Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 11]
| |
Die Siel van die Mieraant.1 Die Begin van 'n TermietnesEnkele jare gelede het 'n artikel oor miere deur dr. Hesse in 'n Afrikaanse tydskrif verskyn. Byna alles wat deur natuurkundiges van miere vertel word, is altyd belangrik en interessant en dr. Hesse se stuk (soos te verwagte was) was buitengewoon interessant. Maar die stuk het ook gedien om nogmaals een feit helder te laat uitblink: hoe vreeslik min daar in ons land gedoen word in verband met die studie van dierlike gedrag en hoe baie reeds in ander lande gedoen is en nog elke dag gedoen word. Al wat dr. Hesse vertel, is die uitslag van lang en geduldige ondersoek in Europa en Amerika. Niks daarvan is presies toepaslik op Afrikaanse miere en termiete nie. Die lewensloop van die meeste van ons mier- en termietsoorte is in alle opsigte net so wonderlik, net so interessant as enigiets wat ooit in Suid-Amerika ontdek is. Die skrywer hiervan het vir 'n tydperk van tien jaar ons miere en termiete af en toe bestudeer in verband met 'n ondersoek in dierlike sielkunde. Die ondervinding is toe opgedaan dat so 'n ondersoek byna elke dag wondere aan die dag lê. Om net een ding te noem: die werking van die gemeenskaplike siel van 'n miershoop is vir ons, mense (met glad 'n ander soort van siel), net so wonderlik en geheimsinnig as telepatie of enige van die beweerde werkinge van die menslike verstand wat op die grens van die onwaarskynlike en onmoontlike lê. As 'n mens oor al hierdie dinge wil skrywe, dan staan jy verbysterd voor 'n werklike ‘embarras de richesse’. Jy weet nie waar om te begin nie. Ek wil iets vertel van die gewoonste van ons termiete; en wat ek gaan vertel, sal elke belangsteller self kan gadeslaan en miskien nog meer leer as wat ek weet. Sover ek weet, het nog nooit iets in populêre tydskrifte verskyn van die feite wat ek sal aanhaal nie. Die meeste daarvan is selfs aan die wetenskap onbekend. Die gewone Afrikaanse wit termiete,Ga naar eind1. wat so skadelik is aan hout van enige aard, en wat miershope bou in die oop veld, is deur ons hele land bekend - en nie altyd gunstig nie. Ek sal iets vertel oor die begin van hul gemeenskaplike lewe. Die begin van 'n nes is wanneer die miere vlieg: ná reën en gewoonlik met skemerdonker, ten einde aan hul tallose vyande te ontkom. Hier reeds stuit jy op 'n wonder van instink. Die miere wat vlieg, weet niks van vyande af nie. Hulle was nog nooit tevore buite die nes nie. Die bestaanstryd is vir hulle | |
[pagina 12]
| |
'n geslote boek en tog, in nege uit tien gevalle, vlieg hulle nie voordat die voëltjies al aan die slaap is nie. Dit sal te lank neem om te vertel van die wording en voeding van die vlieënde miere. Dit is genoeg om te sê (wat die meeste Afrikaners weet) dat hulle minstens twintig maal so groot is as die ander termiete van die nes, en geheel anders van vorm en kleur. Jy moet 'n miernes beskou as 'n enkele dier waarvan die ledemate, anders as by die mens, nog nie inmekaargesmelt het nie. Een klas is die mond en voedingstelsel, 'n ander is die kloue of horings vir verdediging en 'n ander is die geslagstelsel. Die vlieënde miere is die geslagstelsel van 'n kolonie. Elkeen van die vlieënde miere is 'n toekomstige koning of koningin. Dit neem maande vir die vier pragtige vlerke om te groei en tot volmaaktheid te ontwikkel en dan neem dit weer maande - in dor streke van ons land selfs jare - voordat die miere 'n kans kry om te vlieg. Voor 'n goeie reën geval het, sal hulle nooit vlieg nie; en die rede lê voor die hand: hulle moet dadelik onder die grond kom; en as die grond hard en droog is, kan