| |
| |
| |
4 Wat Is die Siel?
Wat in die wetenskap ‘siel’ genoem word, is iets geheel en al buite die bereik van al ons sintuie. Geen mens het nog ooit 'n siel (of 'n stukkie van 'n siel) geruik, gesien, gesmaak, gehoor of gevoel nie. Daar is twee maniere waardeur ons op die spoor kom van 'n siel. In ons eie binneste word ons deur selfondersoek iets gewaar wat nie 'n tasbare deel van ons stoflike liggaam uitmaak nie. Hierdie gewaarwording is natuurlik beperk tot 'n deeltjie van my eie siel. Die siel van my broer is net so ver buite my direkte bereik as die siel van die mier. Ek moet die bestaan daarvan op hoor-sê getuienis aanneem. Introspeksie is dus een bewysrigting waardeur ons by magte is om die bestaan van die siel te konstateer. Maar dit is 'n besondere wetenskap waarmee ons vir die oomblik niks te doen het nie.
Nou kom ons tot die vraagstuk in hierdie verband wat ons in die bestudering van die mier meer bepaald interesseer. Weer sal ek trag om so min ‘wetenskaplik’, so min tegnies te wees as moontlik. Maar ek moet daaroor uitwei en die leser moet dit (met geduld!) probeer deurlees en probeer verstaan as hy verlang om enige werklike begrip te vorm van al die wonders van 'n termietnes, waaroor ons later sal handel.
Die leser word versoek om altyd te onthou dat die grootste en vernaamste deel van die definisies wat volg, my eie is en op my verantwoordelikheid alleen gemaak word - vir wat dit mag werd wees. Tevergeefs sal hy in wetenskaplike boeke soek vir stawing van alles wat ek sê. Nietemin vlei ek my dat hy sal insien - as hy werklik in die lewende natuur belang stel - nie alleen dat dit waar is nie, maar dat dit die enigste sleutel is wat vir hom die donker geheime in die gedrag van lewende skepsels sal ontsluit.
Laat ons nou eers hoor wat die wetenskap daarvan sê. Die siel, sê die eg wetenskaplike en streng logiese mense, is 'n toestand van die materie. Dit was ook oorspronklik hul eerste definisie van magnetisme. Jy durf nie sê die siel is iets wat 'n sekere toestand in die materie veroorsaak nie, want daar is g'n bewys van nie. Maar die analogie met magnetisme en wat later ontdek is, gee ons 'n sekere mate van reg om te sê:
Ten eerste: ‘Die siel is iets buite die bereik van al ons sintuie wat sekere toestande in die materie veroorsaak, welke toestande binne die bereik van ons sintuie is.’
Dit is altyd en enkel deur beweging dat ons dié toestand waarneem.
Dan kom die vraag: Watter soort beweging is 'n sielsbeweging? Ons lewe in 'n wêreld van beweging. Ons sien stof en blare in die wind waai; ons sien water stroom en die waterplante in gedurige beweging; ons hoor en voel die wind; ons sien 'n miertjie 'n stukkie kos na sy nes aandra; ons sien 'n eier, skynbaar bewegingloos, maar as ons die kans het om dit lank en noukeurig genoeg dop te
| |
| |
hou, bespeur ons gedurige beweging, wat uiteindelik op 'n kuiken uitloop. Watter van al hierdie bewegings is sielsbewegings en watter nie? Ons hoef nie die logika en metafisika te veel lastig te val om 'n definisie te formuleer nie. Ons sal prakties wees en sê:
Alleen beweging wat 'n bepaalde doel het, kan 'n sielsbeweging wees.
Ons eie siel is natuurlik die kriterium waardeur ons in staat gestel word om die bestaan van 'n doel te konstateer. Die eg logiese mense mag nie met hierdie deel van ons definisie tevrede wees nie, maar vir die praktiese natuurondersoeker is dit voldoende.
