Versamelde werke
(1984)–Eugène Marais– Auteursrechtelijk beschermd2 Onopgeloste Geheime(‘Al het uiterste onderzoekt hij.’ - Job 28:3) Daar is baie om te vertel oor die ontstaan van die nes; maar ek het my byna uitsluitlik bepaal by gedrag wat vir vergelyking van waarde was; en daarin selfs was die ondersoek gewestelik. Alle gedrag is natuurlik van belang vir die sielkunde. Gedrag is die sielkunde; ten minste dit is al siel wat ons ken en kan waarneem. Maar vir die doeleindes van vergelyking (vernaamlik as jy bo begin, by die ape) word die limiete van jou gebied baie enger. Met die versorging en voeding van die eerste kinders is die koning en koningin self belas. Ná hulle volgroei is, neem laasgenoemde al die werk van die staat | |
[pagina 15]
| |
waar. Intussen word die koningin groter en vetter by die uur. Die smal en net lyfie verdwyn stadigaan in toenemende vetlae tot sy uiteindelik 'n onooglike, wurmagtige sak van vet is. En wat die treurspel behoort te vererger, is die feit dat haar eggenoot (geseën met die enigste werklike luilekkerlewe wat in die natuur bekend is) die groot geheim van ewigdurende jeug skyn te besit. Hy bly net so mooi en rats en jonk as op sy huweliksreis; maar as jy na haar kyk, die roerlose, weersinwekkende wurm, is dit onmoontlik om te glo dat sy eenmaal op kaboutervlerkies hoog in die lug gevlieg het. Waarlik, daar sou verontskuldiging wees indien Sy Majesteit begin rond te loer na iets 'n weinig, 'n weinig minder molligs. As jy so iets verwag, sal jy op aangename wyse teleurgestel word. Sy gehegtheid aan haar skyn toe te neem met die groei van haar liggaam. As jy die paleisholte blootlê, hardloop hy ontroerd rond; maar altyd keer hy na haar terug. Van sy lewe deur vlug te red, is daar g'n sprake nie. Hy klou verdedigend aan haar reuse-liggaam vas en daar sterf hy as die gevoellose maghebber wat hul staat vernietig, so besluit. Wonderlike voorbeeld van egtelike liefde en trou! Bewonderenswaardige liefde wat die vet-word van sy ega tot so 'n vormlose gevaarte kan deurleef! Reusagtig moet dit wees om so 'n oppervlaksuitgestrektheid selfs te kan omvat. Geen wonder dat Salomo ons na die miere verwys nie. Sy ondervinding in hierdie opsig was glo ook taamlik uitgestrek. Sinnebeeldig word dikwels van 'n vorstin gespreek as moeder van haar volk; die mierkoningin is dit daadwerklik. Van al die tallose miljoene wat 'n groot nes uitmaak, is sy die enigste moeder; elke individu word uit haar gebore. Sy is natuurlik vrygestel van alle kinderkamersorge. Al wat van haar verwag word, is om die oneindige en onophoudelike eierstroom vol te hou; want die daaglikse verlies aan soldate en werkers is ontsettend, nieteenstaande die uitmuntende beskerming. Ons liewe moeder, die Natuur, is nie so danig besorg oor die verlies van selfs duisende enkelinge, terwyl sy reeds vir 'n onuitputlike voorraad voorsiening gemaak het nie. Ek kom nou by 'n stadium waar taamlike groot individuele afwykinge waargeneem sal word; maar vir ons doel sal ons aanneem dat die omgewing van die nes geheel en al normaal was en dat geen steurende invloede van buite die loop van sake ooit skeefgetrek het nie. Die eerste werkers sorg vir 'n paleis vir Haar Majesteit. Diep onder die oppervlakte - van drie tot ses voet - word 'n holte uitgeruim. Met die jare neem dit in uitgestrektheid toe en die uitgehaalde materiaal word tot opbou van die oppervlakverdedigingstelsel gebruik. In hierdie holte word die eerste paleis vir die koningin gemaak. Dit pas haar so mooi dat 'n mens geneig is om aan te neem dat die paleis om haar gebou word. Ek betwyfel dit; en waarom ek dit betwyfel, sal die leser self binnekort gewaar. In elk geval, ons kom nou binne 'n gebied waar byna alles afleiding en raaiwerk is. G'n mense-oog het nog ooit gadegeslaan wat daar plaasvind nie. Selfs is daar nog nooit 'n plan uitgedink hoe om die werk van die termiete in die paleisholte af te | |
[pagina 16]
| |
loer nie. Want hulle leef in stikdonker, en om lig in die paleisholte in te laat, staan gelyk met wat die toestand van die mensdom sou wees by die skielike vernietiging van ons son. In stikdonker kan ons nie sien nie. Die leser moet noukeurig volg wat nou kom, want ons grens hier op 'n geheim van die miere wat baie na 'n mirakel lyk. Ek sal trag om so eenvoudig - en so min ‘wetenskaplik’ - te wees as maar moontlik is. Die koningin hou aan met groei totdat sy 'n ontsettende grootte bereik: sesof seweduisend maal so groot as 'n gewone werker. Van eie beweging of verskuiwing is daar g'n sprake meer nie. Self kan sy g'n haarbreedte verroer nie. Bewegingloos soos 'n stok lê sy daar. Al wat nog tekens van lewe gee, is die klein mierkoppie wat onveranderd bly. As jy haar vel en spiervertakkinge noukeurig opkerwe en onder die hoogste vergroting van die mikroskoop stukkie vir stukkie nagaan, sal jy oortuig raak dat beweging gedurende die laaste stadiums van haar groei onmoontlik word. Jy dink natuurlik aan 