Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 466]
| |
Ek staar met droë oë in die nag,
En sien geen ster wat in die donker skyn,
Geen teken dat die middernag sal kwyn
En sonlig weer sal straal in suiwer prag.
Die wêreld, deur 'n wrede tirannie
Geteister, kreun, want op hom druk 'n las
So vreeslik swaar dat vryheid dood moet gaan.
Die groot verdrukking is alom, en wie
Sal kans kry om sy klere wit te was
En veilig sonder vlek orent te staan?
| |
IIWat sal ek antwoord as my kleinkind vra -
Met die eng'le-stem wat elke kind behou
Van wonders-weet vanwaar - ‘Kan Oupa nou
Vir ons vertel hoekom die mense kla
Daar is vandag nie meer 'n Holland nie,
Wat vroeër ons moederland gewees het? Wie
Het hom so vreeslik, gruwelik dood vermoor?
Ons wil so graag die hele storie hoor.’
Sal ek dan paai met praatjies oor die Trek,
Dingaan se dwingelandy, Retief se dood,
Die weë van ons volk in baringsnood
Van Adam Tas se tyd tot Slagtersnek,
Van elke punt in ons geskiedenis,
Ons hoër status en ons broedertwis,
Ons vryheid en ons lafheid, lof of blaam
Waaroor 'n man moet trots voel of hom skaam?
Of sal ek durf om eerlik te bely,
‘My kind, ek het daar skuld aan, tot my spyt,
Dat Holland dood vermoor is. Daardie tyd
Was ons aan siel en gees en moed bankrot.
Ons was so mislik klein, so bangkat vrot,
Ons het besluit dat ons “neutraal” sou bly.’
| |
IIILaat elke potklei patriot maar skree
Oor volk en vryheid en 'n ideaal
Wat net 'n man van durf ooit kan behaal.
Die toekoms sal vir elk sy antwoord gee.
Dit sal verklaar: ‘Jy't toegeskou, gedwee,
Ontbloot van menslik meely, naak en kaal,
| |
[pagina 467]
| |
'n Lafaard, meer veragtelik duisendmaal
As die sluipmoordenaar wat die skavot beklee.
Want skaamteloos het jy jouself onterf
Van vryheid en van reg, vir die gesag,
Uit pure haat, van laster en bedrog.
Jou skande en smart, vir altyd aangekerf,
Staan teen jou as teen een wat elke liewe dag
Sy siel verraai en nog daarmee wil spog.’
| |
IVIskariot, jy kan jou kop laat hang
Uit spyt, daar in die hel waar jy nou woon.
Jy, Judas, puik verraaier, jy's onttroon,
En nie meer eerste nie, want daardie rang
Verval aan anderes; selfs jou naam, vervang
Deur Musserts en deur Quislings wat vir loon
Hul land en volk verraai het, is vir hoon
Nie meer 'n sinoniem nie. O, hoe wrang,
Hoe bitter, Judas, moet dit wees vir jou
Om op jou ou dag te beleef 'n slag,
So danig swaar as wat jy nou moet kry,
Dat daar nog skepsels is wat eer en trou
En broeder-bloed en naasteliefde ag
Van minder werd dan skande en huiglary.
| |
VKom kruip, jul kleinere wurmpies van weleer
Wat oor die wêreld se geskiedenis
Vuil voetspore getrap het, want gewis
Word daar vandag nog baie, baie meer
Deur meesters en professors gepresteer
In die verraai-kuns as wat ooit gegis
Of uitgedink is of met sluwe lis
Gebruik is om wat reg staan om te keer.
Kom spartel in die vuil'nis en die drek
Waaruit jul stam, en huldig in gelid
Die reuse groot verraaiers wat nou roem
Op skandelik, snode troubreuk wat verwek
In elke mens wat iets van mens besit
Die heilige hartstog wat verraad verdoem.
| |
[pagina 468]
| |
VIHef hoog die vaandel van jou nuwe kliek
Wat voorgee hy's die enigste wat tel;
Sit alles wat jy oorhet op die spel
En werskaf vir jou wonder-republiek,
Jou nuwe orde, reeds gekortwiek
Deur sy eie swakheid, om ons in te knel
In kettings van vooroordeel wat net kwel -
Dis praat vir jou en pure politiek.
Ons het geen tyd vir twisgekyf of stoei
Met skimme sonder reg op voortbestaan,
Vir kraaltjies uit 'n kaalkar-smous se kraam.
Ons is te besig. Om ons breek en bloei,
In dapper stryd om onreg dood te slaan,
Ons stamgenote, - en ons staan tesaam.
| |
VIISkree luidkeels en verkondig rond alom
Die kamtig enigheid in koers en doel
Wat elk van ons vandag eenstemmig voel;
Jy's mos die egte Afrikanerdom,
En ons is te onnosel en te stom
Om met jou saam te jakker en te woel
Totdat die dor Karolandvlak krioel
Van brandwaglaers wat vir bidstond kom.
