n ander verskriklike tragedie plaasgevind. 'n Jonggetroude paar het 'n plaas aan die voet van die berge bewoon. Die jong man is op 'n sekere Saterdagoggend voort om in die berg te gaan skiet. Hy het die nag nie opgedaag nie, en die volgende dag het sy jong bruid boodskappers na die bure gestuur om hulp te vra. 'n Soektog is op tou gesit wat 'n week lank vergeefs die woeste berge deurkruis het. Stadigaan het meer mense bygekom totdat 'n klein kommando aan die soektog deelgeneem het, tesame met die naaste blanke en naturellepolisie. Geen spoor of teken van die verlore jongman is egter gevind nie, en die soektog is opgegee en die teorie algemeen aangeneem dat die jongkêrel van een van die menigte kranse geval en sy liggaam op 'n onsigbare lys te lande gekom het.
Meer dan 'n jaar daarná kom 'n nie-blanke-heuningjagter op 'n mensege- | |
| |
raamte af. Dit was onder 'n ruie bos en nog in vergane klere geklee. Die polisie is in kennis gestel en 'n lykskouing gehou. Die geraamte het op die rug gelê met die geweer daarlangs. Wat had hom die lewe ontneem? In een hand van die geraamte was nog vasgedruk 'n vergane stuk papier, wat hy uit 'n sakboekie geskeur het, en 'n stukkie potlood. Waarskynlik het hy 'n laaste boodskap (waarskynlik aan sy jong bruid), net voor sy dood, geskrywe, maar die papier was so vergaan dat geen merkie daarop herkenbaar was nie. Dit het dus gelyk asof die oorsaak van sy dood vir altyd 'n geheim sou bly: maar toe die verflenterde klere van die bene afgetrek word, word onverwags die geheim geopenbaar. Bo die knie van een been was sy doek gebind en met 'n stokkie vasgewoel. Dit was 'n toerniket wat hy in die haastigheid toegepas het, helaas! tevergeefs. Die plek waar die geraamte gevind is, was die middelpunt van die gevaarlike makoppabesetting van Bastersnek. |
|