Dan leer ons deur ondervinding dat sulke bewegings alleen plaasvind in 'n sekere soort materie - organiese; dat dit meestal in die organisme self ontstaan en nie afhanklik is van uitwendige natuurkragte nie. Ek sê meestal, want daar is 'n menigte doelbewegings in die natuur wat wel deeglik van uitwendige natuurkragte afhanklik is en nietemin psigologiese bewegings is. Ek het eenmaal tevore die geval van die fluitjiesrietsaadjie aangehaal. Soos 'n poeierkwassie gevorm, dryf die saadjie soos 'n lugskippie op die sagste lugstraal, maar sodra dit bo 'n dam of 'n vlei kom, sak die saadjie af na die water of klam grond soos 'n voëltjie wat gaan sit. By die eerste gewaarwording lyk dit soos 'n bepaalde inwendig ontstane doelbeweging - iets wat baie, baie selde in die plantewêreld aangetref word. By nadere ondersoek blyk die uitleg egter dit te wees: Deur windwrywing, voordat die saadjie van sy moederstam losruk, ontvang die kwassie 'n lading negatiewe elektrisiteit. Die gevolg is dat al die fyn blaartjies van die poeierkwassie uitmekaarspring. So lank as die kwassie oop bly, dryf die saadjie in die lug; maar sodra dit met 'n laag waterdamp in aanraking kom, vind 'n ontlading van elektrisiteit plaas, die kwassie vou saam en die saadjie sak aarde toe. Daardeur verseker die plant nie alleen die verspreiding van sy saad nie, maar wat van groter belang is, dat elke saadjie in water of op 'n nat plek te lande sal kom. Hier het jy 'n lang reeks van doeleindes wat die plant bereik deur gebruik te maak van uitwendige natuurkragte; nietemin val al die bewegings binne ons definisie as doelbewegings en derhalwe psigologiese.
Ten derde: Meestal - maar net meestal - spruit die beweging dus uit die organisme self.
Bostaande definisie sal vir die praktiese natuurondersoeker altyd genoegsaam wees. Hy sal bywyle moeilikhede op die lyf loop (soos die kammadood van die toktokkie, wat oppervlakkig baie na die negativering van beweging lyk, of die groei van 'n kristal); maar altyd sal by nadenke blyk dat ons definisie voldoende is.
Nou net nog 'n paar woorde oor ons rangskikking van hierdie doelbewegings in die natuur en dan is ons klaar met hierdie stokdroë onderwerp, en kan ons weer met ons miere voortgaan. Dat dit alles nodig is, sal die leser self later gewaar word.
| |
| |
Ons het dit soos volg verdeel:
(1) Doelbewegings in die plantewêreld.
Dit bestaan uit vier soorte:
(a) Groei;
(b) tropismes of terugwerkinge deur uitwendige oorsake teweeggebring;
(c) bewegings afhanklik van natuurkragte buite die organisme;
(d) bewegings wat lyk of dit in die organisme self ontstaan, soos die uitreik van arms deur sekere kruipplante na voorwerpe in die omgewing (dit mag egter ook 'n tropisme wees).
(2) Doelbewegings in die laer dierewêreld, waarvan die gewoonste en vernaamste is: bewegings wat in die organisme self ontstaan (maar uitwendige natuurkragte word ook gebruik op 'n ander manier as deur die plante). Die eienaardigheid van hierdie bewegings is dat hulle altyd 'n bepaalde koers loop: die organisme kan sy gedrag nooit wysig nie; en dit is net so erflik as sy liggaamsdele.
Die ondersoeker kom spoedig tot die oortuiging dat alle doelbewegings in die natuur afhanklik is van wat ons geheue noem. Hierdie gedetemineerde erflike doelbewegings noem ons die siel van instink. Jy tref dit in al sy oorspronklike volmaaktheid by die insekte aan; en deur die hele laer dierewêreld loop dit tot jy by die ape en die mens kom, en dan eers tref jy 'n magtige en verbasende verandering aan in beide kwaliteit en kwantiteit van doelbewegings.
Laat ons nou terugkeer na die siel van instink. Ons het gesê, ten eerste, dat die geheue wat hierdie siel uitmaak, net so erflik is as die liggaamsdele van die organisme. Die volgende, werklik uitgevoerde eksperiment sal duidelik maak wat ons bedoel:
Ons alombekende geelvink (daar is verskillende soorte, maar enigeen kan vir die eksperiment gebruik word) vleg 'n wonderlike nessie aan die uiteinde van 'n buigbare takkie, gewoonlik oor water. (Is daar een leser wat ooit die moeite gedoen het om uit te vind hoe die eerste grassie vasgebind word, en van watter soort knoop die voëltjie gebruik maak?) Die volgroeide vink is 'n saadeter, maar die kleintjies word op wurmpies gevoer byna totdat hulle die nes verlaat. Onthou nou hierdie twee geheues; (1) hoe om die nessie te vleg; en (2) hoe om die kleintjies te voer.
