dit onmoontlik die boonste gedeelte staande kan hou. En elke keer dat die torinkie omval, word dit van nuuts af aan opgebou. Daar is nie alleen groot verlies aan krag nie, maar die abnormaliteit is dikwels beskadigend vir die hele gestel.
Wat maak die onderskeid in hoedanighede tussen die vel van 'n dooie en van 'n lewende miershoop? Wat hou die buitenste laag heel en gesond solank die lewende mierstroom binne in beweging bly? Wat hou die dooie selmure stewig en vas, en waarom val alles in duie sodra die miere doodgaan? Jy kan nooit sien dat hulle iets aan bestaande werk doen enigsins gelykstaande met die weerstandsvermoë van die struktuur nie. Daarom is dit dat ons meer bepaald die aandag op die vel gevestig het. Daar kan die oppervlakkigste waarneming die ondersoeker van die aangehaalde feite oortuig. Die dikte van die vel verhinder gedurige en algemene reparasie van binne; die ondersoeker kan sien dat die miere nooit van buite iets doen nie. Daar skyn net een teoretiese uitleg te wees wat met ons hedendaagse kennis stryk: daar is een of ander invloed wat van lewende materie uitstraal wat die chemiese hoedanighede van organiese samestellings wysig. Dieselfde invloed hou miershoop en menseliggaam in stand.
Dit lyk of ons baie moet sukkel om te bewys dat die miershoop nie bloot 'n dooie hoop grond is nie, maar wel 'n afsonderlike dier in 'n sekere stadium van ontwikkeling. Die leser moet ons woord daarvoor aanneem dat dit alles van die uiterste belang is om uiteindelik tot 'n dowwe besef te geraak van die volmaakte groepsiel en sy eienaardighede.
Laat ons nou kortliks die gelyksoortige liggaamlike ooreenkoms tussen ons eie liggaam en die miershoop weer nagaan.
(1) Met die gelyksoortige, geheimsinnige instandhouding van die struktuur as geheel is ons pas klaar.
(2) Die menseliggaam en die miershoop bestaan uit dieselfde soort selwerk, met 'n dik laag bedek. ('n Bewoner van Mars wat genoeg van ons wêreld geleer het om ons materie in organiese en nie-organiese te verdeel, sal geen oomblik aarsel om 'n stuk miershoop onder die organiese te rangskik nie. Al onderskeid is dat vir 'n stuk mensvleis hy 'n mikroskoop nodig het om die struktuur te sien: in die miershoop kan hy dit met die blote oog sien.)
(3) Deur die selwerk onder die vel in mens en miershoop vloei 'n lewende stroom bestaande uit twee verskillende soorte liggaampies met presies dieselfde funksies. As jy 'n letsel deur die mensvel maak, kom die bloed te voorskyn. Baie vinnig vorm die witbloedliggaampies 'n beskermende sirkel om die wond. Hulle is daar oënskynlik vir een doel alleen: om die indring van vreemde, vyandige organismes te verhinder. Die ander deel van die stroom raak spoedig besig met herstel van die gemaakte letsel. Uit die liggaam dra hulle stof aan om nuwe selle te maak wat uiteindelik met vel oorgetrek word.
As jy 'n wond in 'n miershoop maak, kom die lewende stroom dadelik te