miskien enige ander insek. Om een of ander rede - my onbekend - word dié reuse-insek somtyds liggewend. Dié verskynsel is 'n seldsame. Ek het dit self slegs twee maal gesien. Dit is iets wat die gelukkige toeskouer nooit sal vergeet nie. As jy die insek in 'n donker nag aantref, terwyl die illuminasie aan die gang is, is jou eerste indruk dat dit 'n halssnoer van die pragtigste juwele moet wees. Wat sou 'n skone vir so 'n halssnoer nie gee nie! Dié dier is ongeveer twaalf duim lank - in altwee my gevalle was dit wyfies - en solank die verligting duur, verkeer die gewoonlik ratse en sluwe dier in 'n toestand van kataleptiese verlamming. Dit skyn asof die gehele lewenskrag van die dier verbruik word in die vervaardiging van die reuse-ligstroom. So helder is dit dat die fynste druk maklik op 'n afstand van ongeveer twee voet van die dier in 'n stikdonker kamer gelees kan word. Wat veroorsaak die illuminasie? Ek het geen gedagte nie. 'n Skeikundige vriend het later die liggaam van een van die lumineuse oorkruipers ondersoek, maar kon geen spoor van enige bekende liggewende element onderskei nie.
Onder 'n lae vergroting van die mikroskoop blyk dit dat die lig uitstraal van twee lumineuse vlekke naby die uiteindes van elke segment. Die lig is in gedurige beweging - 'n onreëlmatige verheldering en verduistering wat in konsentriese sirkels uitstraal en inkrimp van 'n klein middelpunt van intense wit lig. Die ligvlekke werk onafhanklik van mekaar. Gelyktydig met die intensiteits-verandering vind daar 'n gedurige en verbasende kleurverandering in die sirkels plaas. Van die middelpunt (wit lig) verskyn die kleure in die volgende orde: liggeel, liggroen, smaraggroen, donkergroen, blou, donkerblou, rooi, purper, violet. (So is die kleurverskynsels deur 'n dame aangeteken wat besonder kleurgevoelig was.) Die bron van die lig lê binne die liggaam van die dier en straal uit deur die huid. In die geval van die ligwurmpie skyn die oorsprong van die lig buite die vel te wees.
Uit die vorige hoofstukke sal die leser seker die gewaarwording opgedoen het dat daar nog 'n groot onverkende veld is wat seine in die dierewêreld betref, en elke stap is uiters interessant. Daarom het ek deur hierdie skrywe getrag om ons lysie van seine volledig te maak. En ek skryf graag van ons vuurvliegie, juis omdat dié diertjie in intrigerende geheimsinnigheid gesluier is.
Wat is die doel van die lig? Wat is die lig? My antwoord op die vraag bestaan ongelukkig net uit ontkennings. Ek kan baie mooi vertel wat dit nie is nie, terwyl die positiewe kant van die balansstaat byna skoon papier is. Dit is die geval met al ons diere wat hulle bedien van bekende natuurkragte. Die Suid-Afrikaanse drilvis, byvoorbeeld, maak defensief gebruik van 'n skokstroom elektrisiteit wat hy onder water deur die punt van aanraking in die lyf van 'n mens skiet. Ek weet nie te veel van elektrisiteit nie, maar dit weet ek dat die hele liggaam van die drilvis met vloeistof gevul is; dat dit 'n volmaakte afleier is sonder enige isolering; dat dit omring is deur seewater wat 'n baie meer vol-