Ons het vir vier geslagte geelvinkeiers onder kanaries laat uitbroei. Die voëltjies word elke keer verplig om eiers te lê sonder om 'n nessie te vleg. Dit is die moeilikste deel van die waarneming, maar dit kan gedoen word. Elke keer word die eiers onder kanaries uitgebroei. Die kleintjies word op kunsmatige voedsel grootgemaak: nooit 'n wurmpie of insekte sien hulle nie. Nooit sien hulle 'n stukkie gras wat vir vleg gebruik kan word nie.
En toe neem ons die vierde geslag en gee die voëltjies alles wat hulle in 'n normale lewensloop in die natuur sou kry. Onthou nou dat hulle vir vier geslagte
| |
| |
nog nooit 'n gevlegte nessie gesien het nie, nog nooit 'n wurmpie geproe het nie. Uit eie ondervinding kan die voëltjie onmoontlik weet wat om in die natuur te doen. Van eie geheue kan daar g'n sprake wees nie. Ons het verwag dat daar ten minste wysiging van normale gedrag sou wees, maar daar was nie! Toe die tyd kom, gaan die voëltjies geweldig aan vleg. 'n Hele paar meer nessies word gemaak as wat hulle kon gebruik. (Dit gebeur gereeld in die natuur vir 'n beskermingsdoel wat een of ander leser miskien self sal uitdink.) Die eiertjies word uitgebroei en die kleintjies op wurmpies gevoer!
Dit is wat erflike geheue in die siel van instink beteken.
Die tweede eienaardigheid van hierdie siel is dat die organisme nooit in staat is om sy gedrag te wysig nie - met ander woorde, hy kan g'n individuele, kousale herinnering opdoen nie. Hy is gebonde aan sy erflike herinneringe. 'n Dodelike tiran is die erflike geheue in hierdie opsig. Selfs aan die dreigende dood kan die organisme nie ontvlug wanneer ontvlugting gedrag vereis wat teenstrydig is met sy erflike geheue nie (soos die leser in een van ons waarnemings sal sien). Ons sal twee voorbeelde aanhaal: Die swart padmakermiere (regte miere dié keer, nie termiete nie) word in baie verskillende dele van Suid-Afrika aangetref. Hulle maak voetpaadjies, soms honderde tree lank, waarlangs hulle alle soorte plant- en grassaad na die nes aandra. Op 'n afstand sien jy twee strepe miere: een wit, die ander swart. Die miere wat kom, het elkeen 'n wit grassaadjie in die bek; dié wat gaan, is pikswart. Hulle bring die saadjie met dop en al. Dit word in die nes afgedra en daar word die doppie afgehaal en weer sorgvuldig uitgedra en by die nes opgehoop. Een soort padmakers, terloops gesê, is meesters van 'n wonderlike natuurgeheim wat die mens nie ken nie. Hulle het ontdek hoe om die ontkieming van plantsaad te verhinder, selfs wanneer die saad op klam aarde in die donker weggebêre word. Wat hulle aan die saad doen, weet ek nie. Ek dink hulle moet een of ander towerwoord daaroor uitspreek! Die mikroskoop wys nie die kleinste letsel aan die saad nie; maar as jy van dieselfde saad pluk en op dieselfde plek plaas waar die miere dit bêre, ontkiem dit binne 'n paar uur. (Kyk hoe dwaal 'n mens onwillekeurig af as jy met miere te doen het!) Die padmakers is baie bang vir water. Vloedwater is hul grootste natuurvyand - en weet jy waarom? Hulle is oorspronklik woestynmiere, moderne indringers tot meer bevoorregte streke - daarom weet hulle nie hoe om die onderaardse nes teen groot en aanhoudende reëns te beskerm nie. Diep ingewortel, derhalwe,
is die vrees vir hierdie aartsvyand van hul ras. Al raad wat hulle weet, is vlug - vroegtydig en so ver moontlik.