hulle nie. Volg nou die miere noukeurig vandat hulle uit die nes kom. Hulle kruip by die duisende uit die gaatjie. Daar is blykbaar groot opgewondenheid in die nes. Somtyds kom hulle gemeng met werkers en soldate uit. Die eerste ding wat die vlieënde mier doen as hy uitkom, is om te probeer vlieg. Hy maak allerhande bewegings met sy vlerke en as hy hom nie van die grond kan lig nie, klim hy op die naaste grashalm en stort hom in die lug van 'n hoogte af. Maar hy moet vlieg, al is dit net vir 'n afstand van ses duim. Netnou sal die leser sien waarom die werklike vlug vir die mier noodsaaklik is, net so noodsaaklik as die beskerming van sy lewe, en daarom doen hy net soveel moeite om te vlieg - miskien nog meer, want die sielsdrang is sterker - as om sy bestaan te beskerm. Laat ons een mier goed dophou. Die toeskouer sal dadelik gewaar dat een doel van die vlieg verspreiding is - net soos die saad van 'n plant. Sommige miere styg hoog in die lug en trek myle voordat hulle neerstryk; ander sak 'n paar tree van die ou nes af grond toe. Maar naby of ver - vlieg moet hulle, anders is die grootste doel van hul lewe verydel. Volg nou een wat naby die nes in die gras neersak. Ons sal veronderstel dat dit 'n wyfie is (die twee geslagte is nie met die blote oog te onderskei nie). Die eerste ding wat sy doen, is om haar vlerke kwyt te raak. Dit geskied deur 'n bliksemsnelle beweging - so vinnig dat die oog dit nie kan volg nie. Een minuut sien jy haar met haar vier vlerke intak: die ander minuut stap sy weg, en daar lê die vier vlerke in die gras - baie, baie gouer as 'n dame haar feesgewaad uittrek en oor 'n stoel hang. Dit het maande geneem vir die vlerke om te groei, jare miskien het sy onderaards met hulle gelewe - alles net vir die één moment. Vir 'n tydperk van drie sekondes en 'n afstand van miskien drie tree het sy die verruklike heerlikheid van vlieg geniet en daarmee is die doel van die groot werk bereik, en die fabelagtige vlerke word weggegooi soos die mens 'n ou afgeleefde baadjie. Net ná sy haar vlerke kwytgeraak het, stap sy vir 'n paar sekondes vinnig heen en weer. Jy kan dadelik aan | |
[pagina 13]
| |
haar hele gedrag sien dat sy 'n geskikte plek soek vir een of ander doel - 'n doel wat vir jou nog duister is en wat haar hieropvolgende gedrag nie dadelik ophelder nie. Jy moet geduldig kyk en wag as jy wil sien wat sy van plan is om te doen. Net soos sy 'n plekkie na haar sin gekry het, doen sy 'n baie snaakse ding: sy gaan staan op haar voorpootjies en hef driekwart van haar liggaam reg in die lug op; en so bly sy doodstil soos 'n mierstandbeeld. As jy nou ongeduldig word en wegstap, sal die groot geheim van die vlieënde miere vir jou 'n geheim bly. Wat doen sy? Sy is besig om 'n draadlose S.O.S. die ruimte in te stuur. Gebruik maar nog 'n bietjie geduld: daar is weinig genoeg Afrikaners wat iets hiervan weet. Waaruit bestaan die sinjaal? Ek dink ek weet, maar ek twyfel of die oningewyde leser dit sal raai. Dit vereis lang kennis met die seine van insekte om jou dadelik op die spoor te bring.Ga naar eind2. Eers dink jy natuurlik aan een of ander vir die mens onhoorbare geluid. Jy herinner jou hoe die toktokkie onder dergelike omstandighede klop. Haar sinjaal is g'n geluid nie, soos eksperimenteel bewys kan word. Ons sal hier met die verklaring tevrede wees dat dit iets volkome buite bereik van ons sintuie is, en die hemel alleen weet oor watter afstande die mannetjie dit kan gewaar - en hoe! Ewenwel, hy gewaar dit; want ons eerste mier is 'n baie moderne jong dame wat nie skroom om die eerste stappe in die liefdeslewe self te neem nie. As jy lank genoeg