Jy's mos die reine, onvervalste vonk
Wat vryheid laat ontvlam totdat die vuur
Daarvan die laaste donker plek verlig -
Jou lafaard-held, wat in jou swart spelonk
Van haat en nyd en afguns sit en tuur
En niks onthou van nasie-eer en plig!
| |
VIIIDis Heldedag vandag; van hanekraai
Tot slaaptyd toe kan ons die helde eer;
Volksleiers kan van lorries af oreer;
Oorlamse skoolseuns kan maar stokkies draai
En meehelp om die boerwors gaar te braai.
Dis goed om vir die jongeling vroeg te leer
Daar was voorheen nog helde wat kon keer
Die vrekke lafaards wat die volk verraai.
Dus laat die seun maar saamskree in die skyn
Van maanlig om die kampvuur; laat hom woel,
| |
[pagina 469]
| |
En grootman speel in hierdie kinderspel.
Want ag, hoe skaam en hoe veragtelik klein
En skandgevlek sal hy hom later voel
As oor vandag die toekoms oordeel vel.
| |
IXHet meely met ons. Moedersiel alleen,
Soos een wat uitgestoot is uit die ry
Van eerbaar volke, staan ons afgeskei
Van die beskawing wat nog worstel teen
Die dwinglandy van onreg, en geen één
Ag dit die moeite werd om te vermy
Dat skimp ons tref of skande oor ons sprei,
Of dat onsself oor wat ons is, sal ween.
Het meely met ons. Ag ons het verpand,
Vir haat en wrok, ons hartstog, en ons slaap
Met rus, ofskoon die wêreld ons verag
As sedelike melaatse van die land
Wat, kriekiehartig, kastig na wil aap
Die deugde van 'n dapper voorgeslag.
| |
XIn die eenoogland van Arimasp, vertel
Ou Herodotus, woon 'n eenoog-ras
Wat net na eenkant kyk, en met die as
Van uitgebrande blare towenaarspel
By maanlig speel, mekaar se siel te kwel
Totdat die dageraad aanbreek en die las
Van môrelig weer neerdaal op die gras
As die blink son sy opdraand-pas versnel.
Geen eenoog-ras woon hier, en tog bestaan
'n Towenaarspel wat menseharte breek
Deur swaar verdriet, met seermaak en met ly,
En elk van ons laat kreun totdat die maan
Verdwyn, en elke slag en elke steek
Bewys die mag van eenoog-heerskappy.
| |
[pagina 470]
| |
XIDit walg my om te hoor
Die vroom gesanik oor
Die stok-ou politiek
‘Ons eie republiek’.
Ek hou nie van 'n man
Wat wegkruip waar hy kan,
Terwyl vir plig en reg
Sy broers en bure veg.
Nog minder ag ek hom
Wat vir verskoning kom
Met praatjies dat ons kry
Meer ‘as ons stryd vermy’
Ons stamgenote stoei
Ver in die noorde, en bloei
Vir vryheid en vir reg
Teen kragte wat verkneg.
Hul stry vir wat ons ag,
Ook hier, van heil'ger krag
As woorde en shibbolets
Hoe danig ouerwets,
Vir iets wat aktueel
Meer werd is as die speel
Met daardie politiek,
‘Ons eie republiek’.
Vir reg, om te bestaan,
Of liewers dood te gaan
As stryders in die stryd
Teen onregverdigheid;
Vir vryheid om te wees
Volmondig vry in gees
In dink en doen en laat
En nie net na die maat
Van voorgeskrewe reël -
Soos dwinglandy beveel,
Of Tjakas, wat regeer
Oor slawe, proklameer.
Hul veg om te verslaan
'n Nuwe soort Dingaan,
Nog wreder en meer astrant
As daardie nou van kant.
| |
[pagina 471]
| |
En ons, wat pronk en spog
Met Piet Retief se tog,
En Uys se heldedood -
Ons laat hul in die nood.
Dis niks vir ons, die smart
In elke Hollandse hart,
Die moed wat moord en vuur
En marteldood verduur ...
Ek skaam my vir my volk,
Wat vrinde plig vertolk
As eie wins en baat,
Of iets om oor te praat.
'n Volk so eerloos vrot
Verdien die skimp en spot
Wat soos 'n golf sal skuim
Oor die wat plig versuim.
Hiernamaals sal die Tyd
Wat klatergoud verslyt
En oordeel eerlik vel,
Die nageslag vertel:
Toe Neerland in sy nood
Moes worstel tot die dood
Teen wrede dwinglandy,
Het hy gestaan - opsy.