As 'n mens nou 'n slootjie oor 'n pad grawe en met water vul, veroorsaak dit die grootste verbystering onder die padlopers. Aan albei kante vergaar 'n opgewonde drom miere en dit neem baie, baie lank voor dit hulle byval dat hulle maklik 'n omweg kan volg. Voor hulle dit doen, plaas jy egter 'n dun grasstrooitjie oor die watergrag, en dadelik sal jy die geleentheid hê om 'n baie eien- | |
| |
aardige en geheimsinnige optrede waar te neem. Sorgvuldig toets die miere die gevaarlike brug. Een vir een waag sy voorlyf op die strooi. Met die agterpootjies vas aan die wal geklem, rek hy sy lyf op die strooitjie uit. Hy woel met die voorpootjies en voelhorings en dan gewaar hy die water en trek terug - haastig - om sy maats te vertel dat die brug onder kwessie uitermate onveilig is. Dit is wat aan die neskant van die brug gebeur, waar die onbelade miere ophoop. Aan die ander kant van die brug - die verste van die nes - is die gedrag van die miere heeltemal anders. Hier arriveer die miere, elkeen met 'n grassaadjie in die bek. Meestal is die grassaadjie so groot en swaar dat die loop van die mier vreeslik belemmer en bemoeilik word. En wat gebeur by die brug? Met die minste tekens van huiwering stap elke mier voort op die strooi met sy reuse-vrag. Soms slaan hy om, maar hy klou met al sy pootjies aan die brug vas en gaan oor, en altyd bring hy sy vrag in veiligheid en haas hom verder na die nes asof niks gebeur het nie. Hier staan jy voor 'n raaisel: die onbelade mier is bang om hom op die brug te waag; die belade mier loop oor met 'n vrag wat die passasie oneindig moeiliker maak. Jy kan maklik voldoende bewys vind dat die dra van die vrag niks met die gewaarwording van die water te maak het nie. Neem nou 'n vierkantige stukkie blik, bedek dit met grond en skuif dit onder die miere aan die neskant van die brug. As hulle dik daarop vergaar het, tel jy die blikkie met miere en al op. Met 'n dun haarpenseel merk jy so baie miere as moontlik met 'n klein kolletjie
rooi op die agterlyf en dan skud jy die klomp in die pad aan die oorkant van die grag af. Dadelik stryk hulle voort langs die pad om binnekort terug te keer, elkeen met 'n grassaad in die bekkie, en hulle gaan oor die brug asof hulle hul hele lewe lank nog niks anders doen nie. Binnekort kom van jou rooikolmiere van die nes terug nadat elkeen sy drag afgelewer het. By die brug stuit hulle; en niks wat jy kan doen, sal 'n enkele mier die moed gee om vanself oor die brug te gaan nie.
En so kan jy aanhou van die môre tot die aand (as jy die geduld het van 'n natuurondersoeker) tot byna al die padlopers gekol is; en uiteindelik sal jy twee dinge leer: ten eerste, dat jy nooit die miere deur hul eie ondervinding kan leer dat die brug veilig is om oor te gaan nie, en, ten tweede, dat jy hulle nooit kan leer dat as die brug veilig is vir 'n swaar-belade mier, dit (eweredig aan die vrag) vir 'n onbelade mier des te meer veiliger moet wees nie. Hulle beproef dit self honderde male. As jy vir maande die eksperiment voortsit soos ons gedoen het, beproef hulle dit duisende male en altyd bly hulle gedrag dieselfde - tot jy die ding wanhopig opgee. Nooit sal die onbelade mier waag om oor die waterbrug te gaan nie; maar sodra hy met sy swaar vrag terugkom, gaan hy sonder aarseling oor.
Kan die leser raai waarom die onbelade mier weier om oor die brug te gaan en die belade mier nie? Dit het nie presies iets met ons onderwerp te doen nie, maar ek weet hy sal nuuskierig wees.
