3 Taal in die Insektewêreld
‘Salomo was die erfgenaam van Dawid in Wysheid. Hy sê: “Ek het die Taal van die voëls geleer. Dit was 'n ingewing van die Allerhoogste.” ... En toe Salomo en sy leër by die Vallei van Miere kom, toe sê een mier: “Vlug na julle huise, o Miere, dat Salomo en sy leër julle nie kan vertrap en julle dit nie weet nie.” En toe lag Salomo.’ - Vertaling uit Die Koran, Sura XXIII. - Die Mier.
Hoeveel bewonderaars van ons natuur het die Afrikaanse renaissance nie te voorskyn gebring nie! Hoeveel digters besing dit nie! Die woordeskat van twee wêrelddele word uitgeput om die wonders van sy skoonheid te beskrywe. Voor my lê die boekie van 'n Afrikaanse natuurbewonderaar. Dit is hierdie boekie wat my tot 'n inleidinkie aanleiding gee. In net soveel bladsye van sy werk verskyn tweehonderd beweringe omtrent ons natuur wat absoluut vals, ongegrond, onwaar is. (Ek wou dat ek nog 'n paar harder woorde ken!) Ek het eenmaal dieselfde boekie aan 'n ander natuurbewonderaar voorgelê en hom gevra om die natuurfoute aan te stip. Nie een het hy raakgesien nie! Op die tweede bladsy word gewag gemaak van 'n dwarrelwind in ons woestyngebied - in die nag! Altwee is in die woestyngebied gebore en het daar grootgeword. Maar hulle is nie die enigste sondaars nie. As iemand die natuur werklik liefhet, dan leer hy hom ken - en dit vereis nie moeite en inspanning nie: dit kom vanself. As die natuur en sy verskynsels ooit op hom werklik 'n indruk gemaak het, sal sy gelaatstrekke altyd in sy geheue 'n lewendige beeld vorm. Die rigting waarin ons grootste sonde lê, is om die uitdrukkinge van Europese natuurliefhebbers blindelings na te volg, of buit te maak asof dit alles op Suid-Afrika van toepassing is - vandaar sonnette oor ons ‘herfs’, ‘lente’, ens. Dis een van die dinge wat my dwing om langdradig te wees oor die ootmoedigste van ons diertjies.
Ek het reeds te kenne gegee dat die vlieënde koningin, kort ná sy haar vlerke kwytraak, 'n sein die ruimte instuur en dat dit altyd beantwoord word deur die verskyning van die mannetjie uit die lug. Wat die sein presies was, het ek in twyfel gestel en vir 'n latere geleentheid gelaat. Oor hierdie teks wil ek nou preek. Maar voor ek tot my drieërlei punte oorgaan, kom daar eers 'n tweede lang inleiding. Reeds vrees ek dat die geheim van die mieresinjaal uitgestel sal moet word tot 'n hoofstuk wat ver in die toekoms verskyn! Maar die nuuskierige leser hoef nie teleurgestel te voel nie. Ek is seker dat die inleiding hom ook 'n weinig sal interesseer. Weer sal hy van dinge hoor wat hy self elke dag kan waarneem en baie waarvan aan die wetenskap self tot vandag toe onbekend is.
Om die taal van die diere en insekte te kan verstaan, moet jy natuurlik eers die A B C leer; maar van veel groter belang is die dinge wat jy moet afleer. Ons begin derhalwe by die begin.