wag, sien jy netnou 'n ander mier uit die lug aankom. En dan gewaar jy dat, ofskoon hul vlug baie lomp lyk en die rigting allesbehalwe willekeurig, hulle tog wel deeglik kan stuur en 'n rigting kies, selfs teen die wind. Die mannetjie sak in die gras neer, dikwels 'n paar tree van waar die wyfie nog altyd roerloos haar snaakse postuur behou. Net sodra hy geland het, maak hy dieselfde blitsbeweging wat jy reeds by die wyfie gesien het, en daar lê sy vier vlerke ook op die grond. Hy is in vreeslike, onweerstaanbare haas. Oor en deur die gras kruip hy, so vinnig dat jy hom gedurig in die oog moet hou om hom nie te verloor nie. Hy soek na die oorsprong van die sinjaal wat hy daar bo in die lug ontvang het. Binne 'n paar minute kry hy haar. Sy is nog al die tyd doodstil, met die lyf omhoog, maar net sodra die mannetjie haar aanraak met sy voelhoring, infekteer hy haar met sy eie gejaagdheid. Sy begin te loop net so vinnig as haar pootjies haar kan dra, en onmiddellik agter haar kom die mannetjie. Hulle is nou op die laaste en vernaamste soek: die toekomstige huis; en dit laat Meneer geheel en al aan Mevrou oor. Dit moet 'n goeie huis wees, want hulle sal lank daarin moet woon. En met die vind van die huis en die eerste grawe van die voordeur sal ons die gelukkige paar vir eers verlaat. Daar is nog snaakser dinge in verband met die komedie wat die ongeoefende leser nie sal raaksien nie. Ek het belowe om iets te vertel van die drang om te vlieg. Luister nou: as die twee miere nie gevlieg het nie, gebeur niks van alles wat ek vertel het nie. 'n Instink is iets wat trapsgewys werk. As jy een trap vernietig | |
[pagina 14]
| |
of weglaat, dan val die hele ding in duie. Die natuur verlang dat die miere moet versprei. As die neste naby mekaar kom, sou die kos gou gedaan raak - daarom kry hulle vlerke, en daarom moet hulle vlieg. Maar die vlieg is tegelyk een trap in hulle geslagslewe; as hulle dié trap nie behoorlik neem nie, dan eindig hulle geslagslewe en hulle bestaan daar en dan. Die twee geslagte woon miskien vir twee jaar saam in een nes nadat hulle vlerke gekry het. Hulle is gedurig in aanraking met mekaar, maar daar is nie die minste spoor van geslagtelike ontwikkeling nie. Hulle moet eers uit die nes kruip, hulle moet in die lug vlieg, moet weer gaan sit en moet self die vlerke afbreek en dan eers - en dan onmiddellik - begin die geslagslewe. As jy hulle verhinder om te vlieg en met geweld die vlerke afbreek, dan sterf mannetjie en wyfie sonder om te probeer om 'n stap verder in die voortbestaan van die ras te neem. Die duur en die afstand van die vlug is van hoegenaamd g'n belang nie: dit kan ure duur en myle ver wees, of dit kan een duim ver wees en een sekonde duur. Maar hierop dring die dwingeland aan wat ons instink noem: jy moet al die trappies neem, anders is dit klaar met jou. As jy 'n mannetjie en 'n wyfie neem net soos hulle uit die nes kruip en hulle by mekaar hou, teen mekaar, sien jy dat hulle nie die minste belang in mekaar stel nie. Met die uiterste geweld ('n mier se geweld is maar min!) probeer hulle om van mekaar weg te kom. Laat nou die wyfie toe om drie duim ver te vlieg, en dadelik gaan die proses voort soos beskrywe. Laat die mannetjie toe om eenmaal in die lug sy vlerke te roer en dwing hom tot 'n landing naby die wyfie, dan - en dan alleen - neem sake die normale loop. Een sekonde in tyd, drie duim in afstand, en een vlerkslag is 'n golf tussen twee soorte lewens (wat die mier betref) so wyd soos die ruimte van ons heelal: die fyn strepie kan hy nie oortree nie, en selfs die menslike hulp van buite kan hom daartoe nie in staat stel nie. |
|