| |
| |
As hy 'n weinig eksplorasie in die werking van die dieresiel gedoen het, sou die gedrag van die miere nie lank vir hom 'n geheim bly nie. Jy kan 'n dier na alle kante swaai namate jy in staat is om sy instinkte (sy rasherinneringe) deur kunsmatige inmenging te oriënteer. Die gedrag van die onbelade mier wat van die nes af weggaan, word deur 'n enkele sielsdrang bepaal: om kos te gaan haal. Dit is al klaar nie 'n sterk sielsdrang nie; dit moet selfs opereer teen die ewigdurende en groot sielsdrang: huis toe, die sterkste van alle psigologiese drange, behalwe die seksuele (waar dit in enkelinge bestaan). As ons 'n bietjie hoër op die leer klim, noem ons dit heimwee. Die miere wat met die saad terugkom, word deur twee van die sterkste instinkte getrek: (1) huis toe, en (2) die kos in veiligheid bring. Dit is net asof jy draadjies aan die miere vasbind en hulle daarmee trek. Die draadjie wat die mier weg van die nes trek, is baie swak. Voor die gewaarwording van gevaar en die daaropvolgende toestand breek die draadjie. Aan die terugkomende mier is twee sterk drade vas, wat selfs 'n doodsgevaar nie kan breek nie.
Op stuk van sake is die vraagstuk nie so moeilik nie, nè?
Daar het jy nou wat bedoel word wanneer die sielkundige sê dat die instinktiewe siel die erflike gedrag nie kan wysig nie, en g'n individuele kousale herinnering kan opdoen nie. Hy kan nie deur eie ondervinding leer nie.
Ons het ook gesê dat die siel van erflike herinneringe 'n dwingeland is wat die dood self nie kan keer as dit gedrag vereis wat teenstrydig is met enige rasherinnering nie. As voorbeeld hiervan neem ons die geval van die springbokke op die Springbokvlakte in Waterberg. Die vlakte is 'n eiland oop veld in die midde van die Transvaalse Bosveld. Die springbok is hoogs gespesialiseer vir die lewe op die oop vlakte - met ander woorde, al sy erflike herinneringe is omtrent die oop vlaktes. Hy weet hoe om die gevare wat hom daar bedreig, te vermy; hy weet watter die beste voedsel daar is, en hoe om dit te kry; hy weet hoe en wanneer verhuising moet geskied; hy kan agter die reën aan op oop vlaktes trek; hy kan vreeslik ver sien en ruik, ens., ens. Op die Springbokvlakte was daar twintig jaar gelede duisende springbokke. Nou is hulle uitgeroei. Stadigaan het die mens ingedring, plase opgeneem en afgekamp en die springbokke in die proses verniel. Ten weste van hulle was die berge en ten noorde die oneindige bosveld, waar hulle absoluut veilig sou gewees het. Daar was een stap tussen die dood enersyds en absolute veiligheid andersyds en hulle kon dit nie neem nie. Duisende ander grootwild (minder gespesialiseer) het die bosse ingevlug en hul bestaan gered. Dit het gebeur dat jagters groot troppe springbokke die bosse of berge ingejaag het. Maar altyd onmiddellik - dieselfde dag nog - keer hulle terug en gaan die dood op die oop vlakte tegemoet.
Nou bly daar nog twee soorte sielbewegings in die natuur oor, die rangskikking en eienaardighede waarvan die leser noodwendig moet ken as hy eendag hoop om 'n bietjie van die miere te verstaan.
| |
| |
(3) Gemeenskaplike bewegings - d.w.s. 'n gedeelte van die bewegings of gedrag van enkelinge van 'n trop wat bepaal word deur 'n gemeenskaplike doel. Ons noem hierdie verskynsel die gemeenskaplike siel. Jy tref dit aan by die miere, die bye, die bobbejane en by alle tropdiere in hoër of laer graad.
En dan, ten laaste (4) kom die primêre siel, of die siel van individuele herinnering - d.w.s. die siel van die primate: die mens en al die aapsoorte.
As jy lank met ape omgaan, ontdek jy gou dat die onderskeid tussen die siel van die laagste aap en die hoogste soogdier (die hond bv.) baie, baie groter is as die onderskeid tussen die siel van die mens en die mensape. Waarin presies bestaan hierdie onderskeid? Ons weet dat dit bestaan (sê bv. die onderskeid tussen die bobbejaan en die otter), maar om die onderskeid in woorde te formuleer gaan eers moeilik. Dit het baie geduldige werk gekos om die onderskeid in verstaanbare woorde te omskrywe. Nege uit die tien wetenskaplike mense sal jou vertel: die bobbejaan besit rede, verstand, of hoe hulle dit ook al mag noem en die otter nie. Hulle kan net so goed sê die bobbejaan is 'n bobbejaan, en die otter is 'n otter. Die twee bring jou ewe ver op die pad. Een sal jou miskien sê dat die bobbejaan baie makliker nuwe gewoontes kan aanwend as die otter. Dit kom 'n bietjie nader, maar help nog nie veel nie.
