Ouma se werkdoos
Ingelê met wit ivoor wat stam van olifante,
(Vader noem dit elpebeen) met snywerk om die rante,
Binne amper nes 'n kis, bedek met wit satyn,
(Vader sê ‘gefoeter’) en met leer so rooi soos wyn.
Timmerman se werk - nouja, maar vra 'n timmerman:
‘Omie maak ons 'n doos soos dit - as omie kan.’
Sagter as die waterstroom oor die geel sand gly,
Sonder gril of stokkiesdraai, glad, gelyk en vry,
Skuiwe elke laaitjie in, draai die slotjies om,
Geen skarnier sal ooit dit waag om verset te brom.
| |
Vader sê dis kunstenaars-werk; 'n kunstenaar was die man,
Wat hierdie sandel-doos gemaak het (vader weet daarvan)
Vol met snippers, lint en kant, garing, wol en sy
Bontgekleurde strokies-hout - dis naalde vir die brei;
Hakies, ogies, deurmekaar - 'n stukkie bye-was -
Hemdeknope van kristal - of is dit maar van glas?
Pêrels uit Ceylon se see, brokkies perlemoen -
Naas 'n marmer-vingerhoed, net soos gras so groen,
Stukkies goud vir aanvul-werk van twintig goudkaraat -
Klein robyntjies (Vader sê dit is tog maar granaat)
Goeiste, in die dosie lê alles wat jy vind
In die opgaar-skatkis van 'n ouerwetse kind.
Onder alles, diep verskuil benede sy en skatte,
Ingedraai deur liefde self in rooigekleurde watte,
Lê haar allergrootste skat, 'n stukkie van haar lewe,
Ouma draai dit om en om; sy sug, haar hande bewe;
Ons kinders sien haar oë traan; haar ken sink op haar bors.
Ons weet dit is die glasportret van wyle Oupa Jors.
'n Jongling-kêrel, glad geskeer, gekleed in snaakse drag,
Die wye broek, die baadjie kort, glad anders as vandag,
Glad anders as die groot portret, wat in die voorhuis pryk,
Waar Oupa Jors se linkerhand sy lang grys volbaard stryk.
Ons het al mooier seuns gesien; vandag se kêrels win
In vergelyking; waarom dus was Oupa na haar sin?
'n Raaisel wat op antwoord wag; ons kan beskeie vra
As ouma in gedagte sit en sonder om te pla.
Hy is nou nie juis lelik nie en hoflikheid vereis
('n Kind moet altyd hoflik wees, sê Vader) dat ons prys,
Al sien ons nou nie in waarom 'n nooi soos Ouma was
'n Pure Jaap, soos Oupa Jors geportretteer op glas,
Geneem het vir ons oupa nie. En tog, ons moet onthou,
Al gaan dit bo ons vuurmaakplek, hy het haar tog getrou.
Ons wil graag weet, maar Vader sê daar's dinge wat 'n kind
Maar op gesag moet aanneem, tot hy self 'n rede vind
En hoekom Ouma sinnigheid gekry't in Oupa Jors
Is iets wat Saartjie, Jiems en ek maar later uit moes vors!
|
|