die agterbene aan die ander! Nòg mooipraat nòg uitskel het die minste uitwerking op Ou Leeu gehad. Ons het hom dikwels ver van die kamp gespan; dit het niks gehelp nie. Ons was skaars onder die komberse of Ou Leeu was tussen ons om sy nagtelike wag waar te neem. 'n Ander - en veel meer aangename - gewoonte was, sodra ons oplaai en die tuie reggooi, om aangestap te kom en sy plek naas sy tuig in te neem. Dit was derhalwe nooit nodig om Ou Leeu te span of vas te bind nie.
Of sy nagtelike toevlugneming in die kamp die gevolg was van sy avontuur met die leeu, weet ek nie. Dit mag natuurlik die gevolg gewees het van 'n algemene oorlogsherinnering wat die kamp of laer saamgevoeg het met die idee van algemene beskerming of veiligheid. Maar ek wil hier een voorval van dieselfde jagtog vertel waarvan die sielkundige uitleg veel meer eenvoudig en seker is.
Soos ek reeds erken het, was ons glad nie gretig om met die polisie kennis te maak nie. By een geleentheid, op ons terugtog, was ons langs 'n ou toegegroeide jagpad op die wal van klein Magalakwên uitgespan. Die rivier het gestaan, met kuile hier en daar. Net regoor ons staanplek was 'n ruie rieteiland, maar daar was nie water nie. Hierdie eiland was dig begroei met groen gras en ons het dadelik die muile daar ingejaag, want die veld op die wal was droog en skraps. Op die bome het ons biltong en velle uitgehang. Ons was hier net so veilig as ons in die middel van die woestyn sou gewees het. Hier sou nooit polisie of selfs reisigers kom nie.
Terwyl ons om die vuur gerus en tevrede sit, bars daar skielik 'n rumoer deur die stilte asof daar 'n bom tussen ons gebars het. Dit was 'n geskreeu waarvan ons nooit tevore die weerga gehoor het nie. Ons gryp al drie na die geweers!
Dit was nie lank voordat die oorsaak sigbaar word nie. Van die oorkantste wal kom Ou Leeu, deur die sandbedding, in volle galop met sy kop omhoog, sy bek wyd, terwyl hy 'n geluid uitbasuin wat seker nog nooit uit die keel van 'n muil gekom het nie. Hy storm reg tussen ons deur om langs die wiel van die veerwaentjie te stuit en ewe bedaard te gaan staan asof niks gebeur het nie.
Wat makeer die muil? Ons het hom dadelik van alle kante noukeurig visenteer. Ons het al drie aan slangbyt gedink, want die rivier was vergewe van mambas, maar ons kon g'n teken aan Ou Leeu vind nie, en hy was toe so stil en bedaard dat hy seker aan g'n pyn lydende was nie.
Geeneen van ons het aan die oorlog gedink nie, wat tien jaar tevore geëindig het.
Uiteindelik het een van die geselskap 'n uitleg aan die hand gegee wat ons moes aanneem: dit was dat Ou Leeu van die ander drie muile op die eiland afgedwaal het na die oorkantste wal, en dat sy skrik die gevolg was van die skielike ontdekking dat hy alleen was en sy maats uit sig.
Ons het weer gaan sit en Ou Leeu het by die wiel bly staan sonder 'n beweging.