Laat ons nou eers die siel van rasherinneringe noukeurig gadeslaan en sien wat die uitwerking daarvan in die natuur is. Ons neem 'n landvoël wat kan vlieg en wat in alle opsigte net soos alle ander landvoëls is. Stadigaan begin hy kos op die strand van die see te kry. Ná miljoene jare leer hy om vissies in taamlike diep water te vang. Sodra dit 'n vaste gewoonte geword het, begin die natuurlike uitsoeking te opereer. Elke tree wat die voël dieper in die water gedwing word, soveel beter kans van bestaan het die enkeling wat die beste liggaamlik en geestelik daarvoor ingerig is. En so gaan dit deur nog miljoene jare voort. Die voël verloor sy vlerke: hulle word roeirieme; verloor sy vere: dit word dons; verloor sy loopbene en pote: hulle verander in 'n swemtoestel - en die uiteinde is die pikkewyn. (Die leser sal sien dat ek nog vas staan by die eerste teorie van Darwin; van De Vries se sprong en die sogenaamde verandering deur strewe het ek nooit iets gesien nie.)
As ons die pikkewyn of die otter (want alles wat ek gesê het, is op altwee toepaslik) neem soos hulle vandag is, dan merk ons een vername feit op. As daar enige skielike verandering van omgewing plaasvind, dan is hulle verlore. Ons sal die otter neem, want hier kan ek na beproefde feite verwys. Eenmaal in Waterberg, gedurende 'n vierjarige droogte, toe die strome gaan staan en die watervoedsel opgeraak het, kon jy otters orals in die veld langs die groot lope aantref. Daar was nog poele genoeg, maar die vis en krappe was gedaan. Die otter is 'n ratse dier, en jy kan hom leer om voëltjies en ander klein landdiertjies te vang, byna nes 'n kat. Maar vanself kan hy dit nie leer nie. Die wilde otters het by honderde van honger gesterwe, te midde van 'n oorvloed kos. Ons het gedu- | |
| |
rende dié tyd 'n paar pasgebore ottertjies in die hande gekry. Een daarvan het ons na die Springbokvlakte gestuur, ongeveer dertig myl van die naaste lopende water. (Hy is net ná sy geboorte uit die nes gegrawe en het nooit lopende water gesien nie.) Hy is deur 'n hondeteef saam met haar eie kleintjies grootgemaak. Al kos wat hy ooit gesien of gekry het, was rou vleis, voëltjies en ander klein landdiertjies en nooit het hy meer water gesien as nét genoeg (in 'n blikkie) om sy dors te les nie. Terselfdertyd het ons 'n pasgebore bobbejaantjie uit die berge na die vlakte geneem en daar is hy aan 'n pypkan grootgemaak. Later het hy net onnatuurlike (vir 'n bobbejaan) kos gekry. Hy het nooit 'n kans gekry om 'n lewendige goggatjie in die hande te kry nie. Toe die twee diere drie jaar oud was, is hulle vir die eerste maal na hulle respektiewe natuurlike omgewings teruggebring: die otter na Sterkrivier, van waar hy oorspronklik gekom het, en die bobbejaan na die Dubbele Berge, waar sy moeder geskiet is. Altwee was eers uitgehonger. Hier had ons geleentheid om die groot onderskeid in gedrag te sien. Die otter het eers net 'n paar
minute gehuiwer, toe is hy die water in en binne 'n halfuur het hy agtereenvolgens 'n krap en 'n groot kurper onder water gevang en op die klippe verslind. Die bobbejaan, daarenteen, was totaal verlore. Hy was in die midde van 'n oorvloed van natuurlike bobbejaanvoedsel, en ofskoon uitgehonger, wis hy glad niks van klippe-omkeer en die vang van lewende goggatjies nie. Hy sou sonder twyfel van honger omgekom het. Toe klippe vir hom omgekeer is, spring hy met alle tekens van angs en afgryse van die krioelende goggas weg. Met die uiterste moeite is hy oorgehaal om 'n dooie skerpioen, van sy angel en gifklier ontdaan, te proe en uiteindelik oorgehaal om lewendes te vang, met die gevolg dat hy dadelik in die vinger gesteek is. By voorkeur probeer hy om 'n bergvrug, wat 'n dodelike gif is, te eet en sy lewe moes met geweld gered word. By die wilde bobbejane gebeur nooit sulke ongelukke nie. Hulle het geleer. Ons mak bobbejaan het ook uiteindelik alles verstaan, maar hy moes alles met moeite self leer.