'n krimp-en-rekbeweging van die vel soos by sekere soorte wurms. Jy sien dan dat g'n enkele deel van haar liggaam agter die kop onder beheer is van wat eenmaal 'n ingewikkelde sentrale bewegingstelsel was nie. Ek dink ook nie dat daar enige sprake kan wees van 'n tydelike beweegbaarheid, byvoorbeeld deur 'n tydelike lediging van die sak nie. Ek het nog nooit so iets bespeur nie. En dit kan ook nie wees nie, want die afleidende drade van die bewegingstelsel is in vloeistof opgelos. Ek lê hierop klem, omdat ek weet dat die leser netnou vir 'n uitleg gaan rondval, en dat twee hulle seker gaan opdring: (1) rek-en-krimp-beweging van die huid, of (2) tydelike beweegbaarheid vanweë skielike vermaering. Ons moet dus aanneem dat hierdie twee ten minste volkome uitgesluit is. As jy aan 'n derde kan dink, sal ek bly wees om dit te verneem. Nou gaan ons voort met die koninklike lewensloop: haar eerste paleis is 'n kamertjie van mierklei wat spoedig so hard word soos sement. Gewoonlik pas sy net mooi daarin. Sy is altyd veels te groot om by die deur van haar kamertjie in of uit te kan gaan. As jy haar wil uithaal, moet jy die kamertjie stukkend breek - of die koningin. Die koning en werkers kan maklik in- en uitgaan. Sy word gevoer en die eiers wat sy gedurig lê, word weggehaal na die broeikaste deur die werkers wat met hierdie werk belas is. Die koning doen niks. Hy boer maar altyd in of naby die paleis. Intussen groei die koningin gedurig. Hier in haar eerste paleis het sy nog nie een-derde van haar uiteindelike grootte bereik nie. Uiteindelik maak sy byna die hele kamertjie vol.Ga naar eind1. Daar is nouliks ruimte vir die klein werkertjies om die eiers oor die gevoellose gevaarte uit te dra. 'n Verskriklike tragedie moet gebeur. Iets moet bars - en dit gaan nie die klipharde kamertjie wees nie! Dit lyk baie na die klassieke ontmoeting tussen 'n onweer- | |
[pagina 17]
| |
staanbare krag en 'n onbeweegbare liggaam. Jy dink dat jy die miere hopeloos hoor fluister: ‘O klipsalmander! Wat gaan van ons word? Laat ons tog maar nog 'n bietjie antipon probeer!’ Die menslike toeskouer staan hulpeloos voor hierdie dreigende noodlot. Met al sy wetenskap en vernuf kan hy niks doen om te help nie. Maar die miere was in werklikheid nooit bekommerd nie. Al die tyd was hulle goed bewus van 'n uitweg - 'n baie eenvoudige. Net voor Haar Majesteit te groot word vir haar huis, bou hulle 'n tweede, anderhalf maal so groot as die eerste. Dit is parallel met en vas aan die eerste, net so hard en met net so 'n nou deurtjie. En dan haal hulle die koningin uit die eerste kamertjie en plaas haar in die tweede, waar sy vir nog 'n jaar ruimte het om te groei. En so gaan hulle voort van kamer na kamer tot daar 'n reeks van miskien ses is, met die koningin in die grootste en laaste. Sy kan onmoontlik deur een van die deure gaan. Daar bly nog een feit om te konstateer om die saak heeltemal duidelik en maklik verstaanbaar te maak. Dit kan maklik deur metinge bewys word dat haar onderdane haar onder geen omstandighede kan verroer nie. Die krag van 'n enkele werker kan taamlik sekuur vasgestel word en dit is presies meetbaar vir hoeveel werkers daar plek is om haar liggaam beet te pak. Dit sal duisende meer neem as wat daar plek voor is om haar gedurende die laaste stadiums van haar groei te roer. Ons lê dus die volgende skynbaar onbetwisbare feite neer: (1) Self kan die koningin nie roer nie. (2) Die deure van haar kamers is veels te klein vir haar om in of uit te gaan. (3) Die miere kan haar nie verroer nie, en (4) tog verdwyn sy uit die een kamertjie en verskyn in 'n ander. Ek het reeds twee moontlike verklarings weerlê, so te sê, voordat hulle geopper was. Daar is egter nog een wat ek vergeet het. Dit het by my uitgegaan van die byna alom aangenome hipotese dat onmoontlikhede selfs in 'n miernes nie gereeld plaasvind nie. 'n Onbeweegbare ding kan nie tegelyk beweegbaar wees nie en die grotere kan eenvoudig nie in die kleinere nie. Dit moet dus noodwendig verskillende koninginne wees, en nie een en dieselfde nie. As die eerste te groot word vir haar huis, word sy gedood en verslind, en dan dra die miere 'n koningineier in die tweede kamer en laat dit daar uitbroei. Die enigste moontlike wetenskaplike oplossing, nè? En baie eenvoudig as jy daaroor nadink? Net jammer dit is nie waar nie. Jy word op 'n dwaalweg gelei deur te dink aan die bye en hoe hulle koninginne maak en vernietig en verplaas. By die miere bestaan 'n soortgelyke stelsel nie. Ook kan dit eksperimenteel bewys word dat dit een en dieselfde koningin is wat vervoer word. Dit is maklik om haar te merk. Wetenskaplike vriende het verskillende teorieë aan die hand gegee - vriende wat meer van insekte weet as ek ooit sal leer. Ek het hierdie teorieë ondersoek - maar nog nooit is een geformuleer wat met al die feite stryk nie. Die oplossing van die raaisel sal miskien die naam van die toekomstige Afrikaner-Fabre verewig. |
|