Neutraal - 'n lafaard-vrind,
Wat net genot kon vind
In daardie politiek
‘Ons eie republiek’.
| |
XIIDie kraak en steun die omstoot en vergaan
Van lande en ryke en volke een vir een -
Hier deur geweld, daar deur verraad waarteen
Nog sterk gesag wat dapper pal kan staan,
Nog burgertrou wat nie met twyfel taan,
Kan worstel met uiteindelik hoop op seën -
Is hier, en hy wat trane het kan ween
Oor wat vandag die wêreld woes verslaan.
Maar ook al word wat algar skat verniel
Daar bly nog oor genoeg om voor te veg
Selfs in die nuwe sondvloed wat ons tref -
| |
[pagina 472]
| |
Barmhartigheid - die houvas van die siel
Vir sy eie verlossing-waarheid, eer en reg,
En alles wat die mens tot mens verhef.
| |
XIIIO wagter op die toring wat kan kyk
Die wêreld oor tot waar die dagbreek wys
Met roos en goud en perlemoen en grys:
Die opgaan van die son, wat met sy ryk
Blink prag van kleur oor punte en hellings pryk
En van die vlak se skemer skaduwees eis
Sy reg as heerser om 'n paradys
Van lig te skep, voordat sy lig beswyk -
O wagter, sê, wat sien jy in die skyn
Van nuwe dag wat oor die wêreld daal?
'n Volk versterk tot verder durf en doen,
Of een deur hoogmoed weer tot dwerg verklein?
'n Land waarin die skim van voorspoed dwaal,
Of waar verwelkte vryheid weer vergroen?
| |
XIVDie kraak van kraalspelonke wat moet kreun
Onder die op- en afsak van getye,
Is om my en ek luister na die dreun
Van veraf storme, woedend in die wye,
Oneindige uitgestrektheid wat my steun.
Want ek is deel, in wese en in bestaan,
Van wat my omring, en myne is die see,
Die diep groen water, wat deur wind geslaan
En deur die orkaan geteister, nog kan gee
'n Skuilplek vir sy volk in stille vree
In die diep klowe waar geen onrus is,
Waar dag en nag een en dieselfde rang
Gelyk beklee, en lig en duisternis
Ineensmelt en deur skemer word vervang.
| |
XVEk het vanaand 'n ou boek deurgeblaai,
En daar gevind 'n trooslied, wat kan klink
Hoog oor die polderdorpies wat vermink
Lê onder die stortvloed bomme, uitgesaai
| |
[pagina 473]
| |
Deur duiwel-drake wat met vuur gelaai
Ver bo die voorjaarsblomtapyte blink.
Dis of my uit die verlede iemand wink
Om met sy moed my moed'loosheid te paai,
Om my te doen besef dat in die tyd
Toe alles ewe hooploos en benoud
Gelyk het, daar nog uitkoms was en seën ...
‘O Neerland, so ghij maer eendrachtig zijt,
U pijlenbundel vast gebonden hout
So kan u Duyvel, Hel, nog Doot vertreen!’
| |
XVIVleg in jul roemryk laurierkrans 'n roos,
'n Rooi roos ter herinnering aan die tyd
So dapper deurgestry toe moedeloosheid
En twyfel nie kon dwing
Die volksiel van die Watergeusekroos,
Nog altyddeur aan vryheidsplig getrou,
Om toe te gee aan wat die Noodlot bring,
In trane en smart en bitter ly en rou.
Geen helmgebore siener hoef my hart
Vandag te troos met wat die toekoms dra;
Nog van die dooi hout hoef ek af te vra
'n Teken tot verligting van my smart,
Smart oor die mag van onreg, haat en nyd
Wat niks kan skep maar net verniel en skeur
In wilde woede en losbandigheid,
Waaroor die meely'nd mens maar net kan treur.
Want oor die duister en die droefgeklag,
Straal, soos 'n reënboog bo 'n donderwolk,
Die heerlikheid van martelaars heldekrag
As gloriekrans vir Neerlands grootse volk.
Moeder-Vorstin van 'n veel gemartelde volk,
Ontvang die eerbetoon en huldeblyk -
Van ons wat ver in Afrika vertolk.
In taal nog skaars volmondig, skoon verryk
Met wat die liefde bring -
Die pure trots wat in ons harte styg
Met die gedagte dat ons ook in kring
Met hulle staan wat, voor hul stemme swyg
Vir ewig in die dood, met dankbaarheid
En trou sal uitroep: ‘Lewe Majesteit!’
De Stoep, April 1944 (ook in Die Volkstem, 24 Julie 1944) |
|