'n Mens sien dus dat die natuur by die bobbejaan twee dinge verrig het: hy is in besit van 'n siel wat in staat is om individuele kousale herinnering op te doen, en, ten tweede, sy erflike geheue is vernietig. Die bobbejaan in ons land is werklik die oorgangspunt in die dierewêreld. So ver is dit al by hom gevorder dat daar in vyftig persent van gevalle g'n erflike oriëntering van die seksuele sin is nie - die mees erflike van al die sielstoestande. By die mens is daar glad g'n erflike oriëntering meer nie. Die oreksis mag ontwaak, maar die oriëntering is by albei geslagte 'n saak van leer.
Hoe het hierdie eienaardige verandering in natuurlike gedrag dan tot stand gekom? In die eerste plaas moet daar een of ander groot rasvoordeel in opgeslote wees. Die leser sal dadelik insien dat die groot uitwerking van die siel van erflike geheue is om 'n ras tirannies vas te knoop aan een spesiale omgewing: die pikkewyn aan die see, die klipspringer aan die berge, die springbok aan die
| |
| |
oop vlakte. Hoe meer volmaak die erflike herinneringe is, des te meer eng is die omgewing waaraan die organisme verbonde is. Dit is al wat die natuurlike uitsoeking teweegbring. Die bewering (of liewer, geloof) dat uitsoeking en ontwikkeling in die natuur tot een of ander ideale toestand van absolute volmaaktheid dring, is kinderagtig en vals. In alle gevalle bespeur ons by hoogs gespesialiseerde diere 'n verlies van absolute volmaakthede. 'n Ruiling vind altyd plaas, en die resultaat is nie ideaal nie. Dit is g'n volmaaktheid in die pikkewyn om sy vlerke vir rieme te verruil nie; die lang nek van die giraf is 'n bepaalde nadeel wat vlug en onsigbaarheid betref. Die Natuur is g'n liefdadigheidsinrigting nie. Die Natuur is altyd vyandiggesind teen die lewe, anders kon daar g'n uitsoeking wees nie. Dit sal ook duidelik wees dat die ras wat die meeste aan 'n bepaalde omgewing verbonde is, aan een groot nadeel ly. By 'n skielike verandering van die omgewing is so 'n ras verlore. Na 'n nuwe omgewing kan hulle nie verhuis nie en nuwe herinneringe kan hulle nie opdoen, om hulle vir die veranderde omstandighede van hul omgewing geskik te maak nie. Op ons kontinent gebeur dit dikwels dat byna gehele rasse vernietig word deur dergelike natuurveranderinge: droogte, watersnood, sprinkane en die indring van ander onbekende vyande.
Om 'n ras die magtige voordeel te verskaf dat hy sy natuurlike omgewing (beide plaaslik en eienskaplik) skielik kan verander, moet die natuurlike uitsoeking 'n sielsverandering teweegbring. G'n enkele of vermenigvuldigde somatiese wysiginge kan dit teweegbring nie. Dit sal die leser natuurlik dadelik toegee.
Die eerste en vernaamste stap is om die erflike herinneringe te vernietig. Daarsonder kan daar g'n verandering van omgewing wees nie. En nie alleen moet die herinnering vernietig word nie, maar die moontlikheid selfs van erflike herinnering moet uit die siel verdwyn - anders sou die verandering nie help nie. En in plaas daarvan moet 'n siel opgebou word wat elke individu in staat stel om sy eie kousale omgewingsherinneringe op te doen. In hierdie wending het die ape 'n groot voordeel geniet wat elke kenner van ape sal insien.
