Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Ek het hoor vertel van 'n towernaar Ek het hoor vertel van 'n towernaar (Dis snaaks tog wat die mense glo) Wat in sy wit tulband bewaar Die ring van sultan Salomo; Ek het hoor vertel van 'n spook wat kom Met volmaan op die Mieliedraai, En wegvlug as die honde brom Uit hartseer voor die hane kraai. Die towernaar kan met sy ring Die onderaardse kragte rem, Aan dié wat dood is lewe bring En dwalende, tergende geeste tem. Die spook kan deur die sleutelgat Of deur die klipsteenmure vlug, Tot wasem in die maanskyn spat En in die skoorsteen sit en sug. Ek het hoor vertel van 'n towernaar, Ek het hoor vertel van 'n spook. Oorlede oom Sybrand het steeds verklaar: ‘Daar brand iets waar dit rook.’ Dus waag ek geen woord of wenk te gee Oor die towernaar en die spook inkluis. Die wetenskaplik bestaan van die twee Moet die wetenskap maar uitpluis. Vorige Volgende