Boekdeel 1
Voorwoord
Dit was een van daardie ‘onweierbare aanbiedinge’, mnr. Jan van Schaik se versoek dat ek die Versamelde Werke van Eugène N. Marais saamstel, redigeer en van aantekeninge voorsien. As skrywer van Marais se lewensverhaal het ek reeds oor baie agtergrondkennis beskik, sodat die opgawe nie so onmoontlik sou wees nie; buitendien was dit vir my 'n groot eer - al is die redigering van 'n skrywer van Marais se formaat ook 'n groot verantwoordelikheid.
Hier is dit dan, die Versamelde Werke van Eugène Marais in twee lywige boekdele: Byna 1 300 bladsye, ongeveer 600 000 woorde. ‘Who would have thought the old man to have had so much blood in him?’ vra lady Macbeth. En elkeen wat iets van Marais se lewe weet, van die beperkinge waaronder hy moes werk, sal verwonderd wees dat hy tog nog soveel kon lewer. Dat alles nie op dieselfde hoë peil is nie, spreek vanself; by 'n versameling wat naastenby volledig probeer wees, is so iets omtrent onmoontlik. Tog is feitlik alles uit die een of ander oogpunt interessant: soms bloot omdat dit lig op Marais se lewe werp; soms omdat dit ons iets laat sien van hoe 'n intelligente, urbane en belese Afrikaner die wêreld in die jare twintig en dertig beskou het (selfs wanneer hy 'n bietjie neerbuigend skryf vir 'n gehoor wat nog nie die opvoedingspeil van later bereik het nie); heel dikwels eenvoudig omdat dit skryfwerk uit die hoogste rakke is.
Op algehele volledigheid probeer die Versamelde Werke nie aanspraak maak nie. Heelparty stukke wat te ver benede peil of fragmentaries is, of te veel inligting uit ander stukke herhaal, asook boekresensies en dergelike efemere geskrifte, is weggelaat. Maar omtrent alles wat tevore in boekvorm verskyn het, is opgeneem, en diegene wat Marais se gepubliseerde werke goed ken, sal verras wees om 'n hele klompie nuwighede te vind wat nooit tevore gebundel is nie.
Oor die indeling het ek nooit getwyfel nie. Die eenvoudigste manier om so 'n massa stof te orden, het ek uit die staanspoor besluit, sou wees om by die inhoud van bestaande bundels te bly; vandaar dat enkele afdelings sowel kortverhale as artikels bevat. Breed gesproke is egter by nie-fiksie begin en tot verhale gevorder, met daarna gedigte, dramas en ten slotte Engelse geskrifte. Selfs hierdie breë indeling kon egter nie streng nagekom word nie. Die twee boekdele moes immers min of meer ewe dik wees, en ek wou nie 'n bundel aan die einde van die eerste boekdeel onderbreek en in die tweede hervat nie. Die probleem kon slegs opgelos word deur die volgorde van bundels so 'n bietjie aan te pas.
Afgesien van Marais se Versamelde Werke was ek onlangs ook ten nouste betrokke by die publikasie van 'n geredigeerde uitgawe van 'n ander beroemde Afrikaanse skrywer, C.J. Langenhoven. By alle verskille is daar interessante ooreenkomste. Albei skrywers het Afrikaans geskryf op 'n manier wat vir die moderne leser dikwels vreemd lyk, nie soseer, glo ek, omdat die grootste deel van hul werk in die jare twintig en dertig verskyn het nie (bloedjong joernalissies uit dieselfde tydperk het 'n ‘moderner’ gevoel vir die