Die onmiddellike gevolg was dat die aap 'n wêreldburger geword het. Hy kan enige omgewing verower - daarom is dit dat ons bobbejaan, van alle Afrikaanse diere, in die mees uiteenlopende omgewings woon. Jy tref hom aan op die vrugbare gebergtes van die Kaap, in die groot houtbosse en rivierlope van die binneland en in die uiterste dorsland van die Kalahari. En in elke omgewing het hy nuwe herinneringe opgedaan. Hy het geleer om skaaplammertjies te vang en oop te skeur vir die melk in die pensie - deur die helfte van Suid-Afrika. In die Noordelike Transvaal ken hy dit nog nie. In een deel van Waterberg het hy geleer om 'n kremetartvrug op 'n rots te plaas en met 'n klip stukkend te slaan - sy eerste gebruik van gereedskap. Nêrens anders in die wye natuur as by die ape alleen sal sulke dinge aangetref word nie.
| |
| |
By die ondersoek van al hierdie dinge word twee groot feite so klaar en helder as die dag: ten eerste, dat daar 'n wye psigologiese kloof bestaan tussen die siel van die aap en die siel van die hoogste soogdier benede die ras van primate; en, ten tweede, dat die siel van die bobbejaan en die siel van die mens presies dieselfde is wat kwaliteit betref. Die onderskeid lê in kwantiteit alleen. By die bobbejaan aanskou ons die stroom naby sy bron in die berge. By die mens sien ons dieselfde rivier net voor hy in die see verdwyn.
Die mens het in hierdie rigting die verste gevorder - daarom is dit dat die mens in die grootste en dorste woestyne (die Gobi en die Sahara), op die hoogste gebergtes, die diepste valleie, die trope en die Poolsee-ys ingedring het - en lewe.
Maar die Natuur gee niks present nie. Soos ons aangedui het, is dit altyd 'n ruiling. Die ape en die mens het 'n ontsettende prys vir hul nuwe soort siel betaal - 'n prys wat stellig en gewis hulle natuurlike ondergang binnekort (d.w.s. kort as natuurtydvak beskou) moet teweegbring. As ek eendag met die miere klaar is, sal ek miskien hieroor uitwei.
Net een woord nog oor die siel van individuele kousale herinnering. Die ou dieresiel van ras-herinneringe (by die hoër ape en die mens) word nie vernietig nie. Dit word deur 'n vorm van permanente inhibisie buite werking gestel. Maar dit is nog alles daar en kan kunsmatig weer gedeeltelik in werking geroep word. Dit, myns insiens, is die grootste ontdekking deur ons gedoen in verband met 'n driejarige waarneming van die gedrag van die wilde bobbejaan. Daar is nie die minste twyfel aan nie en dit kan met onomstootlike feite bewys word dat die sogenaamde onderbewuste siel van die mens nie 'n wonderlike skepping van die natuurlike uitsoeking is wat tot 'n staat van ideale volmaaktheid lei nie, maar dat dit eenvoudig die ou dieresiel in slapende toestand is; en dat dit onder sekere abnormale toestande weer wakker word en tot vreeslike psigologiese wanorde lei. Die meeste menslike kranksinnigheid (waar dit reine psigose en nie neurose is nie), is daaraan te wyte: die gedeeltelike ontwaking van die dieresiel.
Ek dink altyd dat as sulke sielkundiges soos Freud meer praktiese kennis opgedoen het van die siel in die natuur, hy nooit sy valse en kinderagtige teorieë wêreldkundig sou gemaak het nie; en as dié kennis meer populêr was, sou hy seker nooit so 'n leër van navolgers verwerf het nie. Vir iemand wat iets van die vergelykende sielkunde weet, is die teorieë van die Oostenrykse sielkundige so klaarblyklik vals dat dit oorbodig lyk om dit vals te bewys. Geeneen van sy volgelinge word afgeskrik deur die feit self dat Freud al die verbasende en gekompliseerde sielswerkings ontdek het, nie langs die gewone en moeilike pad van geduldige ondersoek, van oneindig meet en weeg nie, maar deur een of ander goddelike ingewing! As die gewone metode van ondersoek gevolg is om van besondere gevalle na algemene reëls te redeneer, sou dit 'n honderd mensge- | |
| |
slagte vereis het om te ontdek wat Freud in een jaar gedoen het, veronderstellende dat alles wat hy sê, waar is - wat dit nie is nie.
Langs hierdie reuse-omweg het ons nou tot 'n punt geraak waar ons met 'n reine gewete die gemeenskaplike siel van die miere kan beetpak. |
|