Dit het 'n storende uitwerking wat die hele gereelde lewensloop van die organisme uit rat gooi - (die groei van 'n kanker?).
Vang nou 'n paar van ons gewone huisakkedissies. (Moet jou nie die dwase storie laat wysmaak dat hulle vreeslik giftig is nie!) As jy hulle eers mak maak, sal dit des te beter wees vir die proefnemings. Maak nou met 'n dun skeerskerp opereermes 'n sny in die stert van die diertjies. Maak die snye langs die kant van die sterte skuins vorentoe. Die snye moet op verskillende afstande wees, van 'n agste tot 'n kwart duim van bo. Die dieptes moet ook verskil. Beskadig selfs in sommige gevalle lig die werwelkolom van die stert. Deur hierdie operasie veroorsaak jy in enkele gevalle 'n eienaardige refleks. Die dier se bloedstroom begin verkeerd bou: pleks dat die wond bloot herstel word, word 'n nuwe stert gebou. Gedeeltelike amputasie van die nuwe stert veroorsaak soms 'n verdubbeling by die wond. So kan jy - as alles goed gaan - 'n akkedissie met sewe sterte fabriseer, tot vreeslike ongemak van die diertjie, of 'n miershoop met sewe torinkies, tot vreeslike ongemak van die hele gemenebes.
Ons kan nie 'n akkedisstert maak nie; ons kan ook nie 'n termiettorinkie met dieselfde materiaal en op dieselfde wyse as die termiete maak nie; maar ons sou glad te slim wees om so verkeerd te werk!
Van nou af aan sal ek nie meer bewyse, as sodanig, aanhaal om die dierlikheid van die miershoop te bewys nie. Ten minste, ek sal dit nie meer beklemtoon nie. Maar as die leser net die groot feit in sy geheue hou, dan sal hy self in alles wat die termiete is of doen, 'n bewys vind. Dink altyd aan hulle as die bloedstroom en as groepsorgane van 'n saamgestelde dier.
Om hierdie groot waarheid op te helder, moet ons nog net haastig die daadwerklike samestelling van 'n dier in die natuur gadeslaan - 'n samestelling waar die hele proses van a tot z sigbaar is, en waar jy proefondervindelik die samestelling kan opbreek en weer na willekeur kan herstel!
As die hoogs ontwikkelde, hoogs gespesialiseerde komplekse diere almal oorspronklik uit samestellings van hierdie aard ontstaan het, dan sou 'n mens na dergelike simbioses (wat meer is as blote vennootskappe) laag af in die georganiseerde materie soek. Daar kom baie gevalle voor - selfs gevalle wat die veronderstelling regverdig dat organismes van verskillende soorte 'n suksesvolle samestelling kan teweegbring. Van dié aard is die eienaardige en alombekende vereniging tussen fungus (swam) en alg om 'n plant te vorm wat hemelsbreed van die twee konstituente verskil. Maar die doel en werklike gevolge van die proses is baie duideliker wanneer ons dit taamlik hoog in die diereryk aantref.
In die see om al ons kuste is daar honderde soorte van 'n sekere geslag seedier te vind. Hulle wetenskaplike naam is Hydromedusae, en daar is 'n verwante geslag, Siphenophorae. Ons sal die aandag meer bepaald op die Siphenophorae vestig. Ek dink een soort het 'n Afrikaanse naam, maar ek het dit vergeet. Ek het hoog tussen die keerkringe met hulle kennis gemaak.