ba is binne minstens die helfte van Transvaal en Natal so goed bekend dat enigeen sig alleen belaglik aan duisende lesers sou voorstel om vandag hierdie wêreldbekende en algemeen aangenome feit te betwyfel.
Ek herinner my 'n ander geval waar ek geleentheid had om die spoed van 'n aanstormende mamba deur boomtakke waar te neem. Wyle die heer Charles Pienaar (Sekretaris van Justisie en een tyd handelsgesant van die Unie in Europa), die heer Melt van Niekerk (vroeër van die Departement van Landbou) en skrywer was enige jare gelede met 'n ossewa op 'n skiettog langs die Magalakwen̂̂. Mnr. Melt van Niekerk (tans woonagtig in Gezina, Pretoria), was een dag vooruit en het ons uitspanplek op 'n taamlik hoë wal bepaal, waar daar egter water vir ons diere in die bedding was. Die wal was hier minstens vyftig voet hoog en aan ons kant loodreg, maar 'n paar honderd tree hoër op was 'n skuinste wat toegang tot die bedding vir ons osse verskaf het. Die walle van die rivier was dig begroei met groot bome, wat tot onder in die bedding langs die wal feitlik aanmekaar was. Ons het in 'n klein kaalte van ongeveer vyftig tree in deursnee uitgespan. In hierdie kaalte, onmiddellik bo-op die steil wal, was 'n tuitmiershoop ongeveer vyftien voet hoog.
Net nadat ons uitgespan het en terwyl twee van ons volk die osse na die water in die bedding aanja, het die here Van Niekerk, Pienaar en ek tot by die groot miershoop geloop. Terwyl ons teenaan die miershoop staan, hoor ons skielik 'n geweldige alarmgeroep van die volk onder in die rivier, ongeveer driehonderd tree van ons af. Ons herken spoedig die woord ‘Makoppa! Makoppa!’ en binne 'n paar sekondes sien ons die slang in ons rigting deur die takke van die bome aankom. Ek sê dat ons die slang gesien het, maar dit is nie juis nie. Wat ons gesien het, was 'n blitssnelle voortgaande beweging deur die blare. Die leser moet verstaan dat die slang van onder uit die loop op moes kom en minstens vyftig voet moes styg om die oppervlakte van die wal, waar ons toe staan, te bereik en die afstand was minstens driehonderd tree. Die twee swartes - soos ons later verneem - het plat in die sand geval en doodstil gelê totdat die gevaar verby was! Ek sal nie trag om die tyd in sekondes te bepaal nie, maar so blitssnel was die vaart van die slang om hierdie genoemde afstand deur die bome af te lê dat geeneen van ons drie selfs 'n beweging tot veiligheidsoeking kon maak nie.
Die heer Melt van Niekerk was in die posisie van die grootste gevaar. Hy was tussen die aanstormende slang en die miershoop. Maar die leser moet verstaan dat ons nooit een oomblik gedink het dat ons in gevaar verkeer nie. Die naaste boomtak was sewe tree van ons af, op dieselfde hoogte as die top van die miershoop; d.w.s. ongeveer vyftien voet. En toe had ons geleentheid om die wonderlikste toer van 'n mamba te sien wat een van ons ooit belewe het. Die slang pyl reg op die miershoop af sonder om een minuut te stuit. Toe hy op die uiteinde van die tak bo ons koppe kom, skiet hy, soos 'n pyl uit 'n boog, reg na die punt van die tuit. Net onder die tuit was 'n ronde gat ongeveer ses duim in deursnee.