Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Omdat ek alte bang is Omdat ek alte bang is dat die lig Te gou sal padgee vir die skemer-groen, Die dag te kort is vir voltooide plig, En tyd ontbreek om dink te verg tot doen; Omdat ek met wat reeds gedoen is, staan Tevree, en meen dis al wat kan verwag En van 'n man geverg word, en vergaan In drome wat ek droom op helder dag; Omdat ek jare deur my siel gepaai En stil getroos het as dit aanhou pla: ‘Kyk hoe die voorjaarvelde, blom-belaai, Die lug vergeur en nooit beloning vra’; Omdat ek nog te swak is, nog te mank Om self my pad te kies, al gaan dit dwars - Oor wildesand-moeras en modderbank En velde deur die droogtekrag gebars; Omdat ek nog besluiteloos staan en wag Op wat 'n nuwe môre-dag sal bring En op die middagson se lawende krag Vir nuwe moed wat tot volharding dwing; Omdat ek in my eie moedeloosheid My siel ook moedeloos maak ... bly ek versteen, Onmagtig om my van my taak te kwyt En vir my siel my eie steun te leen. Vorige Volgende