dit duidelik te maak, is dit wenslik om ons eerste lyn van ondersoek in die vorm van teses weer te gee. En eers moet ek die leser waarsku dat wat ek nou gaan sê, geen beeldspraak is nie: dit is werklike feite so duidelik bewysbaar as wat sulke dinge maar bewysbaar is:
(1) Al die bewegings van die termiet word van buite hom bestier. Hy besit self geen spoor van eie wil, van keuse nie. Die enigste sielsvermoë wat hy besit, is outomobiliteit - selfbeweging. Hy sit sy liggaamlike dele self in beweging; maar wanneer dié beweging moet plaasvind en wat hy daarmee moet doen, word van buite hom op tou gesit en bestier. Deur omstandighede mag sy werk nutteloos en ydel wees; waar die eenvoudigste van enkel-insekte vir die noodlot sou terugdeins, kan die termiet dit nie doen nie. Op die pad waarlangs die onsigbare beheerser van sy lot hom dwing, moet hy voort.
(2) Die hele gedrag van die termiet word van buite hom gedetermineer deur 'n invloed - ons kan dit maar 'n draad noem wat hom vasknoop aan die paleisholte. Dié onsigbare invloed straal uit die organisme van die koningin alleen. Dit is natuurlik buite bereik van ons sintuie; dit kan alle gewone materiële voorwerpe deurdring; dit gaan maklik deur dun staal of ysterplate.
(3) Dié invloed word deur afstand verminder. Dit werk net tussen bepaalde limiete.
(4) Die somatiese dood van die koningin vernietig dié invloed dadelik. Letsels en verwonding van die koningin verswak dié invloed eweredig met die grootte van die letsel.
(5) Die miershoop is 'n afsonderlike, saamgestelde dier in 'n sekere staat van ontwikkeling waar slegs gebrek aan outomobiliteit die organisme van ander diere onderskei (nie in alle gevalle nie).
(6) Die termiet is afkomstig van 'n gewone vlieënde enkel-insek. Die samestelling en ontwikkeling van gespesialiseerde groepe kom laat in die rasgeskiedenis voor.
(7) Die termietnes is 'n voorbeeld van die samestelling en wording van hoogs ontwikkelde en komplekse diere soos die soogdiere.
(8) Die grootorgaanstelsel van die soogdiere is 'n samestelling van afsonderlike diere. Hoe groter die ontwikkeling, des te hoër die spesialisasie.
(9) Die daadwerklike samestelling van 'n dier en spesialisasie van groepe van enkelinge tot enkele organe kan nog in die natuur waargeneem word.
Die groepsiel, seker die wonderlikste psigologiese verskynsel in die hele natuur, en een wat die sterkste bewys lewer dat dit moontlik mag wees vir psigologiese invloed om 'n uitwerking op 'n organisme op 'n afstand te hê, is die gevolg van hierdie samestelling; en daarom is dit van belang om die organiese samestelling gade te slaan en te probeer verstaan.
Ons skryf hier spesifiek oor een van die mees gewone termietspesies, waarmee elke leser in staat is om kennis te maak. As jy 'n wond in enige veldmiers-